Hoofstuk 57
Medelye met die geteisterdes
NADAT Jesus die Fariseërs weens hulle selfsugtige oorleweringe veroordeel het, vertrek hy saam met sy dissipels. Jesus het, soos jy dalk kan onthou, kort tevore probeer om saam met sy dissipels weg te kom om ’n bietjie te rus, maar kon nie omdat die skare hulle gevind het. Nou vertrek hy saam met sy dissipels na die streke van Tirus en Sidon, wat ver daarvandaan in die noorde geleë is. Dit is blykbaar die enigste reis wat Jesus buite die grense van Israel saam met sy dissipels onderneem.
Nadat Jesus huisvesting gevind het, laat hy hulle verstaan dat hy nie wil hê iemand moet weet waar hulle tuis is nie. Maar selfs in hierdie nie-Israelitiese gebied kan hy nie onopgemerk bly nie. ’n Griekse vrou, wat hier in Fenicië in Sirië gebore is, vind hom en begin smeek: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete.” Maar Jesus antwoord haar nie ’n woord nie.
Eindelik sê Jesus se dissipels vir hom: “Stuur haar weg, want sy roep agter ons aan.” Jesus verduidelik waarom hy haar ignoreer deur te sê: “Ek is net gestuur na die verlore skape van die huis van Israel.”
Maar die vrou gooi nie tou op nie. Sy kom na Jesus toe en val voor hom neer. Sy smeek: “Here, help my!”
Hoe moet die vrou se vurige gesmeek tog Jesus se hart roer! Hy wys egter weer op sy eerste verantwoordelikheid, om God se volk, Israel, te dien. Waarskynlik om haar geloof te toets, gebruik Jesus terselfdertyd die Jode se bevooroordeelde beskouing van diegene van ander nasionaliteite deur te sê: “Dit is nie mooi om die brood van die kinders te neem en dit vir die hondjies te gooi nie.”
Jesus openbaar ongetwyfeld deur sy deernisvolle stemtoon en gesigsuitdrukking sy eie teergevoeligheid teenoor nie-Jode. Hy versag selfs die vergelyking van heidene met honde deur hulle “hondjies” te noem. Die vrou neem nie aanstoot nie, maar voer eerder Jesus se melding van Joodse vooroordele verder en maak die nederige opmerking: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval.”
“o Vrou, groot is jou geloof”, sê Jesus. “Laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” En dit gebeur so! Toe sy tuiskom, vind sy haar dogter op die bed, heeltemal genees.
Jesus en sy dissipels reis van die kusstreek van Sidon af na die boloop van die Jordaanrivier. Hulle steek die Jordaan blykbaar êrens bokant die See van Galilea oor en kom in die gebied van die Dekapolis oos van die see. Daar klim hulle ’n berg, maar die skare vind hulle en bring hulle kreupeles, verminktes, blindes en stommes, en nog baie ander siekes en gebreklikes, na Jesus toe. Hulle werp hulle feitlik voor Jesus se voete neer, en hy genees hulle. Die mense is verwonderd, want hulle sien die stommes praat, die kreupeles loop en die blindes sien; en hulle verheerlik die God van Israel.
Jesus gee spesiale aandag aan een man wat doof is en wat beswaarlik kan praat. Die dowes raak dikwels maklik verbouereerd, veral wanneer hulle in ’n skare is. Jesus merk moontlik hierdie man se buitengewone senuweeagtigheid op. Daarom neem Jesus hom uit medelye opsy, weg van die skare af. Wanneer hulle alleen is, wys Jesus hom wat hy vir hom gaan doen. Hy steek sy vingers in die man se ore en, nadat hy gespoeg het, raak hy sy tong aan. Daarna kyk Jesus na die hemel op, sug swaar en sê: “Gaan oop!” Daarop word die man se gehoor herstel, en hy kan normaal praat.
Nadat Jesus al hierdie genesings gedoen het, reageer die skare met waardering. Hulle sê: “Hy het alles goed gedoen: die dowes laat Hy hoor en die stommes praat.” Mattheüs 15:21-31; Markus 7:24-37.
▪ Waarom genees Jesus die Griekse vrou se kind nie onmiddellik nie?
▪ Waarheen neem Jesus sy dissipels daarna?
▪ Hoe behandel Jesus die dowe wat beswaarlik kan praat met medelye?