Hoofstuk 36
’n Leëroffisier se groot geloof
WANNEER Jesus sy Bergpredikasie hou, is hy omtrent halfpad met sy openbare bediening. Dit beteken dat hy net sowat ’n jaar en nege maande oor het om sy werk op aarde te voltooi.
Jesus gaan nou in die stad Kapernaüm in, wat ’n soort tuisbasis vir sy werksaamhede is. Hier kom ouderlinge van die Jode met ’n versoek na hom toe. Hulle is gestuur deur ’n offisier in die Romeinse leër wat ’n nie-Joodse man is.
Die leëroffisier se dienskneg, vir wie hy baie lief is, lê op sterwe aan ’n ernstige siekte, en hy wil hê dat Jesus sy dienskneg moet genees. Die Jode smeek dringend ten behoewe van die offisier: “Hy is dit werd dat U dit vir hom doen”, sê hulle, “want hy het ons volk lief en het self die sinagoge vir ons gebou.”
Jesus gaan sonder aarseling saam met die manne. Maar wanneer hulle naby kom, stuur die leëroffisier vriende uit om te sê: “Here, moenie moeite doen nie, want ek is nie werd dat U onder my dak inkom nie. Daarom het ek my ook nie waardig geag om na U te gaan nie.”
Watter nederige woorde is dit tog van ’n offisier wat daaraan gewoond is om bevele uit te deel! Maar hy dink waarskynlik ook aan Jesus, omdat hy weet dat dit vir ’n Jood verbode is om sosiale kontak met nie-Jode te hê. Selfs Petrus het gesê: “Julle weet dat dit ongeoorloof is vir ’n Joodse man om met iemand van ’n ander volk omgang te hê of hom te besoek.”
Die offisier wil miskien nie hê dat Jesus die gevolge van ’n skending van hierdie gebruik moet dra nie, en daarom stuur hy sy vriende met die versoek: “Sê dit maar met ’n woord, en my kneg sal gesond word. Want ek is ook ’n man wat aan gesag onderworpe is, en ek het soldate onder my; en vir hierdie een sê ek: Gaan! en hy gaan; en vir ’n ander een: Kom! en hy kom; en vir my dienskneg: Doen dit! en hy doen dit.”
Wel, Jesus verwonder hom toe hy dit hoor. “Ek sê vir julle”, sê hy, “selfs in Israel het Ek so groot ’n geloof nie gevind nie.” Nadat hy die offisier se dienskneg genees het, maak Jesus van die geleentheid gebruik om te vertel hoe gelowige nie-Jode begunstig sal word met seëninge wat deur ongelowige Jode verwerp word.
“Baie”, sê Jesus, “sal kom van ooste en weste en saam met Abraham en Isak en Jakob . . . aansit in die koninkryk van die hemele. Maar die kinders van die koninkryk sal uitgedryf word in die buitenste duisternis. Daar sal geween wees en gekners van die tande.”
“Die kinders van die koninkryk” wat “uitgedryf word in die buitenste duisternis” is natuurlike Jode wat nie die geleentheid aanvaar wat eerste aan hulle gebied word om heersers saam met Christus te wees nie. Abraham, Isak en Jakob stel God se Koninkryksreëling voor. Jesus vertel dus hoe nie-Jode genooi sal word om as ’t ware aan te sit aan die hemelse tafel “in die koninkryk van die hemele”. Lukas 7:1-10; Mattheüs 8:5-13; Handelinge 10:28.
▪ Waarom pleit Jode ten behoewe van ’n nie-Joodse leëroffisier?
▪ Wat is moontlik die rede waarom die offisier Jesus nie in sy huis ingenooi het nie?
▪ Wat bedoel Jesus met sy slotkommentaar?