Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 234-237
  • Bybelboek nommer 54—1 Timotheüs

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 54—1 Timotheüs
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN EERSTE TIMOTHEÜS
  • WAAROM NUTTIG
  • Timoteus—“’n Ware kind in die geloof”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Behou geloof en ’n goeie gewete
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 234-237

Bybelboek nommer 54—1 Timotheüs

Skrywer: Paulus

Waar geskryf: Macedonië

Geskrif voltooi: ca. 61–64 G.J.

1, 2. (a) Watter kontras is daar tussen die beskrywing van Paulus se gevangenskap in Handelinge en dié in Tweede Timotheüs? (b) Wanneer is Eerste Timotheüs vermoedelik geskryf, en waarom?

LUKAS se verslag oor Paulus se lewe in die boek Handelinge eindig waar Paulus in Rome op die uitslag van sy beroep op die keiser wag. Ons lees dat Paulus in sy eie gehuurde huis bly en die Koninkryk van God verkondig aan almal wat na hom toe kom, iets wat hy “met volle vrymoedigheid sonder enige verhindering” doen (Hand. 28:30, 31). Maar in sy tweede brief aan Timotheüs skryf Paulus dat hy “verdrukking ly tot die boeie toe soos ’n kwaaddoener”, en hy sê dat sy dood naby is (2 Tim. 2:9; 4:6-8). Wat ’n verandering! In die eerste geval word hy as ’n agtenswaardige gevangene behandel, in die tweede as ’n misdadiger. Wat het gebeur tussen Lukas se kommentaar oor Paulus se situasie in 61 G.J., aan die einde van twee jaar in Rome, en Paulus se eie berig aan Timotheüs oor sy toestand, wat blykbaar kort voor sy dood geskryf is?

2 Omdat dit so moeilik is om die skrywe van Paulus se briewe aan Timotheüs en Titus in te pas in die periode wat deur die boek Handelinge beskryf word, het sommige Bybelkommentators die gevolgtrekking gemaak dat Paulus se beroep op die keiser suksesvol was en dat hy omstreeks 61 G.J. vrygelaat is. The New Westminster Dictionary of the Bible sê: “Die slotvers van Die Handelinge strook beter met hierdie beskouing [dat Paulus na twee jaar van aanhouding vrygelaat is] as met die veronderstelling dat die vermelde gevangenskap op die veroordeling en dood van die apostel uitgeloop het. Lukas beklemtoon die feit dat niemand sy werk verhinder het nie, wat beslis die indruk wek dat die einde van sy werk nie naby was nie.”* Die skrywe van Eerste Timotheüs behoort dus tot die tydperk tussen sy vrylating uit sy eerste gevangenskap in Rome en sy laaste gevangenskap aldaar, of omstreeks 61-64 G.J.

3, 4. (a) Wat het Paulus blykbaar gedoen nadat hy uit die gevangenis vrygelaat is? (b) Waarvandaan het hy Eerste Timotheüs geskryf?

3 By sy vrylating uit die gevangenis het Paulus klaarblyklik sy sendingwerk in die geselskap van Timotheüs en Titus hervat. Of Paulus Spanje ooit bereik het, soos sommige meen, is onseker. Clemens van Rome het geskryf (ca. 95 G.J.) dat Paulus “tot aan die uiterste grens van die W[este]” gekom het, wat Spanje kon ingesluit het.*

4 Waarvandaan het Paulus sy eerste brief aan Timotheüs geskryf? Volgens 1 Timotheüs 1:3 het Paulus gereël dat Timotheüs na sekere gemeentelike sake in Efese omsien terwyl hy self na Macedonië gereis het. Dit wil voorkom of hy die brief van hier af aan Timotheüs geskryf het terwyl dié nog in Efese was.

5. Watter bewys is daar van die egtheid van die briewe aan Timotheüs?

5 Die twee briewe aan Timotheüs word reeds van die vroegste tye af as geskrifte van Paulus en as deel van die geïnspireerde Skrif aanvaar. Die vroeg-Christelike skrywers, waaronder Polycarpus, Ignatius en Clemens van Rome, is dit almal hieroor eens, en die briewe verskyn as Paulus se geskrifte in die katalogusse van die eerste paar eeue. Een kenner skryf: “Daar is weinig N[ieu-] T[estamentiese] geskrifte wat beter gestaaf word . . . Besware teen hulle egtheid moet derhalwe beskou word as nuwighede wat in stryd is met die kragtige getuienis van die vroeë kerk.”*

6. (a) Om watter verskillende redes het Paulus Eerste Timotheüs geskryf? (b) Wat was Timotheüs se agtergrond, en wat dui daarop dat hy ’n ryp werker was?

6 Paulus het hierdie eerste brief aan Timotheüs geskryf om sekere organisatoriese prosedures in die gemeente duidelik uiteen te sit. Dit was boonop nodig dat hy Timotheüs waarsku om op sy hoede te wees vir valse leerstellings en om die broers te versterk om sulke ‘valse kennis’ te weerstaan (1 Tim. 6:20). Die handelstad Efese sou bowendien die versoeking van materialisme en “geldgierigheid” bied; daarom sou dit tydig wees om ook hieroor advies te gee (6:10). Timotheüs het gewis ’n goeie agtergrond van ervaring en opleiding gehad om vir hierdie werk gebruik te word. Hy was die seun van ’n Griekse vader en ’n godvresende Joodse moeder. Dit is nie bekend presies wanneer Timotheüs vir die eerste keer met die Christelike godsdiens in aanraking gekom het nie. Toe Paulus Listre tydens sy tweede sendingreis besoek het, waarskynlik laat in 49 G.J. of vroeg in 50 G.J., het Timotheüs (moontlik in sy laat tienderjare of vroeë twintigerjare) reeds “goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikonium”. Paulus het toe gereël dat Timotheüs saam met hom en Silas reis (Hand. 16:1-3). Timotheüs word in 11 van Paulus se 14 briewe, sowel as in die boek Handelinge, by name genoem. Paulus het altyd vaderlike belangstelling in hom getoon en hom by verskeie geleenthede opdrag gegee om verskillende gemeentes te besoek en te bedien—’n bewys dat Timotheüs goeie werk in die sendingveld gedoen het en bekwaam was om gewigtige verantwoordelikhede op hom te neem.—1 Tim. 1:2; 5:23; 1 Thess. 3:2; Filip. 2:19.

INHOUD VAN EERSTE TIMOTHEÜS

7. Waarom moedig Paulus Timotheüs aan om in Efese te bly?

7 Aansporing tot geloof met ’n goeie gewete (1:1-20). Nadat Paulus Timotheüs as sy “ware kind in die geloof” gegroet het, moedig hy hom aan om in Efese te bly. Hy moet diegene teregwys wat ’n “ander leer” verkondig, iets wat tot nuttelose vrae lei in plaas van stigting in die geloof. Paulus sê dat die doel van hierdie gebod “liefde uit ’n rein hart en ’n goeie gewete en ’n ongeveinsde geloof” is. Hy voeg by dat sommige mense daarvan “afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies”.—1:2, 3, 5, 6.

8. Wat word beklemtoon deur die feit dat barmhartigheid aan Paulus bewys is, en watter goeie stryd moedig hy Timotheüs aan om te stry?

8 Hoewel Paulus voorheen ’n lasteraar en ’n vervolger was, was die onverdiende goedheid van die Here nietemin “baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is”, sodat aan hom barmhartigheid bewys is. Hy was die vernaamste van die sondaars; en so het hy ’n voorbeeld geword van die lankmoedigheid van Christus Jesus, wat “in die wêreld gekom het om sondaars te red”. Hoe waardig is die Koning van die eeue tog om tot in alle ewigheid die eer en heerlikheid te ontvang! Paulus beveel Timotheüs om ’n goeie stryd te stry en om aan “die geloof en ’n goeie gewete” vas te hou. Hy moenie wees soos dié wat “aan die geloof skipbreuk gely [het]” nie, soos Himeneüs en Alexander, wat deur Paulus getug is weens lastering.—1:14, 15, 19.

9. (a) Watter gebede moet gedoen word, en waarom? (b) Wat word oor vroue in die gemeente gesê?

9 Instruksies rakende aanbidding en organisasie in die gemeente (2:1–6:2). Daar moet gebede gedoen word vir allerhande mense, ook vir dié wat hooggeplaas is, sodat Christene ’n vreedsame lewe in godsvrug kan lei. Dit is die wil van God, die Verlosser, dat “alle [soorte] mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as ’n losprys vir almal” (2:4-6, vgl. NW). Paulus is as ’n apostel en prediker van hierdie dinge aangestel. Daarom doen hy ’n beroep op die manne om met lojaliteit te bid en op die vroue om met beskeidenheid en ingetoënheid aan te trek, soos dit vroue betaam wat God eer. ’n Vrou moet in stilte leer en nie gesag oor ’n man uitoefen nie, “want Adam is eerste gemaak, daarna Eva”.—2:13.

10. Aan watter vereistes moet opsieners en bedieningsknegte voldoen, en waarom skryf Paulus hierdie dinge?

10 Die man wat na ’n opsienersamp verlang, begeer ’n voortreflike werk. Paulus noem dan die vereistes op waaraan opsieners en bedieningsknegte moet voldoen. ’n Opsiener moet “onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. . . . Hy moet nie ’n nuweling wees nie . . . Hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders” (3:2-7). Daar word soortgelyke vereistes vir bedieningsknegte gestel, en hulle geskiktheid moet beproef word voordat hulle begin dien. Paulus skryf hierdie dinge sodat Timotheüs kan weet hoe hy hom moet gedra in die gemeente van God, wat “’n pilaar en grondslag van die waarheid” is.—3:15.

11. (a) Watter probleme sal later ontstaan? (b) Waaraan moet Timotheüs aandag skenk, en waarom?

11 In die laaste tye sal sommige van die geloof afvallig word weens die leringe van demone. Geveinsde leuenaars sal die huwelik verbied en beveel dat mense hulle onthou van voedsel wat God geskep het om met danksegging gebruik te word. As ’n goeie bedienaar moet Timotheüs “onheilige en oudwyfse fabels” verwerp. Hy moet hom andersyds oefen met godvrugtige toegewydheid as sy doel. “Hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad”, sê Paulus, “omdat ons gehoop het op die lewende God wat ’n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.” Daarom moet Timotheüs aanhou om hierdie dinge te leer en te beveel. Hy moet niemand sy jonkheid laat verag nie maar moet eerder ’n voorbeeld wees in gedrag en godvrugtige diens. Hy moet leef in hierdie dinge en gedurig op homself en op sy leer let, want deur daarin te volhard sal hy ‘homself red sowel as die wat hom hoor’.—4:7, 10, 16.

12. Watter raad word gegee oor hoe om weduwees en ander in die gemeente te behandel?

12 Paulus gee Timotheüs raad oor hoe om sekere mense te behandel: bejaarde manne soos vaders, jonger manne soos broers, bejaarde vroue soos moeders, jonger vroue soos susters. Die nodige voorsiening moet gemaak word vir vroue wat waarlik weduwees is. Indien moontlik moet ’n weduwee se familie egter vir haar sorg. Versuim in hierdie opsig kom neer op ’n verloëning van die geloof. ’n Weduwee wat minstens 60 jaar oud is, kan op die lys geplaas word as sy “getuienis het van goeie werke” (5:10). Jong weduwees wat toelaat dat hulle geslagsdrange hulle beheers, moet daarenteen afgewys word. In plaas dat hulle ledig rondgaan en skinder, moet hulle liewer trou en kinders baar, sodat hulle die teëparty geen aanleiding gee nie.

13. Watter agting moet aan ouere manne betoon word, hoe moet mense wat sonde beoefen, behandel word, en watter verantwoordelikheid rus op slawe?

13 Die ouderlinge, of ouere manne, wat goeie leiding gee, moet dubbele eer waardig geag word, “veral die wat arbei in woord en leer” (5:17). ’n Beskuldiging teen ’n ouere man moet nie aangeneem word nie, behalwe op die getuienis van twee of drie. Mense wat sonde beoefen, moet voor alle aanwesiges tereggewys word, maar daar mag geen vooroordeel of partydigheid in hierdie sake wees nie. Slawe moet hulle eienaars respekteer en goeie diens lewer, veral aan broers, wat “gelowiges en geliefdes” is.—6:2.

14. Wat sê Paulus oor verwaandheid en geldgierigheid in verband met “die godsaligheid saam met vergenoegdheid”?

14 Raad oor “die godsaligheid saam met vergenoegdheid” (6:3-21). Iemand wat nie met gesonde woorde instem nie, is verwaand en het ’n sieklike sug na twisvrae, wat lei tot heftige stryerye oor beuselagtighede. Daarenteen is “die godsaligheid saam met vergenoegdheid” ’n groot wins. ’n Mens moet met voedsel en klere vergenoeg wees. Die vasbeslotenheid om ryk te word is ’n strik wat tot die verderf lei, en die geldgierigheid is “’n wortel van alle euwels”. Paulus spoor Timotheüs, as ’n man van God, aan om van hierdie dinge weg te vlug, om Christelike deugde na te jaag, om die goeie stryd van die geloof te stry en om ‘na die ewige lewe te gryp’ (6:6, 10, 12). Hy moet die gebod “onbevlek, onberispelik bewaar” tot by die verskyning van die Here Jesus Christus. Die rykes moet “nie hulle hoop . . . stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God”, sodat hulle die werklike lewe stewig kan vasgryp. Paulus moedig Timotheüs ten slotte aan om sy leerstellige pand te bewaar en om weg te bly van onheilige praatjies en van “die valslik sogenaamde kennis”.—6:14, 17, 20.

WAAROM NUTTIG

15. Watter waarskuwing word gegee teen bespiegelings en argumente?

15 Hierdie brief bevat ’n sterk waarskuwing vir diegene wat hulle ophou met ydele bespiegelings en filosofiese argumente. ‘Stryery oor woorde’ is verwant aan trots en moet vermy word, want Paulus sê vir ons dat dit Christelike groei belemmer en “net twisvrae bevorder meer as stigting van God wat in die geloof is” (6:3-6; 1:4). Tesame met die werke van die vlees is sulke twisvrae ‘in stryd met die gesonde leer volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God’.—1:10, 11.

16. Watter raad het Paulus oor materialisme gegee?

16 Die Christene in geldgierige Efese het blykbaar raad nodig gehad oor hoe om teen die materialisme en sy verleidinge te stry. Paulus het daardie raad gegee. Die wêreld haal sy woorde vryelik aan: ‘Geldgierigheid is die wortel van alle kwaad’, maar so min slaan ag op sy woorde! Ware Christene moet daarenteen altyd hierdie advies ter harte neem. Dit beteken die lewe vir hulle. Hulle moet vlug van die skadelike strik van die materialisme en nie hulle hoop stel “op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet”.—6:6-12, 17-19.

17. Watter advies aan Timotheüs is vandag tydig vir alle ywerige jong bedienaars?

17 Paulus se brief toon dat Timotheüs self ’n goeie voorbeeld was van hoedanig ’n jong Christen moet wees. Hoewel hy betreklik jonk was in jare, was hy ryp wat geestelike groei betref. Hy het hard gewerk om hom as ’n opsiener te bekwaam en is ryklik geseën in die voorregte wat hy geniet het. Maar soos alle ywerige jong bedienaars van vandag, moes hy aanhou om oor hierdie dinge na te dink en heeltemal daarin opgaan sodat hy verdere vordering kon maak. Paulus gee ook tydige advies aan almal wat voortdurend die vreugde wil smaak om as Christene vooruitgang te maak: “Let op jouself en op die leer; volhard daarin; want deur dit te doen, sal jy jouself red sowel as die wat jou hoor.”—4:15, 16.

18. Watter ordelike reëlings in die gemeente word duidelik omskryf, en hoe gebruik Paulus die Hebreeuse Geskrifte as gesag?

18 Hierdie geïnspireerde brief boesem waardering in vir God se ordelike reëlings. Dit toon dat manne sowel as vroue hulle deel kan doen om teokratiese harmonie in die gemeente te handhaaf (2:8-15). Voorts bespreek dit die vereistes vir opsieners en bedieningsknegte. Die heilige gees wys aldus op die vereistes wat gestel word vir dié wat in spesiale hoedanighede diens verrig. Die brief moedig ook alle toegewyde bedienaars aan om aan hierdie standaarde te voldoen: “As iemand na ’n opsienersamp verlang, begeer hy ’n voortreflike werk” (3:1-13). Die regte houding van die opsiener teenoor die verskillende ouderdomsgroepe en geslagte in die gemeente word gepas bespreek, en so ook die hantering van beskuldigings voor getuies. Waar Paulus beklemtoon dat die ouere manne wat in woord en leer arbei dubbele eer waardig is, beroep hy hom twee keer op die Hebreeuse Geskrifte as gesag: “Want die Skrif sê: Jy mag ’n os wat graan dors, nie muilband nie; en: Die arbeider is sy loon werd.”—1 Tim. 5:1-3, 9, 10, 19-21, 17, 18; Deut. 25:4; Lev. 19:13.

19. Hoe word die Koninkrykshoop op die voorgrond gebring, en watter vermaning word op grond daarvan gegee?

19 Nadat hy al hierdie goeie raad gegee het, voeg Paulus daaraan toe dat die gebod op onbevlekte en onberispelike wyse bewaar moet word ‘tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus as die Koning van die konings en Here van die here’. Met hierdie Koninkrykshoop as grondslag sluit die brief af met ’n kragtige vermaning dat Christene “goed moet doen en ryk [moet] wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat [moet] weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf [“die werklike lewe stewig kan vasgryp”, NW]” (1 Tim. 6:14, 15, 18, 19). Al die voortreflike onderrig in Eerste Timotheüs is inderdaad nuttig!

[Voetnote]

1970, onder redaksie van H. S. Gehman, bladsy 721.

The Ante-Nicene Fathers, Dl. I, bladsy 6, “Die Eerste Sendbrief van Clemens aan die Korinthiërs”, hfst. V.

New Bible Dictionary, tweede uitgawe, 1986, onder redaksie van J. D. Douglas, bladsy 1203.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel