Bybelboek nommer 43—Johannes
Skrywer: Apostel Johannes
Waar geskryf: In of naby Efese
Geskrif voltooi: ca. 98 G.J.
Beskrewe tydperk: Ná proloog, 29–33 G.J.
1. Wat onthul die Skrif oor Johannes se noue omgang met Jesus?
DIE Evangelieverslae van Mattheüs, Markus en Lukas was reeds meer as 30 jaar in omloop en die eerste-eeuse Christene het dit van groot waarde geag as die werke van manne wat deur die heilige gees geïnspireer is. Nou, namate die einde van die eeu nader gekom het en die aantal persone wat saam met Jesus was minder geword het, kon die vraag heel moontlik ontstaan het: Was daar nog iets om te vertel? Was daar nog iemand wat aan die hand van persoonlike herinneringe verdere kosbare besonderhede van die bediening van Jesus kon verskaf? Ja, daar was. Die bejaarde Johannes was besonder geseënd in sy omgang met Jesus. Hy was blykbaar een van Johannes die Doper se eerste dissipels wat aan die Lam van God voorgestel is en was een van die eerste vier wat deur die Here genooi is om by hom in die voltydse bediening aan te sluit (Joh. 1:35-39; Mark. 1:16-20). Hy het gedurende Jesus se hele bediening sy intieme metgesel gebly en was die dissipel vir wie “Jesus liefgehad het” en wat by die laaste Pasga teen Jesus se bors gelê het (Joh. 13:23; Matt. 17:1; Mark. 5:37; 14:33). Hy was teenwoordig by die hartverskeurende teregstelling, waar Jesus die versorging van Sy vleeslike moeder aan hom toevertrou het, en dit was hy wat vinniger as Petrus gehardloop het toe hulle hulle na die graf gehaas het om die berig te ondersoek dat Jesus opgestaan het.—Joh. 19:26, 27; 20:2-4.
2. Hoe is Johannes toegerus en besiel om sy Evangelie te skryf, en met watter doel?
2 Johannes, wat getemper was deur feitlik 70 jaar in die aktiewe bediening en vervul was met die visioene en bepeinsinge van sy onlangse eensame gevangenskap op die eiland Patmos, was goed toegerus om oor dinge te skryf wat hy lank in sy hart gekoester het. Heilige gees het nou sy verstand aangewakker om baie van daardie kosbare, lewegewende woorde te onthou en op skrif te stel, sodat elkeen wat dit lees, ‘kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en dat hy deur te glo in Jesus se naam die lewe kan hê’.—20:31.
3, 4. Watter eksterne en interne bewyse is daar van (a) die Evangelie se kanonisiteit, en (b) Johannes se skrywerskap?
3 Christene wat aan die begin van die tweede eeu geleef het, het Johannes as die skrywer van hierdie verslag aanvaar en het ook hierdie geskrif as ’n onbetwisbare deel van die kanon van die geïnspireerde Skrif beskou. Clemens van Alexandrië, Ireneus, Tertullianus en Origines, wat almal aan die einde van die tweede en die begin van die derde eeu gelewe het, getuig van Johannes se skrywerskap. Daarbenewens is daar baie interne bewyse in die boek self dat Johannes die skrywer was. Dit is duidelik dat die skrywer ’n Jood was en dat hy goed vertroud was met die Jode se gebruike en hulle land (2:6; 4:5; 5:2; 10:22, 23). Die blote intimiteit van die verslag dui daarop dat hy nie net ’n apostel was nie, maar een van die intieme kring van drie—Petrus, Jakobus en Johannes—wat Jesus by spesiale geleenthede vergesel het (Matt. 17:1; Mark. 5:37; 14:33). Jakobus (die seun van Sebedeüs) kon nie die skrywer gewees het nie, want hy is omstreeks 44 G.J., lank voor hierdie boek geskryf is, deur Herodes Agrippa I om die lewe gebring (Hand. 12:2). Dit kon nie Petrus gewees het nie, want hy word saam met die skrywer in Johannes 21:20-24 gemeld.
4 In hierdie laaste verse word daar na die skrywer verwys as die dissipel “vir wie Jesus liefgehad het”, en hierdie en soortgelyke uitdrukkings word etlike kere in die verslag gebruik, hoewel die naam van die apostel Johannes nooit gemeld word nie. Volgens die verslag sê Jesus hier van hom: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?” (Joh. 21:20, 22). Dit gee te kenne dat die dissipel van wie gepraat word Petrus en die ander apostels lank sou oorleef. Dit alles pas by die apostel Johannes. Dit is interessant dat Johannes, nadat hy die Openbaringvisioen van Jesus se koms gegee is, daardie merkwaardige profesie afsluit met die woorde: “Amen, ja kom, Here Jesus!”—Openb. 22:20.
5. Wanneer het Johannes, volgens die algemene mening, sy Evangelie geskryf?
5 Alhoewel Johannes se geskrifte self geen definitiewe inligting oor die saak verstrek nie, word daar algemeen gemeen dat Johannes sy Evangelie geskryf het ná sy terugkeer uit ballingskap op die eiland Patmos (Openb. 1:9). Romeinse keiser Nerva, 96-98 G.J., het talle wat aan die einde van die regering van sy voorganger, Domitianus, verban is, teruggeroep. Daar word gemeen dat Johannes, nadat hy sy Evangelie omstreeks 98 G.J. geskryf het, in die derde jaar van keiser Trajanus, 100 G.J., in Efese sag heengegaan het.
6. Watter getuienis dui daarop dat die Evangelie van Johannes buite Palestina, in of naby Efese, geskryf is?
6 Aangaande Efese of die omgewing as die plek waar Johannes die boek geskryf het, haal die geskiedskrywer Eusebius (ca. 260-342 G.J.) Ireneus se woorde aan: “Johannes, die dissipel van die Here, wat selfs teen sy bors gerus het, het self ook die evangelie geskrywe terwyl hy in Efese in Asië gewoon het.”a Dat die boek buite Palestina geskryf is, word gesteun deur die feit dat die algemene uitdrukking “die Jode” eerder as “Fariseërs”, “owerpriesters”, ensovoorts so dikwels vir Jesus se teenstanders gebruik word (Joh. 1:19; 12:9). En die See van Galilea word ter verduideliking sy Romeinse naam, See van Tiberias, gegee (6:1; 21:1). Ter wille van die nie-Jode verstrek Johannes nuttige verklarings van die Joodse feesdae (6:4; 7:2; 11:55). Die plek van sy ballingskap, Patmos, was naby Efese, en sy vertroudheid met Efese, asook met die ander gemeentes van Klein-Asië, blyk uit Openbaring hoofstukke 2 en 3.
7. Van watter belang is die Rylands-papirus 457?
7 Die egtheid van Johannes se Evangelie word gesteun deur belangrike vondste van manuskripte in die 20ste eeu. Een hiervan is ’n fragment van Johannes se Evangelie wat in Egipte gevind is en wat nou bekend staan as die Rylands-papirus 457 (P52). Dit bevat Johannes 18:31-33, 37, 38 en word in die John Rylands-biblioteek, Manchester, Engeland, bewaar.b Met betrekking tot die betekenis van die manuskrip ten opsigte van die oorlewering dat Johannes die Evangelie aan die einde van die eerste eeu geskryf het, het wyle sir Frederic Kenyon in sy boek The Bible and Modern Scholarship, 1949, bladsy 21, gesê: “Al is dit so klein, dit is genoeg om te bewys dat ’n manuskrip van hierdie Evangelie omstreeks 130-150 n.C. in omloop was, waarskynlik in provinsiale Egipte waar dit gevind is. Selfs as ’n minimale tyd toegelaat word vir die werk om van sy plek van oorsprong in omloop te kom, sal dit die tyd van opstelling so naby die tradisionele datum in die laaste dekade van die eerste eeu plaas dat daar geen rede meer bestaan om die geldigheid van die oorlewering in twyfel te trek nie.”
8. (a) Wat is merkwaardig omtrent die inleiding van Johannes se Evangelie? (b) Watter bewys verskaf dit dat Jesus se bediening drie en ’n half jaar geduur het?
8 Johannes se Evangelie is merkwaardig wat sy inleiding betref, waarin onthul word dat die Woord, wat “in die begin by God” was, die Een is deur wie alle dinge ontstaan het (1:2). Na Johannes die kosbare verhouding tussen Vader en Seun bekend gemaak het, gee hy ’n meesterlike beskrywing van Jesus se werke en toesprake, veral vanuit die oogpunt van die innige liefde wat alles in God se groot reëling in eenheid saambind. Hierdie verslag van Jesus se lewe op die aarde dek die tydperk 29-33 G.J., en dit maak noukeurige melding van die vier Pasgas wat Jesus gedurende sy bediening bygewoon het en verskaf sodoende een van die bewyse dat sy bediening drie en ’n half jaar geduur het. Drie van hierdie Pasgas word as sodanig gemeld (2:13; 6:4; 12:1; 13:1). Een daarvan word “’n fees van die Jode” genoem, maar die verband plaas dit kort na Jesus gesê het dat daar “nog vier maande” voor die oes is, wat derhalwe daarop dui dat die fees die Pasga was, wat omstreeks die begin van die oes gevier is.—4:35; 5:1.c
9. Wat toon dat Johannes se Evangelie aanvullend is, maar verstrek dit al die besonderhede van Jesus se bediening?
9 Die goeie nuus “volgens Johannes” is hoofsaaklik aanvullend; 92 persent is nuwe materiaal wat nie in die ander drie Evangelies voorkom nie. Nietemin sluit Johannes af met die woorde: “Daar is nog baie ander dinge wat Jesus alles gedoen het; maar as hulle een vir een beskrywe moes word, sou die wêreld self, dink ek, die geskrewe boeke nie bevat nie.”—21:25.
INHOUD VAN JOHANNES
10. Wat sê Johannes oor “die Woord”?
10 Proloog: “Die Woord” word bekend gestel (1:1-18). Met pragtige eenvoud verklaar Johannes dat ‘die Woord in die begin by God was’, dat lewe deur hom ontstaan het, dat hy “die lig van die mense” geword het en dat Johannes (die Doper) van hom getuig het (1:1, 4). Die lig was in die wêreld, maar die wêreld het hom nie geken nie. Diegene wat hom ontvang het, het God se kinders geword, daar hulle uit God gebore is. Net soos die Wet deur Moses gegee is, het “die genade en die waarheid . . . deur Jesus Christus gekom”.—1:17.
11. As wat identifiseer Johannes die Doper Jesus, en as wat aanvaar Johannes se dissipels Jesus?
11 “Die Lam van God” word aan die mense voorgestel (1:19-52). Johannes die Doper bely dat hy nie die Christus is nie, maar sê dat daar iemand ná hom kom wie se skoenriem hy nie waardig is om los te maak nie. Wanneer Jesus die volgende dag na hom toe aankom, identifiseer Johannes hom as “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem” (1:27, 29). Vervolgens stel hy twee van sy dissipels aan Jesus voor, en een van hulle, Andreas, bring sy broer Petrus na Jesus. Ook Filippus en Natanael aanvaar Jesus as ‘die Seun van God, die Koning van Israel’.—1:50.
12. (a) Wat is Jesus se eerste wonder? (b) Wat doen hy wanneer hy vir die eerste Pasga gedurende sy bediening in Jerusalem is?
12 Jesus se wonders bewys dat hy “die Heilige van God” is (2:1–6:71). Jesus doen sy eerste wonder in Kana in Galilea deur op ’n bruilof water in die allerbeste wyn te verander. Dit is die “eerste een van sy tekens . . . , en sy dissipels het in Hom geglo” (2:11). Jesus gaan vir die Pasga na Jerusalem op. Wanneer hy smouse en geldwisselaars in die tempel aantref, vat hy ’n sweep en dryf hy hulle so energiek uit dat sy dissipels besef dat die profesie in vervulling gaan: “Die ywer vir u huis het my verteer” (Joh. 2:17; Ps. 69:10). Hy voorspel dat die tempel van sy liggaam afgebreek en in drie dae weer opgerig sal word.
13. (a) Wat is volgens Jesus noodsaaklik om die lewe te verkry? (b) Wat sê Johannes die Doper van homself in verhouding tot Jesus?
13 Die bevreesde Nikodemus kom in die nag na Jesus. Hy bely dat Jesus deur God gestuur is, en Jesus sê vir hom dat iemand uit water en gees gebore moet word om die Koninkryk van God binne te gaan. Geloof in die Seun van die mens, wat uit die hemel is, is noodsaaklik om die lewe te kry. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Die lig wat in die wêreld gekom het, is in stryd met die duisternis, “maar hy wat die waarheid doen, kom na die lig”, sluit Jesus af. Johannes die Doper verneem dan van Jesus se bedrywigheid in Judea en verklaar dat hoewel hy nie die Christus is nie “die vriend van die bruidegom . . . hom baie [verbly] oor die stem van die bruidegom” (3:21, 29). Jesus moet nou meer word en Johannes moet minder word.
14. Wat verduidelik Jesus aan die Samaritaanse vrou in Sigar, en watter resultate behaal sy prediking aldaar?
14 Jesus gaan weer na Galilea. Op pad gaan hy, vol stof en ‘moeg van die reis’, by die fontein van Jakob in Sigar sit om te rus terwyl sy dissipels voedsel in die stad gaan koop (4:6). Dit is middag, die sesde uur. ’n Samaritaanse vrou kom nader om water te trek, en Jesus vra haar water om te drink. Dan begin hy, so moeg soos hy is, om met haar oor die werklike “water” te praat wat waarlik verfris deur diegene wat God “in gees en in waarheid” aanbid die ewige lewe te gee. Die dissipels keer terug en spoor hom aan om te eet, en hy sê: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het en om sy werk te volbring.” Hy bring nog twee dae in die gebied deur sodat baie van die Samaritane glo dat hy waarlik “die Saligmaker van die wêreld” is (4:24, 34, 42). Wanneer Jesus in Kana in Galilea aankom, genees hy ’n edelman se seun sonder om selfs naby sy bed te gaan.
15. Watter beskuldigings word in Jerusalem teen Jesus ingebring, maar hoe antwoord hy sy kritici?
15 Jesus gaan weer na Jerusalem op vir die Jode se fees. Hy genees ’n siek man op die Sabbat, en dit ontketen ’n hewige storm van kritiek. Jesus antwoord: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (5:17). Die Joodse leiers beweer nou dat Jesus hom nie net aan die skending van die Sabbat skuldig gemaak het nie, maar ook aan godslastering, naamlik dat hy hom met God gelykgestel het. Jesus antwoord dat die Seun niks uit homself kan doen nie, maar volkome afhanklik is van die Vader. Hy uiter ook die wonderlike verklaring dat “almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” tot ’n opstanding. Maar vir sy ongelowige gehoor sê Jesus: “Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie?”—5:28, 29, 44.
16. (a) Watter onderrig gee Jesus oor voedsel en die lewe? (b) Hoe spreek Petrus die oortuiging van die apostels uit?
16 Wanneer Jesus 5 000 mans op wonderdadige wyse met vyf brode en twee vissies voed, wil die skare hom gryp en hom koning maak, maar hy gaan weg na ’n berg. Later bestraf hy hulle omdat hulle “die spys wat vergaan”, najaag. Hulle moet eerder werk vir “die spys wat bly tot in die ewige lewe”. Hy wys daarop dat wanneer mense geloof in hom beoefen as die Seun, hulle van die brood van die lewe eet, en hy voeg by: “As julle nie die vlees van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, het julle geen lewe in julleself nie.” Baie van sy dissipels neem aanstoot hieraan en verlaat hom. Jesus vra die 12: “Wil julle nie ook weggaan nie?” en Petrus antwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die [Heilige] van die lewende God” (6:27, 53, 67-69, vgl. NW). Jesus weet egter dat Judas hom sal verraai en sê dat een van hulle ’n duiwel, of lasteraar, is.
17. Watter uitwerking het Jesus se onderrig in die tempel gedurende die Huttefees?
17 “Die lig” in stryd met die duisternis (7:1–12:50). Jesus gaan in die geheim na Jerusalem op en verskyn halfpad deur die Huttefees en onderrig openlik in die tempel. Die mense stry onder mekaar of hy werklik die Christus is. Jesus sê vir hulle: “Ek [het] nie uit Myself gekom nie; maar Hy wat My gestuur het, is waaragtig, . . . en Hy [het] My gestuur.” By ’n ander geleentheid roep hy die skare toe: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink!” Beamptes wat gestuur word om Jesus in hegtenis te neem, keer met leë hande terug en sê vir die hoëpriesters: “Nooit het ’n mens so gespreek soos hierdie mens nie.” Woedend antwoord die Fariseërs dat nie een van die owerstes geglo het nie en dat geen profeet bowendien uit Galilea verwek sou word nie.—7:28, 29, 37, 46.
18. Voor watter teenstand van die Jode kom Jesus te staan, en watter antwoord gee hy?
18 In ’n verdere toespraak sê Jesus: “Ek is die lig van die wêreld.” Op die kwaadwillige aantygings dat hy ’n valse getuie is, dat hy buite die huwelik gebore is en dat hy ’n Samaritaan en van die duiwel besete is, antwoord Jesus kragtig: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat My verheerlik.” Wanneer hy sê: “Voordat Abraham was, is Ek”, maak die Jode nog ’n mislukte aanslag op sy lewe (8:12, 54, 58). Gefrustreerd ondervra hulle later ’n man wie se gesigsvermoë Jesus wonderdadig herstel het, en hulle werp die man uit.
19. (a) Wat sê Jesus oor sy verhouding met sy Vader en sy sorg vir sy skape? (b) Hoe antwoord hy die Jode wanneer hulle hom bedreig?
19 Jesus praat weer eens met die Jode, hierdie keer oor die goeie herder wat sy skape by hulle naam noem en wat sy siel vir die skape aflê ‘dat hulle lewe in oorvloed kan hê’. Hy sê: “Ek het nog ander skape wat nie aan hierdie stal behoort nie. Ek moet hulle ook lei, en hulle sal na my stem luister, en dit sal wees een kudde, een herder” (10:10, 16). Hy vertel die Jode dat niemand die skape uit die hand van sy Vader kan ruk nie, en hy sê dat hy en sy Vader een is. Weer probeer hulle hom stenig. In antwoord op hulle beskuldiging van godslastering herinner hy hulle daaraan dat sekere magtiges van die aarde in die boek Psalms “gode” genoem word, terwyl hy homself God se Seun genoem het (Ps. 82:6). Hy spoor hulle aan om ten minste sy werke te glo.—Joh. 10:34.
20. (a) Watter uitsonderlike wonder doen Jesus vervolgens? (b) Waartoe lei dit?
20 Uit Betanië naby Jerusalem kom die tyding dat Lasarus, die broer van Maria en Martha, siek is. Teen die tyd dat Jesus daar aankom, is Lasarus dood en reeds vier dae in die graf. Jesus doen die verbasingwekkende wonder om Lasarus tot die lewe terug te roep, wat talle geloof in Jesus laat stel. Dit lei daartoe dat ’n spesiale vergadering van die Sanhedrin byeengeroep word, waar die hoëpriester, Kajafas, genoodsaak is om te profeteer dat Jesus vir die nasie moet sterf. Wanneer die owerpriesters en Fariseërs beraadslaag om hom dood te maak, onttrek Jesus hom tydelik aan die openbare toneel.
21. (a) Hoe reageer die volk en die Fariseërs op Jesus se intog in Jerusalem? (b) Watter illustrasie gee Jesus oor sy dood en die doel daarvan, en wat spoor hy sy luisteraars aan om te doen?
21 Ses dae voor die Pasga kom Jesus weer op pad na Jerusalem in Betanië aan en word hy in Lasarus se huis onthaal. Dan ry Jesus op die dag ná die Sabbat, op 9 Nisan, te midde van die toejuiging van ’n groot skare op ’n jong esel in Jerusalem in; en die Fariseërs sê vir mekaar: “Sien julle dat julle niks vorder nie? Kyk, die hele wêreld loop agter Hom aan.” Deur die illustrasie van ’n koringkorrel gee Jesus te kenne dat hy in die dood geplant moet word sodat vrugte vir die ewige lewe voortgebring kan word. Hy versoek sy Vader om Sy naam te verheerlik, en ’n stem uit die hemel word gehoor: “Ek hét dit verheerlik, en Ek sal dit weer verheerlik.” Jesus spoor sy luisteraars aan om die duisternis te vermy en in die lig te wandel, ja, om “kinders van die lig” te word. Namate die kragte van die duisternis om hom saamtrek, doen hy in die openbaar ’n kragtige beroep op die mense om geloof in hom te stel ‘as ’n lig wat in die wêreld gekom het’.—12:19, 28, 36, 46.
22. Watter voorbeeld stel Jesus by die Pasgamaal, en watter nuwe gebod gee hy?
22 Jesus se afskeidsraad aan die getroue apostels (13:1–16:33). Gedurende die Pasga-aandmaal saam met die 12 staan Jesus op, trek sy boklere uit, neem ’n doek en ’n voetkom en was die voete van sy dissipels. Petrus maak beswaar, maar Jesus sê vir hom dat hy ook sy voete moet laat was. Jesus maan die dissipels om sy voorbeeld van nederigheid te volg, want “’n dienskneg is nie groter as sy heer nie”. Hy praat van die verraaier en stuur Judas dan uit. Na Judas se vertrek begin Jesus vertroulik met die ander praat. “’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”—13:16, 34, 35.
23. Watter hoop en watter beloofde helper bespreek Jesus ter vertroosting?
23 Jesus spreek wonderlike trooswoorde vir sy volgelinge in hierdie kritieke uur. Hulle moet geloof in God en ook in hom beoefen. In sy Vader se huis is daar baie wonings, en hy sal terugkom en hulle tuis by hom ontvang. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, sê Jesus. “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Ter vertroosting vertel hy sy volgelinge dat hulle, deur geloof te beoefen, groter werke sal doen as wat hy gedoen het en dat hy hulle enigiets sal gee wat hulle in sy naam vra, sodat sy Vader verheerlik kan word. Hy belowe hulle ’n ander helper, “die Gees van die waarheid”, wat hulle alles sal leer en hulle aan alles sal herinner wat hy hulle vertel het. Hulle moet bly wees dat hy weggaan na sy Vader, omdat “my Vader groter is as Ek”, sê Jesus.—14:6, 17, 28.
24. Hoe bespreek Jesus die apostels se verhouding met hom en met die Vader, met watter seëninge vir hulle?
24 Jesus praat van homself as die ware wynstok en van sy Vader as die landbouer. Hy spoor hulle aan om in eendrag met hom te bly en sê: “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees” (15:8). En hoe kan hulle blydskap volkome word? Deur mekaar lief te hê net soos hy hulle liefgehad het. Hy noem hulle vriende. Watter kosbare verhouding tog! Die wêreld sal hulle haat soos dit hom gehaat het en sal hulle vervolg, maar Jesus sal die trooster, of helper, stuur om van hom te getuig en die dissipels in die hele waarheid te lei. Hulle huidige droefheid sal plek maak vir blydskap wanneer hy hulle weer sien, en niemand sal hulle blydskap van hulle wegneem nie. Sy woorde is vertroostend: “Die Vader self het julle lief, omdat julle My liefgehad en geglo het dat Ek van God uitgegaan het.” Ja, hulle sal verstrooi word, maar, sê Jesus, “dit het Ek vir julle gesê, dat julle in My vrede kan hê. In die wêreld sal julle verdrukking hê; maar hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—16:27, 33.
25. (a) Wat erken Jesus in gebed teenoor sy Vader? (b) Wat vra hy met betrekking tot homself, sy dissipels, en diegene wat deur hulle woord geloof sal beoefen?
25 Jesus se gebed ten behoewe van sy dissipels (17:1-26). In gebed erken Jesus teenoor sy Vader: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.” Aangesien Jesus sy toegewese werk op aarde voltooi het, vra hy nou om by sy Vader verheerlik te word met die heerlikheid wat hy gehad het voor die wêreld was. Hy het die Vader se naam aan sy dissipels bekend gemaak en vra die Vader om ‘in Sy naam’, oftewel ter wille van Sy naam, oor hulle te waak. Hy versoek die Vader nie om hulle uit die wêreld weg te neem nie, maar om hulle van die bose te bewaar en hulle deur Sy woord van waarheid te heilig. Jesus brei sy gebed uit om almal in te sluit wat nog geloof sal beoefen deurdat hulle die woord van hierdie dissipels gehoor het, ‘dat hulle almal een mag wees net soos u, Vader, in eendrag met my en ek in eendrag met u is, dat hulle ook in eendrag met ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat u my gestuur het’. Hy vra dat hulle ook saam met hom in sy hemelse heerlikheid mag deel, want hy het die Vader se naam aan hulle bekend gemaak, sodat Sy liefde in hulle kan woon.—17:3, 11, 21, vgl. NW.
26. Wat sê die verslag oor Jesus se inhegtenisname en verhoor?
26 Christus word tereggestel en aan ’n paal gehang (18:1–19:42). Jesus en sy dissipels gaan nou na ’n tuin aan die oorkant van die Kidronvallei. Hier verskyn Judas met ’n afdeling soldate en verraai hy Jesus, wat hom sonder teenstand oorgee. Petrus verdedig hom egter met ’n swaard en word bestraf: “Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (18:11). Jesus word dan geboei weggelei na Annas, die skoonvader van Kajafas, die hoëpriester. Johannes en Petrus volg kort agter hulle, en Johannes reël dat hulle toegang tot die voorhof van die hoëpriester verkry, waar Petrus drie keer ontken dat hy Christus ken. Jesus word eers deur Annas ondervra en dan voor Kajafas gebring. Daarna word Jesus voor die Romeinse goewerneur Pilatus gebring, terwyl die Jode om die doodsvonnis roep.
27. (a) Watter vrae opper Pilatus oor koningskap en gesag, en hoe antwoord Jesus hom? (b) Watter standpunt ten opsigte van koningskap neem die Jode in?
27 Op Pilatus se vraag: “Is U dan tog ’n koning?” antwoord Jesus: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig” (18:37). Pilatus vind geen gegronde getuienis teen Jesus nie en bied aan om hom vry te laat, aangesien dit die gebruik was om ’n gevangene op die Pasga vry te stel, maar die Jode wil eerder die rower Barabbas hê. Pilatus laat Jesus gésel en probeer weer om hom vry te laat, maar die Jode roep uit: “[Aan die paal met hom! Aan die paal met hom!] . . . omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” Wanneer Pilatus vir Jesus sê dat hy die gesag het om hom aan die paal te hang, antwoord Jesus: “U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie.” Weer roep die Jode uit: “Neem weg, neem weg, [aan die paal met hom]! . . . Ons het geen koning behalwe die keiser nie.” Dan gee Pilatus hom oor om aan die folterpaal gedood te word.—19:6, 7, 11, 15, vgl. NW.
28. Wat vind by Golgota plaas, en watter profesieë word daar vervul?
28 Jesus word weggeneem “na die sogenaamde Hoofskedelplek, in Hebreeus Golgota”, en word tussen twee ander aan ’n paal gehang. Bo hom bring Pilatus die opskrif aan: “Jesus, die Nasarener, die koning van die Jode”, wat in Hebreeus, Latyn en Grieks geskryf is vir almal om te sien en te verstaan (19:17, 19). Jesus vertrou sy moeder aan Johannes se sorg toe, en nadat hy suur wyn ontvang het, roep hy uit: “Dit is volbring!” Dan buig hy sy hoof en sterf hy (19:30). Ter vervulling van die profesieë werp die soldate wat Jesus tereggestel het die lot oor sy klere, breek hulle nie sy bene nie en steek hulle ’n spies in sy sy (Joh. 19:24, 32-37; Ps. 22:19; 34:21; 22:18; Sag. 12:10). Hierna maak Josef van Arimathea en Nikodemus die liggaam gereed om dit te begrawe en lê hulle dit in ’n nuwe gedenkgraf daar naby.
29. (a) By watter geleenthede verskyn die verrese Jesus aan sy dissipels? (b) Watter gedagtes meld Jesus in sy laaste opmerkings aan Petrus?
29 Verskynings van die verrese Christus (20:1–21:25). Johannes se feitemateriaal met betrekking tot die Christus sluit op die gelukkige noot van die opstanding af. Maria Magdalena vind die graf leeg, en Petrus en ’n ander dissipel (Johannes) hardloop soontoe, maar sien slegs die doeke en die hoofdoek wat agtergebly het. Maria, wat naby die graf gebly het, praat met twee engele en uiteindelik met wat sy dink die tuinier is. Wanneer hy “Maria!” antwoord, herken sy hom onmiddellik as Jesus. Vervolgens openbaar Jesus hom agter geslote deure aan sy dissipels en vertel hy hulle van die krag wat hulle deur die heilige gees sal ontvang. Agterna weier Thomas, wat nie teenwoordig was nie, om te glo, maar agt dae later verskyn Jesus weer en gee hy hom die bewys, waarop Thomas uitroep: “My Here en my God!” (20:16, 28). Dae later ontmoet Jesus weer sy dissipels, by die See van Tiberias; hy gee hulle ’n wonderdadige visvangs en eet dan ontbyt saam met hulle. Hy vra Petrus drie keer of hy hom liefhet. Wanneer Petrus volhou dat hy hom liefhet, sê Jesus nadruklik: “Laat my lammers wei”, “Pas my skape op”, “Laat my skape wei”. Dan voorspel hy deur watter soort dood Petrus God sal verheerlik. Petrus vra omtrent Johannes, en Jesus sê: “As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?”—21:15-17, 22.
WAAROM NUTTIG
30. Hoe lê Johannes besondere nadruk op liefde?
30 Die goeie nuus “volgens Johannes” is kragtig in sy direktheid en oortuigend in sy intieme, aangrypende beskrywing van die Woord, wat Christus geword het, en dit gee ’n digbyblik van hierdie gesalfde Seun van God in woord en in daad. Hoewel Johannes se styl en woordeskat eenvoudig is, wat hom as ’n ‘ongeleerde en eenvoudige’ man kenmerk, is daar geweldige krag in sy woorde (Hand. 4:13). Sy Evangelie bereik sy grootste hoogtes wanneer dit die innige liefde tussen Vader en Seun bekend maak, asook die geseënde, liefdevolle verhouding wat daar in eendrag met hulle te vinde is. Johannes gebruik die woorde “liefde” en “liefgehad” meer as die ander drie Evangelies saam.
31. Watter verhouding word dwarsdeur die Evangelie van Johannes beklemtoon, en hoe kom dit die mooiste tot uiting?
31 Wat ’n glorieryke verhouding het tog in die begin tussen die Woord en God die Vader bestaan! In God se voorsienigheid het “die Woord . . . vlees geword en . . . onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid” (Joh. 1:14). Dan beklemtoon Jesus dwarsdeur Johannes se verslag dat sy verhouding een van onderworpenheid in onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan die wil van die Vader is (4:34; 5:19, 30; 7:16; 10:29, 30; 11:41, 42; 12:27, 49, 50; 14:10). Sy uiting van hierdie intieme verhouding bereik ’n glorieryke hoogtepunt in die roerende gebed wat in Johannes hoofstuk 17 opgeteken is, waar Jesus aan sy Vader berig dat hy die werk voltooi het wat Hy hom gegee het om op die aarde te doen en byvoeg: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was.”—17:5.
32. Met watter uitdrukkings toon Jesus wat sý verhouding met sy dissipels is en dat hy die enigste kanaal is waardeur die mensdom seëninge van die lewe ontvang?
32 Wat van Jesus se verhouding met sy dissipels? Jesus se rol as die enigste kanaal waardeur hulle en die hele mensdom God se seëninge ontvang, word voortdurend op die voorgrond gebring (14:13, 14; 15:16; 16:23, 24). Hy word “die Lam van God”, “die brood van die lewe”, “die lig van die wêreld”, “die goeie herder”, “die opstanding en die lewe”, “die weg en die waarheid en die lewe” en “die ware wynstok” genoem (1:29; 6:35; 8:12; 10:11; 11:25; 14:6; 15:1). Dit is deur hierdie illustrasie van “die ware wynstok” dat Jesus wys watter wonderlike eendrag daar nie net tussen hom en sy ware volgelinge bestaan nie maar ook met die Vader. Deur veel vrug te dra, sal hulle sy Vader verheerlik. “Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My”, maan Jesus.—15:9.
33. Wat sê Jesus in gebed was die doel van sy bediening?
33 Hoe vurig bid hy dan tog tot Jehovah dat al hierdie dierbares, en ook ‘die wat deur hulle woord geloof in hom stel’, een met hom en sy Vader mag wees, geheilig deur die woord van waarheid! Die hele doel van Jesus se bediening word inderdaad pragtig uitgedruk in die laaste woorde van sy gebed tot sy Vader: “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waarmee U My liefgehad het, in hulle kan wees, en Ek in hulle.”—17:20, 26.
34. Watter nuttige raad het Jesus gegee oor hoe die wêreld oorwin kan word?
34 Hoewel Jesus sy dissipels in die wêreld agtergelaat het, het hy hulle nie sonder ’n helper, “die Gees van die waarheid”, agtergelaat nie. Hy het hulle bowendien tydige raad oor hulle verhouding met die wêreld gegee deur hulle te wys hoe om as “kinders van die lig” te oorwin (14:16, 17; 3:19-21; 12:36). “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels”, het Jesus gesê, “en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Vir die kinders van die duisternis het hy daarenteen gesê: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy . . . staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie.” Laat ons dan vasbeslote wees om altyd vas te staan in die waarheid, ja, om “die Vader in gees en waarheid [te] aanbid” en om krag te put uit Jesus se woorde: “Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin.”—8:31, 32, 44; 4:23; 16:33.
35. (a) Watter getuienis gee Jesus in verband met God se Koninkryk? (b) Waarom verskaf Johannes se Evangelie ons rede tot blydskap en dankbaarheid?
35 Dit alles hou ook verband met God se Koninkryk. Tydens sy verhoor het Jesus getuig: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” Toe het hy in antwoord op Pilatus se vraag gesê: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem” (18:36, 37). Ja, gelukkig is diegene wat luister en wat “weer gebore” word om in eendrag met die Koning ‘in die koninkryk van God in te gaan’. Gelukkig is die “ander skape” wat na die stem van hierdie Herder-Koning luister en lewe verkry. Daar is inderdaad rede om dankbaar te wees vir die voorsiening van Johannes se Evangelie, want dit is geskryf “dat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God; en dat julle deur te glo die lewe kan hê in sy Naam”.—3:3, 5; 10:16; 20:31.
[Voetnoot]
a The Ecclesiastical History, Eusebius, V, VIII, 4.
b Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 323.
c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsye 57-8.