Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • re hfst. 31 bl. 215-220
  • Jehovah se werke—groot en wonderbaar

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se werke—groot en wonderbaar
  • Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die lied van Moses en van die Lam
  • Die engele met die bakke
  • Jehovah in sy heiligdom
  • Die bakke en die trompetstote
  • Glanspunte uit die boek Openbaring—II
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Bybelboek nommer 66—Openbaring
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Opwindende visioene wat ons geloof versterk
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • God se toorn word tot ’n einde gebring
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
re hfst. 31 bl. 215-220

Hoofstuk 31

Jehovah se werke—groot en wonderbaar

Visioen 10—Openbaring 15:1–16:21

Onderwerp: Jehovah in sy heiligdom; die sewe bakke van sy gramskap word op die aarde uitgegooi

Tyd van vervulling: 1919 tot Armageddon

1, 2. (a) Van watter derde teken vertel Johannes? (b) Van watter rol van die engele is Jehovah se knegte al lank bewus?

’N VROU wat geboorte gee aan ’n manlike kind! ’n Groot draak wat daardie kind wil verslind! Hierdie twee hemelse tekens, wat so treffend in Openbaring hoofstuk 12 uitgebeeld word, het ons laat verstaan dat die eeue oue geskil waarby die Saad van God se vrou en Satan en sy demoniese saad betrokke is, sy klimaks bereik. Johannes het hierdie simbole na vore gebring deur te sê: “En ’n groot teken is in die hemel gesien . . . En nog ’n teken is . . . gesien” (Openbaring 12:1, 3, 7-12). Nou vertel Johannes van ’n derde teken: “En ek het in die hemel ’n ander teken gesien, groot en wonderbaar: sewe engele met sewe plae. Dit is die laastes, want deur middel daarvan word die toorn van God tot ’n einde gebring” (Openbaring 15:1). Hierdie derde teken het ook lewensbelangrike betekenis vir Jehovah se knegte.

2 Let op die belangrike rol wat engele weer in die uitvoering van God se wil speel. Jehovah se knegte is al lank van hierdie feit bewus. Trouens, die eertydse psalmis het onder inspirasie selfs met sulke engele gepraat en hulle aangespoor: “Loof Jehovah, o sy engele, magtig in krag, wat sy woord uitvoer, deur na die stem van sy woord te luister”! (Psalm 103:20). In hierdie nuwe toneel word engele nou aangesê om die sewe laaste plae uit te gooi.

3. Wat is die sewe plae, en waarop wys die feit dat dit uitgegooi word?

3 Wat is hierdie plae? Soos die sewe trompetstote is dit snydende oordeelsboodskappe wat Jehovah se beskouing van verskeie aspekte van hierdie wêreld bekend maak en van die uiteindelike gevolg van sy regterlike beslissings waarsku (Openbaring 8:1–9:21). Die feit dat dit uitgegooi word, wys op die voltrekking van hierdie oordele, wanneer die voorwerpe van Jehovah se gramskap in die dag van sy brandende toorn vernietig word (Jesaja 13:9-13; Openbaring 6:16, 17). Ja, deur middel van hierdie plae “word die toorn van God tot ’n einde gebring”. Maar voordat Johannes bespreek hoe die plae uitgegooi word, vertel hy ons van party mense wat nie daardeur benadeel sal word nie. Hierdie lojales het die merk van die wilde dier geweier en sing lofliedere aan Jehovah terwyl hulle sy dag van wraak verkondig.—Openbaring 13:15-17.

Die lied van Moses en van die Lam

4. Wat sien Johannes nou?

4 Johannes sien nou ’n merkwaardige panorama: “En ek het iets gesien wat soos ’n glasagtige see gemeng met vuur lyk, en dié wat oor die wilde dier en oor sy beeld en oor die getal van sy naam seëvier en by die glasagtige see staan, met harpe van God.”—Openbaring 15:2.

5. Wat word afgebeeld deur die “glasagtige see gemeng met vuur”?

5 Die “glasagtige see” is dieselfde as die een wat Johannes vroeër voor die troon van God gesien het (Openbaring 4:6). Dit is soortgelyk aan “die gegote see” (waterhouer) van Salomo se tempel, waar die priesters water gekry het om hulleself te reinig (1 Konings 7:23). Dit is dus ’n goeie voorstelling van “die waterbad”, dit wil sê God se Woord, waardeur Jesus die priesterlike gemeente van gesalfde Christene reinig (Efesiërs 5:25, 26; Hebreërs 10:22). Hierdie glasagtige see is “gemeng met vuur”, wat aandui dat hierdie gesalfdes getoets en gesuiwer word terwyl hulle vashou aan die hoë standaard wat vir hulle gestel word. Verder herinner dit ons daaraan dat God se Woord ook uitinge van vurige oordele teen sy vyande bevat (Deuteronomium 9:3; Sefanja 3:8). Party van hierdie vurige oordele word geopenbaar in die sewe laaste plae wat spoedig uitgegooi gaan word.

6. (a) Wie is die sangers wat voor die hemelse glasagtige see staan, en hoe weet ons dit? (b) Hoe “seëvier” hulle?

6 Die feit dat die gegote see in Salomo se tempel vir die gebruik van die priesters was, dui aan dat die sangers wat voor die hemelse glasagtige see staan, ’n priesterlike klas is. Hulle het “harpe van God”, en daarom verbind ons hulle met die 24 ouderlinge en die 144 000, aangesien hierdie groepe ook met harpbegeleiding sing (Openbaring 5:8; 14:2). Die sangers wat Johannes sien, ‘seëvier oor die wilde dier en oor sy beeld en oor die getal van sy naam’. Hulle moet dus die lede van die 144 000 wees wat gedurende die laaste dae op die aarde lewe. As ’n groep seëvier hulle inderdaad. Hulle weier al byna 90 jaar lank, sedert 1919, om die merk van die wilde dier te aanvaar of om op sy beeld te vertrou as die mens se enigste hoop op vrede. Baie van hulle het reeds getrou volhard tot in die dood en is nou in die hemel, waar hulle ongetwyfeld met besondere genot luister na die sang van hulle broers wat nog op die aarde is.—Openbaring 14:11-13.

7. Hoe is die harp in eertydse Israel gebruik, en watter uitwerking behoort die teenwoordigheid van harpe van God in Johannes se visioen op ons te hê?

7 Hierdie lojale oorwinnaars het harpe van God. In hierdie opsig is hulle soos die eertydse tempel-Leviete, wat Jehovah met sang en harpbegeleiding aanbid het. Party het ook met harpbegeleiding geprofeteer (1 Kronieke 15:16; 25:1-3). Die pragtige klanke van die harp het Israel se liedere van vreugde en gebede van lof en danksegging tot Jehovah welluidender gemaak (1 Kronieke 13:8; Psalm 33:2; 43:4; 57:7, 8). In tye van neerslagtigheid of gevangenskap is die harp nie gehoor nie (Psalm 137:2). Die teenwoordigheid van harpe van God in hierdie visioen moet ons afwagting wek vir ’n jubelende, triomfantlike lof- en danklied aan ons God.a

8. Watter lied word gesing, en wat is die woorde daarvan?

8 Johannes sê: “En hulle sing die lied van Moses, die slaaf van God, en die lied van die Lam en sê: ‘Groot en wonderbaar is u werke, Jehovah God, die Almagtige. Regverdig en waaragtig is u weë, Koning van die ewigheid. Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie, want u alleen is lojaal? Want al die nasies sal kom en voor u aanbid, omdat u regverdige verordeninge openbaar gemaak is.’”—Openbaring 15:3, 4.

9. Waarom word die lied onder andere “die lied van Moses” genoem?

9 Hierdie oorwinnaars sing “die lied van Moses”, dit wil sê ’n lied wat ooreenkom met die een wat Moses in soortgelyke omstandighede gesing het. Nadat die Israeliete die tien plae in Egipte en die vernietiging van die Egiptiese leërs in die Rooi See aanskou het, het Moses hulle in so ’n triomfantlike loflied aan Jehovah gelei en gesê: “Jehovah sal as koning heers tot onbepaalde tyd, ja, vir ewig” (Eksodus 15:1-19). Hoe gepas is dit tog dat die sangers in Johannes se visioen, wat oor die wilde dier seëvier en die sewe laaste plae verkondig, ook tot “die Koning van die ewigheid” sing!—1 Timoteus 1:17.

10. Watter ander lied is deur Moses gekomponeer, en hoe hou die laaste vers daarvan met die hedendaagse groot menigte verband?

10 In ’n ander lied, wat gekomponeer is toe die Israeliete hulle vir die verowering van Kanaän gereedgemaak het, het die bejaarde Moses vir daardie nasie gesê: “Ek sal die naam van Jehovah bekend maak. Skryf grootheid toe aan ons God!” Die laaste vers van hierdie lied het ook aanmoediging vir nie-Israeliete bevat, en Moses se geïnspireerde woorde geld vir die hedendaagse groot menigte: “Wees bly, o nasies, saam met sy volk.” En waarom moet hulle bly wees? Omdat Jehovah nou “die bloed van sy knegte [sal] wreek, en hy sal wraak op sy teenstanders uitoefen”. Hierdie voltrekking van regverdige oordeel sal almal wat op Jehovah hoop, laat jubel.—Deuteronomium 32:3, 43; Romeine 15:10-13; Openbaring 7:9.

11. Hoe word die lied wat Johannes gehoor het, nog steeds vervul?

11 Hoe verheug sou Moses tog gewees het om nou in die dag van die Here te wees en saam met die hemelse koor te sing: “Al die nasies sal kom en voor u aanbid”! Hierdie allesoortreffende lied word vandag nog in ’n wonderlike sin vervul terwyl ons, nie net in ’n visioen nie, maar as ’n lewende werklikheid, sien hoe die miljoene uit “die nasies” nou vreugdevol na Jehovah se aardse organisasie stroom.

12. Waarom word die lied van die seëvierendes ook “die lied van die Lam” genoem?

12 Nietemin is dit nie net die lied van Moses nie, maar ook “van die Lam”. Hoe so? Moses was Jehovah se profeet vir Israel, maar Moses het self voorspel dat Jehovah ’n profeet soos hy sou verwek. Hierdie profeet was die Lam, Jesus Christus. Terwyl Moses “die slaaf van God” was, was Jesus God se Seun, in werklikheid die Grotere Moses (Deuteronomium 18:15-19; Handelinge 3:22, 23; Hebreërs 3:5, 6). Die sangers sing derhalwe ook “die lied van die Lam”.

13. (a) Hoe is Jesus, hoewel hy groter is as Moses, soos hy? (b) Hoe kan ons ons met die sangers verenig?

13 Soos Moses het Jesus God in die openbaar geloof en voorspel dat Hy oor alle vyande sal seëvier (Matteus 24:21, 22; 26:30; Lukas 19:41-44). Jesus het ook uitgesien na die tyd wanneer die nasies sou inkom om Jehovah te loof, en as die selfopofferende “Lam van God” het hy sy menselewe afgelê om dit moontlik te maak. (Johannes 1:29; Openbaring 7:9; vergelyk Jesaja 2:2-4; Sagaria 8:23.) En net soos Moses God se naam, Jehovah, waardeer en verheerlik het, het Jesus God se naam openbaar gemaak (Eksodus 6:2, 3; Psalm 90:1, 17; Johannes 17:6). Aangesien Jehovah lojaal is, sal sy glorieryke beloftes beslis vervul word. Ons is dit dan sekerlik eens met hierdie lojale sangers, met die Lam en met Moses deur die woorde van die lied te onderskryf: “Wie sal u nie werklik vrees nie, Jehovah, en u naam nie verheerlik nie?”

Die engele met die bakke

14. Wie sien Johannes uit die heiligdom te voorskyn kom, en wat word vir hulle gegee?

14 Dit is gepas dat ons die lied van hierdie gesalfde oorwinnaars hoor. Waarom? Omdat hulle op die aarde die oordele bekend gemaak het wat in die bakke vol van die toorn van God was. Maar meer as blote mense is daarby betrokke om hierdie bakke uit te gooi, soos Johannes verder toon: “En ná hierdie dinge het ek gesien, en die heiligdom van die tent van die getuienis is in die hemel oopgemaak, en die sewe engele met die sewe plae het uit die heiligdom te voorskyn gekom, geklee in skoon, blink linne en om hulle bors omgord met goue gordels. En een van die vier lewende wesens het vir die sewe engele sewe goue bakke gegee, wat vol was van die toorn van God, wat vir ewig en altyd lewe.”—Openbaring 15:5-7.

15. Waarom is dit nie verbasend dat die sewe engele uit die heiligdom te voorskyn kom nie?

15 In die Israelitiese tempel, wat voorstellings van hemelse dinge bevat het, kon net die hoëpriester in die Allerheiligste, wat hier “die heiligdom” genoem word, ingaan (Hebreërs 9:3, 7). Dit stel die plek van Jehovah se teenwoordigheid in die hemel voor. Maar in die hemel self het nie net die Hoëpriester Jesus Christus die voorreg om voor Jehovah in te gaan nie, maar ook die engele (Matteus 18:10; Hebreërs 9:24-26). Dit is dus nie verbasend dat sewe engele in die visioen uit die heiligdom in die hemel kom nie. Hulle het ’n opdrag van Jehovah God self: Gooi die bakke vol van die toorn van God uit.—Openbaring 16:1.

16. (a) Wat toon dat die sewe engele ten volle bevoeg is vir hulle werk? (b) Wat dui aan dat ander betrokke is by die groot taak om die simboliese bakke uit te gooi?

16 Hierdie engele is ten volle bevoeg vir hierdie werk. Hulle is geklee in skoon, blink linne, wat toon dat hulle geestelik rein en heilig is, regverdig in Jehovah se oë. Hulle dra ook goue gordels. Gordels word gewoonlik gebruik wanneer iemand hom omgord om ’n taak te verrig (Levitikus 8:7, 13; 1 Samuel 2:18; Lukas 12:37; Johannes 13:4, 5). Die engele is dus omgord om ’n taak uit te voer. Wat meer is, hulle gordels is van goud. In die eertydse tabernakel is goud gebruik om goddelike, hemelse dinge voor te stel (Hebreërs 9:4, 11, 12). Dit beteken dat hierdie engele ’n kosbare, goddelike diensopdrag het om uit te voer. Ander is ook by hierdie groot taak betrokke. Een van die vier lewende wesens oorhandig die bakke aan hulle. Dit was ongetwyfeld die eerste lewende wese, wat soos ’n leeu gelyk het en ’n simbool was van die vrymoedigheid en onoorwinlike moed wat nodig is om Jehovah se oordele aan te kondig.—Openbaring 4:7.

Jehovah in sy heiligdom

17. Wat sê Johannes vir ons omtrent die heiligdom, en hoe herinner dit ons aan die heiligdom in eertydse Israel?

17 Johannes sluit hierdie deel van die visioen af deur vir ons te sê: “En die heiligdom het vol rook geword weens die heerlikheid van God en weens sy krag, en niemand kon in die heiligdom ingaan totdat die sewe plae van die sewe engele voleindig was nie” (Openbaring 15:8). Daar was geleenthede in Israel se geskiedenis toe ’n wolk die letterlike heiligdom bedek het, en hierdie openbaring van Jehovah se heerlikheid het die priesters verhinder om daar in te gaan. (1 Konings 8:10, 11; 2 Kronieke 5:13, 14; vergelyk Jesaja 6:4, 5.) Dit was tye toe Jehovah daadwerklik by gebeure op die aarde betrokke was.

18. Wanneer sal die sewe engele terugkeer om aan Jehovah verslag te doen?

18 Jehovah stel ook intens belang in dinge wat nou op die aarde gebeur. Hy wil hê dat die sewe engele hulle taak moet voltooi. Dit is ’n beslissende tyd van oordeel, soos in Psalm 11:4-6 beskryf word: “Jehovah is in sy heilige tempel. Jehovah—in die hemel is sy troon. Sy oë sien, sy stralende oë ondersoek die mensekinders. Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet. Hy sal valstrikke, vuur en swael op die goddeloses laat reën, en ’n verskroeiende wind, as die deel van hulle beker.” Die sewe engele sal nie na Jehovah se verhewe teenwoordigheid terugkeer totdat hierdie sewe plae op die goddeloses uitgegooi is nie.

19. (a) Watter bevel word gegee, en deur wie? (b) Wanneer is daar begin om die simboliese bakke uit te gooi?

19 Die ontsagwekkende bevel weerklink: “En ek het ’n harde stem uit die heiligdom vir die sewe engele hoor sê: ‘Gaan gooi die sewe bakke van die toorn van God op die aarde uit’” (Openbaring 16:1). Wie gee hierdie bevel? Dit moet Jehovah self wees, aangesien die glorie van sy heerlikheid en mag verhoed het dat enigiemand anders in die heiligdom ingaan. Jehovah het in 1918 na sy geestelike tempel gekom om te oordeel (Maleagi 3:1-5). Dit moes dus kort ná daardie jaar gewees het dat hy die bevel gegee het om die bakke van die toorn van God uit te gooi. Trouens, die oordele in die simboliese bakke is van 1922 af kragtig verkondig. En die verkondiging daarvan bereik vandag ’n crescendo.

Die bakke en die trompetstote

20. Wat openbaar die bakke van Jehovah se toorn, waarvan waarsku hulle, en hoe word hulle uitgegooi?

20 Die bakke van Jehovah se toorn openbaar aspekte van die wêreldtoneel soos Jehovah dit sien en waarsku van oordele wat Jehovah sal voltrek. Die engele gooi die bakke uit deur middel van die gemeente van gesalfde Christene op die aarde, dié wat die lied van Moses en die lied van die Lam sing. Terwyl die Johannes-klas die Koninkryk as goeie nuus verkondig, openbaar hulle moedig die inhoud van hierdie bakke vol toorn (Matteus 24:14; Openbaring 14:6, 7). Hulle tweeledige boodskap is dus vreedsaam in die sin dat dit bevryding vir die mensdom verkondig, maar ’n oorlogsboodskap in die sin dat dit waarsku van “die dag van die wraak van ons God”.—Jesaja 61:1, 2.

21. Hoe stem die teikens van die eerste vier bakke van God se toorn ooreen met dié van die eerste vier trompetstote, en hoe verskil hulle?

21 Die teikens van die eerste vier bakke van God se toorn stem ooreen met dié van die eerste vier trompetstote, dit wil sê die aarde, die see, die riviere en waterfonteine, en die hemelse ligbronne (Openbaring 8:1-12). Maar die trompetstote het plae oor “’n derde” aangekondig, terwyl die geheel getref word wanneer die bakke van God se toorn uitgegooi word. Hoewel die Christendom, as “’n derde”, eerste aandag ontvang het gedurende die dag van die Here, is geen deel van Satan se stelsel dus vrygestel van teistering deur Jehovah se plaende oordeelsboodskappe en die smarte wat dit meebring nie.

22. Hoe was die laaste drie trompetstote anders, en hoe hou hulle verband met die laaste drie bakke van Jehovah se toorn?

22 Die laaste drie trompetstote was anders, want hulle is weë genoem (Openbaring 8:13; 9:12). Die eerste twee van hierdie weë het in die besonder uit die sprinkane en die leërs van ruiters bestaan, terwyl die derde wee die geboorte van Jehovah se Koninkryk ingelui het (Openbaring 9:1-21; 11:15-19). Soos ons sal sien, sluit die laaste drie bakke van sy gramskap ook party van hierdie aspekte in, maar hulle verskil ietwat van die drie weë. Laat ons nou noukeurig aandag skenk aan die dramatiese onthullings wat volg wanneer die bakke van Jehovah se toorn uitgegooi word.

[Voetnoot]

a Dit is interessant dat die Johannes-klas in 1921 die Bybelstudiehulp Die Harp van God vrygestel het, wat ’n oplaag van meer as vyfmiljoen eksemplare in meer as 20 tale gehad het. Dit het gehelp om nog gesalfde sangers in te bring.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel