Dood
Definisie: Die einde van alle lewensfunksies. Wanneer asemhaling, hartklop en breinaktiwiteit ophou, hou die lewenskrag geleidelik op om in die liggaamselle te werk. Die dood is die teenoorgestelde van die lewe.
Het God die mens geskep om dood te gaan?
Inteendeel, Jehovah het Adam gewaarsku teen ongehoorsaamheid, wat tot die dood sou lei (Gen. 2:17). Later het God Israel gewaarsku teen gedrag wat vir hulle selfs ’n ontydige dood kon meebring (Eseg. 18:31). Mettertyd het hy sy Seun gestuur om vir die mensdom te sterf sodat diegene wat in hierdie voorsiening sou glo die ewige lewe kon geniet.—Joh. 3:16, 36.
Psalm 90:10 sê dat die gewone lewensduur van die mens 70 of 80 jaar is. Dit was waar toe Moses dit geskryf het, maar dit was nie van die begin af so nie. (Vergelyk Genesis 5:3-32.) Hebreërs 9:27 sê dat “die mense bestem is om een maal te sterwe”. Dit was ook waar toe dit geskryf is. Maar dit was nie die geval voordat God sondige Adam gevonnis het nie.
Waarom word ons oud en sterf ons?
Jehovah het die eerste mensepaar volmaak geskape, met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Hulle is met ’n vrye wil begaaf. Sou hulle hulle Skepper gehoorsaam uit liefde en waardering vir alles wat hy vir hulle gedoen het? Hulle was ten volle in staat om dit te doen. God het vir Adam gesê: “Van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” Deur ’n slang as spreekbuis te gebruik, het Satan Eva verlei om Jehovah se gebod te oortree. Adam het sy vrou nie tereggewys nie, maar ook daardie verbode vrug geëet. Getrou aan sy woord het Jehovah die doodvonnis oor Adam uitgespreek, maar voordat Jehovah die sondige paar tereggestel het, het hy barmhartig toegelaat dat hulle kinders voortbring.—Gen. 2:17; 3:1-19; 5:3-5; vergelyk Deuteronomium 32:4 en Openbaring 12:9.
Romeine 5:12, 17, 19, NAV: “Deur een mens [Adam] het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. . . . Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer . . . Baie [het] deur die ongehoorsaamheid van een mens sondaars geword.”
1 Kor. 15:22: “Almal [sterwe] in Adam.”
Kyk ook onder “Noodlot”.
Waarom sterf babas?
Ps. 51:7: “In ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Kyk ook Job 14:4; Genesis 8:21.)
Rom. 3:23; 6:23: “Almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God . . . Die loon van die sonde is die dood.”
God “neem” nie kinders van hulle ouers af weg soos daar vir sommige gesê is nie. Hoewel die aarde genoeg voedsel voortbring, verhinder selfsugtige politieke en kommersiële elemente dikwels dat dit versprei word onder diegene met die grootste behoefte, met die gevolg dat mense van die honger omkom. Net soos volwassenes, sterf sommige kinders in ongelukke. Maar ons het almal sonde geërf; ons is almal onvolmaak. Ons is gebore in ’n stelsel waar almal—die goeies sowel as die slegtes—eindelik sterf (Pred. 9:5). Maar Jehovah ‘verlang’ daarna om kinders met hulle ouers te herenig deur middel van die opstanding, en hy het liefdevol voorsiening getref om dit te doen.—Joh. 5:28, 29; Job 14:14, 15; vergelyk Jeremia 31:15, 16; Markus 5:40-42.
Waar is die dode?
Gen. 3:19: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer.”
Pred. 9:10: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“die graf”, KJ, Kx; “Sjeool”, NW] waar jy heengaan nie.”
Wat is die toestand van die dode?
Pred. 9:5: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie.”
Ps. 146:4: “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne [“planne”, RS, NAB, NAV; “gedagtes”, KJ, NW; “al sy denke”, NE] gedaan.”
Joh. 11:11-14: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. . . . Toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood.” (Ook Psalm 13:4)
Is daar ’n deel van die mens wat voortleef wanneer die liggaam sterf?
Eseg. 18:4: “Die siel [“siel”, NW, RS, NE, KJ, Dy, Kx; “mens”, NAV, JB; “persoon”, TEV] wat sondig, dié moet sterwe.”
Jes. 53:12: “Omdat Hy sy siel [“siel”, RS, KJ, Dy; “lewe”, TEV; “homself”, JB, Kx, NAB] uitgestort het in die dood.” (Vergelyk Mattheüs 26:38.)
Kyk ook onder “Siel” en “Gees”.
Kan die dode die lewendes enigsins help of benadeel?
Pred. 9:6: “Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”
Jes. 26:14: “Dooie mense herlewe nie, skimme staan nie op nie.”
Wat van berigte deur persone wat bygebring is nadat hulle glo dood was en wat vertel het van ’n ander lewe?
Nadat iemand opgehou het om asem te haal en die hart opgehou klop het, duur dit gewoonlik etlike minute voordat die lewenskrag die liggaamselle geleidelik begin verlaat. Indien die liggaam baie koud gehou word, kan daardie proses ure vertraag word. Daarom is dit soms moontlik om persone deur middel van kardiopulmonale resussitasie by te bring. Hulle was sogenaamd “klinies dood”, maar hulle liggaamselle het nog gelewe.
Baie persone wat ná “kliniese dood” bygebring word, onthou niks. Ander sê dat dit vir hulle gevoel het asof hulle sweef. Sommige sê dat hulle pragtige dinge gesien het; ander is deur hulle ondervinding verskrik.
Bestaan daar ’n mediese verklaring vir enige van hierdie ervaringe?
Die mediese redakteur van The Arizona Republic het geskryf: “Wanneer ’n mens se liggaamlike vermoë op sy laagste peil is, soos onder narkose, of as gevolg van siekte of besering, neem onwillekeurige beheer oor die liggaamsfunksies dienooreenkomstig af. Die neurohormone en katesjolamiene van die senuweestelsel word gevolglik in onbeheerde hoeveelhede vrygestel. Een van die gevolge is die hallusinasie, wat na die herwinning van die bewussyn gerasionaliseer word, dat jy gesterf en weer tot die lewe teruggekeer het.”—28 Mei 1977, bl. C-1; ook die Duitse mediese tydskrif Fortschritte der Medizin, nr. 41, 1979; Psychology Today, Januarie 1981.
Maar word die getuienis van diegene wat bygebring is nie gestaaf deur mense aan wie afgestorwe dierbares verskyn en met wie hulle gepraat het nie?
Lees asseblief weer die tekste wat vroeër aangehaal is oor die toestand van die dode. Wat sê God se Woord van waarheid vir ons oor die toestand van die dode?
Wie wil hê dat mense iets anders moet glo? Wie het Jehovah weerspreek nadat Hy ons eerste ouers gewaarsku het dat ongehoorsaamheid die dood sou meebring? “Toe sê die slang [wat deur Satan gebruik is; kyk Openbaring 12:9] vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie” (Gen. 3:4). Later het Adam en Eva wel gesterf. Wie het dus die gedagte versin dat ’n geesdeel van die mens ná die dood van die liggaam voortleef? Soos ons reeds gesien het, is dit nie wat God se Woord sê nie. God se wet aan eertydse Israel het die gebruik om die dode te raadpleeg as ‘onrein’ en ’n “gruwel” veroordeel (Lev. 19:31; Deut. 18:10-12; Jes. 8:19). Sou ’n God van liefde hierdie gebruik veroordeel indien die lewendes bloot met afgestorwe dierbares gekommunikeer het? Maar gestel duiwelse geeste het hulle vir die dode uitgegee en die mensdom mislei deur indrukke by hulle te wek wat ’n leuen sou laat voortbestaan. Sou dit dan nie liefdevol van God wees om sy knegte teen sulke bedrog te beskerm nie?—Ef. 6:11, 12.
Waarom doen Jehovah se Getuies nie aan tradisionele rougebruike mee nie?
Dit is normaal om bedroef te wees en te treur oor die dood van ’n dierbare
“Jesus het geween” na die dood van sy boesemvriend Lasarus (Joh. 11:35). Soms was die smart wat God se knegte as gevolg van iemand se dood ervaar het intens.—2 Sam. 1:11, 12.
Maar as gevolg van die opstandingshoop word Christene meegedeel: “Ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie.”—1 Thess. 4:13.
Jehovah se knegte verwerp nie alle gebruike wat met die dood verband hou nie
Gen. 50:2, 3, LB: “Toe gee Josef die lykbesorgers bevel om sy pa se liggaam te balsem. Vir veertig dae was hulle daarmee besig—hierdie proses het gewoonlik so lank geduur.”
Joh. 19:40: “Hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met die speserye, soos die gewoonte van die Jode is om te begrawe.”
Mense wat God wil behaag, vermy gebruike wat in stryd is met sy Woord
Sommige gebruike maak ’n mens se smart in die openbaar bekend. Maar Jesus het gesê: “Wanneer julle vas [weens droefheid], moenie lang gesigte trek soos die geveinsdes nie; want hulle mismaak hul gesigte, sodat dit deur die mense gesien kan word dat hulle vas. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg. Maar jy, as jy vas, salf jou hoof en was jou gesig, sodat jy nie die mense laat sien dat jy vas nie, maar jou Vader wat in die verborgene is; en jou Vader wat in die verborgene sien, sal jou in die openbaar vergelde.”—Matt. 6:16-18.
Sekere gebruike weerspieël die geloof dat die mens ’n onsterflike siel het wat ná die dood van die liggaam voortleef en gevolglik bewus is van wat die oorlewendes doen. Maar die Bybel sê: “Die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5). Ook: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Eseg. 18:4.
Baie gebruike spruit voort uit die opvatting dat die dode die hulp van die lewendes nodig het of uit vrees dat hulle die lewendes sal benadeel indien hulle nie gepaai word nie. Maar God se Woord toon dat die dode nòg pyn nòg genot ervaar. “Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” (Ps. 146:4; kyk ook 2 Samuel 12:22, 23.) “Hulle liefde sowel as hulle haat, ook hulle naywer, het lankal verdwyn, en hulle het vir ewig geen deel meer aan alles wat gebeur onder die son nie.”—Pred. 9:6.
As iemand sê—
‘Dit is God se wil’
Jy kan antwoord: ‘Dit is ’n baie algemene opvatting. Maar ek het dit nuttig gevind om na te vors wat God self hieroor sê.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘(Lees Genesis 2:17.) As ’n vader sy seun waarsku dat ’n sekere daad hom sy lewe sal kos, sou u dan sê dat die vader wil hê dat die seun dit moet doen?’ (2) ‘Wat is dan werklik God se wil vir die mensdom? Jesus het gesê: “Dit is die wil van Hom wat My gestuur het, dat elkeen wat die Seun aanskou [dit wil sê, begryp en erken dat Jesus waarlik God se Seun is] en in Hom glo, die ewige lewe mag hê; en Ek sal hom opwek in die laaste dag” (Joh. 6:40).’
‘Mense sal altyd sterf’
Jy kan antwoord: ‘Dit is beslis wat tot vandag toe met mense gebeur, nie waar nie?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Maar kyk na hierdie wonderlike belofte van God in Openbaring 21:3, 4 (of Jesaja 25:8).’
‘Dit gebeur wanneer jou tyd om is’
Jy kan antwoord: ‘Baie mense dink so. Het u geweet dat baie van die eertydse Grieke dieselfde beskouing gehuldig het? Hulle het geglo dat daar drie godinne is wat bepaal het hoe lank elke mens sou leef. Maar die Bybel bied ’n heeltemal ander beskouing van die lewe.’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘(Lees Prediker 9:11.) Ter toeligting: ’n Stuk beton kan van ’n gebou afbreek en op ’n voetganger val. Het God dit veroorsaak? Is dit dan redelik om die eienaar van die gebou van nalatigheid aan te kla? . . . Soos die Bybel sê, was dit onbeplan en onvoorsien dat die voetganger presies daar was net toe die beton geval het.’ (2) ‘Die Bybel deel ons mee dat indien ons slegte gedrag vermy, ons ons lewe bewaar (Spr. 16:17). Indien u ’n ouer is, is ek seker dat u daardie beginsel in verband met u kinders toepas. U waarsku hulle teen dinge wat die dood tot gevolg kan hê. Jehovah doen vandag dieselfde vir die hele mensdom.’ (3) ‘Jehovah weet wat die toekoms inhou. Deur middel van die Bybel deel hy ons mee hoe ons ’n veel langer lewe kan geniet as die mense wat ignoreer wat hy sê (Joh. 17:3; Spr. 12:28).’ (Kyk ook onder “Noodlot”.)