Belydenis
Definisie: ’n Verklaring of ’n erkenning, hetsy in die openbaar of privaat, (1) van wat iemand glo of (2) van sy sondes.
Is die versoeningsritus, waaronder oorbieg (persoonlike belydenis in die oor van ’n priester), soos deur die Katolieke Kerk geleer word, Skriftuurlik?
Die wyse waarop die priester aangespreek word
Die tradisionele formulier, wat nog steeds dikwels gebruik word, is: “Seën my, Vader, want ek het gesondig. Dit is [tydsduur] sedert my laaste Belydenis.”—Die tydskrif U.S. Catholic, Oktober 1982, bl. 6.
Matt. 23:1, 2, 9: “Toe het Jesus . . . gesê: . . . En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is.”
Sondes wat vergewe kan word
“Die Kerk het nog altyd geleer dat elke sonde, ongeag hoe ernstig, vergewe kan word.”—The Catholic Encyclopedia (met die nihil obstat en die imprimatur), R. C. Broderick (Nashville, Tenn.; 1976), bl. 554.
Hebr. 10:26: “As ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie.”
Mark. 3:29: “Wie teen die Heilige Gees gelaster het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig aan die ewige oordeel.”
Boetedoening
Die biegvader skryf dikwels voor dat die boeteling die “Onse Vader” en “Weesgegroet” ’n bepaalde tal kere opsê.
Matt. 6:7: “As julle bid, gebruik nie ’n ydele herhaling van woorde soos die heidene nie, want hulle dink dat hulle deur hul baie woorde verhoor sal word.”
Matt. 6:9-12: “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, . . . vergeef ons ons skulde.” (Ons word nêrens in die Bybel beveel om tot of deur Maria te bid nie. Kyk Filippense 4:6, en ook bladsye 290, 291, onder “Maria”.)
Rom. 12:9: “Laat die liefde ongeveins wees; verafsku wat sleg is.”
Het Jesus nie sy apostels gemagtig om sondes te vergewe nie?
Joh. 20:21-23: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook. En nadat Hy dit gesê het, blaas Hy op hulle en sê vir hulle: Ontvang die Heilige Gees. As julle die mense hulle sondes vergewe, dan word dit hulle vergewe; as julle die mense hulle sondes hou, dan is dit gehou.”
Hoe het die apostels dit verstaan en toegepas? Daar is geen verslag in die Bybel van ’n enkele geval waar ’n apostel na ’n privaat belydenis geluister en toe vergifnis geskenk het nie. Die vereistes vir vergifnis deur God word egter in die Bybel uiteengesit. Onder die leiding van die heilige gees kon die apostels onderskei of individue aan sulke vereistes voldoen het, en op hierdie grondslag kon hulle sê dat God hulle vergewe het of nie vergewe het nie. Kyk Handelinge 5:1-11, asook 1 Korinthiërs 5:1-5 en 2 Korinthiërs 2:6-8 vir voorbeelde.
Kyk ook “Apostoliese opvolging”.
Geleerdes se beskouing oor die oorsprong van oorbieg verskil
The Catholic Encyclopedia, deur R. C. Broderick, sê: “Sedert die vierde eeu is oorbieg die aanvaarde metode.”—Bl. 58.
Die New Catholic Encyclopedia sê: “Talle eietydse geskiedkundiges, Katoliek sowel as Protestant, spoor die oorsprong van privaat boetedoening as ’n normale tugvorm terug tot die kerke van Ierland, Wallis en Brittanje, waar die Sakramente, Bieg inkluis, gewoonlik deur die ab van ’n klooster en sy priester-monnike bedien is. Met die kloosterlike gebruik om te bieg en openbare en privaat geestelike voorligting as die voorbeeld, is herhaalde belydenis en devosiebieg skynbaar vir die lekedom ingevoer. . . . Maar dit is eers in die 11de eeu dat verborge sondes ten tye van die belydenis en voor boetedoening vergewe is.”—(1967), Dl. XI, bl. 75.
Geskiedskrywer A. H. Sayce berig: “Die ritustekste toon dat sowel openbare as privaat belydenis in Babilonië beoefen is. Trouens, privaat belydenis was skynbaar die ouer en gebruikliker metode.”—The Religions of Ancient Egypt and Babylonia (Edinburg, 1902), bl. 497.
Wat glo Jehovah se Getuies oor belydenis?
Geloofsbelydenis deur ’n openbare verklaring
Rom. 10:9, 10: “As jy met jou mond die Here Jesus [in die openbaar] bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons [in die openbaar] tot redding.”—Vgl. NW.
Matt. 10:32, 33: “Elkeen dan wat My [Jesus Christus] sal bely voor die mense, hom sal Ek ook bely voor my Vader wat in die hemele is. Maar elkeen wat My verloën voor die mense, hom sal Ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.”
Wanneer ’n mens teen God sondig
Matt. 6:6-12: “Wanneer jy bid, gaan in jou binnekamer, sluit jou deur en bid jou Vader wat in die verborgene is . . . Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word . . . en vergeef ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.”
Ps. 32:5: “My sonde het ek U [God] bekend gemaak, en my ongeregtigheid het ek nie bedek nie. Ek het gesê: Ek wil aan die HERE my oortredinge bely; en Ú het die ongeregtigheid van my sonde vergewe.”
1 Joh. 2:1: “As iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.”
Wanneer ’n persoon teen sy naaste oortree of daar teen hom oortree is
Matt. 5:23, 24: “As jy dan jou gawe na die altaar bring en dit jou daar byval dat jou broeder iets teen jou het, laat jou gawe daar voor die altaar bly en gaan versoen jou eers met jou broeder, en kom dan en bring jou gawe.”
Matt. 18:15: “As jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen.”
Luk. 17:3: “As jou broeder teen jou sondig, bestraf hom; en as hy berou kry, vergewe hom.”
Ef. 4:32: “Wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”
Wanneer iemand hom aan ernstige oortreding skuldig maak en geestelike hulp verlang
Jak. 5:14-16: “Is daar iemand [geestelik] siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het. En die gebed van die geloof sal die kranke red, en die Here sal hom oprig. Selfs as hy sonde gedoen het, sal dit hom [deur God] vergewe word. Bely mekaar julle misdade en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word.”
Spr. 28:13: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”
Wat moet gedoen word as ’n sondaar nie hulp soek nie?
Gal. 6:1, NW: “Broers, selfs al begaan iemand ’n misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike hoedanighede het so een in ’n gees van sagmoedigheid probeer herstel, terwyl jy op jouself let, sodat jy nie ook versoek word nie.”
1 Tim. 5:20, NW: “Wys persone wat sonde beoefen voor alle aanwesiges [dit wil sê, diegene wat persoonlik van die saak weet] tereg, sodat die res ook kan vrees.”
1 Kor. 5:11-13: “Nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie. . . . Verwyder tog dié slegte mens onder julle uit.”