Hoofstuk 44
Openbaring en jy
1. (a) Watter versekering gee die engel aan Johannes in verband met al die wonderlike beloftes in Openbaring? (b) Wie is dit wat sê: “Ek kom gou”, en wanneer is hierdie ‘koms’?
TOE jy die pragtige beskrywing van Nuwe Jerusalem gelees het, het jy dalk gevra: ‘Is iets so wonderliks werklik moontlik?’ Johannes beantwoord hierdie vraag deur die engel se volgende woorde op te teken: “En hy het vir my gesê: ‘Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig; ja, Jehovah, die God van die geïnspireerde uitinge van die profete, het sy engel uitgestuur om vir sy slawe die dinge te toon wat binnekort moet plaasvind. En kyk! ek kom gou. Gelukkig is elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol bewaar’” (Openbaring 22:6, 7). Al die wonderlike beloftes van Openbaring sal werklik vervul word! Die engel spreek in die naam van Jesus en sê dat Jesus binnekort, “gou”, kom. Dit moet Jesus se koms “soos ’n dief” wees om Jehovah se vyande te vernietig en die grootse en gelukkige klimaks van Openbaring in te lui (Openbaring 16:15, 16). Ons moet derhalwe ons lewe in ooreenstemming bring met die woorde van “hierdie boekrol”, Openbaring, sodat ons op daardie tyd gelukkig verklaar kan word.
2. (a) Hoe reageer Johannes op die rykdom van openbaringe, en wat sê die engel vir hom? (b) Wat leer ons uit die engel se woorde: “Pas op!” en: “Aanbid God”?
2 Ná so ’n rykdom van openbaringe is dit te verstane dat Johannes oorweldig gevoel het: “Wel, ek, Johannes, was die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. En toe ek gehoor en gesien het, het ek neergeval om te aanbid voor die voete van die engel wat my hierdie dinge getoon het. Maar hy sê vir my: ‘Pas op! Moet dit nie doen nie! Ek is maar net ’n medeslaaf van jou en van jou broers wat profete is en van dié wat die woorde van hierdie boekrol bewaar. Aanbid God.’” (Openbaring 22:8, 9; vergelyk Openbaring 19:10.) Hierdie waarskuwing om nie engele te aanbid nie, wat twee keer gegee is, was tydig in Johannes se dag, toe party blykbaar sulke aanbidding beoefen het of beweer het dat hulle spesiale openbaringe van engele ontvang het (1 Korintiërs 13:1; Galasiërs 1:8; Kolossense 2:18). Vandag beklemtoon dit die feit dat ons God alleen moet aanbid (Matteus 4:10). Ons moenie ware aanbidding met die aanbidding van enigiemand of enigiets anders besmet nie.—Jesaja 42:5, 8.
3, 4. Wat sê die engel verder vir Johannes, en hoe het die gesalfde oorblyfsel sy woorde gehoorsaam?
3 Johannes sê verder: “Hy sê ook vir my: ‘Moenie die woorde van die profesie van hierdie boekrol verseël nie, want die vasgestelde tyd is naby. Wie onreg doen, laat hom steeds onreg doen; en laat die vuile steeds vuil gemaak word; maar laat die regverdige steeds regverdigheid doen, en laat die heilige steeds heilig gemaak word.’”—Openbaring 22:10, 11.
4 Die gesalfde oorblyfsel van vandag het die woorde van die engel gehoorsaam. Hulle het nie die woorde van die profesie verseël nie. Trouens, die heel eerste eksemplaar van Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence (Julie 1879) het baie verse van Openbaring bespreek. Soos ons in ons inleidende hoofstuk gemeld het, het Jehovah se Getuies deur die jare heen ander insiggewende boeke oor Openbaring gepubliseer. Nou vestig ons weer die aandag van alle liefhebbers van waarheid op die kragtige profesieë in Openbaring en die vervulling daarvan.
5. (a) Sê nou mense wil die waarskuwings en raad in Openbaring ignoreer? (b) Hoe behoort sagmoedige en regverdige persone te reageer?
5 Dit staan mense vry om die waarskuwings en raad in Openbaring te ignoreer as hulle wil! “Wie onreg doen, laat hom steeds onreg doen.” As dit hulle keuse is, kan dié wat hulle in die vuilheid van hierdie permissiewe eeu verlustig, in daardie vuilheid sterf. Jehovah se oordele sal binnekort geheel en al voltrek word, met Babilon die Grote wat eerste vernietig word. Laat sagmoedige mense sorgvuldig ag slaan op die profeet se woorde: “Soek Jehovah . . . Soek regverdigheid, soek sagmoedigheid. Moontlik sal julle verberg word in die dag van Jehovah se toorn” (Sefanja 2:3). Wat dié betref wat reeds aan Jehovah toegewy is, “laat die regverdige steeds regverdigheid doen, en laat die heilige steeds heilig gemaak word”. Die verstandiges weet dat geen tydelike voordeel wat uit sonde voortspruit, vergelyk kan word met die blywende seëninge wat dié wat regverdigheid en heiligheid nastreef, sal geniet nie. Die Bybel sê: “Toets voortdurend of julle in die geloof is, stel julleself voortdurend op die proef” (2 Korintiërs 13:5). Op grond van die weg wat jy kies en bly volg, sal jy jou loon ontvang.—Psalm 19:9-11; 58:10, 11.
6. Wat sê Jehovah wanneer hy vir die laaste keer in die profesie met lesers van Openbaring praat?
6 Jehovah, die Koning van die ewigheid, praat nou vir die laaste keer in die profesie met lesers van Openbaring en sê: “Kyk! Ek kom gou, en die loon wat ek gee, is by my, om elkeen volgens sy werk te vergeld. Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde. Gelukkig is dié wat hulle klere was, sodat hulle die reg kan hê om na die bome van die lewe te gaan en sodat hulle deur die poorte ingang tot die stad kan verkry. Buite is die honde en dié wat spiritisme beoefen en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat van ’n leuen hou en dit beoefen.”—Openbaring 22:12-15.
7. (a) Waarvoor ‘kom Jehovah gou’? (b) Waarom sal die geestelikes van die Christendom geen deel in Nuwe Jerusalem hê nie?
7 Jehovah God beklemtoon weer eens sy ewige soewereiniteit en die feit dat hy eindelik sal uitvoer wat hy hom in die begin voorneem. Hy “kom gou” om oordeel te voltrek en sal dié beloon wat hom opreg soek (Hebreërs 11:6). Sy standaarde bepaal wie beloon en wie verwerp sal word. Die geestelikes van die Christendom het soos “stom honde” opgetree deur die verdorwenhede wat Jehovah hier beskryf, deur die vingers te sien. (Jesaja 56:10-12; sien ook Deuteronomium 23:18, voetnoot in NW.) Hulle het beslis van leuenagtige leerstellings en dogmas ‘gehou en dit beoefen’ en het Jesus se raad aan die sewe gemeentes geheel en al geïgnoreer. Hulle het gevolglik geen deel in Nuwe Jerusalem nie.
8. (a) Alleenlik wie ‘gaan na die bome van die lewe’, en wat beteken dit? (b) Hoe het die groot menigte “hulle klere gewas”, en hoe behou hulle ’n rein posisie?
8 Alleenlik die gesalfde Christene wat werklik “hulle klere was” sodat hulle in Jehovah se oë rein kan wees, het die voorreg om “na die bome van die lewe te gaan”. Dit wil sê, hulle ontvang die onvervreembare reg op onsterflike lewe in hulle hemelse posisie. (Vergelyk Genesis 3:22-24; Openbaring 2:7; 3:4, 5.) Ná hulle dood as mense verkry hulle deur ’n opstanding ingang tot Nuwe Jerusalem. Die 12 engele laat hulle binne, maar hou almal uit wat leuens of onreinheid beoefen, al beweer hulle dat hulle ’n hemelse hoop het. Die groot menigte op die aarde het ook “hulle klere gewas en dit wit gemaak in die bloed van die Lam” en moet hulle rein posisie behou. Hulle kan dit doen deur die verdorwenhede waarteen Jehovah hier waarsku, te vermy, en deur Jesus se vermaning in sy sewe boodskappe aan die gemeentes ter harte te neem.—Openbaring 7:14; hoofstukke 2 en 3.
9. Wat sê Jesus, en aan wie word sy boodskap en die hele Openbaring hoofsaaklik gerig?
9 Ná Jehovah praat Jesus. Hy rig aanmoedigende woorde aan regskapenes wat Openbaring lees en sê: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om aan julle te getuig van hierdie dinge vir die gemeentes. Ek is die wortel en die nakomeling van Dawid, en die helder môrester” (Openbaring 22:16). Ja, hierdie woorde is hoofsaaklik “vir die gemeentes”. Dit is allereers ’n boodskap vir die gemeente van gesalfde Christene op die aarde. Alles in Openbaring word hoofsaaklik gerig aan gesalfde Christene, wat in Nuwe Jerusalem sal woon. Deur dié gemeente het die groot menigte ook die voorreg om hierdie kosbare, profetiese waarhede te verstaan.—Johannes 17:18-21.
10. Waarom noem Jesus homself (a) “die wortel en die nakomeling van Dawid”? (b) “die helder môrester”?
10 Dit is aan Jesus Christus toevertrou om Openbaring aan Johannes en deur hom aan die gemeente oor te dra. Jesus is beide “die wortel en die nakomeling van Dawid”. Hy het na die vlees van Dawid afgestam en kwalifiseer dus om die Koning van Jehovah se Koninkryk te wees. Hy sal ook Dawid se “Ewige Vader”, en sodoende Dawid se “wortel”, word (Jesaja 9:6; 11:1, 10). Hy is die permanente, onsterflike Koning in Dawid se geslagslyn, wat Jehovah se verbond met Dawid vervul, en “die helder môrester” wat in Moses se dag voorspel is (Numeri 24:17; Psalm 89:34-37). Hy is die “dagster” wat opgaan en dus die dag laat breek (2 Petrus 1:19). Al die liste van die groot vyand Babilon die Grote kon nie hierdie glorieryke opgang voorkom nie.
Sê: “Kom!”
11. Watter ope uitnodiging rig Johannes nou, en wie kan daarop reageer?
11 Dit is nou Johannes se beurt om te praat. Uit ’n hart wat oorloop van waardering vir alles wat hy gesien en gehoor het, roep hy uit: “En die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil, die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Die voordele van Jesus se losprysoffer sal nie tot die 144 000 beperk word nie, want hier is ’n ope uitnodiging. Jehovah se aansporende gees werk deur die bruidsklas, sodat die boodskap steeds klokhelder weerklink: ‘Neem die water van die lewe, verniet.’ (Sien ook Jesaja 55:1; 59:21.) Enigiemand wat na regverdigheid dors, word genooi om te “kom” en van Jehovah se oorvloed te ontvang (Matteus 5:3, 6). Hoe bevoorreg tog is al die lede van die toekomstige aardse klas wat op hierdie uitnodiging van die gesalfde Johannes-klas reageer!
12. Hoe reageer die groot menigte op die uitnodiging in Openbaring 22:17?
12 Sedert die vroeë 1930’s het die toenemende groot menigte ‘gehoor’—ag gegee op die uitnodiging. Soos hulle gesalfde medeslawe het hulle ’n rein posisie voor Jehovah verkry. Hulle smag na die tyd wanneer Nuwe Jerusalem uit die hemel sal neerdaal om seëninge vir die mensdom te bring. Noudat die groot menigte die besielende boodskap van Openbaring gehoor het, sê hulle nie net “Kom!” nie, maar hulle versamel ander daadwerklik na Jehovah se organisasie en lei hulle ook op om te verkondig: “Laat enigeen wat dors is, kom.” Gevolglik word die groot menigte al groter, sodat daar nou meer as 6 000 000 van hulle in 235 lande regoor die aarde is wat saam met minder as 9 000 van die gesalfde bruidsklas die uitnodiging aan ander rig om “die water van die lewe [te] neem, verniet”.
13. Watter waarskuwing gee Jesus?
13 Vervolgens is dit Jesus wat weer praat en sê: “Ek getuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boekrol hoor: As iemand ’n byvoeging by hierdie dinge maak, sal God vir hom die plae byvoeg wat in hierdie boekrol geskrywe staan; en as iemand enigiets van die woorde van die boekrol van hierdie profesie wegneem, sal God sy deel wegneem van die bome van die lewe en uit die heilige stad, dinge waarvan in hierdie boekrol geskrywe staan.”—Openbaring 22:18, 19.
14. Hoe beskou die Johannes-klas “die profesie” van Openbaring?
14 Die lede van die Johannes-klas moet mense se aandag op “die profesie” van Openbaring vestig. Hulle moet dit nie wegsteek of iets daarby voeg nie. Die boodskap daarvan moet openlik, “van die dakke af”, verkondig word (Matteus 10:27). Openbaring is deur God geïnspireer. Wie durf ’n woord verander van wat God self gespreek en oorgedra het deur die een wat nou die heersende Koning, Jesus Christus, is? So iemand sou beslis verdien om geen sukses te hê in die soeke na die lewe nie en om die plae te ontvang wat oor Babilon die Grote en oor die hele wêreld moet kom.
15. Wat beteken Jesus se woorde dat hy “van hierdie dinge getuig” en sy aankondiging: “Ek kom gou”?
15 Jesus voeg nou ’n laaste aanmoedigende woord by: “Hy wat van hierdie dinge getuig, sê: ‘Ja; ek kom gou’” (Openbaring 22:20a). Jesus is “die getroue en waaragtige getuie” (Openbaring 3:14). As hy van die visioene van Openbaring getuig, moet dit waar wees. Hy sowel as Jehovah God self beklemtoon herhaaldelik dat hulle “gou”, of binnekort, kom, en Jesus sê dit hier vir die vyfde keer (Openbaring 2:16; 3:11; 22:7, 12, 20). Die ‘koms’ is om oordeel te voltrek aan die groot hoer, die politieke “konings” en alle ander wat “die koninkryk van ons Here [Jehovah] en van sy Christus” teëstaan.—Openbaring 11:15; 16:14, 16; 17:1, 12-14.
16. Wat moet dit jou vaste voorneme wees om te doen, aangesien jy weet dat Jehovah God en Jesus gou kom?
16 Aangesien jy weet dat Jehovah God en Jesus gou kom, behoort dit jou te beweeg om ‘die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte te hou’ (2 Petrus 3:12). Enige oënskynlike stabiliteit van die aarde—Satan se stelsel van dinge—is ’n illusie. Enige oënskynlike sukses wat die hemel—die wêreld se heersers onder Satan—behaal, is kortstondig. Hierdie dinge gaan verby (Openbaring 21:1). Die enigste bestendigheid word gevind in Jehovah, sy Koninkryk onder Jesus Christus en sy beloofde nuwe wêreld. Moet dit nooit uit die oog verloor nie!—1 Johannes 2:15-17.
17. Watter uitwerking behoort jou waardering vir Jehovah se heiligheid op jou te hê?
17 Mag jy dus toelaat dat wat jy uit jou studie van Openbaring geleer het, ’n diepgaande invloed op jou lewe uitoefen. Het jou vlugtige blik op Jehovah se hemelse teenwoordigheid nie die allesoortreffende heerlikheid en heiligheid van ons Skepper by jou tuisgebring nie? (Openbaring 4:1–5:14). Wat ’n voorreg is dit tog om so ’n God te dien! Mag jou waardering vir sy heiligheid jou beweeg om Jesus se raad aan die sewe gemeentes baie ernstig op te neem en dinge te vermy soos materialisme, afgodediens, onsedelikheid, louheid, afvallige sektarisme of enigiets anders wat jou diens vir Jehovah onaanneemlik kan maak (Openbaring 2:1–3:22). Die apostel Petrus se woorde aan die Johannes-klas is ook in beginsel op die groot menigte van toepassing: “Word, in ooreenstemming met die Heilige wat julle geroep het, self ook in julle hele gedrag heilig.”—1 Petrus 1:15, 16.
18. Waaraan moet jy in die grootste mate moontlik deelneem, en waarom is hierdie werk vandag dringend?
18 Mag jy daarbenewens tot hernieude ywer beweeg word terwyl jy “die jaar van die welwillendheid van Jehovah en die dag van die wraak van ons God” verkondig (Jesaja 35:4; 61:2). Mag jy, hetsy jy ’n lid van die klein kuddetjie of van die groot menigte is, in die grootste mate moontlik deelneem aan die bekendmaking van wat dit behels wanneer die sewe bakke van Jehovah se toorn uitgegooi word, deur God se oordele oor Satan se wêreld te verkondig. Voeg terselfdertyd jou stem by die vreugdevolle verkondiging van die ewige goeie nuus omtrent die opgerigte Koninkryk van Jehovah en sy Christus (Openbaring 11:15; 14:6, 7). Doen hierdie werk met dringendheid. En mag die besef dat ons in die dag van die Here is, baie mense wat Jehovah nog nie dien nie, beweeg om ook aan die verkondiging van die goeie nuus deel te neem. Mag hulle ook vordering maak totdat hulle hulle lewe aan God toewy en gedoop word. Onthou, “die vasgestelde tyd is naby”!—Openbaring 1:3.
19. Wat is die bejaarde apostel Johannes se slotwoorde, en hoe reageer jy daarop?
19 Ons bid dus vurig saam met Johannes: “Amen! Kom, Here Jesus.” En Johannes, die bejaarde apostel, voeg by: “Mag die onverdiende goedhartigheid van die Here Jesus Christus met die heiliges wees” (Openbaring 22:20b, 21). Mag dit ook wees met almal van julle wat hierdie publikasie lees. Mag julle geloof hê dat die groot klimaks van Openbaring op hande is, sodat julle van harte saam met ons kan sê: “Amen!”
[Prent op bladsy 314]
“Buite is die honde . . . ”
[Prent op bladsy 315]
“Gelukkig is dié wat . . . deur die poorte ingang tot die stad . . . verkry”