Bybelboek nommer 21—Prediker
Skrywer: Salomo
Waar geskryf: Jerusalem
Geskrif voltooi: Voor 1000 v.G.J.
1. Met watter verhewe doel is Prediker geskryf?
DIE boek Prediker is met ’n verhewe doel geskryf. Salomo, as leier van ’n volk wat aan Jehovah toegewy was, het die verantwoordelikheid gehad om hulle trou aan hulle toewyding byeen te hou. Hy het hierdie verantwoordelikheid probeer nakom deur middel van die wyse raad in Prediker.
2. Hoe blyk hierdie doel uit Prediker se Hebreeuse naam, wat dit meer gepas maak as die Griekse en Engelse naam?
2 In Prediker 1:1 (NW) verwys hy na homself as “die byeenbringer”. Die woord in Hebreeus is Qo·heʹleth, en in die Hebreeuse Bybel word die boek daardie naam gegee. Die Griekse Septuagint gee die titel weer as Ek·kle·si·a·stesʹ, wat “’n lid van ’n ekklesia (gemeente; byeenkoms)” beteken, waarvan die Engelse naam Ecclesiastes afgelei is. ’n Passender vertaling van Qo·heʹleth is egter “Die byeenbringer”, en dit is ook ’n gepaster beskrywing vir Salomo. Dit vertel met watter doel Salomo die boek geskryf het.
3. In watter sin was Salomo ’n byeenbringer?
3 In watter sin was koning Salomo ’n byeenbringer, en waartoe het hy byeengebring? Hy was ’n byeenbringer van sy volk, die Israeliete, en van hulle metgeselle, die tydelike inwoners. Hy het hulle almal byeengebring om sy God, Jehovah, te aanbid. Hy het vroeër Jehovah se tempel in Jerusalem gebou, en by die inwyding daarvan het hy hulle almal saamgeroep, of byeengebring, vir die aanbidding van God (1 Kon. 8:1). Nou het hy, deur middel van Prediker, probeer om sy volk byeen te bring vir lonende werke en hulle die vergeefse, nuttelose werke van hierdie wêreld die rug te laat toekeer.—Pred. 12:8-10.
4. Wat bewys dat Salomo die skrywer was?
4 Hoewel Salomo nie spesifiek genoem word nie, is daar etlike gedeeltes wat afdoende bewys lewer dat hy die skrywer was. Die byeenbringer stel homself voor as “die seun van Dawid”, wat “koning oor Israel in Jerusalem was”. Dit kan slegs op koning Salomo betrekking hê, want sy opvolgers in Jerusalem was net koning oor Juda. Daarbenewens skryf die byeenbringer: “Ék het groot en altyd groter wysheid verwerf bo almal wat voor my oor Jerusalem gewees het, en my hart het baie wysheid en kennis gesien” (1:1, 12, 16). Dit pas by Salomo. Prediker 12:9 sê vir ons dat ‘hy oorweeg en ondersoek het en dat hy baie spreuke opgestel het’. Koning Salomo het 3 000 spreuke uitgespreek (1 Kon. 4:32). Prediker 2:4-9 vertel van die skrywer se bouprogram; wingerde, tuine en parke; besproeiingstelsel; indeling van slawe en slavinne; vergaring van silwer en goud, asook ander prestasies. Dit was alles waar met betrekking tot Salomo. Toe die koningin van Skeba Salomo se wysheid en voorspoed gesien het, het sy gesê: “Die helfte is my nie meegedeel nie.”—1 Kon. 10:7.
5. Waar en wanneer moes Prediker geskryf gewees het?
5 Die boek identifiseer Jerusalem as die plek waar dit geskryf is deur te sê dat die byeenbringer koning “in Jerusalem” was. Dit moes voor die jaar 1000 v.G.J. gewees het, diep in Salomo se 40-jarige regering, nadat hy die talle dinge nagestreef het waarvan die boek praat, maar voor hy in afgodery verval het. Teen daardie tyd sou hy ’n uitgebreide kennis opgedoen het van hierdie wêreld se bedrywighede en die strewe daarvan na materiële gewin. Hy sou toe nog in God se guns en onder Sy inspirasie gewees het.
6. Watter besware is oor Prediker se inspirasie geopper, maar hoe kan hulle weerlê word?
6 Hoe kan ons seker wees dat Prediker “deur God geïnspireer” is? Sommige betwyfel dat dit geïnspireer is, aangesien dit nie een keer die goddelike naam, Jehovah, meld nie. Maar dit bevorder gewis die ware aanbidding van God, en dit gebruik herhaaldelik die uitdrukking ha·ʼElo·himʹ, “die ware God” (NW). Nog ’n beswaar kan geopper word omdat daar in ander Bybelboeke geen direkte aanhalings uit Prediker is nie. Die leerstellings wat in die boek opgeteken en die beginsels wat daarin neergelê is, is volkome in harmonie met die res van die Skrif. Clarke se Commentary, Deel III, bladsy 799, sê: “Die Joodse sowel as die Christelike Kerk was nog altyd die mening toegedaan dat die boek, met die titel Kohelet, of Prediker, onder die inspirasie van die Almagtige geskryf is; en daar is gemeen dat dit gepas ’n deel van die heilige kanon is.”
7. Wat in Salomo se agtergrond het hom uiters bevoeg gemaak om die boek Prediker te skryf?
7 Wêreldwyse “hoër kritici” het beweer dat Prediker nie deur Salomo geskryf is of ’n egte deel van “die hele Skrif” is nie deur te sê dat die taal en filosofie van die boek uit ’n latere tyd dateer. Hulle hou nie rekening met die oorvloed van inligting wat Salomo deur sy progressiewe ontwikkeling van internasionale handel en industrie, asook van reisende hoogwaardigheidsbekleërs en deur ander kontak met die buitewêreld, sou vergaar het nie (1 Kon. 4:30, 34; 9:26-28; 10:1, 23, 24). Soos F. C. Cook in sy Bible Commentary, Deel IV, bladsy 622, skryf: “Die daaglikse take en gekose aktiwiteite van hierdie groot Hebreeuse koning moes hom ver buite die sfeer van die gewone Hebreeuse lewe, gedagte en taal geneem het.”
8. Wat is die sterkste argument vir die kanonisiteit van Prediker?
8 Maar is eksterne bronne werklik nodig om die kanonisiteit van Prediker te bewys? ’n Beskouing van die boek self sal nie net sy interne harmonie toon nie, maar ook sy harmonie met die res van die Skrif, waarvan dit inderdaad ’n deel is.
INHOUD VAN PREDIKER
9. Wat vind die byeenbringer ten opsigte van die bedrywighede van die mensekinders?
9 Die vergeefsheid van die mens se lewenswyse (1:1–3:22). Die openingswoorde gee die tema van die boek: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!” Watter voordeel is daar in die mens se geswoeg en harde werk? Geslagte kom en gaan, die natuurkringlope word op die aarde herhaal, en “daar is glad niks nuuts onder die son nie” (1:2, 3, 9). Die byeenbringer het sy hart daarop gerig om wysheid te ondersoek en na te speur met betrekking tot die rampspoedige bedrywighede van die mensekinders, maar hy vind dat alles, in wysheid en in dwaasheid, in magtige dade en in harde werk, in eet en in drink, “tevergeefs en ’n gejaag na wind” is. Hy ‘haat die lewe’, ’n lewe van rampspoed en materiële strewes.—1:14; 2:11, 17.
10. Wat is God se gawe, maar wat is die sondige mens se uiteinde?
10 Vir alles is daar ’n bepaalde tyd—ja, God het ‘alles mooi gemaak op sy tyd’. Hy wil hê dat sy skepsele die lewe op aarde moet geniet. “So het ek dan ingesien dat daar niks beters onder hulle is nie as om bly te wees en om goed te doen in die lewe. En ook—dat elke mens eet en drink en die goeie geniet by al sy moeitevolle arbeid; dit is ’n gawe van God.” Maar helaas! Die sondige mensdom het dieselfde uiteinde as die diere: “Soos die een sterwe, so sterwe die ander, en hulle almal het dieselfde asem, en ’n voorkeur van die mens bo die veediere is daar nie; want alles is tevergeefs.”—3:1, 11-13, 19.
11. Watter wyse raad gee die byeenbringer die godvresende man?
11 Wyse raad vir dié wat God vrees (4:1–7:29). Salomo wens die dooies geluk, want hulle is vry van “al die verdrukkinge wat onder die son plaasvind”. Dan gaan hy voort om vergeefse en rampspoedige werke te beskryf. In sy wysheid maan hy dat ‘twee beter is as een’ en dat ‘’n driedubbele lyn nie gou verbreek word nie’ (4:1, 2, 9, 12). Hy gee goeie raad oor wanneer God se volk byeenkom: “Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, [en kom] nader [om] te hoor.” Moenie haastig voor die aangesig van God spreek nie; laat “jou woorde min wees”, en betaal wat jy plegtig aan God beloof. “Vrees God.” Wanneer die armes verdruk word, moet ’n mens onthou “’n hoër een loer op die hoë, en die hoëres weer op hulle”. Die dienskneg, sê hy, sal soet slaap, maar die ryk man is te bekommerd om te slaap. Tog het hy naak in die wêreld gekom, en ondanks al sy harde werk kan hy niks uit die wêreld wegdra nie.—4:17; 5:1, 3, 6, 7, 11, 14.
12. Watter raad word oor die ernstige vraagstukke van die lewe gegee, en oor die voordeel van wysheid bo geld?
12 ’n Man ontvang dalk rykdom en eer, maar wat help dit om “twee maal duisend jaar” te lewe as hy nie die goeie gesien het nie? Dit is beter om die ernstige vraagstukke van die lewe en die dood ter harte te neem as om met die dwase “in die huis van vreugde” om te gaan; ja, beter om die bestraffing van die wyse te ontvang, want “soos die geknetter van doringtakke onder ’n pot, so is die gelag van ’n dwaas”. Wysheid is nuttig. “Want wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis is: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe.” Waarom het die weg van die mensdom dan rampspoedig geword? Die ware “God [het] die mens reg gemaak . . . , maar hulle het baie slim planne gesoek”.—6:6; 7:4, 6, 12, 29.
13. Watter raad gee die byeenbringer en wat prys hy, en wat sê hy oor die plek waarheen die mens gaan?
13 Die uiteinde van alles (8:1–9:12). “Neem die bevel van die koning in ag”, maan die byeenbringer; maar hy sê dat “die hart van die mensekinders in hulle vol [is] om kwaad te doen” omdat oordeel teen ’n verkeerde daad nie gou voltrek word nie (8:2, 11). Hyself prys die vreugde, maar daar is nog iets rampspoedigs! Alle soorte mense gaan dieselfde weg—na die dood! Die lewendes besef dat hulle sal sterwe, “maar die dooies weet glad niks nie . . . Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [“Sjeool”, NW] waar jy heengaan nie.”—9:5, 10.
14. (a) Watter praktiese wysheid beklemtoon die byeenbringer? (b) Wat is die hoofsaak?
14 Praktiese wysheid en die mens se verpligting (9:13–12:14). Die byeenbringer praat van ander rampspoede, soos ‘dwaasheid in baie hoë posisies’. Hy uiter ook baie spreuke van praktiese wysheid, en hy sê selfs “die jeug en die jonkheid is nietigheid”—tensy daar op ware wysheid ag geslaan word. Hy sê: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid.” Anders sal die ouderdom jou slegs na die stof van die aarde laat terugkeer, met die begeleiding van die byeenbringer se woorde: “Alles tevergeefs . . . , dit is alles tevergeefs.” Hý het voortdurend kennis aan die volk oorgedra, want “die woorde van die wyse manne is soos prikkels” wat tot regte werke aanspoor, maar oor wêreldse wysheid waarsku hy: “Aan baie boeke maak kom geen einde nie, en baie studie is vermoeiing van die vlees.” Dan bring die byeenbringer die boek tot sy groot klimaks deur alles op te som wat hy oor nietigheid en wysheid bespreek het: “Die hoofsaak van alles wat gehoor is, is: Vrees God en hou sy gebooie; want dit geld vir alle mense. Want God sal elke werk bring in die gerig wat kom oor al die verborge dinge, goed of sleg.”—10:6, vgl. NW; 11:1, 10; 12:1, 8-14.
WAAROM NUTTIG
15. Hoe tref Salomo ’n onderskeid tussen rampspoedige bedrywighede en heilsame werke?
15 Prediker is lank nie ’n boek van pessimisme nie, maar is eerder vol skitterende juwele van goddelike wysheid. Wanneer Salomo die talle bedrywighede opnoem wat hy as nietigheid beskou, sluit hy nie die bou van Jehovah se tempel op die berg Moria in Jerusalem of die rein aanbidding van Jehovah in nie. Hy beskryf nie God se gawe van lewe as nietigheid nie, maar hy toon dat die doel daarvan was dat die mens hom verheug en goed doen (3:12, 13; 5:17-19; 8:15). Die rampspoedige bedrywighede is dié wat God buite rekening laat. ’n Vader vergader moontlik rykdom vir sy seun, maar ’n ramp vernietig dit alles en niks bly vir hom oor nie. Dit sou baie beter wees om ’n blywende erfenis van geestelike skatte te voorsien. Dit is rampspoedig om ’n oorvloed te besit en dit nie te kan geniet nie. Rampspoed tref al die wêreldse rykes wanneer hulle in die dood ‘heengaan’, met niks in hulle hand nie.—5:12-14; 6:1, 2.
16. Hoe kom Qo·heʹleth, of Prediker, ooreen met die leringe van Jesus?
16 In Mattheüs 12:42 het Christus Jesus van homself gepraat as “meer as Salomo”. Is die woorde van Salomo in die boek Qo·heʹleth in harmonie met die leringe van Jesus, aangesien Salomo Jesus afgebeeld het? Ons vind talle parallelle! Jesus het byvoorbeeld die omvangrykheid van die werk van God onderstreep deur te sê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Joh. 5:17). Salomo praat ook van God se werke: “Ek [het] gesien al die werk van God, dat die mens die werk wat gedoen word onder die son, nie kan uitvind nie, omdat die mens hom vermoei om te soek en tog niks uitvind nie; ja, al sou die wyse dink dat hy dit verstaan—hy sal dit nie kan uitvind nie!”—Pred. 8:17.
17. Watter ander parallelle is daar tussen Jesus en Salomo se woorde?
17 Jesus sowel as Salomo het ware aanbidders aangemoedig om saam te vergader (Matt. 18:20; Pred. 4:9-12, 17). Jesus se kommentare oor “die voleinding van die wêreld” en “die tye van die nasies” kom ooreen met Salomo se verklaring: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd.”—Matt. 24:3; Luk. 21:24; Pred. 3:1.
18. Watter waarskuwings van Jesus en sy dissipels sluit by dié van Salomo aan?
18 Bowenal waarsku Jesus en sy dissipels, net soos Salomo, teen die strikke van materialisme. Wysheid is die ware beskutting, want dit “hou die besitter daarvan in die lewe”, sê Salomo. “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word”, sê Jesus (Pred. 7:12; Matt. 6:33). In Prediker 5:9 staan geskrywe: “Hy wat geld liefhet, kry nie genoeg van geld nie, en wie rykdom liefhet, nie van inkomste nie; ook dit is dan tevergeefs.” Die raad wat Paulus in 1 Timotheüs 6:6-19 gee, is baie eenders, naamlik dat ‘die geldgierigheid ’n wortel van alle euwels is’. Daar is soortgelyke parallelle gedeeltes oor ander punte van Bybelonderrig.—Pred. 3:17—Hand. 17:31; Pred. 4:1—Jak. 5:4; Pred. 4:17–5:1—Jak. 1:19; Pred. 6:12—Jak. 4:14; Pred. 7:20—Rom. 3:23; Pred. 8:17—Rom. 11:33.
19. Met watter gelukkige vooruitsig kan ons vandag in Jehovah se aanbidding byeenkom?
19 Die Koninkryksheerskappy van God se geliefde Seun, Jesus Christus, wat in die vlees ’n nakomeling van wyse koning Salomo was, sal ’n nuwe aardse gemeenskap oprig (Openb. 21:1-5). Wat Salomo ter leiding van sy onderdane in sy tipiese koninkryk geskryf het, is van lewensbelang vir almal wat nou hulle hoop op God se Koninkryk onder Christus Jesus stel. Onder die heerskappy daarvan sal die mensdom volgens dieselfde wyse beginsels lewe wat die byeenbringer uiteengesit het en sal hulle hulle vir ewig in God se gawe van gelukkige lewe verheug. Nou is die tyd om in Jehovah se aanbidding byeengebring te word ten einde die vreugdes van die lewe onder sy Koninkryk ten volle te verwesenlik.—Pred. 3:12, 13; 12:13, 14.