Bybelboek nommer 52—1 Thessalonicense
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Korinthe
Geskrif voltooi: ca. 50 G.J.
1. (a) Wat het daartoe aanleiding gegee dat Eerste Thessalonicense geskryf is? (b) Wanneer was dit, en in watter opsig is die brief derhalwe uniek?
DIT was omstreeks die jaar 50 G.J. dat die apostel Paulus, tydens sy tweede predikingsreis, die Macedoniese stad Thessalonika besoek en ’n Christengemeente aldaar gestig het. Minder as ’n jaar daarna, terwyl hy saam met Silvanus (Silas van die boek Handelinge) en Timotheüs in Korinthe was, is Paulus beweeg om sy eerste brief aan die Thessalonicense te skryf om hulle te vertroos en op te bou in die geloof. Dit was waarskynlik teen die einde van 50 G.J. Hierdie brief is uniek daarin dat dit blykbaar die eerste van Paulus se geskrifte is wat ’n deel van die Bybelkanon geword het en, met die waarskynlike uitsondering van Mattheüs se Evangelie, die eerste boek van die Christelike Griekse Geskrifte wat geskryf is.
2. Watter bewys is daar vir die skrywerskap en die egtheid van Eerste Thessalonicense?
2 Daar is oorweldigende bewys van die egtheid en suiwerheid van die brief. Paulus identifiseer homself by name as die skrywer, en die inhoud van die boek is in harmonie met die res van die geïnspireerde Woord (1 Thess. 1:1; 2:18). Die brief word by name genoem in baie van die vroegste katalogusse van die geïnspireerde Skrif, onder meer die Canon Muratori.a Baie van die vroeë kerkskrywers het uit Eerste Thessalonicense aangehaal of daarop gesinspeel; een van hulle was Ireneus (tweede eeu G.J.), wat dit by name noem. Die Chester Beatty-papirus nr. 2 (P46), wat uit omstreeks 200 G.J. dateer, bevat Eerste Thessalonicense, en ’n ander papirus uit die derde eeu (P30), tans in die Belgiese stad Gent, bevat fragmente van sowel Eerste as Tweede Thessalonicense.b
3, 4. Waartoe het die vroeë sukses van Paulus se bediening in Thessalonika gelei?
3 ’n Kykie na die kort geskiedenis van die gemeente in Thessalonika vóór hierdie brief geskryf is, help ons om te verstaan waarom Paulus so besorg was oor die broers in daardie stad. Van die begin af het die gemeente hewige vervolging en teenstand ondervind. In Handelinge hoofstuk 17 vertel Lukas van die aankoms van Paulus en Silas in Thessalonika, “waar ’n sinagoge van die Jode was”. Drie Sabbatte ná mekaar het Paulus vir hulle gepreek en uit die Skrif met hulle geredeneer, en daar is aanduidings dat hy selfs langer daar gebly het, want hy het tyd gehad om hom in sy ambag te vestig en, bowenal, om ’n gemeente te stig en te organiseer.—Hand. 17:1; 1 Thess. 2:9; 1:6, 7.
4 Die verslag in Handelinge 17:4-7 gee ’n lewendige beskrywing van die uitwerking van die apostel se prediking in Thessalonika. Die Jode, wat jaloers was op die sukses van Paulus se Christelike bediening, het ’n volksoploop bewerk en die stad in opskudding gebring. Hulle het die huis van Jason aangeval en hom en ander broers na die stadsowerhede gesleep en geskreeu: “Die mense wat die wêreld in opstand bring, hulle het hier ook gekom, en Jason het hulle ontvang. En hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus.” Jason en die ander was verplig om borgtog te betaal voor hulle vrygelaat is. Ter wille van die broers in die gemeente, asook hulle eie veiligheid, is Paulus en Silas in die nag na Berea weggestuur. Maar die gemeente in Thessalonika was nou gestig.
5. Hoe het Paulus sy besorgdheid oor en liefdevolle belangstelling in die gemeente in Thessalonika getoon?
5 Vurige teenstand deur die Jode het Paulus na Berea agtervolg en gedreig om ’n einde te maak aan sy prediking aldaar. Hy het toe na Athene in Griekeland vertrek. Tog wou hy bitter graag weet hoe sy broers in Thessalonika onder die verdrukking vaar. Twee keer het hy na hulle probeer terugkeer, maar telkens ‘het die Satan hom verhinder’ (1 Thess. 2:17, 18). Vol besorgdheid oor die jong gemeente en pynlik bewus van die verdrukking wat hulle deurmaak, het Paulus Timotheüs na Thessalonika teruggestuur om die broers te vertroos en hulle verder te versterk in die geloof. Toe Timotheüs met sy opbeurende verslag terugkom, was Paulus grootliks verheug oor die nuus van hulle onversetlike onkreukbaarheid te midde van gewelddadige vervolging. Hulle reputasie het teen hierdie tyd ’n voorbeeld geword vir gelowiges in die hele Macedonië en Achaje (1:6-8; 3:1-7). Paulus was Jehovah God dankbaar vir hulle getroue volharding, maar hy het ook besef dat hulle verdere leiding en raad nodig sou hê terwyl hulle aangehou het om tot rypheid te groei. Daarom het Paulus, terwyl hy in die geselskap van Timotheüs en Silvanus in Korinthe was, sy eerste brief aan die Thessalonicense geskryf.
INHOUD VAN EERSTE THESSALONICENSE
6. Waarom prys Paulus die Thessalonicense?
6 Thessalonicense ’n voorbeeld vir ander gelowiges (1:1-10). Paulus begin sy brief aan die Thessalonicense met hartlike woorde van lof weens hulle getroue werk, liefdevolle arbeid en volharding in hoop. Die goeie nuus is nie in woord alleen onder hulle verkondig nie, maar ‘ook in krag en in volle versekerdheid’. In navolging van die voorbeeld wat vir hulle gestel is, het die Thessalonicense die woord ‘met die blydskap van die heilige gees’ ontvang en self ’n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Macedonië, Achaje en selfs verder. Hulle het hul geheel en al van hulle afgode bekeer, “om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag”.—1:5, 6, 9, 10.
7. Watter gesindheid het Paulus en sy metgeselle geopenbaar terwyl hulle by die Thessalonicense was, en waartoe het hulle hul vermaan?
7 Paulus se liefdevolle besorgdheid oor die Thessalonicense (2:1–3:13). Nadat Paulus en sy metgeselle in Filippi mishandel is, het hulle vrymoedigheid bymekaargeskraap om vir die Thessalonicense te preek. Dit het hulle nie gedoen as mensebehaers of as vleiers of omdat hulle eer van mense gesoek het nie. Inteendeel, sê Paulus, “ons was vriendelik onder julle soos ’n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het” (2:7, 8). Hulle het die Thessalonicense bly vermaan, net soos ’n vader sy kinders, om waardiglik te wandel voor God, wat hulle tot sy Koninkryk en heerlikheid geroep het.
8. Hoe het die Thessalonicense vir Paulus ’n blydskap geword, en hoe bid hy ten behoewe van hulle?
8 Paulus prys hulle vir hulle geredelike aanvaarding van die goeie nuus vir wat dit is, “die woord van God”. Hulle is nie die enigstes wat deur hulle eie landgenote vervolg word nie, want die eerste gelowiges in Judea moes soortgelyke vervolging van die kant van die Jode verduur. Weens sy besorgdheid oor hulle welsyn wou Paulus by twee geleenthede self na hulle toe kom, maar Satan het hom gedwarsboom. Vir Paulus en sy medewerkers is die broers in Thessalonika ’n kroon van roem, hulle “eer en blydskap” (2:13, 20). Toe Paulus dit nie langer kon uithou om niks van hulle te hoor nie, het hy Timotheüs na Thessalonika gestuur om hulle geloof te versterk en hulle te bemoedig. Nou het Timotheüs pas teruggekeer met die goeie nuus oor hulle geestelike voorspoed en liefde, en dit het die apostel vertroosting en blydskap verskaf. Paulus dank God en bid dat die Here hulle met groei sal seën sodat hulle oorvloedig kan wees in liefde vir mekaar en sodat hulle harte ‘onberispelik kan wees in heiligheid’ voor God die Vader by die teenwoordigheid van die Here Jesus.—3:13.
9. Watter aansporing gee Paulus in verband met heiliging en liefde vir mekaar?
9 Dien in heiliging en eer (4:1-12). Paulus prys die Thessalonicense omdat hulle so wandel dat hulle God behaag, en hy spoor hulle aan om dit in steeds groter mate te doen. Elkeen “moet weet hoe om in besit te kom van sy eie vat in heiliging en eer, nie in hebsugtige seksuele begeerte nie”. In hierdie saak moet niemand inbreuk maak op sy broer se regte nie. Want God het hulle geroep, nie “met verlof tot onreinheid nie, maar in verband met heiliging. Wie dus blyk gee van minagting, minag nie ’n mens nie, maar God” (4:4, 5, 7, 8, NW). Paulus prys die Thessalonicense omdat hulle liefde teenoor mekaar toon, en hy spoor hulle aan om dit steeds oorvloediger te doen en om hulle eer daarin te stel om rustig te lewe en hulle met hulle eie sake besig te hou en met hulle hande te werk. Want hulle moet welvoeglik wandel “teenoor die wat buite is”.—4:12.
10. Wat moet die broers se houding wees ten opsigte van die ontslapenes?
10 Die opstandingshoop (4:13-18). Wat die ontslapenes betref, moet die broers nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. As hulle glo dat Jesus gesterwe en weer opgestaan het, sal God eweneens ander wat ontslaap het deur Jesus opwek. By die teenwoordigheid van die Here sal hy uit die hemel neerdaal met ’n geroep, “en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan”. Daarna sal die oorlewendes “in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug”, sodat hulle altyd by die Here sal wees.—4:16, 17.
11. Waarom moet die Thessalonicense waak, en wat moet hulle voortdurend doen?
11 Waak terwyl Jehovah se dag nader kom (5:1-28). “Die dag van die Here [Jehovah] kom net soos ’n dief in die nag.” Dit is wanneer mense “Vrede en veiligheid” sê dat ’n skielike verderf hulle sal oorval. Laat die Thessalonicense dan waak as “kinders van die lig en kinders van die dag”, laat hulle nugter wees “met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid” (5:2, 3, 5, 8). Hulle lewe in ’n tyd waarin hulle mekaar voortdurend moet bemoedig en opbou. Laat almal ‘in liefde die hoogste agting bewys’ aan dié wat onder hulle arbei en hulle voorgaan. Aan die ander kant moet hulle die onordelikes vermaan, die swakkes ondersteun en lankmoedig wees teenoor almal. Ja, skryf Paulus, “jaag altyd ná wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal”.—5:13, 15.
12. Oor watter belangrike sake gee Paulus ten slotte raad, en hoe sluit hy sy brief aan die Thessalonicense af?
12 Ten slotte gee Paulus raad oor ’n aantal belangrike sake: ‘Wees altyddeur bly. Bid sonder ophou en wees in alles dankbaar. Moenie die vuur van die gees blus nie. Toon eerbied vir profesieë. Beproef alle dinge en behou die goeie. Bly weg van elke vorm van kwaad’ (5:16-22). Hy bid dan dat die God van die vrede hulle volkome heilig sal maak en dat hulle in gees, siel en liggaam onberispelik bewaar sal word by die teenwoordigheid van die Here Jesus Christus. Hy sluit die brief af met hartlike woorde van aanmoediging en met die plegtige opdrag dat die brief aan al die broers voorgelees word.
WAAROM NUTTIG
13. Waarin was Paulus en sy metgeselle ’n edele voorbeeld, en watter uitwerking het die ongedwonge betoning van liefde in die gemeente?
13 In hierdie brief het Paulus ’n gees van liefdevolle besorgdheid oor sy broers geopenbaar. Hy en sy medebedienaars het ’n edele voorbeeld van tere geneentheid gestel deur nie alleen die goeie nuus van God nie maar selfs hulle eie siele ten behoewe van hulle geliefde broers in Thessalonika mee te deel. Laat alle opsieners daarna strewe om sulke bande van liefde met hulle gemeente te smee! So ’n uiting van liefde sal almal aanspoor om liefde teenoor mekaar te toon, net soos Paulus gesê het: “En mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is.” Hierdie liefde, wat sonder dwang onder God se hele volk geopenbaar word, is baie opbouend. Dit kan harte “versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms [“teenwoordigheid”, NW] van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges”. Dit skei Christene van ’n verdorwe en onsedelike wêreld af sodat hulle in heiligheid en heiligmaking kan wandel en God sodoende kan behaag.—3:12, 13; 2:8; 4:1-8.
14. In watter opsig is Eerste Thessalonicense ’n uitstekende voorbeeld van taktvolle, liefdevolle raadgewing?
14 Hierdie brief is ’n uitstekende voorbeeld van taktvolle, liefdevolle raadgewing in die Christengemeente. Hoewel die broers in Thessalonika ywerig en getrou was, was daar verbeteringe om aan te bring. Paulus prys die broers egter telkens om hulle goeie eienskappe. Waar hy hulle byvoorbeeld teen sedelike onreinheid waarsku, prys hy hulle eers omdat hulle wandel op ’n wyse wat God behaag, en dan spoor hy hulle aan om dit “oorvloediger” te doen terwyl elkeen sy vat in heiligheid en eer bewaar. Dan, nadat hy hulle geprys het om hulle broederliefde, vermaan hy hulle om in hierdie opsig “oorvloediger” te wees deur hulle met hul eie sake besig te hou en welvoeglik te lewe teenoor dié wat buite is. Paulus gee sy broers taktvol die raad om ‘na te jaag wat goed is, teenoor mekaar sowel as teenoor almal’.—4:1-7, 9-12; 5:15.
15. Wat toon dat Paulus die Koninkrykshoop ywerig verkondig het toe hy in Thessalonika was, en watter goeie raad het hy in hierdie verband gegee?
15 Op vier plekke maak Paulus melding van die “teenwoordigheid” van Jesus Christus. (Sien NW.) Die pas bekeerde Christene in Thessalonika het blykbaar besonder belanggestel in hierdie leerstelling. Terwyl hy in hulle stad was, het Paulus ongetwyfeld met vrymoedigheid gepreek oor God se Koninkryk in die hande van Christus, soos blyk uit die beskuldiging wat teen hom en sy metgeselle ingebring is: “Hulle almal handel teen die bevele van die keiser en sê dat daar ’n ander koning is, naamlik Jesus” (Hand. 17:7; 1 Thess. 2:19; 3:13; 4:15; 5:23). Die broers in Thessalonika het hulle hoop op die Koninkryk gevestig en het, met geloof in God, “sy Seun uit die hemele . . . verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus”, om hulle van die toekomstige toorn te verlos. Almal wat vandag op God se Koninkryk hoop, moet eweneens ag slaan op die goeie raad in Eerste Thessalonicense om oorvloedig te wees in liefde, met sterk en onberispelike harte, sodat hulle steeds ‘waardiglik kan wandel voor God wat hulle tot sy koninkryk en heerlikheid roep’.—1 Thess. 1:8, 10; 3:12, 13; 2:12.
[Voetnote]
a Sien tabel “Belangrike vroeë katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte”, bladsy 303.
b The Text of the New Testament, deur Kurt en Barbara Aland, in Engels vertaal deur E. F. Rhodes, 1987, bladsye 97, 99.