Hoofstuk 33
Jesaja se profesie word vervul
TOE Jesus agterkom dat die Fariseërs en Herodiane saamsweer om hom dood te maak, gaan hy en sy dissipels terug na die See van Galilea. Hier stroom groot menigtes van orals in Palestina en selfs van buite die landsgrense na hom. Hy genees baie mense, sodat almal met ernstige siektes voorwaarts beur om hom aan te raak.
Omdat die skare so groot is, sê Jesus vir sy dissipels dat ’n skuit altyd vir hom moet klaar lê. Deur van die land af weg te roei, kan hy verhoed dat die menigte hom verdring. Hy kan hulle vanuit die skuit onderrig of na ’n ander gebied langs die kus vaar om die mense daar te help.
Die dissipel Mattheüs meld dat Jesus se werk ’n vervulling is van “wat gespreek is deur Jesaja, die profeet”. Dan haal Mattheüs die profesie aan wat Jesus vervul:
“Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ’n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig. Hy sal nie twis of uitroep nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie. ’n Geknakte riet sal hy nie verbreek nie, en ’n lamppit wat rook, sal Hy nie uitblus nie, totdat Hy die reg tot oorwinning uitbring. En op sy Naam sal die heidene hoop.”
Jesus is natuurlik die geliefde kneg in wie God ’n welbehae het. En Jesus kondig aan wat ware geregtigheid is, iets wat deur valse godsdienstradisies verberg word. As gevolg van hulle onbillike toepassing van God se wet sal die Fariseërs nie eers ’n sieke op die Sabbat help nie! Deur God se geregtigheid aan te kondig, bevry Jesus mense van die las van onregverdige tradisies, en om hierdie rede probeer die godsdiensleiers om hom dood te maak.
Wat beteken dit dat ‘hy nie sal twis of uitroep, sodat sy stem nie op die strate gehoor sal word nie’? Wanneer Jesus mense gesond maak, ‘gee Hy hulle ’n streng bevel dat hulle Hom nie bekend moet maak nie’. Hy wil nie hê dat luidrugtige reklame vir hom op die strate gemaak word of dat verdraaide tydings opgewonde van mond tot mond gaan nie.
Jesus bring ook sy vertroostende boodskap aan mense wat figuurlik soos ’n geknakte riet, oorgebuig en vertrap, is. Hulle is soos ’n smeulende lamppit, waarvan die laaste lewensvonk amper doodgesmoor is. Jesus verbreek nie die geknakte riet en blus nie die flikkerende, rokende pit nie. Maar hy hef die sagmoediges bedrewe met teerheid en liefde op. Jesus is waarlik die een op wie die nasies kan hoop! Mattheüs 12:15-21; Markus 3:7-12; Jesaja 42:1-4.
▪ Hoe kondig Jesus geregtigheid aan, sonder om te twis of op die strate uit te roep?
▪ Wie is soos ’n geknakte riet en ’n lamppit, en hoe behandel Jesus hulle?