Gebruiksaanwysings vir “Redenering uit die Skrif”
Jesus Christus en sy apostels het die voorbeeld gestel wat ons moet volg wanneer ons ander help om die Bybel te verstaan. In antwoord op vrae het Jesus tekste aangehaal en soms gepaste illustrasies gebruik wat opregte persone sou help om ontvanklik te wees vir wat die Bybel sê (Matt. 12:1-12). Die apostel Paulus het ’n gebruik daarvan gemaak om ‘uit die Skrifte te redeneer’ en om die dinge wat hy geleer het ‘deur middel van verwysings te verduidelik en te bewys’ (Hand. 17:2, 3, NW). Die materiaal in hierdie boek kan jou help om dit ook te doen.
In plaas van ’n breedvoerige, algemene dekking van elke onderwerp, vestig Redenering uit die Skrif die aandag hoofsaaklik op vrae wat nou deur baie mense gestel word.
Hierdie publikasie is nie voorberei om enigiemand te help om “argumente te wen” met mense wat geen eerbied vir die waarheid toon nie. Dit bevat eerder waardevolle informasie wat gebruik kan word om te redeneer met mense wat jou sal toelaat om dit te doen. Sommige van hulle sal vrae stel waarop hulle werklik bevredigende antwoorde verlang. In die loop van die gesprek sal ander eenvoudig hulle mening lug, dalk met heelwat oortuiging. Maar is hulle redelike persone wat bereid is om na ’n ander beskouing te luister? Dan kan jy vir hulle vertel wat die Bybel sê en dit doen met die oortuiging dat dit byval sal vind by liefhebbers van die waarheid.
Hoe kan jy die spesifieke materiaal wat jy nodig het in hierdie handboek vind? Die maklikste sal dikwels wees om regstreeks na die hoofopskrif te blaai waar die bepaalde onderwerp behandel word. Onder elke hoofopskrif is dit maklik om die vernaamste vrae te vind; dit is in vet letters wat teenaan die linkerkant begin. As jy nie dadelik vind waarna jy soek nie, kan jy die Saakregister agter in die boek raadpleeg.
Dit is altyd nuttig om vir ’n bespreking voor te berei. Maar al is jy nie met sekere dele van die boek vertroud nie, kan jy dit nogtans goed gebruik. Hoe? Wanneer jy die vraag vind wat die meeste ooreenkom met die gedagte wat jy wil bespreek, kan jy na die tussenhofies daaronder kyk. Hierdie tussenhofies is in kursiewe vet letters gedruk en is ingespring onder die vrae waarmee hulle verband hou. As jy reeds kennis van die onderwerp dra, kan ’n hersiening van daardie tussenhofies en ’n vinnige kykie na sommige van die gedagtes daaronder al wees wat jy nodig het, want hulle skets ’n nuttige argument wat gebruik kan word. Moenie aarsel om die gedagtes in jou eie woorde uit te druk nie.
Meen jy dat jy meer nodig het—moontlik die tekste self, die redenasies wat jy in verband met daardie tekste moet gebruik, ’n paar illustrasies om jou te help om te toon hoe redelik die Bybel is, ensovoorts? Dan wil jy dalk hierdie boek uithaal en saam met die persoon die gedeelte lees wat handel oor die vraag wat hy gestel het. Selfs al het jy nie die materiaal vooraf bestudeer nie, kan jy dit gebruik om ’n bevredigende antwoord te verstrek. Alles is hier in die boek, en dit is eenvoudig en bondig gestel.
Hou in gedagte dat hierdie boek net ’n hulpmiddel is. Die Bybel is die gesag. Dit is God se Woord. Wanneer aanhalings in die boek uit die Bybel kom, moet jy spesiaal nadruk daarop lê by diegene met wie jy praat. Vra hulle, wanneer moontlik, om hulle Bybel te bring en die tekste na te slaan sodat hulle kan sien dat wat jy sê inderdaad in hulle Bybel is. Indien algemeen gebruikte Bybelvertalings belangrike gedeeltes van sekere tekste anders weergee, word die aandag dikwels daarop gevestig en word die lesings in ’n verskeidenheid vertalings voorsien sodat ’n mens hulle met mekaar kan vergelyk.
In ooreenstemming met die voorbeeld wat die apostel Paulus gestel het deur na die altaar “Aan ’n onbekende God” te verwys en deur enkele algemeen aanvaarde sekulêre bronne aan te haal toe hy vir die Atheners gepreek het (Hand. 17:22-28), bevat hierdie boek enkele aanhalings uit sekulêre geskiedenisboeke, ensiklopedieë, godsdienstige naslaanwerke en Bybelwoordeboeke. In plaas van bewerings te maak oor die oorsprong van valse godsdiensgebruike, die ontwikkeling van sekere leerstellings en die betekenis van die Hebreeuse en Griekse uitdrukkings, toon die boek die redes vir standpunte wat gestel word. Dit vestig egter die aandag op die Bybel as die basiese bron van waarheid.
As verdere hulp om die weg te baan om Bybelwaarheid aan ander mee te deel, bevat die inleidende dele van hierdie boek ’n lys “Inleidings vir gebruik in die veldbediening” en ’n versameling wenke oor “Hoe jy kan reageer op potensiële gesprekdempers”. Talle ander potensiële “gesprekdempers” hou verband met besondere opvattings, en dié word bespreek aan die einde van elk van die gedeeltes wat oor daardie opvattings handel. Die doel is nie dat jy hierdie antwoorde uit die hoof moet leer nie, maar jy sal dit ongetwyfeld nuttig vind om te ontleed waarom ander dit doeltreffend gevind het; druk dan die gedagtes in jou eie woorde uit.
Die gebruik van hierdie handboek behoort jou te help om die vermoë aan te kweek om uit die Skrif te redeneer en om dit effektief te gebruik om ander te help om van “die groot dade van God” te leer.—Hand. 2:11.