Hoofstuk 31
Die dissipels pluk are op die Sabbat
WELDRA verlaat Jesus en sy dissipels Jerusalem en keer hulle terug na Galilea. Dit is lente, en op die lande is daar koringare aan die halms. Die dissipels is honger. Daarom pluk hulle van die are en eet dit. Maar omdat dit ’n Sabbat is, bly wat hulle doen nie onopgemerk nie.
Godsdiensleiers in Jerusalem het pas tevore probeer om Jesus om die lewe te bring weens beweerde skendings van die Sabbat. Nou maak Fariseërs ’n aantyging. “Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie”, sê hulle.
Die Fariseërs beweer dat dit op oes en dors neerkom om are te pluk en dit met die hande uit te vryf om te eet. Maar hulle streng vertolking van werk het die Sabbat ’n las gemaak, terwyl dit bedoel was om ’n vreugdevolle, geestelik opbouende tyd te wees. Daarom antwoord Jesus met skriftuurlike voorbeelde wat toon dat Jehovah God nooit bedoel het dat sy Sabbatwet so onnodig streng toegepas moet word nie.
Jesus sê dat toe Dawid en sy manne honger was hulle by die tabernakel aangegaan en die toonbrode geëet het. Daardie brode was reeds voor Jehovah weggeneem en deur vars brode vervang, en hulle is normaalweg vir die priesters gehou. Tog is Dawid en sy manne onder die omstandighede nie veroordeel omdat hulle dit geëet het nie.
Jesus meld nog ’n voorbeeld en sê: “Het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie?” Ja, selfs op die Sabbat slag die priesters diere en doen ander werk by die tempel om diereoffers voor te berei! “En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier”, sê Jesus.
Jesus bestraf die Fariseërs en sê: “As julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie.” Dan sluit hy af: “Want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.” Wat bedoel Jesus daarmee? Jesus praat van sy vreedsame, duisendjarige Koninkryksbewind.
Die mensdom is nou al 6 000 jaar onderworpe aan moeitevolle slawerny onder Satan die Duiwel, terwyl geweldpleging en oorlog aan die orde van die dag is. Die groot Sabbatsheerskappy van Christus sal daarenteen ’n tyd van rus van al sulke lyding en verdrukking wees. Mattheüs 12:1-8; Levitikus 24:5-9; 1 Samuel 21:1-6; Numeri 28:9; Hosea 6:6.
▪ Watter aantyging word teen Jesus se dissipels gemaak, maar hoe antwoord Jesus daarop?
▪ Op watter tekortkoming van die Fariseërs wys Jesus?
▪ In watter opsig is Jesus ‘Here van die sabbat’?