New World Translation
Definisie: ’n Vertaling van die Heilige Skrif wat regstreeks uit Hebreeus, Aramees en Grieks oorgesit is in hedendaagse Engels deur ’n komitee wat bestaan uit gesalfde getuies van Jehovah. Hulle het hulle soos volg oor hulle werk uitgelaat: “Die vertalers van hierdie werk, wat die Goddelike Outeur van die Heilige Skrif vrees en liefhet, is bewus van ’n spesiale verantwoordelikheid teenoor Hom om sy gedagtes en verklarings so akkuraat moontlik oor te dra. Hulle is ook bewus van ’n verantwoordelikheid teenoor die soekende lesers wat op ’n vertaling van die geïnspireerde Woord van die allerhoogste God aangewese is vir hulle ewige saligheid.” Hierdie vertaling is oorspronklik van 1950 tot 1960 in dele uitgegee. Uitgawes in ander tale is op die Engelse vertaling gebaseer.
Waarop is die “New World Translation” gebaseer?
As grondslag vir die vertaling van die Hebreeuse Skrifte is die teks van Rudolf Kittel se Biblia Hebraica, uitgawes van 1951-1955, gebruik. Die hersiene uitgawe van die New World Translation van 1984 is bygewerk in ooreenstemming met die Biblia Hebraica Stuttgartensia van 1977. Daarbenewens is die Dooie See-rolle en talle vroeë vertalings in ander tale geraadpleeg. Vir die Christelike Griekse Skrifte is hoofsaaklik die Griekse grondteks van 1881, soos voorberei deur Westcott en Hort, gebruik, maar verskeie ander grondtekste is geraadpleeg, asook talle vroeër vertalings in ander tale.
Wie was die vertalers?
Toe die New World-Bybelvertalingskomitee die reg om hulle vertaling uit te gee aan die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië oorgegee het, het die lede van die komitee versoek om naamloos te bly. Die Genootskap het hulle versoek eerbiedig. Die vertalers het nie aansien vir hulself probeer verkry nie, maar wou slegs die Goddelike Outeur van die Heilige Skrif vereer.
Oor die jare het ander vertalingskomitees ’n soortgelyke beskouing gehuldig. Op die stofomslag van die naslaanuitgawe (1971) van die New American Standard Bible word gesê: “Ons het geen geleerde se naam vir verwysing of aanbeveling gebruik nie omdat ons glo dat God se Woord op sy meriete moet staan.”
Is dit werklik ’n vakkundige vertaling?
Aangesien die vertalers verkies het om naamloos te bly, kan die vraag hier nie in terme van hulle opvoedkundige agtergrond beantwoord word nie. Die vertaling moet op sy eie meriete beoordeel word.
Watter soort vertaling is dit? Dit is onder meer ’n akkurate, merendeels letterlike vertaling uit die oorspronklike tale. Dit is nie ’n los parafrase waarin die vertalers besonderhede weglaat wat hulle as onbelangrik beskou en gedagtes byvoeg wat hulle meen nuttig sal wees nie. As ’n hulp vir studente bevat ’n aantal uitgawes breedvoerige voetnote wat verskillende lesings aangee waar uitdrukkings tereg op meer as een manier weergegee kan word, asook ’n lys van die spesifieke antieke manuskripte waarop sekere vertalings gebaseer is.
Die bewoording van sommige verse is dalk nie dié waaraan ’n persoon gewoond is nie. Watter vertaling is reg? Lesers word genooi om manuskripgetuienis wat in voetnote van die naslaanuitgawe van die New World Translation verstrek word na te gaan, verklarings in die aanhangsel te lees en die vertaling met verskeie ander vertalings te vergelyk. Hulle sal oor die algemeen vind dat sommige ander vertalers dit ook nodig geag het om die saak op ’n soortgelyke wyse uit te druk.
Waarom word die naam Jehovah in die Christelike Griekse Skrifte gebruik?
Ons moet daarop let dat die New World Translation nie die enigste Bybel is wat dit doen nie. Die goddelike naam kom voor in vertalings van die Christelike Griekse Skrifte in Hebreeus in gedeeltes waar daar regstreeks uit die geïnspireerde Hebreeuse Skrifte aangehaal word. The Emphatic Diaglott (1864) bevat die naam “Jehovah” 18 keer. Weergawes van die Christelike Griekse Skrifte in ten minste 38 ander tale gebruik ’n inheemse vorm van die goddelike naam.
Die klem wat Jesus Christus op die naam van sy Vader gelê het, toon dat hy dit persoonlik vryelik gebruik het (Matt. 6:9; Joh. 17:6, 26). Volgens Hieronymus van die vierde eeu G.J. het die apostel Mattheüs sy Evangelie eers in Hebreeus geskryf, en daardie Evangelie bevat talle aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte wat die goddelike naam bevat. Ander skrywers van die Christelike Griekse Skrifte het uit die Griekse Septuaginta (’n vertaling van die Hebreeuse Skrifte in Grieks, waarmee daar omstreeks 280 v.G.J. begin is) aangehaal, en vroeë eksemplare daarvan het die goddelike naam in die Hebreeuse letters bevat, soos getoon word deur fragmente wat bewaar is.
Professor George Howard van die Universiteit van Georgia het geskryf: “Aangesien die Tetragram [vier Hebreeuse letters vir die goddelike naam] nog steeds geskryf is in die eksemplare van die Griekse Bybel wat die Skrifte van die vroeë kerk uitgemaak het, is dit redelik om te glo dat die N[ieu]-T[estamentiese] skrywers die Tetragram in die Bybelteks behou het wanneer hulle uit die Skrif aangehaal het.”—Journal of Biblical Literature, Maart 1977, bl. 77.
Waarom is sommige verse oënskynlik weggelaat?
Daardie verse, wat in sommige vertalings aangetref word, kom nie in die oudste beskikbare Bybelmanuskripte voor nie. As ons ander moderne vertalings, soos die nuwe Afrikaanse vertaling van 1983, The New English Bible en die Katolieke Jerusalem Bible nagaan, vind ons dat ander vertalers ook besef het dat die betrokke verse nie in die Bybel hoort nie. In sommige gevalle is woorde uit ’n ander deel van die Bybel geneem en by die teks gevoeg wat ’n afskrywer oorgeskryf het.
As iemand sê—
‘Julle het julle eie Bybel’
Jy kan antwoord: ‘Watter vertaling van die Bybel gebruik u? Is dit . . . (noem verskeie in jou taal)? Daar is baie vertalings.’ Dan kan jy byvoeg: ‘Ek sal met graagte die vertaling gebruik wat u verkies. Maar u sal dalk daarin belangstel om te weet waarom ek veral van die New World Translation hou. Dit is as gevolg van sy moderne, maklike taal, en ook omdat die vertalers die Bybelteks in die oorspronklike tale so getrou weergee.’
Of jy kan sê: ‘U het seker ’n Bybel in die huis. Watter vertaling van die Bybel gebruik u? . . . Wil u dit gaan haal?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Ongeag watter vertaling ons gebruik, in Johannes 17:3 het Jesus beklemtoon wat die belangrike ding is wat ons almal in gedagte moet hou, soos u hier in u eie Bybel kan sien. . . . ’
’n Ander moontlikheid: ‘Daar is baie vertalings van die Bybel. Ons Genootskap spoor ons aan om verskeie Bybels te gebruik sodat ons hulle met mekaar kan vergelyk en studente kan help om die werklike betekenis van die Skrif te snap. Soos u moontlik weet, is die Bybel oorspronklik in Hebreeus, Aramees en Grieks geskryf. Ons waardeer dus wat vertalers gedoen het om dit in ons taal oor te sit. Watter Bybelvertaling gebruik u?’
Nog ’n wenk: ‘U is klaarblyklik lief vir God se Woord. Daarom is ek seker dat u graag sou wou weet wat een van die groot verskille tussen die New World Translation en ander vertalings is. Dit staan in verband met die naam van die allerbelangrikste persoon wat in die Skrif gemeld word. Weet u wie dit is?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Het u geweet dat sy persoonlike naam nagenoeg 7 000 keer in die oorspronklike Hebreeus in die Bybel voorkom—meer as enige ander naam?’ (2) ‘Maak dit saak of ons die persoonlike naam van God gebruik of nie? Wel, het u boesemvriende wie se naam u nie ken nie? . . . As ons ’n persoonlike verhouding met God wil hê, is dit belangrik om sy naam te ken. Kyk wat het Jesus in Johannes 17:3, 6 gesê (Ps. 83:18, NW).’