Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 59-64
  • Bybelboek nommer 10—2 Samuel

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 10—2 Samuel
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN TWEEDE SAMUEL
  • WAAROM NUTTIG
  • Oorsig van 2 Samuel
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
  • Glanspunte uit die boek Tweede Samuel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Vertrou op God se gees om veranderinge in die lewe te hanteer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Moeilikheid in Dawid se huis
    My boek met Bybelverhale
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 59-64

Bybelboek nommer 10—2 Samuel

Skrywers: Gad en Natan

Waar geskryf: Israel

Geskrif voltooi: ca. 1040 v.G.J.

Beskrewe tydperk: 1077–ca. 1040 v.G.J.

 1. Teen watter agtergrond begin Tweede Samuel, en hoe ontwikkel die verslag?

DIE nasie Israel het in wanhoop verval oor die ramp by Gilboa en die gevolglike invalle deur die seëvierende Filistyne. Die leiers van Israel en die keur van sy jong manne het gesneuwel. Teen hierdie agtergrond tree die jong “gesalfde van die HERE”, Dawid, die seun van Isai, ten volle op die volkstoneel (2 Sam. 19:21). So begin die boek Tweede Samuel, wat as ’t ware ’n boek van Jehovah en Dawid genoem kan word. Dit bevat ’n verhaal vol aksie van allerlei aard. Ons word van die dieptes van neerlaag tot die hoogtes van oorwinning gevoer, van die ellendes van ’n nasie vol tweedrag tot die voorspoed van ’n verenigde koninkryk, van die krag van die jeug tot die wysheid van ’n gevorderde leeftyd. Hier is die intieme verslag van Dawid se lewe, ’n man wat probeer het om Jehovah met sy hele hart te volg.a Dit is ’n verslag wat elke leser behoort aan te spoor om sy hart te ondersoek sodat hy sy eie verhouding met en posisie voor sy Skepper kan versterk.

 2. (a) Waarom word die boek Tweede Samuel genoem? (b) Wie was die skrywers, waarom was hulle geskik vir hulle taak, en alleen watter verslag het hulle probeer bewaar?

2 Samuel se naam word in werklikheid nie eens in die verslag van Tweede Samuel genoem nie; die boek is blykbaar die naam gegee omdat dit oorspronklik een rol, of volume, met Eerste Samuel gevorm het. Die profete Natan en Gad, wat die skrywe van Eerste Samuel voltooi het, het voortgegaan om die hele Tweede Samuel te skryf (1 Kron. 29:29). Hulle was besonder geskik vir hierdie taak. Gad was saam met Dawid toe hy as ’n voëlvryverklaarde in Israel agtervolg is, en teen die einde van Dawid se 40-jarige regering was hy steeds daadwerklik verbonde aan die koning. Gad is gebruik om Jehovah se misnoeë met Dawid uit te spreek omdat hy onverstandig was en Israel getel het (1 Sam. 22:5; 2 Sam. 24:1-25). Die bedrywigheid van die profeet Natan, ’n intieme metgesel van Dawid, oorvleuel Gad se lewe en duur nog ’n ruk daarna voort. Dit was sy voorreg om Jehovah se betekenisvolle verbond met Dawid, die verbond vir ’n ewige koninkryk, bekend te maak. Dit was hy wat moedig en onder inspirasie op Dawid se groot sonde met betrekking tot Batseba en die straf daarvoor gewys het (2 Sam. 7:1-17; 12:1-15). Jehovah het Natan, wie se naam “[God] het gegee” beteken, en Gad, wie se naam “Goeie geluk” beteken, dus gebruik om die geïnspireerde en nuttige inligting in Tweede Samuel op te teken. Hierdie beskeie geskiedskrywers het nie probeer om hul eie naam te laat voortleef nie, aangesien geen inligting oor hulle afkoms of persoonlike lewe verstrek word nie. Hulle het net probeer om die verslag wat deur God geïnspireer is tot nut van toekomstige aanbidders van Jehovah te bewaar.

 3. Watter tydperk word deur Tweede Samuel gedek, en wanneer is die skrywe daarvan voltooi?

3 Tweede Samuel sit die verslag van akkurate Bybelgeskiedenis voort vanaf die dood van Saul, Israel se eerste koning, tot naby die einde van Dawid se 40-jarige regering. Die tydperk wat gedek word, is derhalwe van 1077 v.G.J. tot omstreeks 1040 v.G.J. Die feit dat die boek nie Dawid se dood meld nie, is ’n kragtige bewys dat dit omstreeks 1040 v.G.J., of net voor sy dood, geskryf is.

 4. Om watter redes moet Tweede Samuel as ’n deel van die Bybelkanon aanvaar word?

4 Die boek Tweede Samuel moet as ’n deel van die Bybelkanon aanvaar word om dieselfde redes as wat met betrekking tot Eerste Samuel aangevoer is. Daar bestaan geen twyfel oor die egtheid daarvan nie. Die boek se eerlikheid, die feit dat dit selfs nie koning Dawid se sondes en tekortkominge probeer verdoesel nie, is op sigself kragtige omstandigheidsgetuienis.

 5. Wat is die kragtigste rede vir die aanvaarding van Tweede Samuel as ’n deel van die geïnspireerde Skrif?

5 Die kragtigste bewys van die egtheid van Tweede Samuel word egter gevind in die vervulde profesieë, in die besonder dié met betrekking tot die Koninkryksverbond met Dawid. God het Dawid beloof: “Jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid” (7:16). Selfs in die aand van die koninkryk van Juda het Jeremia die kontinuïteit van hierdie belofte aan die huis van Dawid gemeld met die woorde: “So sê die HERE: Daar sal vir Dawid nie ’n man ontbreek wat sit op die troon van die huis van Israel nie” (Jer. 33:17). Hierdie profesie het nie onvervuld gebly nie, want Jehovah het “Jesus Christus, die seun van Dawid”, later uit Juda voortgebring, soos die Bybel duidelik getuig.—Matt. 1:1.

INHOUD VAN TWEEDE SAMUEL

 6. Hoe reageer Dawid wanneer hy die tyding omtrent Saul en Jonatan ontvang?

6 Gebeure aan die begin van Dawid se regering (1:1–4:12). Na Saul se dood op die berg Gilboa haas ’n Amalekiet wat uit die geveg gevlug het hom met die berig na Dawid by Siklag. In die hoop dat hy Dawid se guns sal wen, versin hy die storie dat hý Saul se lewe geneem het. Pleks van lof is die dood die Amalekiet se enigste beloning, want hy het homself veroordeel deur te getuig dat hy “die gesalfde van die HERE” gedood het (1:16). Die nuwe koning, Dawid, komponeer nou ’n klaaglied, “die Booglied”, waarin hy weeklaag oor die dood van Saul en Jonatan. Die lied bereik ’n pragtige klimaks in die roerende uiting van Dawid se oorvloedige liefde vir Jonatan: “Ek is benoud om jou ontwil, my broer Jonatan! Jy was vir my baie lieflik; jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van vroue. Hoe het die helde geval en die oorlogswapens verlore gegaan!”—1:17, 18, 26, 27.

 7. Watter ander gebeure kenmerk die begin van Dawid se regering?

7 Op Jehovah se aanwysing verhuis Dawid en sy manne met hulle gesinne na Hebron in die gebied van Juda. Hier kom die oudstes van die stam, in 1077 v.G.J., om Dawid as hulle koning te salf. Generaal Joab word Dawid se vernaamste ondersteuner. Isboset, ’n seun van Saul, word egter deur Abner, die leërowerste, as mededinger om die koningskap oor die nasie gesalf. Daar vind van tyd tot tyd botsinge tussen die twee vyandelike magte plaas, en Abner maak ’n broer van Joab dood. Uiteindelik loop Abner oor na Dawid se laer. Hy neem Saul se dogter Migal vir Dawid saam, vir wie Dawid lank gelede die bruidsprys betaal het. Joab maak Abner egter dood uit wraak oor die moord op sy broer. Dawid is diep bedroef hieroor en ontken enige verantwoordelikheid daarvoor. Kort daarna word Isboset self vermoor terwyl hy “in sy middagslaap lê”.—4:5.

 8. Hoe seën Jehovah Dawid se regering oor die hele Israel?

8 Dawid koning in Jerusalem (5:1–6:23). Hoewel Dawid reeds sewe jaar en ses maande as koning in Juda regeer, word hy nou die onbetwiste heerser, en verteenwoordigers van die stamme salf hom as koning oor die hele Israel. Dit is sy derde salwing (1070 v.G.J.). Een van Dawid se eerste dade as heerser van die hele koninkryk is om die vesting Sion in Jerusalem van die verskanste Jebusiete te verower deur hulle via die waterkanaal te verras. Dan maak Dawid Jerusalem sy hoofstad. Jehovah van die leërskare seën Dawid en maak hom al hoe groter. Selfs Hiram, die ryk koning van Tirus, stuur vir Dawid kosbare seders en ook arbeiders om ’n huis vir die koning te bou. Dawid se gesin groei en Jehovah seën sy regering. Daar is nog twee botsings met die oorlogsugtige Filistyne. In die eerste hiervan help Jehovah Dawid deur by Baäl-Perasim deur die vyand te breek, waardeur Dawid die oorwinning behaal. In die tweede doen Jehovah nog ’n wonder deur “’n geruis van voetstappe in die toppe van die balsembosse” te veroorsaak, wat aandui dat Jehovah voor Israel uittrek om die leërs van die Filistyne op die vlug te dryf (5:24). Nog ’n uitsonderlike oorwinning vir Jehovah se strydmagte!

 9. Beskryf die gebeure wanneer die Ark na Jerusalem gebring word.

9 Dawid neem 30 000 manne saam met hom en gaan om die verbondsark van Baäle-Juda (Kirjat-Jearim) af na Jerusalem te bring. Terwyl dit met baie musiek en verheuging vervoer word, kantel die wa waarop dit staan en steek Ussa, wat langsaan loop, sy hand uit om die heilige Ark te stut. “Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp” (6:7). Die Ark word in die huis van Obed-Edom geplaas, en gedurende die daaropvolgende drie maande seën Jehovah die huis van Obed-Edom ryklik. Na drie maande kom Dawid om die Ark op die regte manier die res van die pad te neem. Met gejuig, musiek en dansery word die Ark in Dawid se hoofstad ingebring. Dawid gee uiting aan sy groot vreugde deur voor Jehovah te dans, maar sy vrou Migal neem aanstoot hieraan. Dawid hou vol: “Voor die aangesig van die HERE sal ek vrolik wees!” (6:21). Gevolglik bly Migal tot haar dood kinderloos.b

10. Watter verbond en belofte van Jehovah word vervolgens onder ons aandag gebring?

10 God se verbond met Dawid (7:1-29). Ons kom nou by een van die belangrikste gebeurtenisse in Dawid se lewe, ’n gebeurtenis wat regstreeks verband hou met die sentrale tema van die Bybel, naamlik die heiliging van Jehovah se naam deur die Koninkryk onder die beloofde Saad. Hierdie gebeurtenis spruit voort uit Dawid se begeerte om ’n huis vir die ark van God te bou. Dawid, wat self in ’n pragtige huis van seders woon, gee aan Natan sy begeerte te kenne om ’n huis vir Jehovah se verbondsark te bou. Deur middel van Natan verseker Jehovah Dawid weer eens van Sy liefderyke goedheid teenoor Israel en sluit Hy ’n verbond met hom wat vir altyd sal standhou. Dit sal egter nie Dawid nie maar sy saad wees wat die huis vir Jehovah se naam sal bou. Daarbenewens doen Jehovah die liefdevolle belofte: “En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.”—7:16.

11. Met watter gebed spreek Dawid dankbaarheid uit?

11 Oorweldig deur Jehovah se goedheid, wat deur hierdie Koninkryksverbond geopenbaar word, stort Dawid sy dankbaarheid vir al God se liefderyke goedheid uit: “Wie is soos u volk, soos Israel, ’n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as ’n volk gaan verlos het, en om vir Hom ’n naam te maak; en om groot dinge te doen vir hulle en vreeslike dinge? . . . En U, HERE, het vir hulle ’n God geword” (7:23, 24). Hy bid vurig dat Jehovah se naam geheilig word en dat die huis van Dawid stewig voor Sy aangesig bevestig sal word.

12. Watter oorloë voer Dawid, en watter goedheid betoon hy aan Saul se huis?

12 Dawid brei Israel se gebied uit (8:1–10:19). Dit is Dawid egter nie beskore om in vrede te regeer nie. Oorloë moet nog gevoer word. Dawid verslaan die Filistyne, die Moabiete, die Sobaïete, die Arameërs (Siriërs) en die Edomiete, waardeur hy Israel se grondgebied uitbrei tot die grense wat God vasgestel het (2 Sam. 8:1-5, 13-15; Deut. 11:24). Dan wend hy sy aandag tot die huis van Saul sodat hy, ter wille van Jonatan, liefderyke goedheid kan betoon teenoor enigeen wat oorbly. Siba, ’n dienaar van Saul, vestig sy aandag op ’n seun van Jonatan, Mefiboset, wat aan albei voete kreupel is. Dawid vereis onmiddellik dat al Saul se goed aan Mefiboset gegee word en dat sy grond deur Siba en sy knegte bewerk word om Mefiboset se huis van voedsel te voorsien. Mefiboset self moet egter aan die tafel van Dawid eet.

13. Deur watter ander oorwinnings toon Jehovah dat hy met Dawid is?

13 Wanneer die koning van Ammon sterf, stuur Dawid gesante na sy seun Hanun met blyke van liefderyke goedheid. Hanun se raadgewers beskuldig Dawid egter daarvan dat hy hulle gestuur het om die land te verken en daarom verneder hulle hulle en stuur hulle hulle halfnaak terug. Dawid, wat kwaad is oor hierdie belediging, stuur Joab met sy leër om die onreg te wreek. Joab verdeel sy strydkragte en verslaan die Ammoniete en die Arameërs wat hulle kom help het maklik. Die Arameërs hergroepeer hulle strydkragte, maar word weer eens deur die leërs van Jehovah onder die bevel van Dawid verslaan en ly ’n verlies van 700 strydwadrywers en 40 000 ruiters. Dit is verdere bewys dat Dawid Jehovah se guns en seën geniet.

14. Watter sondes pleeg Dawid in verband met Batseba?

14 Dawid sondig teen Jehovah (11:1–12:31). Die daaropvolgende lente stuur Dawid Joab weer na Ammon om Rabba te beleër terwyl hy self in Jerusalem bly. Een aand sien hy toevallig vanaf sy dak die pragtige Batseba, die vrou van Uria, die Hetiet, terwyl sy bad. Hy laat haar na sy huis bring en het gemeenskap met haar, en sy word swanger. Dawid probeer om die gebeure te verberg deur Uria terug te laat kom van die stryd by Rabba en hom na sy huis te stuur om hom te verkwik. Uria weier egter om homself te behaag en gemeenskap met sy vrou te hê terwyl die Ark en die leër ‘in hutte bly’. Uit wanhoop stuur Dawid Uria terug na Joab met ’n brief wat sê: “Sit Uria op die voorpunt van die hewigste geveg; trek julle dan agter hom terug, dat hy in die slag kan sneuwel” (11:11, 15). So sterf Uria. Na Batseba se routyd neem Dawid haar onmiddellik in sy huis op, waar sy sy vrou word en hulle kind, ’n seun, gebore word.

15. Hoe spreek Natan ’n profetiese oordeel oor Dawid uit?

15 Dit is verkeerd in Jehovah se oë. Hy stuur die profeet Natan met ’n oordeelsboodskap na Dawid. Natan vertel Dawid van ’n ryk man en ’n arm man. Die een het baie vee gehad, maar die ander het net een ooilam gehad wat soos ’n troeteldier in die gesin en ‘soos ’n dogter vir hom was’. Toe ’n fees voorberei moes word, het die ryk man egter nie ’n skaap uit sy eie kuddes geneem nie, maar die ooilam van die arm man. Toe Dawid dit hoor, word hy kwaad en roep uit: “So waar as die HERE leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe!” Dan volg Natan se woorde: “U is die man!” (12:3, 5, 7). Hy spreek vervolgens die profetiese oordeel uit dat Dawid se vroue in die openbaar deur ’n ander man onteer sal word, dat sy huis deur interne stryd geteister sal word en dat sy kind by Batseba sal sterf.

16. (a) Watter betekenisse is verbonde aan die name van Dawid se tweede seun by Batseba? (b) Wat is die uitslag van die aanval op Rabba?

16 In opregte verdriet en berou erken Dawid openlik: “Ek het gesondig teen die HERE!” (12:13). Ooreenkomstig Jehovah se woord sterf die kind van die owerspelige verbintenis na ’n siekte van sewe dae. (Later het Dawid ’n ander seun by Batseba; hulle noem hom Salomo, ’n naam wat van ’n grondwoord kom wat “vrede” beteken. Deur Natan stuur Jehovah egter die boodskap dat hy ook Jedidja genoem moet word, wat “Geliefde van Jah” beteken.) Na sy sielskokkende ondervinding word Dawid deur Joab na Rabba geroep, waar die beslissende aanval voorberei word. Na Joab beheer oor die stad se watervoorraad verkry het, gee hy eerbiedig die koning die eer om die stad in te neem.

17. Watter interne probleme begin Dawid se huis teister?

17 Dawid se huislike moeilikhede (13:1–18:33). Dawid se huislike probleme begin wanneer Amnon, een van Dawid se seuns, hartstogtelik verlief raak op Tamar, die suster van sy halfbroer Absalom. Amnon hou hom siek en vra dat die pragtige Tamar gestuur word om hom te versorg. Hy onteer haar en begin haar dan intens haat, sodat hy haar in vernedering wegstuur. Absalom neem hom voor om wraak te neem en wag sy tyd af. Sowat twee jaar later berei hy ’n feesmaal waarna Amnon en al die ander seuns van die koning genooi word. Wanneer Amnon se hart vrolik word van die wyn word hy onverhoeds oorval en op bevel van Absalom doodgemaak.

18. Deur watter slenterslag word Absalom se ballingskap opgehef?

18 Uit vrees vir die koning se misnoeë vlug Absalom na Gesur, waar hy drie jaar in halfballingskap woon. Intussen beraam Joab, die hoof van Dawid se leër, ’n plan om ’n versoening tussen Dawid en Absalom te bewerkstellig. Hy reël dat ’n wyse vrou van Tekoa ’n denkbeeldige situasie oor vergelding, ballingskap en straf vir die koning skets. Wanneer die koning ’n uitspraak doen, onthul die vrou die ware rede vir haar teenwoordigheid, naamlik dat die koning se eie seun, Absalom, in ballingskap in Gesur is. Dawid besef dat Joab dit beplan het, maar gee toestemming dat sy seun na Jerusalem terugkeer. Nog twee jaar verloop voordat die koning toestem om Absalom van aangesig tot aangesig te sien.

19. Watter sameswering kom nou aan die lig, en met watter gevolg vir Dawid?

19 Ondanks Dawid se liefderyke goedheid smee Absalom spoedig ’n sameswering om die troon van sy vader sy eie te maak. Onder al die dapper manne van Israel is Absalom besonder aantreklik, en dit vererger sy eersug en trots. Elke jaar wanneer sy bos hare afgeskeer word, weeg dit sowat 2,3 kilogram (2 Sam. 14:26, voetnoot in NW-naslaanuitgawe). Deur verskeie listige sette begin Absalom die harte van die manne van Israel steel. Uiteindelik kom die sameswering aan die lig. Absalom verkry sy vader se toestemming om na Hebron te gaan, en daar maak hy sy opstandige voorneme bekend en vra hy die steun van die hele Israel in sy opstand teen Dawid. Wanneer groot getalle hulle aan die kant van sy opstandige seun skaar, vlug Dawid uit Jerusalem saam met ’n paar lojale ondersteuners, waarvan Ittai, die Gittiet, tipies is. Hy sê: “So waar as die HERE leef en my heer die koning leef, voorwaar, op die plek waar my heer die koning sal wees vir dood of vir lewe, daar sal u dienaar sekerlik ook wees!”—15:21.

20, 21. (a) Watter gebeure vind gedurende Dawid se vlug plaas, en hoe word Natan se profesie vervul? (b) Hoe kom verraderlike Agitofel aan sy einde?

20 Gedurende sy vlug uit Jerusalem verneem Dawid van die verraad van een van sy betroubaarste raadgewers, Agitofel. Hy bid: “o HERE, verydel tog die raad van Agitofel!” (15:31). Sadok en Abjatar, priesters wat lojaal is aan Dawid, en Husai, die Arkiet, word teruggestuur na Jerusalem om Absalom se bedrywighede dop te hou en verslag daaroor te doen. Intussen kom Dawid Siba, die dienaar van Mefiboset, in die woestyn teë en hy berig dat sy heer nou verwag dat die koninkryk terug sal kom na die huis van Saul. Wanneer Dawid verder trek, vervloek Simeï, ’n man van Saul se huis, hom en gooi hy hom met klippe, maar Dawid weerhou sy manne daarvan om wraak te neem.

21 In Jerusalem het die troonrower Absalom, op advies van Agitofel, gemeenskap met sy vader se byvroue “voor die oë van die hele Israel”. Dit is ter vervulling van Natan se profetiese oordeel (16:22; 12:11). Agitofel gee Absalom ook die raad om ’n strydmag van 12 000 man te neem en Dawid in die woestyn vas te keer. Husai, wat Absalom se vertroue gewen het, beveel egter ’n ander handelwyse aan. En net soos Dawid gebid het, word die raad van Agitofel verydel. Net soos Judas gaan die gefrustreerde Agitofel huis toe en verwurg homself. Husai verwittig die priesters Sadok en Abjatar in die geheim van Absalom se planne en hulle weer laat die boodskap aan Dawid in die woestyn oordra.

22. Deur watter verdriet word Dawid se oorwinning gedemp?

22 Dit stel Dawid in staat om die Jordaan oor te steek en die plek vir die stryd in die woud in Mahanaim te kies. Daar stel hy sy strydkragte op en beveel hy hulle om Absalom sagkens te behandel. Die rebelle ly ’n verpletterende neerlaag. Terwyl Absalom op ’n muil deur die dig beboste woud vlug, haak sy hoof aan die laer takke van ’n groot boom vas, en daar hang hy tussen hemel en aarde. Joab vind hom in hierdie benarde posisie en maak hom dood in algehele veronagsaming van die koning se bevel. Dawid se diep smart wanneer hy van die dood van sy seun hoor, word in sy klaaglied weerspieël: “My seun Absalom, my seun, my seun Absalom! Ag, as ek self maar in jou plek gesterf het! Absalom, my seun, my seun!”—18:33.

23. Watter reëlings kenmerk Dawid se terugkeer as koning?

23 Die laaste gebeure gedurende Dawid se regering (19:1–24:25). Dawid treur bitter totdat Joab hom aanspoor om weer sy regmatige posisie as koning in te neem. In plaas van Joab stel hy Amasa nou as leërowerste aan. Wanneer hy terugkeer, word hy deur die volk verwelkom, met inbegrip van Simeï, wie se lewe Dawid spaar. Mefiboset kom ook sy saak bepleit, en Dawid gee hom net so ’n groot erfdeel as vir Siba. Weer eens is die hele Israel en Juda onder Dawid verenig.

24. Watter verdere gebeure vind plaas met betrekking tot die stam van Benjamin?

24 Daar lê egter nog moeilikhede voor. Seba, ’n Benjaminiet, verklaar homself tot koning en rokkel baie onderdane van Dawid af. Amasa, wat deur Dawid beveel word om manne te versamel om die opstand te onderdruk, word deur Joab ontmoet en verraderlik vermoor. Dan neem Joab bevel van die leër oor en volg hy Seba na die stad Abel van Bet-Maäga en beleër dit. Die inwoners slaan ag op die raad van ’n wyse vrou van die stad en stel Seba tereg, en Joab trek terug. Omdat Saul Gibeoniete omgebring het en die bloedskuld nog nie gewreek is nie, breek ’n drie jaar lange hongersnood in Israel uit. Om die bloedskuld te verwyder, word sewe seuns van Saul se huis tereggestel. Later, wanneer die Israeliete weer teen die Filistyne veg, word Dawid se lewe net-net deur sy susterskind Abisai gered. Sy manne besweer hom dat hy nie meer saam met hulle moet uittrek om te veg nie, “dat u die lamp van Israel nie uitblus nie” (21:17). Drie van sy helde verrig merkwaardige dade deur Filistynse reuse te verslaan.

25. Wat word betuig in die liedere van Dawid wat nou volg?

25 Op hierdie stadium onderbreek die skrywer die verslag met ’n lied van Dawid voor Jehovah wat ooreenstem met Psalm 18 en dank uitspreek vir bevryding “uit die hand van al sy vyande en uit die hand van Saul”. Vreugdevol verklaar hy: “Die HERE is my rots en my bergvesting en my redder; Hy is dit wat die verlossing van sy koning groot maak en goedertierenheid bewys aan sy gesalfde, aan Dawid en aan sy nageslag tot in ewigheid” (22:1, 2, 51). Dan volg die laaste lied van Dawid, waarin hy erken: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong.”—23:2.

26. Wat word oor Dawid se helde gesê, en hoe toon hy respek vir hulle lewensbloed?

26 Wanneer die geskiedkundige verslag hervat word, vind ons ’n lys van helde wat tot Dawid behoort, waarvan drie uitsonderlik is. Hulle is betrokke by ’n voorval wat plaasvind nadat ’n buitepos van die Filistyne in Betlehem, Dawid se geboortestad, opgerig is. Dawid spreek die wens uit: “Wie sal vir my water gee om te drink uit die put van Betlehem wat by die poort is?” (23:15). Hierop breek die drie helde deur die Filistynse laer, skep hulle water uit die put en neem hulle dit terug na Dawid. Maar Dawid weier om dit te drink. In plaas daarvan giet hy dit op die grond uit en sê: “Dit is ver van my, HERE, dat ek dit sou doen! Sou ek die bloed drink van die manne wat met lewensgevaar gegaan het?” (23:17). Vir hom is die water gelyk aan die lewensbloed wat hulle daarvoor gewaag het. Dan volg ’n lys van die 30 grootste helde van sy leër en hulle heldedade.

27. Watter sonde begaan Dawid laastelik? Hoe word die gevolglike pes beëindig?

27 Laastelik sondig Dawid deur die volk te tel. Wanneer hy Jehovah om genade smeek, word hy ’n keuse van drie strawwe gegee: sewe jaar van hongersnood, drie maande van militêre neerlae of drie dae van pes in die land. Dawid antwoord: “Laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot, maar laat my in die hand van mense nie val nie” (24:14). Die pes, wat die hele nasie tref, dood 70 000 mense en hou eers op wanneer Dawid, ooreenkomstig Jehovah se instruksies by monde van Gad, die dorsvloer van Arauna koop, waar hy brandoffers en dankoffers aan Jehovah bring.

WAAROM NUTTIG

28. Watter treffende waarskuwings bevat Tweede Samuel?

28 Tweede Samuel bevat baie inligting wat vir die hedendaagse leser nuttig is! Feitlik elke menslike emosie word hier in die mees intense kleure geskilder, dié van die werklike lewe. Ons word derhalwe met treffende woorde gewaarsku teen die rampspoedige gevolge van eersug en wraak (3:27-30), teen ongeoorloofde begeerte na ’n ander se huweliksmaat (11:2-4, 15-17; 12:9, 10), teen verraad (15:12, 31; 17:23), teen liefde wat slegs uit hartstog spruit (13:10-15, 28, 29), teen oorhaastige oordeel (16:3, 4; 19:25-30) en teen minagting vir iemand anders se godvrugtige dade.—6:20-23.

29. Watter uitstekende voorbeelde van regte gedrag en optrede word in Tweede Samuel gevind?

29 Verreweg die grootste nut van Tweede Samuel is egter van ’n positiewe aard, deur ag te slaan op die talle uitstekende voorbeelde van goeie gedrag en optrede. Dawid is ’n model wat betref sy uitsluitlike toegewydheid aan God (7:22), sy nederigheid voor God (7:18), sy verheerliking van Jehovah se naam (7:23, 26), sy regte beskouing ten tyde van teëspoed (15:25), sy opregte berou oor sonde (12:13), sy getrouheid aan sy belofte (9:1, 7), die balans wat hy onder beproewing behou het (16:11, 12), sy voortdurende vertroue in Jehovah (5:12, 20) en sy diep eerbied vir Jehovah se reëlings en aanstellings (1:11, 12). Geen wonder dat Dawid “’n man na [Jehovah se] hart” genoem is nie!—1 Sam. 13:14.

30. Watter beginsels word in Tweede Samuel toegepas en toegelig?

30 Ook die toepassing van baie Bybelbeginsels word in Tweede Samuel gevind. Hieronder is die beginsels van gemeenskapsverantwoordelikheid (2 Sam. 3:29; 24:11-15), dat goeie bedoelings nie God se vereistes verander nie (6:6, 7), dat hoofskap in Jehovah se teokratiese reëling gerespekteer moet word (12:28), dat bloed as heilig beskou moet word (23:17), dat versoening vir bloedskuld nodig is (21:1-6, 9, 14), dat ’n wyse persoon onheil vir baie kan afwend (2 Sam. 20:21, 22; Pred. 9:15) en dat lojaliteit teenoor Jehovah se organisasie en die verteenwoordigers daarvan gehandhaaf moet word, hetsy “vir dood of vir lewe”.—2 Sam. 15:18-22.

31. Hoe verskaf Tweede Samuel toekomsblikke van God se Koninkryk, soos bevestig in die Christelike Griekse Geskrifte?

31 Die allerbelangrikste is dat Tweede Samuel vooruitwys na en verskeie skitterende toekomsblikke gee van God se Koninkryk, wat hy in die hande van die “seun van Dawid”, Jesus Christus, bevestig (Matt. 1:1). Die eed wat Jehovah teenoor Dawid gedoen het oor die blywende aard van sy koninkryk (2 Sam. 7:16) word in Handelinge 2:29-36 met verwysing na Jesus gemeld. Dat die profesie: “Ek sal vir hom ’n vader wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (2 Sam. 7:14), werklik vooruitgewys het na Jesus blyk uit Hebreërs 1:5. Dit is ook gestaaf deur Jehovah se stem wat uit die hemel gespreek het: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het” (Matt. 3:17; 17:5). Laastelik, Gabriël het na die Koninkryksverbond met Dawid verwys toe hy met Maria oor Jesus gepraat het: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Luk. 1:32, 33). Hoe opwindend is die belofte van die Koninkryksaad tog telkens wanneer ’n stap in die ontwikkeling daarvan voor ons oë ontvou!

[Voetnote]

a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 745-7.

b Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 373-4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel