Bybelboek nommer 49—Efesiërs
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 60–61 G.J.
1. Wanneer en onder watter omstandighede het Paulus die brief aan die Efesiërs geskryf?
STEL jou voor dat jy in die gevangenis is. Jy is daar omdat jy vervolg word weens jou ywerige bedrywigheid as ’n Christensendeling. Wat gaan jy doen noudat jy nie meer kan reis en die gemeentes kan besoek om hulle te versterk nie? Kan jy nie briewe skryf aan diegene wat deur jou predikingswerk Christene geword het nie? Wonder hulle nie dalk hoe dit met jou gaan en het hulle nie miskien aanmoediging nodig nie? Natuurlik! Jy begin dus skryf. Jy doen nou presies wat die apostel Paulus gedoen het toe hy omstreeks 59-61 G.J. vir die eerste keer in Rome in die gevangenis was. Hy het hom op die keiser beroep, en hoewel hy op sy verhoor gewag het en onder bewaking was, het hy die vryheid gehad om sekere dinge te doen. Paulus het sy brief “Aan die Efesiërs” waarskynlik in 60 of 61 G.J. vanuit Rome geskryf en dit saam met Tichikus gestuur, wat deur Onesimus vergesel is.—Ef. 6:21; Kol. 4:7-9.
2, 3. Waardeur word Paulus se skrywerskap en terselfdertyd die kanonisiteit van Efesiërs afdoende bewys?
2 Paulus identifiseer homself in die heel eerste woord as die skrywer, en in vier gevalle noem hy homself òf “die gevangene in die Here”, òf sinspeel hy op sy gevangenskap (Ef. 1:1; 3:1, 13; 4:1; 6:20). Argumente teen Paulus se skrywerskap het op niks uitgeloop nie. Die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46), wat glo uit omstreeks 200 G.J. dateer, het 86 blaaie van ’n kodeks wat Paulus se briewe bevat. Onder hulle is die brief aan die Efesiërs, wat toon dat dit destyds onder sy briewe gereken is.
3 Vroeë kerkskrywers bevestig dat Paulus die brief geskryf het en dat dit “Aan die Efesiërs” was. Ireneus, van die tweede eeu G.J., het Efesiërs 5:30 soos volg aangehaal: “Soos die geseënde Paulus in die brief aan die Efesiërs sê, dat ons lede van sy liggaam is.” Clemens van Alexandrië, van dieselfde tydperk, het Efesiërs 5:21 aangehaal en geskryf: “Waarom hy ook in die brief aan die Efesiërs skryf: Wees aan mekaar onderdanig in die vrees van God.” Origines, wat in die eerste helfte van die derde eeu G.J. geskryf het, het Efesiërs 1:4 aangehaal en gesê: “Maar ook die apostel gebruik in die brief aan die Efesiërs dieselfde taal wanneer hy sê: Wat ons voor die grondlegging van die aarde uitverkies het.”a Eusebius, nog ’n gesaghebbende op die gebied van die vroeg-Christelike geskiedenis (ca. 260-342 G.J.), sluit Efesiërs in die Bybelkanon in, en die meeste ander vroeë kerkskrywers verwys na Efesiërs as ’n deel van die geïnspireerde Skrif.b
4. Wat het party laat vermoed dat Efesiërs aan ’n ander gemeente gerig was, maar watter getuienis bevestig dat Efese die brief se bestemming was?
4 Die Chester Beatty-papirus, die Codex Vaticanus nr. 1209 sowel as die Codex Sinaiticus laat die woorde “in Efese” in hoofstuk 1, vers 1, uit en dui derhalwe nie die bestemming van die brief aan nie. Hierdie feit, tesame met die feit dat daar geen groete aan individue in Efese is nie (hoewel Paulus drie jaar daar gewerk het), het party laat vermoed dat die brief aan ’n ander gemeente gerig was of ten minste dat dit dalk ’n omsendbrief aan die gemeentes in Klein-Asië, met inbegrip van Efese, was. Die meeste ander manuskripte bevat egter die woorde “in Efese”, en soos ons hierbo getoon het, het die vroeë kerkskrywers dit as ’n brief aan die Efesiërs aanvaar.
5. Wat was opmerklik omtrent die Efese van Paulus se dag?
5 Enkele agtergrondgegewens sal ons help om die doel van hierdie brief te verstaan. In die eerste eeu van die Gewone Jaartelling was Efese bekend vir sy duiwelskunste, towery, astrologie en die aanbidding van die vrugbaarheidsgodin Artemis (Diana).c Rondom die standbeeld van die godin is ’n luisterryke tempel opgerig wat as een van die sewe wonders van die Antieke Wêreld beskou is. Volgens opgrawings op die terrein in die 19de eeu was die tempel op ’n platform gebou wat nagenoeg 73 meter wyd en 127 meter lank was. Die tempel self was sowat 50 meter wyd en 105 meter lank. Dit het 100 marmerpilare gehad wat elk 17 meter hoog was. Die dak was bedek met groot wit marmerteëls. Goud in plaas van messelklei is glo tussen die voeë van die marmerblokke gebruik. Die tempel het toeriste van dwarsoor die wêreld getrek, en honderdduisende besoekers het op feesdae in die stad ingestroom. Die silwersmede van Efese het ’n winsgewende bedryf gehad deur silwertempeltjies van Artemis as aandenkings aan pelgrims te verkoop.
6. Hoe bedrywig was Paulus in Efese?
6 Paulus het gedurende sy tweede sendingreis vir ’n kort predikingsbesoek in Efese vertoef en Aquila en Priscilla toe daar agtergelaat om die werk voort te sit (Hand. 18:18-21). Op sy derde sendingreis het hy teruggekeer en omtrent drie jaar daar gebly terwyl hy “die Weg” aan baie verkondig en geleer het (Hand. 19:8-10; 20:31). Paulus het hard gewerk terwyl hy in Efese was. A. E. Bailey skryf in sy boek Daily Life in Bible Times: “Dit was Paulus se gewoonte om sy ambag van sonop tot 11 vm. uit te oefen (Hand. 20:34, 35), die tyd waarop Tirannus klaar was met die lesse wat hy gegee het; om dan van 11 vm. tot 4 nm. in die saal te preek, vergaderinge met helpers te hou, . . . en om laastelik van huis tot huis te gaan en mense te soek wat in die evangelie belangstel, ’n werk wat van 4 nm. tot diep in die nag geduur het (Hand. 20:20, 21, 31). ’n Mens wonder waar hy tyd gekry het om te eet en te slaap.”—1943, bladsy 308.
7. Wat was die gevolg van Paulus se ywerige prediking?
7 In die loop van hierdie ywerige prediking het Paulus die gebruik van beelde in aanbidding blootgelê. Dit het diegene wat hulle gemaak en verkoop het, soos die silwersmid Demetrius, woedend gemaak, en in die opskudding moes Paulus uiteindelik die stad verlaat.—Hand. 19:23–20:1.
8. In watter opsigte was Paulus se brief aan die Efesiërs uiters tydig?
8 Terwyl Paulus nou in die gevangenis is, dink hy aan die probleme waarmee die gemeente in Efese te kampe het, daar hulle omring is van heidense aanbidders en in die skaduwee van die ontsagwekkende tempel van Artemis woon. Hierdie gesalfde Christene het ongetwyfeld die gepaste illustrasie wat Paulus nou vir hulle gee nodig gehad, ’n illustrasie wat toon dat hulle “’n heilige tempel” uitmaak waarin Jehovah deur sy gees woon (Ef. 2:21). “Die verborgenheid”, of heilige geheim, wat aan die Efesiërs geopenbaar word oor God se administrasie (die manier waarop hy sy huislike aangeleenthede bestuur) waardeur hy eenheid en vrede deur Jesus Christus sou herstel, was ongetwyfeld vir hulle ’n groot besieling en troos (1:9, 10, vgl. NW). Paulus lê nadruk op die eendrag van Jood en nie-Jood in Christus. Hy vermaan hulle tot harmonie, tot eenheid. Ons kan dus nou die doel, waarde en duidelike inspirasie van hierdie boek besef.
INHOUD VAN EFESIËRS
9. Hoe het God sy liefde oorvloedig gemaak, en wat bid Paulus?
9 God se voorneme om eenheid deur middel van Christus te bewerkstellig (1:1–2:22). Paulus, die apostel, stuur groete. Geseënd is God weens sy glorieryke onverdiende goedheid. Dit het te doen met Sy verkiesing van hulle om in eendrag met Jesus Christus te wees, deur wie hulle die verlossing deur middel van die losprys deur sy bloed het. Daarbenewens het God sy liefde jeens hulle oorvloedig gemaak deur die heilige geheim van sy wil bekend te maak. Want hy het hom voorgeneem om ’n administrasie te hê ‘om alle dinge weer te verenig in die Christus’, in eendrag met wie hulle ook as erfgename aangestel is (1:10). As ’n vooraf gegewe onderpand hiervan is hulle deur die heilige gees verseël. Paulus bid dat hulle vas oortuig mag wees van die hoop waartoe hulle geroep is en mag besef dat God dieselfde krag ten opsigte van hulle sal gebruik wat Hy gebruik het om Christus op te wek en hom ver bo enige regering en gesag te stel en hom Hoof van al die dinge met betrekking tot die gemeente te maak.
10. Hoe het die Efesiërs “medeburgers van die heiliges” geword?
10 God het hulle uit die rykdom van sy barmhartigheid en sy groot liefde lewend gemaak, hoewel hulle dood was in hulle oortredinge en sondes, en het hulle saam laat sit “in die hemelse plekke in eendrag met Christus” (2:6, NW). Dit is alles weens onverdiende goedheid en geloof en nie as gevolg van enige werke van hulle kant nie. Christus is hulle vrede wat die muur afgebreek het, die Wet van gebooie, wat die nie-Jode van die Jode afgeskei het. Nou het albei groepe die toegang tot die Vader deur Christus. Daarom is die Efesiërs nie meer vreemdelinge nie, maar is hulle “medeburgers van die heiliges” en groei hulle tot ’n heilige tempel waarin Jehovah deur sy gees kan woon.—2:19.
11. Wat is ‘die heilige geheim’, en wat bid Paulus ten behoewe van die Efesiërs?
11 “Die heilige geheim van die Christus” (3:1-21). God het nou aan sy heilige apostels en profete ‘die heilige geheim van die Christus geopenbaar, dat mense uit die nasies mede-erfgename en medelede van die liggaam en met ons mededeelgenote van die belofte in eendrag met Christus Jesus deur die goeie nuus sou wees’ (3:4, 6, vgl. NW). Deur God se onverdiende goedheid het Paulus ’n dienaar hiervan geword, om die onnaspeurlike rykdom van die Christus te verkondig en mense te laat sien hoe die heilige geheim uitgevoer word. Die menigvuldige wysheid van God word deur die gemeente bekend gemaak. Met die oog hierop bid Paulus dat hulle magtig gemaak sal word met krag deur God se gees sodat hulle die liefde van Christus, wat kennis te bowe gaan, ten volle kan ken, en kan besef dat God kan doen “ver bo alles wat ons bid of dink”.—3:20.
12. (a) Hoe moet Christene wandel, en waarom? (b) Watter gawes het Christus gegee, en met watter doel? (c) Wat behels dit wanneer ’n mens jou met ‘die nuwe persoonlikheid’ beklee?
12 “Die nuwe persoonlikheid” (4:1–5:20). Christene moet so wandel dat hulle hulle roeping waardig is, met nederigheid, met lankmoedigheid en liefde, en in die verenigende band van vrede. Want daar is net een gees, een hoop, een geloof en “een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is” (4:6). Daarom het Christus, die “een Here”, profete, evangeliste, herders en leraars gegee, “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus”. Gevolglik, skryf Paulus, laat “ons in liefde die waarheid betrag, in alles . . . opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus”, as ’n liggaam wat in harmonie saamgevoeg is en met elke lid wat saamwerk (4:5, 12, 15). Die onsedelike, vrugtelose en onkundige weë van die ou persoonlikheid moet afgelê word; elkeen moet nuut gemaak word in die krag wat sy verstand aandryf en ‘hom met die nuwe persoonlikheid beklee wat na God se wil geskape is in ware geregtigheid en heiligheid’. Omdat almal aan mekaar behoort, moet hulle die waarheid spreek en toornigheid, diefstal, vuil woorde en kwaadaardige bitterheid aflê—en God se heilige gees nie bedroef nie. Laat hulle eerder ‘vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar wees, en mekaar vryelik vergewe, net soos God hulle ook vryelik deur Christus vergewe het’.—4:24, 32, vgl. NW.
13. Wat moet ’n mens doen om ’n navolger van God te word?
13 Almal moet navolgers van God word. Hoerery, onreinheid en hebsug moet nie eens onder hulle genoem word nie, want diegene wat sulke dinge beoefen, het geen erfdeel in die Koninkryk nie. Paulus maan die Efesiërs: “Wandel soos kinders van die lig.” ‘Pas nougeset op’ hoe julle wandel en koop die geleë tyd uit, “omdat die dae boos is”. Ja, hulle moet “verstaan wat die wil van die Here [Jehovah] is” en vol dankbaarheid oor die lof van God spreek.—5:8, 15-17.
14. Watter wedersydse verantwoordelikhede het mans en vroue?
14 Gepaste onderdanigheid; die Christelike oorlogvoering (5:21–6:24). Vroue moet aan hul mans onderdanig wees, net soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, en mans moet hul vroue bly liefhê, “soos Christus ook die gemeente liefgehad” het. Die vrou moet eweneens “die man eerbiedig”.—5:25, 33.
15. Watter raad gee Paulus ten opsigte van kinders en ouers, slawe en meesters, en die Christen se wapenrusting?
15 Kinders moet in eenheid met ouers lewe, gehoorsaam en ontvanklik vir godvrugtige dissipline. Ook slawe en meesters moet hulle sodanig gedra dat hulle God behaag, want die Meester van almal ‘is in die hemele en by Hom is daar geen aanneming van die persoon nie’. Ten slotte, laat almal “kragtig [word] in die Here en in die krag van sy sterkte” en die volledige wapenrusting van God aantrek ten einde teen die Duiwel staande te kan bly. “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op”, ook “die swaard van die Gees—dit is die woord van God”. Bly bid en bly wakker. Paulus vra dat hulle ook vir hom bid sodat hy met alle vrymoedigheid ‘die heilige geheim van die goeie nuus bekend kan maak’.—6:9, 10, 16, 17, 19, vgl. NW.
WAAROM NUTTIG
16. Op watter vrae word in Efesiërs praktiese antwoorde gegee, en wat word gesê oor die persoonlikheid wat God behaag?
16 Die brief aan die Efesiërs roer feitlik elke aspek van die Christen se lewe aan. Met die oog op die hedendaagse toename in verontrustende probleme en misdadigheid in die wêreld is Paulus se gesonde, praktiese raad van groot nut vir diegene wat ’n godvrugtige lewe wil lei. Hoe moet kinders hulle teenoor ouers gedra, en ouers hulle teenoor hul kinders? Wat is ’n man se verantwoordelikhede teenoor sy vrou, en ’n vrou s’n teenoor haar man? Wat moet gemeentelede doen om eenheid in liefde en Christelike reinheid te midde van ’n goddelose wêreld te bewaar? Paulus se raad dek al hierdie vrae, en hy toon verder wat dit behels as ’n mens jou met die nuwe Christelike persoonlikheid beklee. Deur Efesiërs te bestudeer, sal almal werklik kan besef watter soort persoonlikheid God behaag en ‘na God se wil geskape is in ware geregtigheid en heiligheid’.—4:24-32, vgl. NW; 6:1-4; 5:3-5, 15-20, 22-33.
17. Wat toon Efesiërs oor samewerking met reëlings in die gemeente?
17 Die brief toon ook wat die doel van aanstellings en toewysings in die gemeente is. Dit is “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus”, met rypheid as doelwit. As ’n Christen sy volle samewerking aan hierdie gemeentelike reëlings gee, kan hy ‘in alles in liefde opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus’.—4:12, 15.
18. Wat word duidelik uiteengesit met betrekking tot ‘die heilige geheim’ en ’n geestelike tempel?
18 Die brief aan die Efesiërs was vir die vroeë gemeente van groot nut om hulle begrip van ‘die heilige geheim van die Christus’ te verskerp. Hier is duidelik uiteengesit dat ‘mense van die nasies’ saam met gelowige Jode geroep is om “mede-erfgename . . . en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie” te wees. Die skeidsmuur, “die wet van gebooie”, wat nie-Jood van Jood geskei het, is tot niet gemaak, en nou het almal deur die bloed van die Christus medeburgers van die heiliges en lede van die huis van God geword. In skerp teenstelling met die heidense tempel van Artemis is hulle in eendrag met Christus Jesus saam opgebou tot ’n plek waarin God deur sy gees kan woon—“’n heilige tempel” vir Jehovah.—3:4, 6, vgl. NW; 2:15, 21.
19. Watter hoop en aanmoediging bied Efesiërs vandag nog?
19 Met betrekking tot ‘die heilige geheim’ het Paulus ook gepraat van ’n administrasie “om alle dinge wat in die hemele [diegene wat vir die hemelse Koninkryk gekies is] sowel as wat op die aarde is [diegene wat op die aarde in die ryk van die Koninkryk sal lewe], onder een hoof in Christus te verenig”. Aldus word God se grootse voorneme om vrede en eenheid te herstel na vore gebring. In hierdie verband het Paulus gebid ten behoewe van die Efesiërs, wie se oë van die hart verlig was sodat hulle die hoop waartoe God hulle geroep het ten volle kon verstaan en kon sien “wat die rykdom van die heerlikheid van sy erfdeel onder die heiliges is”. Hierdie woorde moes hulle grootliks in hulle hoop aangemoedig het. En die geïnspireerde brief aan die Efesiërs is vandag nog vir die gemeente opbouend, sodat ‘ons in alles vervul kan word met die volheid wat God gee’.—1:9-11, 18, vgl. NW; 3:19.
[Voetnote]
a Origin and History of the Books of the Bible, 1868, C. E. Stowe, bladsy 357.
b New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, onder redaksie van J. D. Douglas, bladsy 175.
c Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsy 182.