Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 166-168
  • Bybelboek nommer 37—Haggai

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 37—Haggai
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN HAGGAI
  • WAAROM NUTTIG
  • “Ek is met julle”
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Laat almal Jehovah verheerlik!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • “Ek sal al die nasies skud”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan(Studie-uitgawe) — 2021
  • Laat julle hande sterk wees
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 166-168

Bybelboek nommer 37—Haggai

Skrywer: Haggai

Waar geskryf: Jerusalem

Geskrif voltooi: 520 v.G.J.

Beskrewe tydperk: 112 dae (520 v.G.J.)

1, 2. Watter inligting word oor die profeet Haggai verstrek, en wat was sy tweeledige boodskap?

HAGGAI was sy naam; hy het die posisie van ’n profeet en “boodskapper van die HERE” beklee, maar wat was sy herkoms? (Hag. 1:13). Wie was hy? Haggai is die tiende van die sogenaamde klein profete, en hy was die eerste van die drie wat ná die Jode se terugkeer na hulle vaderland in 537 v.G.J. gedien het; die ander twee was Sagaria en Maleagi. Haggai se naam (Hebreeus, Chag·gaiʹ ) beteken “[Gebore op ’n] fees”. Dit kan daarop dui dat hy op ’n feesdag gebore is.

2 Volgens Joodse oorlewering is dit redelik om die gevolgtrekking te maak dat Haggai in Babel gebore is en saam met Serubbabel en hoëpriester Josua na Jerusalem teruggekeer het. Haggai het sy aan sy met die profeet Sagaria gedien, en Esra 5:1 en 6:14 toon dat dié twee die kinders van die ballingskap aangespoor het om die tempelbouwerk te hervat. Hy was in twee opsigte ’n profeet van Jehovah—hy het die Jode aangespoor om hulle pligte teenoor God na te kom en ook onder andere voorspel dat al die nasies geskud sal word.—Hag. 2:6, 7.

3. Wat het die Jode nie verwesenlik met betrekking tot die doel van hulle terugkeer uit ballingskap nie?

3 Waarom het Jehovah Haggai aangestel? Om hierdie rede: In 537 v.G.J. het Kores die bevel uitgevaardig wat die Jode toegelaat het om na hulle vaderland terug te keer om die huis van Jehovah te herbou. Maar dit was nou 520 v.G.J., en die tempel was nog lank nie voltooi nie. Gedurende al hierdie jare het die Jode toegelaat dat vyandelike teenstand sowel as hulle eie apatie en materialisme hulle verhinder om die doel van hulle terugkeer te verwesenlik.—Esra 1:1-4; 3:10-13; 4:1-24; Hag. 1:4.

4. Wat het die tempelbouwerk belemmer, maar wat het plaasgevind toe Haggai begin profeteer het?

4 Soos die verslag toon, was die fondament van die tempel skaars gelê (in 536 v.G.J.) of “die volk van die land [het] die hande van die volk van Juda laat verslap en hulle afgeskrik om nie te bou nie. En hulle het raadgewers teen hulle gehuur om hulle plan te verydel” (Esra 4:4, 5). Hierdie nie-Joodse teenstanders het uiteindelik in 522 v.G.J. daarin geslaag om ’n amptelike verbod op die werk te laat plaas. Haggai het in die tweede jaar van die regering van Persiese koning Darius Hystaspis, dit wil sê, in 520 v.G.J., begin profeteer, en dit het die Jode aangespoor om hulle tempelbouwerk te hervat. Daarop het die naburige goewerneurs ’n brief aan Darius gestuur en om ’n beslissing in die saak gevra; Darius het die bevel van Kores gehandhaaf en die Jode in hul stryd teen hulle vyande gesteun.

5. Wat bewys dat die boek Haggai in die Bybelkanon hoort?

5 Daar het nooit enige twyfel by die Jode bestaan dat Haggai se profesie in die Hebreeuse kanon hoort nie, en dit word ook gestaaf deur Esra 5:1 se verwysing na hom waar dit sê dat hy “in die Naam van die God van Israel” geprofeteer het, asook die verwysing in Esra 6:14. Dat sy profesie deel uitmaak van ‘die hele Skrif wat deur God geïnspireer is’, word bewys deur die feit dat Paulus in Hebreërs 12:26 daaruit aanhaal: “Nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe.”—Hag. 2:6.

6. Waaruit bestaan Haggai se profesie, en watter nadruk word op Jehovah se naam gelê?

6 Haggai se profesie bestaan uit vier boodskappe wat oor ’n tydperk van 112 dae gegee is. Sy styl is eenvoudig en direk, en die nadruk wat hy op Jehovah se naam lê, is besonder merkwaardig. In sy 38 verse meld hy Jehovah se naam 35 keer (NW), 14 keer in die uitdrukking “Jehovah van die leërskare”. Hy stel dit buite twyfel dat sy boodskap van Jehovah is: “Daarop het Haggai, die boodskapper van [Jehovah], kragtens die boodskap van [Jehovah], met die volk gespreek en gesê: Ek is met julle, spreek [Jehovah].”—1:13, vgl. NW.

7. Wat het Haggai die Jode aangespoor om te doen, en wat was die strekking van sy boodskap?

7 Dit was ’n baie belangrike tyd in die geskiedenis van God se volk, en Haggai se werk was uiters nuttig. Hy het glad nie geskroom om sy taak as profeet uit te voer nie, en hy het nie doekies omgedraai met die Jode nie. Hy het hulle onomwonde vertel dat dit tyd was om op te hou sloer en aan die werk te spring. Dit was tyd om Jehovah se huis te herbou en rein aanbidding te herstel as hulle enige voorspoed uit die hand van Jehovah wou geniet. Die hele strekking van Haggai se boodskap is dat as iemand seëninge van Jehovah wil geniet hy die ware God moet dien en die werk moet doen wat Jehovah beveel.

INHOUD VAN HAGGAI

8. Waarom word die Jode materieel nie deur Jehovah geseën nie?

8 Die eerste boodskap (1:1-15). Dit word tot goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua gerig, maar ten aanhore van die volk. Die volk het gesê: “Nog het die tyd nie gekom, die tyd dat die huis van die HERE gebou moet word nie.” Jehovah vra by monde van Haggai ’n deurdringende vraag: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê?” (1:2, 4). Hulle het in ’n materiële opsig baie gesaai, maar dit het vir hulle min in die vorm van voedsel, drank en klere opgelewer. “Gee ag op wat julle wedervaar het”, vermaan Jehovah (1:7). Dit is hoog tyd om timmerhout in te bring en die huis te bou, sodat Jehovah verheerlik kan word. Die Jode sorg goed vir hulle eie huise, maar Jehovah se huis lê in puin. Jehovah het derhalwe die dou van die hemel en die opbrengs van die land en sy seën van die mens en sy arbeid weerhou.

9. Hoe wek Jehovah die Jode op om aan die werk te spring?

9 A, hulle begryp! Haggai het nie tevergeefs geprofeteer nie. Die heersers en die volk begin “gehoor gee aan die stem van die HERE hulle God”. Mensevrees word deur die vrees van Jehovah vervang. Jehovah se versekering deur sy boodskapper Haggai is: “Ek is met julle” (1:12, 13). Jehovah self wek die gees van die goewerneur, die gees van die hoëpriester en die gees van die oorblyfsel van Sy volk op. Hulle spring aan die werk, net 23 dae na Haggai begin profeteer het en ondanks die amptelike verbod van die Persiese regering.

10. Wat meen party Jode oor die tempel wat hulle bou, maar wat belowe Jehovah?

10 Die tweede boodskap (2:1-9). Minder as ’n maand verloop na die bouwerk weer aan die gang gesit is, en Haggai bring sy tweede geïnspireerde boodskap. Dit is gerig tot Serubbabel, Josua en die oorblyfsel van die volk. Klaarblyklik het party van die Jode wat uit die ballingskap teruggekeer en die vorige tempel van Salomo gesien het, gemeen dat hierdie tempel niks in vergelyking daarmee sou wees nie. Maar wat is die uitspraak van Jehovah van die leërskare? ‘Wees sterk en werk, want ek is met julle’ (2:4, vgl. NW). Jehovah herinner hulle aan sy verbond met hulle en sê vir hulle om nie bang te wees nie. Hy versterk hulle met die belofte dat hy al die nasies sal skud en hulle skatte sal laat inkom en dat hy sy huis met heerlikheid sal vervul. Die heerlikheid van hierdie latere huis sal selfs groter wees as dié van die vorige, en op hierdie plek sal hy vrede gee.

11. (a) Deur watter allegorie wys Haggai op die priesters se versuim? (b) Wat het daaruit voortgevloei?

11 Derde boodskap (2:10-19). Twee maande en drie dae later spreek Haggai die priesters toe. Hy gebruik ’n allegorie om sy punt te laat inslaan. Sal ’n priester wat heilige vleis dra enige ander voedsel wat hy aanraak heilig laat word? Die antwoord is nee. Maak die aanraking van iets onreins, soos ’n lyk, die een wat dit aanraak onrein? Die antwoord is ja. Haggai gee dan die toepassing van die allegorie. Die volk van die land is onrein as gevolg van hulle verwaarlosing van rein aanbidding. Alles wat hulle offer, is onrein in Jehovah God se oë. Hierom het Jehovah nie hulle werk geseën nie, en boonop het hy versengende hitte, heuningdou en hael oor hulle gestuur. Laat hulle hul weë verander. Dan sal Jehovah hulle seën.

12. Watter finale boodskap rig Haggai tot Serubbabel?

12 Die vierde boodskap (2:20-23). Haggai lewer hierdie boodskap dieselfde dag as die derde boodskap, maar dit is tot Serubbabel gerig. Jehovah praat weer van hoe ‘die hemele en die aarde geskud sal word’, maar hierdie keer brei hy hierdie tema uit tot die algehele vernietiging van die koninkryke van die nasies. Baie sal tot ’n val gebring word, “die een deur die swaard van die ander” (2:21, 22, vgl. NW). Haggai sluit sy profesie af met ’n versekering dat Jehovah se guns op Serubbabel sal rus.

WAAROM NUTTIG

13. Van watter onmiddellike nut was Haggai se profetering?

13 Jehovah se vier boodskappe wat deur Haggai oorgedra is, was vir die Jode van daardie tyd nuttig. Hulle is aangespoor om op die daad aan die werk te spring, en in vier en ’n half jaar is die tempel voltooi ter bevordering van ware aanbidding in Israel (Esra 6:14, 15). Jehovah het hulle ywerige werk geseën. Gedurende hierdie tyd van tempelbouwerk het Darius, die koning van Persië, die staatsannale ondersoek en die bevel van Kores opnuut bekragtig. Die tempelwerk is dus met sy amptelike steun voltooi.—Esra 6:1-13.

14. Watter wyse raad gee Haggai vir ons dag?

14 Die profesie bevat ook wyse raad vir ons dag. Hoe so? In die eerste plek onderstreep dit die nodigheid dat die skepsel die belange van God se aanbidding bo sy persoonlike belange stel (Hag. 1:2-8; Matt. 6:33). Dit lê ook groot klem op die gedagte dat selfsug selfverydelend is, dat dit sinloos is om materialisme na te jaag; dit is die vrede en seën van Jehovah wat ryk maak (Hag. 1:9-11; 2:9; Spr. 10:22). Dit beklemtoon ook die feit dat diens aan God op sigself jou nie rein maak tensy dit suiwer en heelhartig is nie, en dat dit nie deur onrein gedrag besoedel moet word nie (Hag. 2:10-14; Kol. 3:23; Rom. 6:19). Dit wys dat God se knegte nie pessimisties moet wees nie, nie na “die goeie ou dae” moet verlang nie, maar vorentoe moet kyk, ‘op hulle weë moet ag slaan’ en daarna moet strewe om Jehovah te verheerlik. Dan sal Jehovah met hulle wees.—Hag. 2:3, 4; 1:7, 8, 13, vgl. NW; Filip. 3:13, 14; Rom. 8:31.

15. Wat toon die boek Haggai ten opsigte van die resultate van ywerige gehoorsaamheid?

15 Toe die Jode eers met die tempelwerk besig was, het Jehovah hulle guns bewys en was hulle voorspoedig. Hindernisse het verdwyn. Die werk is in ’n kort tyd verrig. Onbevreesde, ywerige bedrywigheid vir Jehovah sal altyd beloon word. Moeilikhede, werklik of denkbeeldig, kan te bowe gekom word deur moedige geloof aan die dag te lê. Gehoorsaamheid aan ‘die woord van Jehovah’ werp vrugte af.—Hag. 1:1.

16. Watter verband is daar tussen die profesie van Haggai en die Koninkrykshoop, en tot watter diens behoort dit ons vandag aan te spoor?

16 Wat van die profesie dat Jehovah ‘die hemele en die aarde sal skud’? Die apostel Paulus gee die toepassing van Haggai 2:6 met hierdie woorde: “Maar nou het [God] belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe. En hierdie woord: nog een maal, wys duidelik op die verandering van die wankelbare dinge as geskape dinge, sodat die onwankelbare kan bly. Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur” (Hebr. 12:26-29). Haggai toon dat die doel van die skudding is om ‘die koningstrone omver te werp en die mag van die koninkryke van die nasies te verdelg’ (Hag. 2:21, 22, vgl. NW). Waar hy die profesie aanhaal, praat Paulus in teenstelling hiermee van God se “onwankelbare” Koninkryk. Laat ons dan, met die oog op hierdie Koninkrykshoop, ‘sterk wees en werk’ deur heilige diens aan God te verrig. Laat ons ook in gedagte hou dat daar, voor Jehovah die nasies van die aarde omverwerp, iets kosbaars wakker geskud moet word en uit hulle moet kom om behoue te bly: “Ek sal ook al die nasies laat bewe [“skud”, NW], sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare.”—2:4, 7.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel