Bybelboek nommer 11—1 Konings
Skrywer: Jeremia
Waar geskryf: Jerusalem en Juda
Geskrif voltooi: 580 v.G.J.
Beskrewe tydperk: ca. 1040–911 v.G.J.
1. (a) Hoe het Israel se wonderlike voorspoed tot verval ontaard? (b) Waarom kan Eerste Konings nietemin as ‘geïnspireer en nuttig’ beskryf word?
DEUR die oorwinnings van Dawid is Israel se grondgebied tot sy godgegewe grense uitgebrei, van die Eufraatrivier in die noorde tot die rivier van Egipte in die suide (2 Sam. 8:3; 1 Kon. 4:21). Teen die tyd dat Dawid gesterf en sy seun Salomo in sy plek regeer het, was “Juda en Israel . . . talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly” (1 Kon. 4:20). Salomo het met groot wysheid regeer, wysheid wat dié van die ou Grieke ver oortref het. Hy het ’n luisterryke tempel vir Jehovah gebou. Maar selfs Salomo het in die aanbidding van valse gode verval. By sy dood is die koninkryk in twee geskeur, en ’n reeks goddelose konings in die mededingende koninkryke Israel en Juda het verderflik gehandel en ellende oor die volk gebring, net soos Samuel voorspel het (1 Sam. 8:10-18). Van die 14 konings wat na Salomo se dood in Juda en in Israel regeer het en in die boek Eerste Konings genoem word, het net 2 daarin geslaag om te doen wat reg is in Jehovah se oë. Is hierdie verslag dan ‘geïnspireer en nuttig’? Dit is beslis, soos ons sal sien uit sy vermaninge, sy profesieë en tipes en sy verband met die oorheersende Koninkrykstema van “die hele Skrif”.
2. Hoe het dit gekom dat Eerste en Tweede Konings twee boekrolle geword het, en hoe is hulle saamgestel?
2 Die boek Konings was oorspronklik een rol, of volume, en is in Hebreeus Mela·khimʹ (Konings) genoem. Die vertalers van die Septuagint het dit Ba·si·leiʹon, “Koninkryke”, genoem en was die eerste wat dit gerieflikheidshalwe in twee boekrolle verdeel het. Hulle is later Derde en Vierde Konings genoem, ’n benaming wat vandag nog in Katolieke Bybels gebruik word. Maar nou staan hulle oor die algemeen as Eerste en Tweede Konings bekend. Hulle verskil van Eerste en Tweede Samuel daarin dat hulle vorige verslae as bronmateriaal vir die samesteller meld. Die een samesteller verwys 15 keer in die loop van die twee boeke na “die Kroniekboek van die konings van Juda”, 18 keer na “die Kroniekboek van die konings van Israel”, en ook na “die Geskiedenisboek van Salomo” (1 Kon. 15:7; 14:19; 11:41). Hoewel hierdie ander ou verslae heeltemal verlore gegaan het, het die geïnspireerde versameling behoue gebly—die nuttige verslag van Eerste en Tweede Konings.
3. (a) Wie het ongetwyfeld die boeke Konings geskryf, en waarom antwoord jy so? (b) Wanneer is die skrywe daarvan voltooi, en watter tydperk dek Eerste Konings?
3 Wie het die boeke Konings geskryf? Die nadruk wat hulle op die werk van die profete lê, veral dié van Elia en Elisa, dui op ’n profeet van Jehovah. Ooreenkomste in taal, samestelling en styl dui op dieselfde skrywer as dié van die boek Jeremia. Baie Hebreeuse woorde en uitdrukkings verskyn slegs in Konings en Jeremia, en in geen ander Bybelboek nie. Maar as Jeremia die boeke Konings geskryf het, waarom word hy dan nie daarin gemeld nie? Dit was nie nodig nie, want sy werk is reeds beskryf in die boek met sy naam. Daarbenewens is Konings geskryf om Jehovah en Sy aanbidding te verheerlik, nie om Jeremia se reputasie te vergroot nie. In werklikheid vul Konings en Jeremia mekaar merendeels aan, want die een voeg toe wat die ander weglaat. Daarbenewens is daar parallelle verslae, soos 2 Konings 24:18–25:30 en Jeremia 39:1-10; 40:7–41:10; 52:1-34. Joodse oorlewering bevestig dat Jeremia die skrywer van Eerste en Tweede Konings was. Hy het ongetwyfeld in Jerusalem met die samestelling van altwee boeke begin, en blykbaar is die tweede boek omstreeks 580 v.G.J. in Egipte voltooi, aangesien hy in die slot van sy verslag gebeure van daardie jaar meld (2 Kon. 25:27). Eerste Konings hervat die geskiedenis van Israel waar Tweede Samuel eindig en sit die verslag voort tot 911 v.G.J., toe Josafat gesterf het.—1 Kon. 22:50.
4. Hoe staaf sekulêre geskiedenis en die argeologie Eerste Konings?
4 Eerste Konings is met reg in die kanon van die Heilige Skrif, aangesien dit deur alle gesaghebbendes aanvaar word. Daarbenewens word gebeure in Eerste Konings gestaaf deur die sekulêre geskiedverslae van Egipte en Assirië. Die argeologie staaf ook baie van die verklarings in die boek. Ons lees byvoorbeeld in 1 Konings 7:45, 46 dat Hiram die kopervoorwerpe vir Salomo se tempel “in die Jordaanstreek . . . , tussen Sukkot en Sartan”, gegiet het. Argeoloë wat op die ligging van ou Sukkot opgrawings gedoen het, het bewyse van smeltbedrywighede daar aangetref.a Bowendien spog ’n reliëf in ’n tempelmuur by Karnak (ou Thebe) oor die Egiptiese koning Sjesjonk (Sisak) se inval in Juda, wat in 1 Konings 14:25, 26 gemeld word.b
5. Watter geïnspireerde getuienis bewys die egtheid van Eerste Konings?
5 Die egtheid van Eerste Konings word gestaaf deur aanhalings deur ander Bybelskrywers en die vervulling van profesieë. Jesus het van die gebeure met betrekking tot Elia en die weduwee van Sarfat as historiese werklikhede gepraat (Luk. 4:24-26). Jesus het van Johannes die Doper gepraat en gesê: “Hy is Elia wat sou kom” (Matt. 11:13, 14). Jesus het hier na die profesie van Maleagi verwys, wat ook van ’n toekomstige dag gepraat het: “Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die HERE aanbreek” (Mal. 4:5). Jesus het die kanonisiteit van Eerste Konings verder gestaaf deur te verwys na wat in daardie boek oor Salomo, asook die koningin van die suide, geskryf is.—Matt. 6:29; 12:42; vergelyk 1 Konings 10:1-9.
INHOUD VAN EERSTE KONINGS
6. Onder watter omstandighede bestyg Salomo die troon, en hoe word hy stewig in die koninkryk bevestig?
6 Salomo word koning (1:1–2:47). Die verslag van Eerste Konings begin waar Dawid afgeleef is en sy regering van 40 jaar ten einde loop. Met behulp van die leërowerste Joab en die priester Abjatar smee sy seun Adonia ’n sameswering om die koningskap oor te neem. Die profeet Natan stel Dawid hiervan in kennis en herinner hom indirek daaraan dat hy Salomo reeds aangewys het om by sy dood koning te word. Terwyl die samesweerders Adonia se opvolging vier, laat Dawid Salomo deur die priester Sadok tot koning salf. Dawid beveel Salomo nou om sterk te wees en soos ’n man op te tree en in die weë van Jehovah sy God te wandel, waarna Dawid sterf en in “die stad van Dawid” begrawe word (2:10). Na verloop van tyd verban Salomo Abjatar en stel hy die onrusstokers Adonia en Joab tereg. Later word Simeï tereggestel wanneer hy nie respek toon vir die barmhartige voorsiening wat gemaak is om sy lewe te spaar nie. Die koninkryk word nou stewig in die hande van Salomo bevestig.
7. Watter gebed van Salomo verhoor Jehovah, en met watter gevolg vir Israel?
7 Salomo se wyse heerskappy (3:1–4:34). Salomo gaan ’n huweliksverbintenis met Egipte aan deur met Farao se dogter te trou. Hy bid tot Jehovah om ’n gehoorsame hart sodat hy Jehovah se volk met goeie oordeel kan rig. Omdat hy nie ’n lang lewe of rykdom versoek nie, belowe Jehovah om hom ’n wyse en oordeelkundige hart asook rykdom en eer te gee. Vroeg in sy regering openbaar Salomo sy wysheid wanneer twee vroue voor hom verskyn en op dieselfde kind aanspraak maak. Salomo beveel sy manne om ‘die lewendige kind in twee stukke te sny’ en aan elke vrou een helfte te gee (3:25). Hierop pleit die werklike moeder om die kind se lewe en sê sy dat die ander vrou hom moet kry. So identifiseer Salomo die regmatige moeder, en sy kry die kind. Danksy Salomo se godgegewe wysheid is die hele Israel voorspoedig en gelukkig en veilig. Mense uit baie lande kom om na sy wyse uitsprake te luister.
8. (a) Hoe gaan Salomo met die bou van die tempel te werk? Beskryf enkele kenmerke daarvan. (b) Watter verdere bouprogram voer hy uit?
8 Salomo se tempel (5:1–10:29, vgl. NW). Salomo onthou Jehovah se woorde aan sy vader Dawid: “Jou seun wat Ek in jou plek op die troon sal sit, hy sal die huis vir my Naam bou” (5:5). Salomo tref derhalwe voorbereidsels hiervoor. Hiram, die koning van Tirus, help deur seder- en jenewerhout uit Libanon te stuur en deur bekwame werkers te voorsien. Hulle, tesame met diegene wat deur Salomo vir werk opgeroep is, begin in die vierde jaar van Salomo se regering, in die 480ste jaar na die Israeliete Egipte verlaat het, met werk aan die huis van Jehovah (6:1). Geen hamers, byle of enige ystergereedskap word op die bouterrein gebruik nie, aangesien al die klippe by die steengroef afgewerk en pasgemaak word voordat dit na die tempelterrein gebring word om in posisie geplaas te word. Die hele binnekant van die tempel, waarvan die mure eers met sederhout en die vloere met jenewerhout bedek word, word dan pragtig met goud oorgetrek. Twee afbeeldinge van gerubs word van olieboomhout gemaak, wat elkeen tien el (4,45 m) hoog en tien el van vlerkpunt tot vlerkpunt is, en hulle word in die binneste vertrek geplaas. Ander gerubs, tesame met figure van palmbome en bloeisels, word op die tempelmure uitgesny. Uiteindelik, na meer as sewe jaar se werk, word die luisterryke tempel voltooi. Salomo sit sy bouprogram voort: ’n huis vir homself, die Huis van die Libanon-bos, die Pilare-voorhuis, die Troonsaal en ’n huis vir Farao se dogter. Hy maak ook twee groot koperpilare vir die voorportaal van Jehovah se huis, die gegote see vir die voorhof en die koperwaentjies, sowel as koperkomme en goue voorwerpe.c
9. Watter manifestasie van Jehovah vind plaas en watter gebed doen Salomo wanneer die verbondsark ingebring word?
9 Nou breek die tyd aan vir die priesters om die ark van Jehovah se verbond op te bring en dit in die binneste vertrek, die Allerheiligste, onder die vleuels van die gerubs te plaas. Wanneer die priesters uitkom, ‘vervul die heerlikheid van Jehovah die huis van Jehovah’ sodat die priesters nie meer kan staan om diens te doen nie (8:11). Salomo seën die gemeente van Israel, en hy seën en loof Jehovah. Op sy knieë en met sy palms na die hemele uitgestrek, erken hy biddend dat die hemel der hemele Jehovah nie kan bevat nie, hoeveel minder hierdie aardse huis wat hy gebou het. Hy bid dat Jehovah almal wat Hom vrees, sal verhoor wanneer hulle na hierdie huis toe bid, ja, selfs die uitlander uit ’n ver land, “sodat al die volke van die aarde u Naam mag ken, om U te vrees soos u volk Israel”.—8:43.
10. Met watter belofte en profetiese waarskuwing beantwoord Jehovah Salomo se gebed?
10 Gedurende die fees van 14 dae wat volg, offer Salomo 22 000 beeste en 120 000 skape. Jehovah sê vir Salomo dat Hy sy gebed gehoor het en dat Hy die tempel geheilig het deur Sy “Naam daar te vestig tot in ewigheid”. As Salomo nou in opregtheid voor Jehovah wandel, sal die troon van sy koninkryk voortbestaan. As Salomo en sy seuns ná hom egter Jehovah se aanbidding verlaat en ander gode dien, dan, sê Jehovah, “sal Ek Israel uit die land uitroei wat Ek hulle gegee het, en die huis wat Ek vir my Naam geheilig het, sal Ek van my aangesig wegwerp, sodat Israel ’n spreekwoord en ’n spotlied sal word onder al die volke”.—9:3, 7, 8.
11. Hoe groot word Salomo se rykdom en wysheid?
11 Dit het Salomo 20 jaar geneem om die twee huise te voltooi, die huis van Jehovah en die huis van die koning. Nou bou hy baie stede dwarsdeur sy ryk, asook skepe om handel met ver lande te dryf. Die koningin van Skeba hoor aldus van die groot wysheid wat Jehovah Salomo gegee het, en sy kom om hom met ingewikkelde vrae op die proef te stel. Na sy hom gehoor en die voorspoed en geluk van sy volk gesien het, roep sy uit: “Die helfte is my nie meegedeel nie” (10:7). Namate Jehovah voortgaan om Israel liefde te betoon, word Salomo ‘groter as al die konings van die aarde, in rykdom en wysheid’.—10:23.
12. (a) Wat versuim Salomo om te doen, en watter sade van opstand begin opduik? (b) Wat voorspel Ahia?
12 Salomo se ontrou en dood (11:1-43). In stryd met Jehovah se bevel neem Salomo baie vroue uit ander nasies—700 vroue en 300 byvroue (Deut. 17:17). Sy hart word verlei om ander gode te dien. Jehovah sê vir hom dat die koninkryk van hom afgeskeur sal word, nie in sy dag nie, maar in die dag van sy seun. Nietemin sal ’n deel van die koninkryk, Juda en nog een stam, deur Salomo se seuns regeer word. God begin om teenstanders in naburige nasies teen Salomo te verwek, en Jerobeam van die stam van Efraim verhef hom ook teen die koning. Die profeet Ahia sê vir Jerobeam dat hy koning oor tien stamme van Israel sal word, en Jerobeam vlug vir sy lewe na Egipte. Salomo sterf na hy 40 jaar regeer het, en sy seun Rehabeam word in die jaar 997 v.G.J. koning.
13. Hoe vind ’n skeuring in die koninkryk plaas wanneer Rehabeam begin regeer, en hoe probeer Jerobeam sy koningskap beveilig?
13 Die koninkryk word verdeel (12:1–14:20). Jerobeam keer terug uit Egipte en gaan saam met die volk op om Rehabeam om verligting te vra van al die laste wat Salomo hulle opgelê het. Rehabeam luister na die raad van die jong manne in plaas van die wyse raad van die oudstes in Israel en maak die laste selfs swaarder. Israel kom in opstand en maak Jerobeam koning oor die noordelike tien stamme. Rehabeam, wat net Juda en Benjamin oorhou, bring ’n leër op die been om teen die rebelle te veg, maar op Jehovah se bevel keer hy terug. Jerobeam bou Sigem as sy hoofstad, maar hy voel steeds onveilig. Hy vrees dat die volk na Jerusalem sal terugkeer om Jehovah te aanbid en dat hulle weer onder Rehabeam sal kom. Om dit te voorkom, rig hy twee goue kalwers op, een in Dan en een in Bet-el, en hy kies priesters, nie uit die stam van Levi nie maar uit die gewone mense, om die aanbidding te lei.d
14. Watter profetiese waarskuwing word teen Jerobeam se huis gegee, en watter teenspoede begin?
14 Terwyl Jerobeam by die altaar in Bet-el offer, stuur Jehovah ’n profeet om hom te waarsku dat Hy ’n koning uit Dawid se geslag, met die naam Josia, sal verwek wat kragtig teen hierdie altaar van valse aanbidding sal optree. As ’n wonderteken word die altaar op die daad uitmekaargeskeur. Die profeet self word later deur ’n leeu doodgemaak omdat hy nie Jehovah se opdrag gehoorsaam om nie tydens sy sending te eet of te drink nie. Teenspoed begin nou Jerobeam se huis tref. Sy kind sterf as ’n oordeel van Jehovah, en God se profeet Ahia voorspel dat Jerobeam se huis heeltemal afgesny sal word as gevolg van die groot sonde wat hy begaan het deur valse gode in Israel op te rig. Na hy 22 jaar regeer het, sterf Jerobeam en word sy seun Nadab in sy plek koning.
15. Watter gebeure vind gedurende die regering van die volgende drie konings in Juda plaas?
15 In Juda: Rehabeam, Abia en Asa (14:21–15:24). Intussen doen Juda onder Rehabeam ook wat verkeerd is in Jehovah se oë deur afgodediens te beoefen. Die koning van Egipte doen ’n inval en dra baie van die tempelskatte weg. Na hy 17 jaar regeer het, sterf Rehabeam, en sy seun Abia word koning. Hy bly ook teen Jehovah sondig en sterf na ’n regering van drie jaar. Sy seun Asa regeer nou, en in teenstelling met sy voorgangers dien hy Jehovah met ’n volkome hart en verwyder hy die drekgode uit die land. Daar is voortdurend oorlog tussen Israel en Juda. Asa kry hulp by Aram (Sirië), en Israel moet noodgedwonge terugtrek. Asa regeer 41 jaar en word deur sy seun Josafat opgevolg.
16. Watter onstuimige gebeure vind nou in Israel plaas, en waarom?
16 In Israel: Nadab, Baesa, Ela, Simri, Tibni, Omri en Agab (15:25–16:34). Wat ’n goddelose klomp! Baesa vermoor Nadab na hy net twee jaar regeer het en voer dit verder deur die hele huis van Jerobeam uit te roei. Hy sit valse aanbidding en die stryd teen Juda voort. Jehovah voorspel dat Hy Baesa se huis skoon sal wegvee, soos hy met Jerobeam s’n gedoen het. Na Baesa se regering van 24 jaar word hy deur sy seun Ela opgevolg, wat twee jaar later deur sy dienaar Simri vermoor word. Sodra Simri die troon bestyg, roei hy die hele huis van Baesa uit. Wanneer die volk dit hoor, maak hulle Omri, die leërowerste, koning en trek hulle op na Tirsa, Simri se hoofstad. Wanneer Simri sien dat alles verlore is, steek hy die koning se huis bo-op homself aan die brand sodat hy sterf. Tibni probeer nou om as ’n mededingende koning te regeer, maar na ’n ruk oorweldig die volgelinge van Omri hom en maak hulle hom dood.
17. (a) Waarvoor staan Omri se regering bekend? (b) Waarom bereik ware aanbidding ’n laagtepunt gedurende Agab se regering?
17 Omri koop die berg Samaria en bou die stad Samaria daarop. Hy wandel in al die weë van Jerobeam en krenk Jehovah met afgodediens. Trouens, hy is erger as al die ander voor hom. Na hy 12 jaar regeer het, sterf hy en word sy seun Agab koning. Agab trou met Isebel, die dogter van die koning van Sidon, en rig dan ’n altaar vir Baäl in Samaria op. Hy oortref al sy voorgangers wat goddeloosheid betref. Dit is gedurende hierdie tyd dat Hiël, die Beteliet, die stad Jerigo ten koste van sy eersgebore seun en sy jongste seun se lewe herbou. Ware aanbidding het ’n laagtepunt bereik.
18. Met watter uitspraak begin Elia sy profetiese werk in Israel, en hoe wys hy haarfyn die werklike rede vir Israel se moeilikhede aan?
18 Elia se profetiese werk in Israel (17:1–22:40). Skielik verskyn ’n boodskapper van Jehovah op die toneel. Dit is Elia, die Tisbiet.e Sy openingsuitspraak voor koning Agab is inderdaad ontstellend: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (17:1). Net so skielik onttrek Elia hom op Jehovah se bevel na ’n vallei oos van die Jordaan. Daar heers droogte in Israel, maar kraaie bring vir Elia voedsel. Wanneer die spruit in die vallei opdroog, stuur Jehovah sy profeet om in Sarfat in Sidon te woon. As gevolg van ’n weduwee se goedhartigheid teenoor Elia laat Jehovah haar klein voorraad meel en olie op wonderdadige wyse nie opraak nie, sodat sy en haar seun nie van honger omkom nie. Later word die seun siek en sterf hy, maar op Elia se smeekbede laat Jehovah die kind weer lewe. Dan, in die derde jaar van die droogte, stuur Jehovah Elia weer na Agab. Agab beskuldig Elia daarvan dat hy ostrasisme oor Israel gebring het, maar Elia sê reguit vir Agab: ‘U en u familie het’ deur die Baäls te volg.—18:18, vgl. NW.
19. Hoe word die geskil ten opsigte van godheid duidelik gestel, en hoe word Jehovah se oppergesag bewys?
19 Elia vra Agab om al die profete van Baäl op die berg Karmel te versamel. Dit sal nie meer moontlik wees om op twee gedagtes te hink nie. Die geskil word duidelik gestel: Jehovah teenoor Baäl! Voor die hele volk kry die 450 priesters van Baäl ’n bul gereed, sit hulle dit op hout op die altaar en bid hulle dat vuur neerkom en die offer verteer. Van die oggend tot die middag roep hulle Baäl tevergeefs aan terwyl Elia hulle spot. Hulle skreeu en kerf hulleself stukkend, maar geen antwoord nie! Vervolgens bou die profeet Elia, wat alleen staan, ’n altaar in die naam van Jehovah en kry hy die hout en bul vir die offer gereed. Hy laat die volk die offer en die hout drie maal met water deurweek, en dan bid hy tot Jehovah: “Antwoord my, HERE, antwoord my, sodat hierdie volk kan erken dat U, HERE, [die ware] God is.” Hierop flits vuur uit die hemel en verteer dit die offer, die hout, die altaarklippe, die stof en die water. Wanneer die hele volk dit sien, val hulle onmiddellik op hulle aangesigte en sê: “[Jehovah], Hy is God, [Jehovah], Hy is God!” (18:37, 39, vgl. NW). Die dood vir die profete van Baäl! Elia sien persoonlik toe dat die slagting plaasvind sodat niemand ontkom nie. Dan gee Jehovah reën, en dit beëindig die droogte in Israel.
20. (a) Hoe verskyn Jehovah in Horeb aan Elia, en watter opdrag en vertroosting gee Hy? (b) Watter sonde en misdaad pleeg Agab?
20 Wanneer die tyding van Baäl se vernedering Isebel bereik, probeer sy om Elia te laat doodmaak. Uit vrees vlug hy met sy dienaar na die woestyn, en Jehovah lei hom na Horeb. Jehovah verskyn daar aan hom—nie skouspelagtig in ’n wind of ’n aardbewing of ’n vuur nie, maar met “’n rustige, stil stem” (19:11, 12, NW). Jehovah sê hom aan om Hasael as koning van Aram (Sirië), Jehu as koning oor Israel en Elisa as profeet in sy plek te salf. Hy vertroos Elia met die mededeling dat 7 000 in Israel nie die knie voor Baäl gebuig het nie. Elia gaan onmiddellik om Elisa te salf deur sy ampsgewaad op hom te werp. Agab behaal nou twee oorwinnings oor die Arameërs, maar word deur Jehovah bestraf omdat hy ’n verbond met hulle koning gesluit het in plaas van hom dood te maak. Dan volg die voorval met Nabot, wie se wingerd Agab begeer. Isebel laat Nabot deur valse getuies beskuldig en laat hom om die lewe bring sodat Agab die wingerd kan vat. Wat ’n onvergeeflike misdaad!
21. (a) Watter vonnis spreek Elia oor Agab en sy huis, en oor Isebel, uit? (b) Watter profesie word met Agab se dood vervul?
21 Elia verskyn weer eens. Hy sê vir Agab dat honde ook sý bloed sal oplek op die plek waar Nabot gesterf het en dat sy huis net so volkome uitgeroei sal word soos dié van Jerobeam en Baesa. Honde sal Isebel by die stuk grond van Jisreël eet. “Waarlik, daar was niemand soos Agab wat homself verkoop het om te doen wat verkeerd is in die oë van die HERE nie, omdat sy vrou Isebel hom verlei het” (21:25). Omdat Agab hom verootmoedig wanneer hy Elia se woorde hoor, sê Jehovah egter dat die onheil nie in sy dae sal kom nie, maar in die dae van sy seun. Agab verbind hom nou met Josafat, die koning van Juda, in die geveg teen Aram, en in stryd met die raad van Jehovah se profeet Miga trek hulle uit om te gaan veg. Agab sterf aan wonde wat hy in die geveg opdoen. Wanneer sy wa by die dam van Samaria uitgespoel word, lek die honde sy bloed op, net soos Elia voorspel het. Sy seun Ahasia word koning van Israel in sy plek.
22. Wat kenmerk die regering van Josafat in Juda en Ahasia in Israel?
22 Josafat regeer in Juda (22:41-54). Josafat, wat saam met Agab teen Aram geveg het, is net soos sy vader Asa getrou aan Jehovah, maar hy versuim om die hoogtes vir valse aanbidding heeltemal uit te wis. Na hy 25 jaar regeer het, sterf hy en word sy seun Joram koning. In die noorde, in Israel, volg Ahasia sy vader se voetspoor deur Jehovah met sy Baälaanbidding te krenk.
WAAROM NUTTIG
23. Watter versekering en aansporing gee Eerste Konings met betrekking tot gebed?
23 Groot nut kan uit die goddelike onderrig in Eerste Konings geput word. Beskou eerstens die kwessie van gebed, wat so dikwels in hierdie boek na vore kom. Toe Salomo voor die geweldige verantwoordelikheid van koningskap in Israel te staan gekom het, het hy soos ’n kind nederig tot Jehovah gebid. Hy het bloot om goeie oordeel en ’n gehoorsame hart gevra, maar benewens ’n oormaat wysheid het Jehovah hom ook rykdom en eer gegee (3:7-9, 12-14). Mag ons vandag die versekering hê dat ons nederige gebede om wysheid en leiding in Jehovah se diens nie onverhoor sal bly nie! (Jak. 1:5). Laat ons altyd vurig uit die hart bid, met groot waardering vir al Jehovah se goedheid, soos Salomo by die tempelinwyding gedoen het! (1 Kon. 8:22-53). Mag ons gebede altyd die stempel van volkome vertroue in Jehovah dra, soos die gebede van Elia ten tyde van beproewing en toe hy met ’n demonaanbiddende nasie te doen gehad het! Jehovah voorsien op wonderlike wyse vir dié wat hom in gebed aanroep.—1 Kon. 17:20-22; 18:36-40; 1 Joh. 5:14.
24. Watter waarskuwende voorbeelde bevat Eerste Konings, en waarom moet veral opsieners daarop let?
24 Verder moet die voorbeelde van diegene wat hulle nie voor Jehovah verootmoedig het nie vir ons ’n waarskuwing wees. Hoe ‘weerstaan God sulke hoogmoediges’ tog! (1 Pet. 5:5). Daar was Adonia, wat gedink het dat hy Jehovah se teokratiese aanstelling kon veronagsaam (1 Kon. 1:5; 2:24, 25); Simeï, wat gedink het dat hy die perke kon oorskry en dan weer kon terugkom (2:37, 41-46); Salomo in sy latere jare, wie se ongehoorsaamheid meegebring het dat Jehovah teenstanders teen hom verwek het (11:9-14, 23-26); en die konings van Israel, wie se valse godsdiens rampspoedig was (13:33, 34; 14:7-11; 16:1-4). Daarbenewens was daar die boosaardig hebsugtige Isebel, die mag agter Agab se troon, wie se berugte voorbeeld duisend jaar later in ’n waarskuwing aan die gemeente in Thiatire gebruik is: “Maar Ek het enkele dinge teen jou, dat jy die vrou Isebel, wat haarself ’n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet” (Openb. 2:20). Opsieners moet gemeentes rein en vry van alle Isebelagtige invloede hou!—Vergelyk Handelinge 20:28-30.
25. Watter profesieë van Eerste Konings het ’n merkwaardige vervulling gehad, en hoe kan dit ons vandag help as ons hulle in gedagte hou?
25 Jehovah se vermoë om te profeteer blyk duidelik uit die vervulling van talle profesieë wat in Eerste Konings gegee is. Daar is byvoorbeeld die merkwaardige voorspelling, wat 300 jaar vooruit gemaak is, dat Josia Jerobeam se altaar in Bet-el uitmekaar sou skeur. Josia het dit gedoen! (1 Kon. 13:1-3; 2 Kon. 23:15). Die uitsonderlikste profesieë is egter dié met betrekking tot die huis van Jehovah, wat deur Salomo gebou is. Jehovah het vir Salomo gesê dat afval tot valse gode daartoe sou lei dat Jehovah Israel uit die land sal uitroei en dat Hy die huis wat Hy vir sy naam geheilig het van Hom sal wegwerp (1 Kon. 9:7, 8). In 2 Kronieke 36:17-21 lees ons hoe volkome hierdie profesie bewaarheid is. Jesus het boonop daarop gewys dat die latere tempel wat deur Herodes die Grote op dieselfde terrein gebou is dieselfde lot sou hê en om dieselfde rede (Luk. 21:6). Hoe waar was dit tog! Ons moet hierdie rampe en die redes daarvoor in gedagte hou, en hulle moet ons altyd daaraan herinner om in die weë van die ware God te wandel.
26. Watter stimulerende toekomsblik van Jehovah se tempel en Koninkryk word in Eerste Konings gegee?
26 Die koningin van Skeba het van haar ver land gekom om haar oor Salomo se wysheid, die voorspoed van sy volk en die heerlikheid van sy koninkryk, met inbegrip van die luisterryke huis van Jehovah, te verwonder. Selfs Salomo het egter teenoor Jehovah erken: “Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het” (1 Kon. 8:27; 10:4-9). Maar eeue later het Christus Jesus gekom om ’n geestelike bouwerk te verrig wat veral verband gehou het met die herstel van ware aanbidding by Jehovah se groot geestelike tempel (Hebr. 8:1-5; 9:2-10, 23). Jehovah se belofte geld vir hierdie een, wat groter as Salomo is: “Ek [sal] die troon van jou koningskap oor Israel vir ewig bevestig” (1 Kon. 9:5; Matt. 1:1, 6, 7, 16; 12:42; Luk. 1:32). Eerste Konings bied ons ’n stimulerende toekomsblik van die heerlikheid van Jehovah se geestelike tempel en van die voorspoed, vreugde en verruklike geluk van almal wat onder die wyse heerskappy van Jehovah se Koninkryk in die hande van Christus Jesus sal lewe. Ons kom al hoe dieper onder die indruk van die belangrikheid van ware aanbidding en van Jehovah se wonderlike voorsiening, sy Koninkryk deur die Saad!
[Voetnote]
a The International Standard Bible Encyclopedia, Dl. 4, 1988, order redaksie van G. W. Bromiley, bladsy 648.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 149, 952.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 750-1.
d Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 947-8.
e Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 949-50.