Bybelboek nommer 56—Titus
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Macedonië (?)
Geskrif voltooi: ca. 61–64 G.J.
1. (a) Watter taak is aan Titus toevertrou? (b) In watter milieu het die gemeentes op Kreta ontstaan, en wat moes die Christene in Kreta doen?
“PAULUS, ’n dienskneg van God en ’n apostel van Jesus Christus . . . aan Titus, my ware kind volgens die gemeenskaplike geloof” (Tit. 1:1, 4). So begin Paulus se brief aan sy medewerker en jarelange metgesel Titus, wat hy op die eiland Kreta agtergelaat het om die gemeentes beter te organiseer. Titus het ’n groot taak gehad. Hierdie eiland, wat glo die antieke woonplek van “die vader van gode en mense” was, was die bron van die gesegde “om ’n Kretenser te kretenseer”, dit wil sê, “om ’n skelm te uitoorlê”.a Die onbetroubaarheid van die eilandbewoners was spreekwoordelik, sodat Paulus selfs die woorde van hulle eie profeet aangehaal het: “Die Kretense is altyd leuenaars, ongediertes, lui buike” (1:12). Die Kretensers van Paulus se dag is ook eenmaal soos volg beskryf: “Die bevolking was wispelturig, onopreg en twissiek van geaardheid; hulle was besonder geneig tot hebsug, losbandigheid, bedrog en dronkenskap; en dit wil voorkom of die Jode wat onder hulle gaan woon het die boorlinge nog oortref het in sedeloosheid.”b Dit was juis in hierdie milieu dat die gemeentes van Kreta ontstaan het; en daarom was dit vir die gelowiges besonder nodig “om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën” en om “ingetoë en regverdig en vroom . . . te lewe”, soos Paulus vermaan het.—2:12.
2, 3. (a) Watter verhouding het Titus met Paulus gehad? (b) Waarvandaan het Paulus waarskynlik aan Titus geskryf, en met watter doel?
2 Die boek Titus self verskaf baie min inligting oor die verhouding tussen Paulus en Titus. Uit die verwysings na Titus in Paulus se ander briewe kan ons egter heelwat leer. Titus, wat ’n Griek was, het Paulus dikwels vergesel en het by minstens een geleentheid saam met hom na Jerusalem opgegaan (Gal. 2:1-5). Paulus praat van hom as sy “metgesel en medewerker”. Dit was Titus wat deur Paulus na Korinthe gestuur is nadat hy sy eerste brief aan die Korinthiërs vanuit Efese geskryf het. Tydens sy verblyf in Korinthe was Titus gemoeid met die insameling wat vir die broers in Jerusalem gedoen is, en later het hy in opdrag van Paulus teruggegaan om die insameling te voltooi. Op die terugreis na Korinthe ná sy ontmoeting met Paulus in Macedonië is Titus gebruik om Paulus se tweede brief aan die Korinthiërs af te lewer.—2 Kor. 8:16-24; 2:13; 7:5-7.
3 Na sy vrylating uit sy eerste gevangenskap in Rome het Paulus gedurende die laaste jare van sy bediening weer saam met Timotheüs en Titus gewerk. Dit het blykbaar diens in Kreta, Griekeland en Macedonië ingesluit. Ten slotte word daar gesê dat Paulus na Nikopolis in noordwestelike Griekeland sou gaan, waar hy blykbaar gevange geneem en toe na Rome gebring is vir sy laaste gevangenskap en teregstelling. Tydens die besoek aan Kreta het Paulus Titus daar agtergelaat om ‘reg te maak wat oorgebly het en van stad tot stad ouderlinge aan te stel’, ooreenkomstig die instruksies wat hy Titus gegee het. Dit wil voorkom of Paulus se brief geskryf is kort nadat hy Titus in Kreta agtergelaat het, heel waarskynlik vanaf Macedonië (Tit. 1:5; 3:12; 1 Tim. 1:3; 2 Tim. 4:13, 20). Die doel van die brief was skynbaar soortgelyk aan dié van Eerste Timotheüs, naamlik om Paulus se medewerker aan te moedig en om hom gesaghebbende steun te gee by die uitvoering van sy pligte.
4. Wanneer is die brief waarskynlik geskryf, en watter bewyse is daar dat dit eg is?
4 Paulus het die brief waarskynlik tussen sy eerste en sy tweede gevangenskap in Rome geskryf, of omstreeks 61 tot 64 G.J. Die bewyse vir die egtheid van die brief aan Titus is dieselfde as vir die briewe aan Timotheüs, wat gedurende dieselfde tydperk geskryf is; dié drie Bybelboeke word dikwels Paulus se “pastorale briewe” genoem. Die skryfstyl stem ooreen. Ireneus en Origines haal albei uit Titus aan, en baie ander vroeë gesaghebbendes getuig ook van die boek se kanonisiteit. Dit kom in die Codex Sinaiticus en Codex Alexandrinus voor. In die John Rylands-biblioteek is daar ’n papirusfragment, P32, wat ’n kodeksbladsy uit ongeveer die derde eeu G.J. is met Titus 1:11-15 en 2:3-8 daarop.c Dit ly geen twyfel dat die boek ’n egte deel van die geïnspireerde Skrif is nie.
INHOUD VAN TITUS
5. (a) Watter vereistes vir opsieners beklemtoon Paulus, en waarom is dit noodsaaklik? (b) Waarom moet Titus sekere mense skerp bestraf, en wat word van besoedelde persone gesê?
5 Opsieners moet vermaan deur die gesonde leer (1:1-16). Na ’n hartlike begroeting sit Paulus die vereistes vir opsieners uiteen. Daar word beklemtoon dat ’n opsiener “onberispelik” moet wees, iemand wat die goeie liefhet, regverdig, lojaal, ’n man “wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê”. Dit is noodsaaklik weens die “verleiers” wat selfs hele huise onderstebo keer ter wille van vuil wins. Daarom moet Titus hulle steeds “skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees, en hulle nie besig hou met Joodse fabels . . . nie”. Besoedelde persone bely moontlik dat hulle God ken, maar hulle verloën hom deur hulle werke van ongehoorsaamheid.—1:6-10, 13, 14.
6. Watter advies word in verband met Christelike gedrag gegee?
6 Lewe met nugterheid van verstand, regverdigheid en godsvrug (2:1–3:15). Die ou manne en ou vroue moet waardig en vroom wees. Die jong vroue moet hulle mans en kinders liefhê en aan hulle mans onderdanig wees “sodat die woord van God nie belaster word nie”. Die jong manne moet ’n voorbeeld wees in goeie werke en gesonde woorde. Slawe moet onderdanig wees en “alle goeie trou betoon”. Die reddende genade van God het verskyn, en dit moedig nugterheid van verstand, regverdigheid en vroomheid aan in diegene wat God deur Christus Jesus gereinig het om as volk sy eiendom te wees, “ywerig in goeie werke”.—2:5, 10, 14.
7. Wat beklemtoon Paulus in verband met onderdanigheid, redding en goeie werke?
7 Paulus benadruk die noodsaaklikheid daarvan om aan regerings onderdanig en gehoorsaam te wees en “aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”. Paulus en sy mede-Christene was eens net so sleg soos ander mense. Nie op grond van húlle werke nie, maar weens God se goedertierenheid, liefde en barmhartigheid is hulle deur heilige gees gered en het hulle erfgename van die hoop op die ewige lewe geword. Dié wat in God glo, moet dus sorg dra “om goeie werke voor te staan”. Hulle moet dwase strydvrae en stryery oor die Wet vermy, en as iemand partyskap verwek, of ’n sekte bevorder, moet hy ná ’n eerste en tweede vermaning verwerp word. Paulus vra Titus om na hom toe te kom in Nikopolis en lê, nadat hy ander sendinginstruksies gegee het, weer klem op die noodsaaklikheid van goeie werke ten einde nie onvrugbaar te wees nie.—3:2, 7, 8.
WAAROM NUTTIG
8. Watter raad van Paulus in die brief aan Titus is vandag vir ons “goed en nuttig”, en waarom?
8 Die Kretensiese Christene het gelewe in ’n milieu waar leuens, korrupsie en hebsug hoogty gevier het. Moes hulle eenvoudig met die stroom saamgaan? Of moes hulle besliste stappe doen om hulle geheel en al af te sonder om as ’n geheiligde volk voor Jehovah God te dien? In sy vermaning deur middel van Titus dat die Kretensers ‘goeie werke moet voorstaan’, het Paulus gesê: “Dít is wat goed en nuttig is vir die mense.” Dit is ook vandag, in ’n wêreld wat in ’n slykpoel van onbetroubaarheid en oneerlike praktyke weggesink het, “goed en nuttig” dat ware Christene leer om “goeie werke voor te staan” en vrugbaar te wees in God se diens (3:8, 14). Paulus se hele veroordeling van die onsedelikheid en boosheid wat die gemeentes in Kreta bedreig het, dien as waarskuwing vir ons in hierdie tyd wanneer ‘die reddende genade van God ons leer om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën en om ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe’. Christene moet ook ‘bereid wees tot elke goeie werk’ deur aan regerings gehoorsaam te wees en ’n goeie gewete te behou.—2:11, 12; 3:1.
9. Hoe word die belangrikheid van die regte onderrig onderstreep, veral as ’n verantwoordelikheid van opsieners?
9 Titus 1:5-9 vul 1 Timotheüs 3:2-7 aan waar dit kom by die vereistes wat die heilige gees vir opsieners stel. Dit benadruk dat die opsiener moet “vashou aan die betroubare woord” en ’n onderrigter in die gemeente moet wees. Hoe noodsaaklik is dit tog ten einde almal tot rypheid te bring! Trouens, die belangrikheid van die regte onderrig word etlike kere in die brief aan Titus beklemtoon. Paulus vermaan Titus om “met die gesonde leer te vermaan”. Die ou vroue moet “leraresse [wees] van wat goed is”, en slawe moet ‘die leer van God, ons Verlosser, in alles versier’ (Tit. 1:9; 2:1, 3, 10). Paulus beklemtoon dat Titus as opsiener streng en onbevrees moet wees wanneer hy onderrig, want hy sê: “Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns.” En in die geval van dié wat ongehoorsaam is, sê hy: “Jy [moet] hulle skerp bestraf, sodat hulle gesond in die geloof kan wees.” Paulus se brief aan Titus is dus besonder “nuttig om te onderrig, tereg te wys, dinge reg te stel, te dissiplineer in regverdigheid”.—Tit. 2:15; 1:13; 2 Tim. 3:16, NW.
10. Wat moedig die brief aan Titus ons aan om te doen, en watter salige hoop wakker dit aan?
10 Die brief aan Titus wakker ons waardering aan vir die onverdiende goedheid van God en moedig ons aan om die goddeloosheid van die wêreld die rug toe te keer “terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en [van] ons Verlosser, Jesus Christus”. Sodoende kan dié wat deur Christus Jesus geregverdig is “erfgename . . . word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe” in die Koninkryk van God.—Tit. 2:13, vgl. NW; 3:7.
[Voetnote]
a McClintock en Strong se Cyclopedia, herdruk van 1981, Dl. II, bladsy 564; The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, 1958, Dl. III, bladsy 306.
b McClintock en Strong se Cyclopedia, herdruk van 1981, Dl. X, bladsy 442.
c The Text of the New Testament, deur Kurt en Barbara Aland, in Engels vertaal deur E. F. Rhodes, 1987, bladsy 98.