Valse profete
Definisie: Individue en organisasies wat boodskappe verkondig wat hulle aan ’n bomenslike bron toeskryf, maar wat nie van die ware God af kom nie en nie in ooreenstemming met sy geopenbaarde wil is nie.
Hoe kan ware en valse profete geïdentifiseer word?
Ware profete het hulle geloof in Jesus bekend gemaak, maar meer is nodig as net om te sê dat ’n mens in sy naam preek
1 Joh. 4:1-3: “Stel die geeste [“geïnspireerde uitinge”, NW] op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie.”
Matt. 7:21-23: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer . . . nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Ware profete spreek in die naam van God, maar dit is nie genoeg net om te sê dat ’n mens hom verteenwoordig nie
Deut. 18:18-20: “’n Profeet sal Ek vir hulle verwek uit die midde van hulle broers, soos jy [soos Moses] is, en Ek sal my woorde in sy mond lê, en Hy sal aan hulle sê alles wat Ek Hom beveel. En die man wat nie luister na my woorde wat Hy in my Naam spreek nie, van hom sal Ek self rekenskap afeis. Maar die profeet wat so vermetel is om ’n woord in my Naam te spreek wat Ek hom nie beveel het om te spreek nie, of wat in die naam van ander gode spreek, dié profeet moet sterwe.” (Vergelyk Jeremia 14:14; 28:11, 15.)
Jesus het gesê: “Uit Myself doen Ek niks nie; maar net wat my Vader My geleer het, dit spreek Ek” (Joh. 8:28). Hy het gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader” (Joh. 5:43). Hy het ook gesê: “Hy wat uit homself spreek, soek sy eie eer.”—Joh. 7:18.
Voldoen individue of organisasies aan hierdie belangrike vereiste vir ’n ware profeet as hulle daarop aanspraak maak dat hulle God verteenwoordig, maar nie God se persoonlike naam wil gebruik nie en ’n gebruik daarvan maak om hulle eie menings oor sake uit te spreek?
Die vermoë om “groot tekens” of “wonderwerke” te verrig, is nie noodwendig ’n bewys dat iemand ’n ware profeet is nie
Matt. 24:24: “Daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders [“wonderwerke”, NAV] doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.”
2 Thess. 2:9, 10: “[Die ongeregtige] se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie.”
Moses het andersyds wonderwerke op Jehovah se bevel verrig (Ex. 4:1-9). Jehovah het Jesus ook die mag gegee om wonderwerke te verrig (Hand. 2:22). Maar dit was meer as net wonderwerke wat bewys het dat hulle waarlik deur God gestuur is.
Ware profete se voorspellings word bewaarheid, maar hulle verstaan dalk nie presies wanneer of hoe dit sal gebeur nie
Dan. 12:9: “Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.”
1 Pet. 1:10, 11: “Die profete . . . het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna.”
1 Kor. 13:9, 10: “Ons ken ten dele en ons profeteer ten dele. Maar as die volmaakte gekom het, dan sal wat ten dele is, tot niet gaan.”
Spr. 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”
Die apostels en ander vroeë Christendissipels het sekere verkeerde verwagtinge gekoester, maar die Bybel klassifiseer hulle nie saam met die “valse profete” nie.—Kyk Lukas 19:11; Johannes 21:22, 23; Handelinge 1:6, 7.
Die profeet Natan het koning Dawid aangespoor om voort te gaan en te doen wat in sy hart was, naamlik om ’n huis vir Jehovah se aanbidding te bou. Maar later het Jehovah vir Natan gesê om Dawid te verwittig dat hy nie die een was wat dit sou bou nie. Jehovah het Natan nie verwerp oor wat hy vroeër gesê het nie, maar voortgegaan om hom te gebruik omdat hy nederig die saak reggestel het toe Jehovah dit vir hom duidelik gemaak het.—1 Kron. 17:1-4, 15.
Die uitsprake van ’n ware profeet bevorder ware aanbidding en strook met Jehovah se geopenbaarde wil
Deut. 13:1-4: “As ’n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop—wat jy nie geken het nie—en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.”
Die Bybel sê dat “’n vriend van die wêreld” ’n vyand van God is. Bevorder geestelikes wat hulle gemeentelede aanspoor om by die aangeleenthede van die wêreld betrokke te raak ware aanbidding? (Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17). Die ware God het gesê dat die nasies “sal moet weet dat ek Jehovah is”, en die Bybel sê dat God “’n volk . . . vir sy Naam” uit die nasies sou aanneem. Maar tree godsdiensorganisasies wat sê dat dit nie belangrik is om God se persoonlike naam te gebruik nie ooreenkomstig hierdie geopenbaarde wil van God op? (Eseg. 38:23, NW; Hand. 15:14). Jesus het sy volgelinge geleer om vir God se Koninkryk te bid, en die Bybel maan ons om nie op mensekinders te vertrou nie. Is geestelikes of politieke organisasies wat mense aanspoor om hulle vertroue in menseheerskappy te stel ware profete?—Matt. 6:9, 10; Ps. 146:3-6; vergelyk Openbaring 16:13, 14.
Ware en valse profete kan herken word aan die vrugte wat in hulle lewens en die lewens van hulle volgelinge geopenbaar word
Matt. 7:15-20: “Pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is. Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. . . . So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. . . . So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”
Wat kenmerk hulle lewenswyse? “Die werke van die vlees is . . . hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê . . . dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van [God se] Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.”—Gal. 5:19-22; kyk ook 2 Petrus 2:1-3.
Het Jehovah se Getuies dan nie foute in hulle leerstellings begaan nie?
Jehovah se Getuies maak nie daarop aanspraak dat hulle geïnspireerde profete is nie. Hulle het foute begaan. Net soos Jesus Christus se apostels het hulle soms verkeerde verwagtinge gekoester.—Luk. 19:11; Hand. 1:6.
Die Skrif meld tydperke wat met Christus se teenwoordigheid verband hou, en Jehovah se Getuies het dit met groot belangstelling bestudeer (Luk. 21:24; Dan. 4:10-17). Jesus het ook ’n veelvoudige teken beskryf wat sou saamval met die vervulling van tydprofesieë om die geslag te identifiseer wat sou lewe om die einde van Satan se goddelose stelsel te sien (Luk. 21:7-36). Jehovah se Getuies het op getuienis ter vervulling van hierdie teken gewys. Die Getuies het weliswaar foute begaan in hulle begrip van wat aan die einde van sekere tye sou gebeur, maar hulle het nie die fout begaan om geloof te verloor of om op te hou waak ten opsigte van die vervulling van Jehovah se voornemens nie. Jesus se volgende raad beklee steeds ’n belangrike plek in hulle denke: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”—Matt. 24:42.
Die sake waarin hulle hulle siening moes wysig, was betreklik gering vergeleke met die lewensbelangrike Bybelwaarhede wat hulle onderskei en bekend gemaak het. Hierdie waarhede sluit die volgende in: Jehovah is die enigste ware God. Jesus Christus is nie deel van ’n drie-enige God nie, maar is die eniggebore Seun van God. Verlossing uit sonde is moontlik slegs deur geloof in Christus se losprysoffer. Die heilige gees is nie ’n persoon nie, maar is Jehovah se werkende krag, en die vrug daarvan moet duidelik wees in die lewens van ware aanbidders. Die mensesiel is nie onsterflik soos die antieke heidene beweer het nie; dit sterf, en die hoop op toekomstige lewe is deur die opstanding. God het goddeloosheid toegelaat as gevolg van die geskil oor universele soewereiniteit. God se Koninkryk is die enigste hoop vir die mensdom. Sedert 1914 lewe ons in die laaste dae van die goddelose wêreldstelsel. Slegs 144 000 getroue Christene sal saam met Christus konings en priesters in die hemel wees, terwyl die res van die gehoorsame mense die ewige lewe op ’n paradysaarde sal ontvang.
Nog iets omtrent die leerstellings van Jehovah se Getuies wat in aanmerking geneem moet word, is: Het dit mense werklik sedelik verhef? Is diegene wat aan hierdie leerstellings trou bly opvallende voorbeelde van eerlikheid in hulle gemeenskap? Word hulle gesinslewe ten goede beïnvloed omdat hulle hierdie leerstellings toepas? Jesus het gesê dat sy dissipels geredelik geïdentifiseer sou kon word omdat hulle liefde onder mekaar het (Joh. 13:35). Is hierdie eienskap opvallend onder Jehovah se Getuies? Ons laat die feite vir hulself getuig.
As iemand sê—
‘My predikant het gesê dat Jehovah se Getuies die valse profete is’
Jy kan antwoord: ‘Mag ek vra: Het hy vir u enigiets in die Bybel getoon wat beskryf wat ons glo of doen en wat sê dat sulke mense valse profete is? . . . Mag ek vir u wys hoe die Bybel valse profete beskryf? (Gebruik dan een of meer van die gedagtes wat op bladsye 407-410 gemeld word.)’
Of jy kan sê: ‘Ek is seker u sal saamstem dat so ’n ernstige beskuldiging deur spesifieke getuienis gesteun moet word. Het u predikant enige spesifieke voorbeelde gemeld? (Indien die huisbewoner sommige vermeende “voorspellings” meld wat nie bewaarheid is nie, kan jy die materiaal van onderaan bladsy 408 tot boaan bladsy 409, asook die materiaal op bladsye 410, 411 gebruik.)’
’n Ander moontlikheid: ‘Ek is seker dat as iemand u van so iets beskuldig het, u die geleentheid sou verwelkom om ten minste u posisie of standpunt te verduidelik, nie waar nie? . . . Mag ek dus vir u uit die Bybel wys . . . ?’