Aarde
Definisie: Die woord “aarde” word in meer as een betekenis in die Skrif gebruik. Dit laat ons gewoonlik dink aan die planeet self, wat mildelik deur Jehovah toegerus is sodat dit menselewe kan onderhou om ons lewens uiters bevredigend te maak. Ons moet egter besef dat “aarde” ook figuurlik gebruik kan word vir, byvoorbeeld, die mense wat op hierdie planeet woon of ’n mensegemeenskap wat sekere karaktertrekke openbaar.
Sal die planeet Aarde in ’n kernoorlog vernietig word?
Wat is volgens die Bybel God se voorneme met die aarde?
Matt. 6:10: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde.”
Ps. 37:29: “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”
Kyk ook Prediker 1:4; Psalm 104:5.
Bestaan die moontlikheid dat die nasies, daar hulle min agting vir God se voorneme toon, in elk geval die aarde onbewoonbaar kan maak?
Jes. 55:8-11: “[So spreek Jehovah:] Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. . . . My woord . . . sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”
Jes. 40:15, 26: “Kyk, die nasies is [in Jehovah God se oë] soos ’n druppel aan die emmer, en soos ’n stoffie aan die weegskaal word hulle gereken. . . . Slaan julle oë op in die hoogte en kyk [die son, die maan en die duisendmiljoene sterre]! Wie het hierdie dinge geskape? Hy laat hulle leërskare uittrek volgens getal, Hy roep hulle almal by die naam, vanweë die grootheid van kragte en omdat Hy sterk van vermoë is; daar word nie een gemis nie.” (Die kernkrag wat die nasies ontwikkel het, is vir mense vreeswekkend. Maar duisendmiljoene sterre gebruik kernkrag op ’n skaal wat ons verstand te bowe gaan. Wie het al hierdie hemelliggame geskape en wie beheer hulle? Kan Hy nie verhoed dat die nasies hulle kernwapens gebruik op ’n wyse wat sy voorneme sou verydel nie? Dat God dit gaan doen, word toegelig deur die feit dat hy die leërmag van Egipte vernietig het toe Farao probeer keer het dat Israel verlos word.—Ex. 14:5-31.)
Openb. 11:17, 18: “Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom en die tyd . . . om die verderwers van die aarde te verderf.”
Gaan God self die aarde met vuur vernietig?
Steun 2 Petrus 3:7, 10 daardie beskouing? “Die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. . . . Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand [“verbrand”, RS, JB; “sal verdwyn”, TEV; “sal geopenbaar word”, NAB; “sal blootgelê word”, NE; “sal ontdek word”, NW].” (Let wel: Die Kodeks Sinaiticus en Vatikaanse manuskrip 1209, albei van die 4de eeu G.J., lui “sal ontdek word”. Latere manuskripte, die Kodeks Alexandrinus van die 5de eeu en die 16de-eeuse Clementynse hersiene uitgawe van die Vulgata, lui “sal verbrand”.)
Toon Openbaring 21:1 dat ons planeet vernietig gaan word? “En ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie.”
Die vertolking van hierdie verse kan alleen korrek wees as dit met die verband en met die res van die Bybel ooreenstem
As hierdie tekste (2 Petrus 3:7, 10 en Openbaring 21:1) beteken dat die letterlike planeet Aarde deur vuur verteer gaan word, moet die letterlike hemele (die sterre en ander hemelliggame) ook deur vuur vernietig word. So ’n letterlike vertolking bots egter met die versekering wat bevat word in tekste soos Mattheüs 6:10, Psalm 37:29 en 104:5, asook in Spreuke 2:21, 22 (NW). En watter uitwerking sal vuur op die reeds brandende son en sterre hê? Die woord “aarde” in die tekste wat hierbo aangehaal is, moet dus anders verstaan word.
In Genesis 11:1, 1 Konings 2:1, 2, 1 Kronieke 16:31, Psalm 96:1, ens., word die woord “aarde” figuurlik gebruik en slaan dit op die mensdom. Is dit moontlik die geval in 2 Petrus 3:7, 10 en Openbaring 21:1?
Let op dat daar in die verband, in 2 Petrus 3:5, 6 (ook 2:5, 9), ’n vergelyking gemaak word met die Vloed van Noag se dag waarin die goddelose mensegemeenskap vernietig is, terwyl Noag en sy gesin, asook die aardbol self, behoue gebly het. In 2 Petrus 3:7 sê dit eweneens dat dit “goddelose mense” is wat vernietig gaan word. Die beskouing dat “die aarde” hier op die goddelose mensegemeenskap sien, strook ten volle met die res van die Bybel, soos toegelig deur die tekste wat hierbo aangehaal is. Dit is daardie simboliese “aarde” of goddelose mensegemeenskap, wat “ontdek word”; dit wil sê, Jehovah sal alle skyn soos met vuur verskroei en die goddeloosheid van die goddelose mensegemeenskap blootlê en toon dat dit verdien om heeltemal vernietig te word. Daardie goddelose mensegemeenskap is ook “die eerste aarde” waarvan Openbaring 21:1 praat.
Jesus se woorde in Lukas 21:33 (“die hemel en die aarde sal verbygaan, maar . . . ”) moet dienooreenkomstig verstaan word in die lig van die parallelle verklaring in Lukas 16:17 (“dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat . . . ”), wat albei bloot die onmoontlikheid van die gemelde situasies beklemtoon.—Kyk ook Mattheüs 5:18.
Sal die regverdiges hemel toe geneem word en dan teruggebring word aarde toe nadat die goddeloses vernietig is?
Steun Openbaring 21:2, 3 daardie beskouing? Dit sê: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” (Beteken die feit dat God by die mensdom sal “woon” en ‘by hulle sal wees’ dat hy ’n vleeslike Wese gaan word? Dit kan nie wees nie, want Jehovah het vir Moses gesê: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie” [Ex. 33:20]. Die lede van die Nuwe Jerusalem sal gevolglik nie as fisiese wesens na die aarde terugkeer nie. Hoe kan God dan “by” die mensdom wees en hoe sal die Nuwe Jerusalem ‘uit die hemel neerdaal’? Ons vind ongetwyfeld ’n aanduiding in Genesis 21:1, wat sê dat God Sara “besoek” het deur haar op haar oudag met ’n seun te seën. Exodus 4:31 (LB) deel ons mee dat God ‘na Israel toe gekom het’ deur Moses as ’n verlosser te stuur. Lukas 7:16 sê dat God sy volk “besoek” het deur middel van Jesus se bediening. Ander vertalings gebruik die uitdrukking dat God op sy volk “ag gegee” het [AB] of ‘besorgdheid’ oor hulle getoon het [NE]. Openbaring 21:2, 3 moet dus beteken dat God die mensdom sal “besoek” of by hulle sal wees deur middel van die hemelse Nuwe Jerusalem, waardeur seëninge op gehoorsame mense uitgestort sal word.)
Spr. 2:21, 22: “Die opregtes sal die land [“aarde”, NE] bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land [“aarde”, NW] uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word.” (Let daarop dat dit nie sê dat die regskapenes na die aarde sal terugkeer nie, maar dat hulle “daarin oorbly”.)
Het God se oorspronklike voorneme met die aarde verander?
Gen. 1:27, 28: “God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (God het aldus getoon dat dit sy voorneme is dat die aarde gevul moet word met die afstammelinge van Adam en Eva as opsigters van ’n aardwye paradys. Het die Skepper, nadat hy hierdie aarde op wonderlike wyse as woonplek vir mense ontwerp het, en dit uniek gemaak het onder al die planete wat die mens met sy teleskope en ruimteskepe ondersoek het, eenvoudig sy voorneme laat vaar en dit vir ewig onvervuld gelaat weens Adam se sonde?)
Jes. 45:18: “So sê die HERE, wat die hemele geskape het—Hy is God!—wat die aarde geformeer en dit gemaak het—Hy het dit bevestig; Hy het dit nie geskape om woes te wees nie, maar dit geformeer om bewoon te word—Ek is die HERE, en daar is geen ander nie.” (Kyk ook Jesaja 55:10, 11.)
Sal die aarde groot genoeg wees vir almal as niemand in God se Nuwe Orde sterf nie?
Hou in gedagte dat toe God sy voorneme met die aarde bekend gemaak het, hy gesê het: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde” (Gen. 1:28). God het die mens die vermoë gegee om voort te plant, en wanneer Sy voorneme in daardie verband vervul is, kan Hy voortplanting op aarde laat ophou.
Aan watter soort mense sal God die ewige lewe op aarde gee?
Sef. 2:3: “Soek die HERE, o alle ootmoediges van die land, wat sy ordening onderhou; soek geregtigheid, soek ootmoedigheid—miskien sal julle verborge bly op die dag van die toorn van die HERE.”
Ps. 37:9, 11: “Die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. . . . Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”