Jehovah
Definisie: Die persoonlike naam van die enigste ware God, ’n naam wat hy aan homself gegee het. Jehovah is die Skepper en, tereg, die Soewereine Heerser van die heelal. “Jehovah” is ’n vertaling van die Hebreeuse Tetragrammaton, יהוה, wat beteken “Hy laat word”. Hierdie vier Hebreeuse letters word in baie tale deur die letters JHVH of YHWH voorgestel.
Waar word God se naam aangetref in Bybelvertalings wat vandag algemeen gebruik word?
The New English Bible: Die naam Jehovah kom voor in Exodus 3:15; 6:3. Kyk ook Genesis 22:14; Exodus 17:15; Rigters 6:24; Esegiël 48:35. (Maar as hierdie en ander vertalings “Jehovah” op verskeie plekke gebruik, waarom is hulle dan nie konsekwent en gebruik hulle dit elke keer waar die Tetragrammaton in die Hebreeuse teks voorkom nie?)
Revised Standard Version: ’n Voetnoot oor Exodus 3:15 sê: “Wanneer die woord HERE met hoofletters gespel word, staan dit vir die goddelike naam, YHWH.”
Today’s English Version: ’n Voetnoot oor Exodus 6:3 sê: “DIE HERE: . . . Waar die Hebreeuse teks Jahweh sê, wat tradisioneel as Jehovah getranslitereer word, gebruik hierdie vertaling HERE met hoofletters, in navolging van ’n algemene gebruik in Engelse weergawes.”
King James Version: Die naam Jehovah kom voor in Exodus 6:3; Psalm 83:18; Jesaja 12:2; 26:4. Kyk ook Genesis 22:14; Exodus 17:15; Rigters 6:24.
American Standard Version: In hierdie vertaling word die naam Jehovah vanaf Genesis 2:4 deurgaans in die Hebreeuse Skrifte gebruik.
Douay Version: ’n Voetnoot oor Exodus 6:3 sê: “My naam Adonai. Die naam, wat in die Hebreeuse teks is, is daardie allergepaste naam van God, wat sy ewige, selfbestaande wese aandui (Ex. 3:14), wat die Jode uit eerbied nooit uitspreek nie; maar in plaas daarvan, wanneer dit in die Bybel voorkom, Adonai lees, wat die Here beteken; en daarom het hulle die tekens of vokale, wat by die naam Adonai hoort, by die vier letters van daardie ander onuitspreekbare naam, Jod, He, Wau, He, geskryf. Sommige moderniste het gevolglik die naam Jehovah versin, wat vir al die antieke mense, hetsy Jode of Christene, onbekend was; want die ware uitspraak van die naam, wat in die Hebreeuse teks is, het weens langdurige onbruik nou heeltemal verlore gegaan.” (Dis interessant dat The Catholic Encyclopedia [1913, Dl. VIII, bl. 329] sê: “Jehovah, die eienaam van God in die Ou Testament; daarom het die Jode dit by uitnemendheid die naam, die groot naam, die enigste naam genoem.”)
The Holy Bible vertaal deur Ronald A. Knox: Die naam Jahweh word in voetnote by Exodus 3:14 en 6:3 aangetref.
The New American Bible: ’n Voetnoot oor Exodus 3:14 verkies die vorm “Jahweh”, maar die naam kom nie in die hoofteks van die vertaling voor nie. Kyk ook in die Sint Josef-weergawe onder “Lord” en “Yahweh” in die Bybelwoordeboek wat deel van die aanhangsel uitmaak.
The Jerusalem Bible: Die Tetragrammaton word met Jahweh vertaal vanaf Genesis 2:4, waar dit die eerste keer voorkom.
New World Translation: Die naam Jehovah word in hierdie vertaling in die Hebreeuse sowel as die Christelike Griekse Skrifte gebruik, en kom 7 210 keer voor.
An American Translation: Die naam Jahweh word in Exodus 3:15 en 6:3 gebruik, gevolg deur “die HERE” tussen hakies.
The Bible in Living English, S. T. Byington: Die naam Jehovah word dwarsdeur die Hebreeuse Skrifte gebruik.
The ‘Holy Scriptures’ vertaal deur J. N. Darby: Die naam Jehovah kom dwarsdeur die Hebreeuse Skrifte voor, ook in talle voetnote van tekste in die Christelike Griekse Skrifte, vanaf Mattheüs 1:20.
The Emphatic Diaglott, Benjamin Wilson: Die naam Jehovah word in Mattheüs 21:9 en op 17 ander plekke in hierdie vertaling van die Christelike Griekse Skrifte aangetref.
The Holy Scriptures According to the Masoretic Text—A New Translation, Jewish Publication Society of America, Max Margolis as hoofredakteur: In Exodus 6:3 verskyn die Hebreeuse Tetragrammaton in die Engelse teks.
The Holy Bible vertaal deur Robert Young: Die naam Jehovah word dwarsdeur die Hebreeuse Skrifte van hierdie letterlike vertaling aangetref.
Waarom gebruik baie Bybelvertalings die persoonlike naam van God glad nie of net ’n paar keer?
Die voorwoord van die Revised Standard Version verduidelik: “Die Komitee het om twee redes na die bekender gebruik van die King James Version teruggekeer: (1) die woord ‘Jehovah’ gee nie enige vorm van die Naam wat ooit in Hebreeus gebruik is juis weer nie; en (2) die gebruik van enige eienaam vir die een en enige God, asof daar ander gode is waarvan hy onderskei moet word, is voor die Christelike eeu in Judaïsme gestaak en is heeltemal onvanpas vir die universele geloof van die Christelike Kerk.” (Hulle het dus staatgemaak op hulle eie beskouing van wat gepas is as die grondslag om die persoonlike naam van die Goddelike Outeur van die Heilige Bybel uit daardie boek te verwyder, ’n naam wat meer as enige ander naam of enige titel in die oorspronklike Hebreeus voorkom. Hulle volg, soos hulle self erken, die voorbeeld van die aanhangers van Judaïsme, van wie Jesus gesê het: “So het julle dan die gebod van God kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering.”—Matt. 15:6.)
Vertalers wat verplig gevoel het om die persoonlike naam van God ten minste een keer of moontlik ’n paar keer in die hoofteks te gebruik, hoewel nie elke keer wat dit in Hebreeus voorkom nie, het klaarblyklik die voorbeeld gevolg van William Tyndale, wat die goddelike naam ingesluit het in sy vertaling van die Pentateug wat in 1530 verskyn het en wat aldus afgewyk het van die gebruik om die naam heeltemal weg te laat.
Is die naam Jehovah deur die geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Skrifte gebruik?
Hieronymus het in die vierde eeu geskryf: “Mattheüs, wat ook Levi genoem word, en wat ’n tollenaar was en ’n apostel geword het, het eerste ’n Evangelie van Christus in Judea in die Hebreeuse taal en letters geskryf ter wille van die besnedenes wat gelowig geword het” (De viris inlustribus, hfst. III). Hierdie Evangelie sluit 11 regstreekse aanhalings van dele van die Hebreeuse Skrifte in waar die Tetragrammaton aangetref word. Daar bestaan geen rede om te glo dat Mattheüs die gedeeltes nie aangehaal het soos hulle in die oorspronklike Hebreeuse teks geskryf is nie.
Ander geïnspireerde skrywers wat tot die inhoud van die Christelike Griekse Skrifte bygedra het, het honderde gedeeltes aangehaal uit die Septuaginta, ’n vertaling van die Hebreeuse Skrifte in Grieks. Baie van hierdie gedeeltes het die Hebreeuse Tetragrammaton reg in die Griekse teks van vroeë eksemplare van die Septuaginta ingesluit. In ooreenstemming met Jesus se gesindheid teenoor sy Vader se naam, sou Jesus se dissipels daardie naam in daardie aanhalings behou het.—Vergelyk Johannes 17:6, 26.
In Journal of Biblical Literature het George Howard van die Universiteit van Georgia geskryf: “Ons weet met sekerheid dat Griekssprekende Jode aangehou het om יהוה in hulle Griekse Skrifte te skrywe. Bowendien is dit uiters onwaarskynlik dat vroeë konserwatiewe Griekssprekende Joodse Christene van hierdie gebruik afgewyk het. Hoewel hulle waarskynlik die woorde [God] en [Here] in sekondêre verwysings na God gebruik het, sou dit uiters buitengewoon gewees het indien hulle die Tetragram uit die Bybelteks self verwyder het. . . . Aangesien die Tetragram nog steeds geskryf is in die eksemplare van die Griekse Bybel wat die Skrifte van die vroeë kerk uitgemaak het, is dit redelik om te glo dat die N[ieu]-T[estamentiese] skrywers die Tetragram in die Bybelteks behou het wanneer hulle uit die Skrif aangehaal het. . . . Maar toe dit uit die Griekse O[u] T[estament] verwyder is, is dit ook uit aanhalings uit die O[u] T[estament] in die N[uwe] T[estament] verwyder. Omstreeks die begin van die tweede eeu moes die gebruik van surrogate [plaasvervangers] dus die Tetragram uit albei Testamente verdring het.”—Dl. 96, nr. 1, Maart 1977, bl. 76, 77.
Watter vorm van die goddelike naam is reg—Jehovah of Jahweh?
Geen mens kan vandag seker wees hoe dit oorspronklik in Hebreeus uitgespreek is nie. Waarom nie? Bybelse Hebreeus is oorspronklik slegs met konsonante en geen vokale geskryf nie. Toe die taal ’n omgangstaal was, het lesers maklik die regte vokale voorsien. Maar mettertyd het die Jode die bygelowige idee gekry dat dit verkeerd is om God se persoonlike naam hardop uit te spreek, en daarom het hulle surrogate gebruik. Eeue later het Joodse geleerdes ’n stelsel tekens ontwikkel om aan te dui watter vokale gebruik moet word wanneer antieke Hebreeus gelees word, maar hulle het die vokale van die surrogaatwoorde om die vier konsonante wat die goddelike naam voorstel, ingevul. Die oorspronklike uitspraak van die goddelike naam het gevolglik verlore gegaan.
Talle geleerdes verkies die spelling “Jahweh”, maar daar bestaan onsekerheid en hulle is dit nie almal met mekaar eens nie. “Jehovah” is andersyds die vorm van die naam wat die geredelikste herken word omdat dit al eeue lank in Engels gebruik word en, net soos ander vorms, die vier letters van die Hebreeuse Tetragrammaton bewaar.
In The Emphasised Bible het J. B. Rotherham die vorm Jahweh dwarsdeur die Hebreeuse Skrifte gebruik. Maar later het hy die vorm “Jehovah” in sy Studies in the Psalms gebruik. Hy het verduidelik: “JEHOVAH—Die gebruik van hierdie Engelse vorm van die Gedenknaam . . . in die huidige vertaling van die Psalms spruit nie voort uit enige twyfel oor die korrekter uitspraak, naamlik Jahwéh, nie; maar berus uitsluitlik op praktiese getuienis wat ek persoonlik ingewin het oor die wenslikheid daarvan om in ’n saak van hierdie aard met die oor en oog van die publiek in voeling te bly. Die hoofsaak is dat die Goddelike naam maklik herken moet word.”—(Londen, 1911), bl. 29.
Nadat Duitse professor Gustav Friedrich Oehler verskeie uitsprake bespreek het, het hy tot die gevolgtrekking gekom: “Voortaan gebruik ek die woord Jehovah, want hierdie naam is inderdaad meer ingeburger in ons woordeskat, en dit kan nie verdring word nie.”—Theologie des Alten Testaments, tweede uitgawe (Stuttgart, 1882), bl. 143.
Jesuïet-geleerde Paul Joüon sê: “In plaas van die (hipotetiese) vorm Yahweh, het ons die vorm Jéhovah . . . wat die gebruiklike literêre vorm in Frans is, in ons vertalings gebruik.”—Grammaire de l’hébreu biblique (Rome, 1923), voetnoot op bl. 49.
Die meeste name verander effens wanneer hulle uit een taal in ’n ander oorgesit word. Jesus is as ’n Jood gebore, en in Hebreeus is sy naam moontlik Je·sjoeʹa uitgespreek, maar die geïnspireerde skrywers van die Christelike Skrifte het nie geaarsel om die Griekse vorm van die naam, I·e·sousʹ, te gebruik nie. In die meeste ander tale is die uitspraak effens verskillend, maar ons gebruik vryelik die vorm wat in ons taal algemeen is. Dieselfde geld vir ander Bybelname. Hoe kan ons dan die nodige eerbied betoon vir die Een aan wie die allerbelangrikste naam behoort? Sou dit wees deur nooit sy naam uit te spreek of neer te skryf nie omdat ons nie weet presies hoe dit oorspronklik uitgespreek is nie? Of sou dit eerder wees deur die uitspraak en spelling te gebruik wat algemeen in ons taal is, terwyl ons met waardering spreek van die Besitter daarvan en ons as sy aanbidders gedra op ’n wyse wat hom tot eer strek?
Waarom is dit belangrik om God se persoonlike naam te ken en te gebruik?
Het jy ’n intieme verhouding met enigiemand wie se persoonlike naam jy nie ken nie? Vir mense vir wie God naamloos is, is hy dikwels bloot ’n onpersoonlike krag, nie ’n werklike persoon nie, nie iemand wat hulle ken en liefhet en tot wie hulle in gebed uit die hart kan spreek nie. Wanneer hulle wel bid, is hulle gebede bloot ’n ritualistiese, formalistiese herhaling van uitdrukkings wat uit die hoof geleer is.
Ware Christene het ’n opdrag van Jesus Christus om dissipels van die mense van alle nasies te maak. Hoe sal dit, wanneer hierdie mense geleer word, moontlik wees om te toon dat die ware God van die valse gode van die nasies verskil? Slegs deur Sy persoonlike naam te gebruik, net soos die Bybel self ook doen.—Matt. 28:19, 20; 1 Kor. 8:5, 6.
Ex. 3:15: “Toe sê God . . . vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE [“Jehovah”, NW], die God van julle vaders, . . . het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.”
Jes. 12:4: “Dank die HERE [“Jehovah”, NW, KJ], roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!”
Eseg. 38:17, 23: “So sê die Here HERE [“Soewereine Heer Jehovah”, NW]: . . . So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE [“Jehovah”, NW] is.”
Mal. 3:16: “Toe het die wat die HERE vrees, met mekaar gespreek; en die HERE het dit opgemerk en gehoor, en daar is ’n gedenkboek voor sy aangesig geskrywe vir die wat die HERE [“Jehovah”, NW] vrees en sy Naam eer.”
Joh. 17:26: “[Jesus het tot sy Vader gebid:] Ek het u Naam aan hulle [sy volgelinge] bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”
Hand. 15:14: “Simeon het vertel hoe God in die begin uitgesien het om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem.”
Is Jehovah in die “Ou Testament” Jesus Christus in die “Nuwe Testament”?
Matt. 4:10: “Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here [“Jehovah”, NW] jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.” (Dit is duidelik dat Jesus nie gesê het dat hyself aanbid moes word nie.)
Joh. 8:54: “Jesus antwoord [die Jode]: As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is.” (Die Hebreeuse Skrifte identifiseer Jehovah duidelik as die God wat die Jode bely het hulle aanbid. Jesus het nie gesê dat hyself Jehovah is nie, maar dat Jehovah sy Vader is. Jesus het hier baie duidelik getoon dat hy en sy Vader aparte individue is.)
Ps. 110:1: “Die HERE [“Jehovah”, NW] het tot my [Dawid se] Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ’n voetbank vir u voete.” (In Mattheüs 22:41-45 het Jesus verduidelik dat hý Dawid se “Here” is wat in hierdie psalm gemeld word. Jesus is dus nie Jehovah nie, maar die een tot wie Jehovah se woorde hier gerig is.)
Filip. 2:9-11: “Daarom het God Hom [Jesus Christus] ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader. [Dy lui: “ . . . elke tong sou bely dat die Here Jesus Christus in die heerlikheid van God die Vader is.” Kx en CC sê dieselfde, maar ’n voetnoot in Kx erken: “ . . . die Grieks word moontlik natuurliker weergegee met ‘tot die heerlikheid’”, en NAV, NAB en JB gee dit so weer.]” (Let op dat daar hier getoon word dat Jesus Christus verskillend van God die Vader is en aan Hom onderworpe is.)
Hoe kan ’n persoon Jehovah liefhê as hy Hom ook moet vrees?
Die Bybel sê vir ons dat ons Jehovah moet liefhê (Luk. 10:27) en hom ook moet vrees (1 Pet. 2:17; Spr. 1:7; 2:1-5; 16:6). Heilsame vrees vir God sal ons baie versigtig laat optree sodat ons ons nie sy misnoeë op die hals haal nie. Ons liefde vir Jehovah sal by ons die begeerte wek om te doen wat hom behaag, om ons waardering uit te spreek vir die tallose blyke van sy liefde en onverdiende goedheid.
Ter toeligting: ’n Seun vrees tereg die misnoeë van sy vader, maar waardering vir alles wat sy vader vir hom doen, behoort die seun ook te beweeg om sy vader opreg lief te hê. ’n Paddaman sê moontlik dat hy die see liefhet, maar ’n heilsame vrees daarvoor laat hom besef dat daar sekere dinge is wat hy nie moet doen nie. Ons liefde vir God moet eweneens gepaard gaan met ’n heilsame vrees om enigiets te doen wat sy misnoeë sal meebring.