Sabbat
Definisie: Sabbat is ontleen aan die Hebreeuse sja·vatʹ, wat beteken “rus, staak, ophou”. Die sabbatstelsel wat in die Mosaïese Wet voorgeskryf is, het ’n weeklikse Sabbatdag ingesluit, asook ’n aantal bykomende dae gedurende die jaar, die sewende jaar en die vyftigste jaar. Die weeklikse Sabbat van die Jode, die sewende dag van hulle kalenderweek, duur van sonsondergang op Vrydag tot sonsondergang op Saterdag. Talle wat bely dat hulle Christene is, hou Sondag tradisioneel as hulle dag van rus en van aanbidding; ander hou die dag wat op die Joodse kalender opsygesit is.
Is Christene verplig om ’n weeklikse sabbatdag te hou?
Ex. 31:16, 17: “Die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ’n ewige verbond [“blywende verpligting”, NAV; “’n verbond tot onbepaalde tyd”, NW]. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ’n teken.” (Let op dat sabbatsviering ’n teken tussen Jehovah en Israel was; dit sou nie die geval wees indien alle ander mense ook verplig was om die Sabbat te hou nie. Die Hebreeuse woord wat in AB met “ewige” vertaal word, is ‛oh·lamʹ, wat basies ’n tydperk aandui wat op daardie oomblik onbepaald of vir die gesig verborge is maar wat lank is. Dit kan vir ewig beteken, maar nie noodwendig nie. In Numeri 25:13 word dieselfde Hebreeuse woord toegepas op die priesterskap, wat volgens Hebreërs 7:12 later geëindig het.)
Rom. 10:4: “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.” (Sabbatsviering was ’n deel van daardie Wet. God het Christus gebruik om ’n einde aan daardie Wet te maak. ’n Regverdige naam by God hang af van geloof in Christus, nie van die onderhouding van ’n weeklikse sabbat nie.) (Ook Galasiërs 4:9-11; Efesiërs 2:13-16)
Kol. 2:13-16: “[God het] julle al die misdade vergeef . . . en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg . . . Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ’n fees of nuwemaan of sabbat nie.” (Iemand wat onder die Mosaïese Wet was en hom aan sabbatskending skuldig gemaak het, moes volgens Exodus 31:14 en Numeri 15:32-35 deur die hele gemeente gestenig word. Talle voorstanders van sabbatsviering het rede om bly te wees dat ons nie onder daardie Wet is nie. Soos getoon in die tekste wat hier aangehaal is, is sabbatsviering, wat van Israel vereis is, nie langer ’n vereiste om God se goedkeuring weg te dra nie.)
Hoe het Sondag die vernaamste dag vir aanbidding vir ’n groot deel van die Christendom geword?
Hoewel Christus op die eerste dag van die week (nou Sondag genoem) opgewek is, bevat die Bybel geen bevel om daardie dag van die week as heilig opsy te sit nie.
“Die behoud van die ou heidense naam ‘Dies Solis’ of ‘Sondag’ vir die weeklikse Christenfees is grootliks toe te skryf aan die samesmelting van heidense en [sogenaamd] Christelike sentiment waarmee Konstantyn [in ’n edik in 321 G.J.] die eerste dag van die week by sy onderdane, heidens sowel as Christelik, aanbeveel het as die ‘eerbiedwaardige dag van die Son’. . . . Dit was sy manier om die uiteenlopende gelowe van die Ryk onder een gemeenskaplike vaste gewoonte te verenig.”—Lectures on the History of the Eastern Church (New York, 1871), A. P. Stanley, bl. 291.
Is Adam beveel om die Sabbat te gedenk, sodat dit nou vir al sy afstammelinge bindend is?
Jehovah God het begin rus ten opsigte van sy stoflike, aardse skeppingswerke nadat hy die aarde vir bewoning deur mense voorberei het. Dit staan opgeteken in Genesis 2:1-3. Maar niks in die Bybelverslag sê dat God Adam beveel het om die sewende dag van elke week as ’n sabbat te hou nie.
Deut. 5:15: “Jy moet daaraan dink dat jy [Israel] in Egipteland ’n slaaf was, en die HERE jou God jou daarvandaan uitgelei het deur ’n sterke hand en ’n uitgestrekte arm; daarom het die HERE jou God jou beveel om die sabbatdag te hou.” (Hier verbind Jehovah die gee van die sabbatwet met Israel se verlossing uit slawerny in Egipte, nie met gebeure in Eden nie.)
Ex. 16:1, 23-29: “Die hele vergadering van die kinders van Israel [het] in die woestyn Sin gekom . . . op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland. . . . Toe sê [Moses] vir hulle: Dit is wat die HERE gespreek het: Môre is dit rusdag, ’n heilige sabbat van die HERE. . . . Ses dae lank moet julle [die manna] insamel, maar op die sewende dag is dit sabbat; dan sal dit daar nie wees nie. . . . Toe sê die HERE vir Moses: . . . Kyk, . . . die HERE [het] julle die sabbat gegee.” (Die weke is vantevore in sewe dae elk verdeel, maar dit was die eerste verwysing na ’n sabbatsviering.)
Is die Mosaïese Wet in ’n “seremoniële” deel en ’n “sede”-deel verdeel, en is die “sedewet” (die Tien Gebooie) bindend vir Christene?
Het Jesus van die Wet gepraat asof dit uit twee dele sou bestaan?
Matt. 5:17, 21, 23, 27, 31, 38: “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.” Let nou op wat Jesus in sy verdere kommentaar ingesluit het. “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie [Ex. 20:13; die Sesde Gebod] . . . As jy dan jou gawe na die altaar bring [Deut. 16:16, 17; nie deel van die Tien Gebooie nie] . . . Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie [Ex. 20:14; die Sewende Gebod]. . . . Daar is ook gesê: Elkeen wat van sy vrou skei, moet haar ’n skeibrief gee [Deut. 24:1; nie deel van die Tien Gebooie nie]. . . . Julle het gehoor dat daar gesê is: Oog vir oog en tand vir tand [Ex. 21:23-25; nie deel van die Tien Gebooie nie].” (Jesus het dus sonder om onderskeid te tref uit die Tien Gebooie en ander dele van die Wet aangehaal. Moet ons dit dan anders bejeën?)
Het Jesus die Tien Gebooie afgesonder toe daar vir hom gevra is: “Meester, wat is die groot gebod in die wet?” Hy het eerder geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (Matt. 22:35-40). Verwerp diegene wat die Tien Gebooie (Deut. 5:6-21) aanhang en sê dat dit vir Christene bindend is, maar die res nie, dan nie in werklikheid Jesus se woorde (met aanhalings uit Deut. 6:5 en Lev. 19:18) oor watter gebooie die grootste is nie?
Sê die Bybel, wanneer dit meld dat die Mosaïese Wet verbygegaan het, regstreeks dat die Tien Gebooie ingesluit is by dit wat geëindig het?
Rom. 7:6, 7: “Nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het . . . Wat sal ons dan sê? Is die wet sonde? Nee, stellig nie! Inteendeel, ek sou die sonde nie anders as deur die wet geken het nie; want ek sou ook die begeerlikheid nie geken het nie as die wet nie gesê het: Jy mag nie begeer nie.” (Watter voorbeeld uit die Wet haal Paulus hier aan onmiddellik nadat hy geskryf het dat Joodse Christene ‘ontslae was van die wet’? Die Tiende Gebod, en sodoende het hy getoon dat dit ingesluit was by die Wet waarvan hulle ontslae was.)
2 Kor. 3:7-11: “As die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? . . . Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid.” (Paulus praat hier van ’n wet wat “met letters op klippe gegraveer” is, en daar word gesê dat “die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses” toe daardie wet na hulle gebring is nie. Wat word hier beskryf? Exodus 34:1, 28-30 toon dat dit die geleentheid was toe die Tien Gebooie gegee is; dit was die gebooie wat op klippe gegraveer was. Dit word klaarblyklik ingesluit by wat die teks hier sê “moes vergaan”.)
Impliseer die opheffing van die Mosaïese Wet, die Tien Gebooie inkluis, dat alle morele bedwang weggeneem is?
Glad nie; talle van die morele standaarde wat ’n deel van die Tien Gebooie was, is herhaal in die geïnspireerde boeke van die Christelike Griekse Skrifte. (Die sabbatwet is egter nie herhaal nie.) Dit maak nie saak hoe goed ’n wet is nie, solank sondige neigings mense se begeertes oorheers, sal daar ongeregtigheid wees. Aangaande die nuwe verbond, wat die Wetsverbond vervang het, sê Hebreërs 8:10 egter: “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.” Hoeveel doeltreffender is sulke wette tog as die wat op kliptafels gegraveer is!
Rom. 6:15-17: “Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie! Weet julle nie dat aan wie julle julself as diensknegte tot beskikking stel om hom gehoorsaam te wees, julle diensknegte is van hom aan wie julle gehoorsaam is nie—òf van die sonde tot die dood, òf van die gehoorsaamheid tot geregtigheid? Maar ons dank God dat julle wel diensknegte van die sonde was, maar van harte gehoorsaam geword het aan die voorbeeld van die leer wat aan julle oorgelewer is.” (Kyk ook Galasiërs 5:18-24.)
Watter betekenis het die weeklikse Sabbat vir Christene?
Daar is ’n “sabbatsrus” wat Christene elke dag geniet
Hebreërs 4:4-11 sê: “Hy [God] het êrens [Gen. 2:2] van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier [Ps. 95:11] weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ’n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid [Ps. 95:7, 8] spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ’n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ’n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”
Waarvan word Christene hier aangespoor om te rus? Van hulle eie “werke”. Watter werke? Werke waardeur hulle tevore probeer het om hulself regverdig te bewys. Hulle glo nie langer dat hulle God se goedkeuring kan verdien en die ewige lewe kan verkry deur sekere reëls na te kom en vierings waar te neem nie. Dit was die dwaling van ongelowige Jode wat ‘die geregtigheid van God nie geken het nie, omdat hulle hulle eie geregtigheid probeer oprig het’ (Rom. 10:3). Ware Christene besef dat ons almal as sondaars gebore is en dat dit slegs deur geloof in die offer van Christus is dat enigiemand ’n regverdige naam by God kan verkry. Hulle probeer om die hele leer van God se Seun ter harte te neem en toe te pas. Hulle aanvaar nederig raad en teregwysing uit God se Woord. Dit beteken nie dat hulle dink dat hulle sodoende God se goedkeuring kan verdien nie; hulle dade is eerder ’n blyk van hulle liefde en geloof. Deur so ’n lewensweg vermy hulle die “voorbeeld van ongehoorsaamheid” van die Joodse nasie.
Die “sewende dag” waarvan Genesis 2:2 praat, was nie bloot ’n dag van 24 uur nie. (Kyk bladsy 383, onder “Skepping”.) Die “sabbatsrus” wat ware Christene geniet, is eweneens nie beperk tot ’n dag van 24 uur nie. Deur geloof te beoefen en ag te slaan op die Bybel se raad, kan hulle dit elke dag geniet, en dit sal veral in God se nuwe stelsel die geval wees.
Daar wag ’n duisendjarige “sabbatsrus” op die mensdom
Mark. 2:27, 28: “[Jesus] sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.”
Jesus het geweet dat Jehovah die Sabbat ingestel het as ’n teken tussen God en Israel, en dat dit veronderstel was om vir hulle verligting van hulle arbeid te verskaf. Jesus het ook geweet dat sy dood die grondslag sou bied vir die afskaffing van die Mosaïese Wet as iets wat deur hom vervul is. Hy het besef dat die Wet, met sy sabbatvereiste, “’n skaduwee het van die toekomstige weldade” (Hebr. 10:1; Kol. 2:16, 17). Hierdie “weldade” sluit ’n “sabbat” in waarvan hy die Here sou wees.
As Here van die here sal Christus duisend jaar lank oor die hele aarde regeer (Openb. 19:16; 20:6; Ps. 2:6-8). Terwyl Jesus op die aarde was, het hy barmhartig van sy verbasendste genesingswerke op die Sabbat verrig en aldus getoon watter soort verligting hy gedurende sy Duisendjarige Heerskappy aan mense uit alle nasies sou verskaf (Luk. 13:10-13; Joh. 5:5-9; 9:1-14). Diegene wat die ware betekenis van die Sabbat snap, sal die geleentheid hê om ook by daardie “sabbatsrus” baat te vind.
As iemand sê—
‘Christene moet die Sabbat hou’
Jy kan antwoord: ‘Mag ek vra waarom u so sê?’ Dan kan jy byvoeg: ‘Ons beskouing van die saak moet beslis gelei word deur wat die Bybel daaroor sê, nie waar nie? . . . Daar is ’n paar Bybeltekste oor die onderwerp wat ek baie nuttig gevind het. Laat my asseblief toe om hulle vir u te lees. (Gebruik dan gepaste gedeeltes van die materiaal op die voorafgaande bladsye.)’
‘Waarom hou julle nie die Sabbat nie?’
Jy kan antwoord: ‘My antwoord sal afhang van watter sabbat u in gedagte het. Het u geweet dat die Bybel van meer as een sabbat praat? . . . God het sabbatwette aan die Jode gegee. Maar het u geweet dat die Bybel praat van ’n ander soort sabbat wat Christene moet hou?’ Dan kan jy byvoeg: (1) ‘Ons hou nie een dag per week as die Sabbat nie, omdat die Bybel sê dat daardie vereiste “moes vergaan”. (2 Kor. 3:7-11; kyk kommentaar hieroor op bladsye 360, 361.)’ (2) ‘Maar daar is ’n sabbat wat ons gereeld hou. (Hebr. 4:4-11; kyk bladsye 362, 363.)’