Mis
Definisie: Volgens die Heilige Ritekongregasie van die Rooms-Katolieke Kerk is die Mis “—’n Offerande waarin die Offerande van die Kruis verewig word;—’n Herdenking van die dood en opstanding van die Here, wat gesê het: ‘Doen dit tot my gedagtenis’ (Lukas 22:19);—’n Heilige feesmaaltyd waarin die Volk van God, deur die nuttiging van die Liggaam en Bloed van die Here, die voordele van die Paasoffer deelagtig word, die Nuwe Verbond wat God eens en vir altyd deur die Bloed van Christus met die mens gesluit het, hernieu, en in geloof en hoop die eskatologiese feesmaaltyd in die koninkryk van die Vader afskadu en antisipeer, terwyl hulle die Here se dood ‘tot Sy koms’ verkondig” (Eucharisticum Mysterium, 25 Mei 1967). Dit is die manier waarop die Katolieke Kerk doen wat hulle meen Jesus Christus tydens die Laaste Aandmaal gedoen het.
Verander die brood en die wyn werklik in Christus se liggaam en bloed?
In ’n “Plegtige geloofsbelydenis” op 30 Junie 1968 het pous Paulus VI gesê: “Ons glo dat, net soos die brood en die wyn wat deur die Here gewy is tydens die Laaste Aandmaal verander is in sy Liggaam en sy Bloed wat op die kruis vir ons geoffer is, die brood en die wyn wat deur die priester gewy word, verander in die Liggaam en Bloed van Christus wat op sy heerlike troon in die hemel sit, en Ons glo dat die geheimsinnige teenwoordigheid van die Here, deur die voorkoms van hierdie elemente wat vir ons sintuie ná die Wyding dieselfde lyk as tevore, ’n ware, werklike en wesenlike teenwoordigheid is. . . . Die Kerk noem hierdie geheimsinnige verandering heel gepas transsubstansiasie” (Official Catholic Teachings—Christ Our Lord, Wilmington, N.C.; 1978, Amanda G. Watlington, bl. 411). Stem die Heilige Skrif hiermee saam?
Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Dit is my liggaam”, “Dit is my bloed”?
Matt. 26:26-29: “Terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam. Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit. Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes. Maar Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader.”
In verband met die uitdrukkings “dit is my liggaam” en “dit is my bloed” is die volgende opmerkenswaardig: Mo lui: “dit beteken my liggaam”, “dit beteken my bloed”. NW lui ook so. LEF gee die uitdrukkings soos volg weer: “dit stel my liggaam voor”, “dit stel my bloed voor”. Hierdie lesings strook met wat in die verband, in vers 29, in verskeie Katolieke vertalings gesê word. KNT lui: “Ek sal van nou af nie meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle opnuut sal drink in die ryk van my Vader.” Kx, CC, NAB en Dy toon ook dat Jesus na die inhoud van die beker verwys het as “hierdie vrug van die wynstok”, en dit was nadat Jesus gesê het: “Dit is my bloed.”
Beskou die uitdrukkings “dit is my liggaam” en “dit is my bloed” in die lig van ander gelykenisse wat in die Skrif gebruik word. Jesus het ook gesê: “Ek is die lig van die wêreld”, “Ek is die deur van die skape”, “Ek is die ware wynstok” (Joh. 8:12; 10:7; 15:1). Nie een van hierdie uitdrukkings het ’n wonderdadige transformasie geïmpliseer nie, of hoe?
In 1 Korinthiërs 11:25 (NAV) het die apostel Paulus oor die Laaste Aandmaal geskryf en dieselfde gedagtes in effens verskillende woorde uitgedruk. In plaas van Jesus se woorde oor die beker aan te haal: “Drink almal daaruit, want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word”, het hy dit soos volg bewoord: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is.” Dit het tog seker nie beteken dat die beker wonderdadig in die nuwe verbond verander is nie. Is dit nie redeliker om die gevolgtrekking te maak dat die inhoud van die beker Jesus se bloed waardeur die nuwe verbond bekragtig is, voorgestel het nie?
Wat het Jesus met sy verklaring in Johannes 6:53-57 bedoel?
“Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie. Hy wat my vlees eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom opwek in die laaste dag. Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en Ek in hom. Soos die lewende Vader My gestuur het, en Ek deur die Vader lewe, so sal hy wat My eet, ook deur My lewe.”—Joh. 6:53-57.
Moet ons hieruit verstaan dat hulle letterlik Jesus se vlees moes eet en sy bloed moes drink? Indien wel, sou dit beteken dat Jesus die mense in werklikheid aangespoor het om die Wet wat God deur Moses aan Israel gegee het te skend. Daardie Wet het die inname van enige soort bloed verbied (Lev. 17:10-12). In plaas van so iets voor te staan, het Jesus hom sterk uitgespreek teen die skending van enige van die vereistes van die Wet (Matt. 5:17-19). Jesus moes dus bedoel het dat mense in ’n figuurlike sin moet eet en drink deur geloof te beoefen in die waarde van sy volmaakte mense-offer.—Vergelyk Johannes 3:16; 4:14; 6:35, 40.
Het Jesus sy dissipels beveel om nie bloot sy dood te herdenk nie, maar ’n ritus uit te voer wat in werklikheid sy offer sou hernieu?
Volgens The Documents of Vatican II: “Tydens die Laaste Aandmaal, op die nag dat Hy verraai is, het ons Verlosser die Eucharistiese Offerande van sy Liggaam en Bloed ingestel. Hy het dit gedoen om die offerande van die Kruis te verewig . . . ”—(New York, 1966), geredigeer deur W. M. Abbott, S.J., bl. 154; ons kursiveer.
The Catholic Encyclopedia sê: “Die Kerk wil hê dat die Mis beskou moet word as ’n ‘ware en behoorlike offerande’ . . . Die hoofbron van ons leerstelling is egter oorlewering, wat van die vroegste tye af die afsmekende waarde van die Misoffer leer.”—(1913), Dl. X, bl. 6, 17.
Jesus self het gesê: “Doen dit tot my gedagtenis” (Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24). Jesus het nie gesê dat wat hy by die Laaste Aandmaal gedoen het ’n offerande van homself was of dat sy dissipels sy offerande moes hernieu nie.
Hebr. 9:25-28, NAV: “Hy het nie ingegaan om Homself herhaaldelik te offer nie, soos die [Joodse] hoëpriester elke jaar die Allerheiligste binnegaan met bloed wat nie sy eie is nie. Dan sou Christus immers herhaaldelik moes gely het, reeds van die skepping van die wêreld af. Maar nou het Hy net een keer . . . verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. ’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer.”
Is dit bloot “’n ondeurgrondelike verborgenheid”?
Die Bybel praat wel van verborgenhede of heilige geheime. Maar nie een van hulle is in stryd met duidelik verklaarde Skriftuurlike waarhede nie. Van diegene wat hulle oorleweringe belangriker as die Skrif ag, het Jesus gesê: “Geveinsdes, tereg het Jesaja oor julle geprofeteer toe hy gesê het: Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”—Matt. 15:7-9.
Het Jesus bedoel dat hierdie herdenking moontlik elke dag of elke week gehou moet word?
Basic Catechism sê: “Spesiale pligte van Katolieke Christene” sluit in “die deelname aan die Mis elke Sondag en verpligte feesdag” (Boston, 1980, bl. 21). “Die gelowiges word in der waarheid aangespoor om dikwels, selfs daagliks, aan die Mis deel te neem en die kommunie te ontvang.”—The Teaching of Christ—A Catholic Catechism for Adults, Verkorte uitgawe (Huntington, Ind.; 1979), bl. 281.
Gee alle Skriftuurlike verwysings na die ‘breking van brood’ te kenne dat Christus se dood daardeur herdenk is? (Hand. 2:42, 46; 20:7). Jesus het selfs voor die Laaste Aandmaal ‘brood gebreek’ toe voedsel tydens ’n maaltyd gedeel is (Mark. 6:41; 8:6). Die brood wat die Jode destyds gebruik het, is nie die soort waaraan baie mense vandag gewoond is nie. Wanneer hulle dit geëet het, het hulle dikwels ’n stuk afgebreek of afgeskeur.
Jesus het nie spesifiek gemeld hoe dikwels sy dood herdenk moes word nie. Hy het die herdenking egter ingestel op die datum van die Joodse Pasga, wat onder sy dissipels vervang is deur die Herdenking van Christus se dood. Die Pasga was ’n jaarlikse gebeurtenis wat op 14 Nisan gevier is. Die Joodse Fees van die Ongesuurde Brode, die Fees van die Weke (Pinkster), die Huttefees, of die Fees van die Insameling, en die Versoendag is almal een keer per jaar gehou.
Verskaf die opdra van die Mis verligting aan siele in die vaevuur?
The Teaching of Christ—A Catholic Catechism for Adults sê: “Die woord ‘vaevuur’ is nie in die Bybel nie en die vaevuurleer word ook nie uitdruklik daarin geleer nie. . . . Die werke van die Vaders bevat talle verwysings na nie alleen die bestaan van die vaevuur nie, maar ook na die feit dat die afgestorwe gelowiges gehelp kan word deur die gebede van die lewendes, veral deur die Misoffer.”—Bl. 347, 348.
Aangaande die toestand van die dode sê die Heilige Skrif: “Die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie” (Pred. 9:5). “Die siel [“siel”, NW, Dy, Kx; “mens”, NAV, JB] wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). (Kyk ook bladsye 86-88, onder “Dood”.)