Hoofstuk 5
Jesus se geboorte—Waar en wanneer?
DIE keiser van die Romeinse Ryk, keiser Augustus, het ’n wet uitgevaardig dat elkeen na sy eie geboortestad moet terugkeer om geregistreer te word. Josef gaan dus na sy geboorteplek, die stad Betlehem.
Daar is baie mense in Betlehem om geregistreer te word, en die enigste plek waar Josef en Maria kan bly, is in ’n stal. Hier, waar donkies en ander diere aangehou word, word Jesus gebore. Maria draai hom in doeke toe en lê hom neer in ’n krip, die bak waarin die diere se kos gesit word.
Dit was ongetwyfeld onder God se leiding dat keiser Augustus sy registrasiewet uitgevaardig het. Dit het dit moontlik gemaak dat Jesus in Betlehem gebore word, die stad wat die Skrif lank tevore voorspel het die geboorteplek van die beloofde heerser sou wees.
Wat ’n belangrike nag is dit tog! In die oop veld skyn ’n helder lig om ’n groep herders. Dit is Jehovah se heerlikheid! En Jehovah se engel sê vir hulle: “Moenie vrees nie, want kyk, ek bring julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk sal wees, dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is. En dit is vir julle die teken: julle sal ’n Kindjie vind wat in doeke toegedraai is en wat in die krip lê.” Skielik verskyn baie ander engele en sing: “Eer aan God in die hoogste hemele en vrede op aarde, in die mense ’n welbehae.”
Toe die engele vertrek, sê die herders vir mekaar: “Laat ons dan na Betlehem gaan en hierdie ding sien wat gebeur het, wat die Here aan ons bekend gemaak het.” Hulle haas hulle daarheen en vind Jesus net waar die engel gesê het hulle hom sou vind. Toe die herders vertel wat die engel vir hulle gesê het, is almal wat dit hoor verwonderd. Maria bewaar al hierdie woorde en koester dit in haar hart.
Baie mense glo vandag dat Jesus op 25 Desember gebore is. Maar Desember is ’n reënerige, koue seisoen in Betlehem. Herders sou nie daardie tyd van die jaar met hulle kuddes in die oop veld oornag nie. Dit is ook onwaarskynlik dat die Romeinse keiser sou vereis dat ’n volk wat reeds tot opstandigheid teen hom geneig was daardie reis in die middel van die winter moes onderneem om geregistreer te word. Jesus is klaarblyklik in die vroeë herfs van daardie jaar gebore. Lukas 2:1-20; Miga 5:1.
▪ Waarom reis Josef en Maria na Betlehem?
▪ Watter wonderlike ding gebeur die nag van Jesus se geboorte?
▪ Hoe weet ons dat Jesus nie op 25 Desember gebore is nie?