Hoofstuk 79
’n Verlore volk, maar nie almal nie
KORT na Jesus se gesprek met diegene wat buite ’n Fariseër se huis saamgekom het, vertel ’n paar mense hom “van die Galileërs wie se bloed [die Romeinse goewerneur Pontius] Pilatus met hulle offers gemeng het”. Hierdie Galileërs is moontlik dié wat doodgemaak is toe duisende Jode daarteen beswaar gemaak het dat Pilatus geld uit die tempelskatkis gebruik om ’n akwaduk te bou om water in Jerusalem in te bring. Diegene wat Jesus hiervan vertel, gee dalk te kenne dat die onheil oor die Galileërs gekom het vanweë hulle eie goddelose dade.
Jesus help hulle egter reg en vra: “Dink julle dat hierdie Galileërs groter sondaars was as al die Galileërs, omdat hulle sulke dinge gely het? Nee”, antwoord Jesus. Dan gebruik hy die geleentheid om die Jode te waarsku: “As julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”
Jesus noem nog ’n plaaslike tragedie, wat miskien ook met die bou van die akwaduk verband gehou het. Hy vra: “Of daardie agttien op wie die toring van Siloam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon?” Nee, Jesus sê hierdie mense het nie weens hulle verdorwenheid gesterf nie. “Tyd en lotgeval” is gewoonlik eerder verantwoordelik vir sulke tragedies. Jesus maak nietemin weer eens van die geleentheid gebruik om ’n waarskuwing te gee: “Maar as julle jul nie bekeer nie, sal julle almal net so omkom.”
Jesus vertel vervolgens ’n gepaste gelykenis en verduidelik: “’n Man het ’n vyeboom gehad wat in sy wingerd geplant was, en hy het gekom en vrugte daaraan gesoek en niks gekry nie. Toe sê hy vir die tuinier: Kyk, drie jaar kom ek om vrugte aan hierdie vyeboom te soek en ek kry niks nie; kap hom uit. Waarvoor maak hy die grond nog onvrugbaar? Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap.”
Jesus het meer as drie jaar lank probeer om geloof onder die Joodse volk op te bou. Maar slegs ’n paar honderd dissipels kon as vrugte van sy werke getel word. Nou, gedurende hierdie vierde jaar van sy bediening, verskerp hy sy pogings, en spit en gooi hy in simboliese sin mis rondom die Joodse vyeboom deur ywerig in Judea en Perea te preek en te onderrig. Maar dit is tevergeefs! Die volk weier om hulle te bekeer en stuur dus op vernietiging af. Slegs ’n oorblyfsel van die volk slaan daarop ag.
Kort hierna onderrig Jesus op ’n Sabbat in ’n sinagoge. Daar sien hy ’n vrou wat al 18 jaar inmekaargetrek is, omdat sy deur ’n demon geteister word. Jesus spreek haar medelydend aan: “Vrou, jy is van jou krankheid verlos.” Toe lê hy haar die hande op, en sy het onmiddellik regop gestaan en God begin verheerlik.
Maar die owerste van die sinagoge is woedend. “Daar is ses dae waarop ’n mens behoort te werk”, maak hy beswaar. “Kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie.” Die owerste erken dus Jesus se krag om te genees, maar veroordeel die mense omdat hulle kom om op die Sabbat genees te word!
“Jou geveinsde”, antwoord Jesus, “maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou wat ’n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan!—agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?”
Wel, toe diegene wat Jesus teenstaan dit hoor, word hulle skaam. Maar die skare is verheug oor al die wonderlike dinge wat hulle Jesus sien doen. Jesus reageer deur twee profetiese gelykenisse oor die Koninkryk van God te herhaal wat hy ongeveer ’n jaar gelede uit ’n skuit op die See van Galilea vertel het. Lukas 13:1-21; Prediker 9:11; Mattheüs 13:31-33.
▪ Watter tragedies word hier gemeld, en watter les trek Jesus daaruit?
▪ Watter toepassing kan gemaak word ten opsigte van die onvrugbare vyeboom, asook die pogings om dit vrugbaar te maak?
▪ Hoe erken die owerste Jesus se vermoë om te genees, maar hoe openbaar Jesus nogtans die man se geveinsdheid?