Profesie
Definisie: ’n Geïnspireerde boodskap; ’n openbaring van die goddelike wil en voorneme. Profesie kan ’n voorspelling wees van iets wat gaan gebeur, geïnspireerde sedeleer, of ’n goddelike bevel of oordeel.
Watter voorspellings wat in die Bybel opgeteken is, is reeds vervul?
Kyk onder “Bybel”, “Laaste dae” en “Jaartalle”, asook die boek “All Scripture Is Inspired of God and Beneficial”, bladsye 343-346, vir enkele voorbeelde.
Wat is sommige van die vernaamste Bybelprofesieë wat nog vervul moet word?
1 Thess. 5:3: “Wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid—dan oorval ’n skielike verderf hulle soos die barensnood ’n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie.”
Openb. 17:16: “Die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer [Babilon die Grote] haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand.”
Eseg. 38:14-19: “Sê aan Gog: So spreek die Here HERE: Sal jy dit nie opmerk in dié dag as my volk [geestelike] Israel veilig woon nie? Dan sal jy kom uit jou woonplek, uit die agterhoeke van die Noorde, jy en baie volke saam met jou . . . In dié dag, die dag as Gog teen die land van Israel aankom, spreek die Here HERE, sal my grimmigheid in my neus opkom. Ja, in my ywer spreek Ek, in die vuur van my grimmigheid.”
Dan. 2:44: “Dit [die Koninkryk wat deur God verwek is] sal al daardie [mense]koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan.”
Eseg. 38:23: “So sal Ek My dan as groot en as heilig laat ken en Myself bekend maak voor die oë van baie nasies; en hulle sal weet dat Ek die HERE [“Jehovah”, NW] is.”
Openb. 20:1-3: “Ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp—die ou slang wat die duiwel en die Satan is—en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word.”
Joh. 5:28, 29: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”
Openb. 21:3, 4: “Ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”
1 Kor. 15:24-28: “Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee . . . En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”
Waarom moet Christene intens in die Bybel se voorspellings belangstel?
Matt. 24:42: “Waak dan, omdat julle nie weet watter uur julle Here kom nie.”
2 Pet. 1:19-21: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is [as gevolg van wat by Jesus se gedaantewisseling gebeur het], waarop julle tog moet ag gee . . . want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.”
Spr. 4:18: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe.”
Matt. 4:4: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Dit sluit sy wonderlike profetiese beloftes in.)
2 Tim. 3:16: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” (Die hele geskrewe Woord van God verdien dus ons ywerige studie.)
As iemand sê—
‘Julle lê te veel klem op profesie. Al wat nodig is, is om Christus as jou Saligmaker aan te neem en ’n goeie, Christelike lewe te lei’
Jy kan antwoord: ‘Dit is beslis noodsaaklik om Jesus Christus se rol te waardeer. Maar het u geweet dat een rede waarom die Jode in die eerste eeu hom nie aangeneem het nie, is omdat hulle nie genoeg aandag aan profesie geskenk het nie?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Die profesieë in die Hebreeuse Skrifte het voorspel wanneer die Messias (Christus) sou verskyn en wat hy sou doen. Maar die Jode oor die algemeen het nie ag geslaan op wat daardie profesieë gesê het nie. Hulle het hulle eie idees gehad oor wat die Messias moes doen, en daarom het hulle die Seun van God verwerp. (Kyk bladsye 231, 232, onder “Jesus Christus”.)’ (2) ‘Ons lewe vandag in die tyd dat Christus begin het om as hemelse Koning te heers en die mense van alle nasies skei om die lewe aan hulle te gee of hulle te vernietig (Matt. 25:31-33, 46). Maar die meeste mense soek na iets anders.’
Of jy kan sê: ‘Ek stem saam dat dit belangrik is om ’n goeie Christen te wees. Maar sou ek ’n goeie Christen wees as ek sommige van die dinge doen wat Jesus geleer het maar ignoreer wat hy gesê het die voorkeur in my lewe moet geniet? . . . Kyk wat hy gesê het, soos opgeteken hier in Mattheüs 6:33.’ Dan kan jy byvoeg: ‘Jesus het ons mos geleer om vir daardie Koninkryk te bid, en dit selfs gemeld vóór die versoek om vergifnis op grond van ons geloof in hom as Saligmaker (Matt. 6:9-12).’