Hoofstuk 69
Die kwessie van vaderskap
TYDENS die fees raak Jesus se bespreking met die Joodse leiers vuriger. “Ek weet dat julle die geslag van Abraham is”, gee Jesus toe, “maar julle probeer om My om die lewe te bring, omdat my woord geen ingang in julle vind nie. Ek spreek van wat Ek by my Vader gesien het, en julle doen ook wat julle by jul vader gesien het.”
Hoewel Jesus hulle vader nie identifiseer nie, stel hy dit duidelik dat sy vader en hulle vader nie dieselfde is nie. Die Joodse leiers weet nie aan wie Jesus dink nie en antwoord: “Ons vader is Abraham.” Hulle meen dat hulle dieselfde geloof het as Abraham, wat God se vriend was.
Maar Jesus skok hulle met die antwoord: “As julle die kinders van Abraham was, sou julle die werke van Abraham doen.” ’n Ware seun volg immers sy vader na. “Maar nou probeer julle om My om die lewe te bring”, sê Jesus, “iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van God gehoor het. Dit het Abraham nie gedoen nie.” Dan sê Jesus weer: “Julle doen die werke van jul vader.”
Hulle begryp nog nie van wie Jesus praat nie. Hulle hou vol dat hulle wettige seuns van Abraham is en sê: “Ons is nie uit ontug gebore nie.” Omdat hulle voorgee dat hulle ware aanbidders soos Abraham is, beweer hulle: “Ons het een Vader, naamlik God.”
Maar is God werklik hulle Vader? “As God julle Vader was”, antwoord Jesus, “sou julle My liefhê, want Ek het uit God uitgegaan en gekom; want Ek het ook nie uit Myself gekom nie, maar Hy het My gestuur. Waarom ken julle my spraak nie?”
Jesus het hierdie godsdiensleiers op die gevolge probeer wys as hulle hom verwerp. Maar nou sê hy reguit: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.” Watter soort vader is die Duiwel? Jesus het hom as ’n moordenaar geïdentifiseer en ook gesê: “Hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (NW). Ten slotte sê Jesus dus: “Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.”
Die Jode, wat kwaad is oor Jesus se veroordeling, antwoord: “Sê ons nie met reg dat U ’n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?” Die woord “Samaritaan” word gebruik as ’n uitdrukking van minagting en ’n belediging, want die Samaritane is ’n volk wat deur die Jode gehaat word.
Jesus ignoreer die smalende aantyging dat hy ’n Samaritaan is en antwoord: “Ek is nie van die duiwel besete nie; maar Ek eer my Vader, en julle doen My oneer aan.” Daarna maak Jesus die verbasende belofte: “As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie sien nie.” Jesus bedoel natuurlik nie dat almal wat hom volg nooit letterlik sal sterf nie. Hy bedoel eerder dat hulle nooit ewige vernietiging, oftewel die “tweede dood”, sal ondergaan waaruit daar geen opstanding is nie.
Maar die Jode neem Jesus se woorde letterlik op. Daarom sê hulle: “Nou weet ons dat U van die duiwel besete is. Abraham het gesterwe en die profete, en U sê: As iemand my woord bewaar, sal hy die dood in der ewigheid nie smaak nie. Is U dan groter as ons vader Abraham wat gesterf het? En die profete het gesterwe. Vir wie gee U Uself uit?”
Dit is duidelik dat Jesus die manne tydens hierdie hele bespreking daarop wys dat hy die beloofde Messias is. Maar in plaas van hulle vraag aangaande sy identiteit reguit te beantwoord, sê Jesus: “As Ek Myself verheerlik, is my heerlikheid niks nie. Dit is my Vader wat my verheerlik, van wie julle sê dat Hy julle God is. En julle ken Hom nie, maar Ek ken Hom; en as Ek sê dat Ek Hom nie ken nie, sal Ek soos julle ’n leuenaar wees.”
Jesus vestig vervolgens weer die aandag op getroue Abraham en sê: “Abraham, julle vader, het hom verheug dat hy my dag sou sien; en hy het dit gesien en het hom verbly.” Ja, Abraham het met die oë van geloof na die koms van die beloofde Messias uitgesien. Die Jode antwoord ongelowig: “U is nog nie vyftig jaar oud nie en het U Abraham gesien?”
“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle”, antwoord Jesus, “voordat Abraham was, is Ek.” Jesus praat natuurlik van sy voormenslike bestaan as ’n magtige geespersoon in die hemel.
Die Jode is woedend oor Jesus se stelling dat hy voor Abraham bestaan het, en hulle tel klippe op om hom te stenig. Maar hy kruip weg en verlaat die tempel ongedeerd. Johannes 8:37-59; Openbaring 3:14; 21:8.
▪ Hoe toon Jesus dat hy en sy vyande nie dieselfde vader het nie?
▪ Wat beteken dit wanneer die Jode Jesus ’n Samaritaan noem?
▪ In watter sin bedoel Jesus dat sy volgelinge die dood nooit sal sien nie?