Bybelboek nommer 57—Filemon
Skrywer: Paulus
Waar geskryf: Rome
Geskrif voltooi: ca. 60–61 G.J.
1. Wat is enkele kenmerke van die brief aan Filemon?
HIERDIE uiters taktvolle en liefderyke brief van Paulus is vandag vir Christene van groot belang. Nie alleen is dit die kortste brief wat van die hand van die “apostel van die heidene” behoue gebly het nie, maar in die hele Bybel bevat net Tweede en Derde Johannes minder stof. Dit is ook die enigste “persoonlike” brief van Paulus, in die sin dat dit nie offisieel aan ’n gemeente of ’n verantwoordelike opsiener gerig is nie maar aan ’n individu en dat dit uitsluitlik handel oor die besondere probleem wat Paulus met hierdie Christenbroer, die blykbaar welgestelde Filemon, wat in die Frigiese stad Kolosse in die hartjie van Klein-Asië gewoon het, wou bespreek.—Rom. 11:13.
2. Teen watter agtergrond en met watter doel is die brief aan Filemon geskryf?
2 Die doel van die brief kom duidelik na vore: Gedurende sy eerste gevangenskap in Rome (59-61 G.J.) het Paulus groot vryheid gehad om die Koninkryk van God te verkondig. Onder dié wat na sy prediking geluister het, was Onesimus, ’n wegloperslaaf uit die huis van Filemon, Paulus se vriend. Die gevolg was dat Onesimus ’n Christen geword het en dat Paulus, met Onesimus se toestemming, besluit het om hom na Filemon terug te stuur. Dit was ook gedurende hierdie tyd dat Paulus briewe aan die gemeentes in Efese en Kolosse geskryf het. In albei hierdie briewe het hy goeie raad aan Christenslawe en -slawe-eienaars gegee oor hoe om hulle in hierdie verhouding te gedra (Ef. 6:5-9; Kol. 3:22–4:1). Daarbenewens het Paulus egter ’n brief aan Filemon geskryf waarin hy persoonlik Onesimus se saak bepleit het. Dit was ’n brief wat met sy eie hand geskryf is—iets ongewoons vir Paulus (Fil. 19). Hierdie persoonlike benadering het grootliks bygedra tot die gewig van sy pleidooi.
3. Wanneer is die brief aan Filemon heel waarskynlik geskryf, en hoe is dit gestuur?
3 Die brief is heel waarskynlik omstreeks 60-61 G.J. geskryf, aangesien dit blyk dat Paulus reeds lank genoeg in Rome gepreek het om bekeerlinge te maak. En omdat hy in vers 22 die hoop uitspreek om vrygelaat te word, kan ons die gevolgtrekking maak dat die brief geskryf is nadat hy reeds geruime tyd in die gevangenis was. Dit wil voorkom of hierdie drie briewe, een vir Filemon en een elk vir die gemeentes in Efese en Kolosse, met Tichikus en Onesimus saamgestuur is.—Ef. 6:21, 22; Kol. 4:7-9.
4. Waardeur word die skrywerskap en egtheid van Filemon bewys?
4 Dat Paulus die skrywer van Filemon was, blyk uit die eerste vers, waar hy by name genoem word. Origines en Tertullianus het hom as sodanig erken.a Die egtheid van die boek word ook gestaaf deur die feit dat dit, tesame met Paulus se ander briewe, in die Canon Muratori van die tweede eeu G.J. aangegee word.
INHOUD VAN FILEMON
5. (a) Met watter groete en lof begin die brief? (b) Wat vertel Paulus vir Filemon oor sy slaaf Onesimus?
5 Onesimus na sy heer teruggestuur as “méér as ’n slaaf” (v. 1-25). Paulus stuur hartlike groete aan Filemon, aan Appia, die “geliefde suster”, aan Archippus, “ons medestryder”, en aan die gemeente in Filemon se huis. Hy prys Filemon (wie se naam “Liefhebbend” beteken) vir die liefde en geloof wat hy met betrekking tot die Here Jesus en die heiliges het. Berigte van Filemon se liefde het Paulus groot blydskap en troos verskaf. Paulus, ’n ou man en ’n gevangene, druk hom nou met groot vrymoedigheid uit in verband met sy “kind” Onesimus, wat hy in sy boeie “verwek” het. Onesimus (wie se naam “Winsgewend” beteken) was voorheen vir Filemon nutteloos, maar nou is hy vir sowel Filemon as Paulus nuttig.—V. 2, 10.
6. Watter behandeling van Onesimus beveel Paulus aan, en met watter taktvolle redenasie?
6 Die apostel sal Onesimus graag wil hou om hom in die gevangenis te dien, maar hy sal dit nie sonder Filemon se goedkeuring doen nie. Daarom stuur hy Onesimus terug, “nie meer as ’n slaaf nie, maar méér as ’n slaaf, as ’n geliefde broeder”. Paulus vra dat Onesimus vriendelik ontvang word, net soos Paulus self ontvang sou word. As Onesimus Filemon onreg aangedoen het, moet dit op Paulus se rekening gesit word, want, sê Paulus vir Filemon, “jy is daarby jou eie persoon ook aan my verskuldig” (v. 16, 19). Paulus hoop dat hy spoedig vrygelaat sal word en dat hy Filemon sal kan besoek, en hy sluit met groete af.
WAAROM NUTTIG
7. Hoe het Paulus, wat Onesimus betref, getrou gebly aan sy hoë roeping as ’n apostel?
7 Soos uit hierdie brief blyk, het Paulus nie ’n “sosiale evangelie” verkondig en sodoende probeer om die bestaande stelsel van dinge met sy instellinge, soos slawerny, af te skaf nie. Hy het selfs Christenslawe nie eiemagtig vrygestel nie, maar het eerder die wegloperslaaf Onesimus op ’n reis van oor die 1 400 kilometer van Rome na Kolosse teruggestuur na sy heer Filemon. So het Paulus getrou gebly aan sy hoë roeping as apostel, want hy het streng gebly by sy godgegewe opdrag om ‘die koninkryk van God te preek en onderrig te gee aangaande die Here Jesus Christus’.—Hand. 28:31; Fil. 8, 9.
8 .Watter praktiese toepassing van Christelike beginsels lig Filemon toe?
8 Die brief aan Filemon is onthullend omdat dit toon watter liefde en eenheid daar onder die Christene van die eerste eeu geheers het. Ons leer daarin dat die vroeë Christene mekaar ‘broer’ en ‘suster’ genoem het (Fil. 2, 20). Daarbenewens onthul dit vir Christene van vandag die praktiese toepassing van Christelike beginsels onder Christenbroers. Aan die kant van Paulus vind ons die betuiging van broederliefde, eerbied vir burgerlike verhoudinge en vir die eiendom van ander, doeltreffende takt en prysenswaardige nederigheid. In plaas dat Paulus Filemon op grond van sy gesag as vooraanstaande opsiener in die Christengemeente probeer dwing om Onesimus te vergewe, doen hy nederig ’n beroep op hom op grond van Christelike liefde en sy persoonlike vriendskap. Opsieners kan vandag baat vind by die taktvolle manier waarop Paulus Filemon benader het.
9. Watter goeie voorbeeld, wat vir hedendaagse Christene van belang is, sou Filemon gestel het deur aan Paulus se versoek te voldoen?
9 Dit is duidelik dat Paulus verwag het dat Filemon aan sy versoek sou voldoen, en Filemon sou daardeur ’n praktiese demonstrasie gee van wat Jesus in Mattheüs 6:14 en Paulus in Efesiërs 4:32 gesê het. Daar kan eweneens van hedendaagse Christene verwag word om vriendelik en vergewensgesind te wees teenoor ’n broer wat oortree het. As Filemon vergewensgesind kon wees teenoor ’n slaaf van wie hy die eienaar was en wat hy ingevolge die wet na willekeur kon mishandel, moet hedendaagse Christene vergifnis kan skenk aan ’n broer wat oortree het—’n baie makliker taak.
10. Hoe is die werking van Jehovah se gees duidelik in die brief aan Filemon te sien?
10 Die werking van Jehovah se gees is baie duidelik in hierdie brief aan Filemon te sien. Dit spreek uit die meesterlike manier waarop Paulus ’n baie netelige probleem hanteer. Dit blyk uit Paulus se medelye, sy tere geneentheid en sy vertroue in ’n mede-Christen. Dit word gesien in die feit dat die brief aan Filemon, soos die res van die Skrif, Christelike beginsels leer, Christelike eenheid voorstaan en die liefde en geloof verheerlik wat so oorvloedig is onder “die heiliges”, wat op God se Koninkryk hoop en wie se gedrag die goedertierenheid van Jehovah weerspieël.—V. 5.
[Voetnoot]
a The International Standard Bible Encyclopedia, onder redaksie van G. W. Bromiley, Dl. 3, 1986, bladsy 831.