Hoofstuk 81
Nog pogings om Jesus dood te maak
AANGESIEN dit winter is, loop Jesus in die beskutte deel wat as die pilaargang van Salomo bekendstaan. Dit is langs die tempel. Hier omring Jode hom en begin sê: “Hoe lank hou U ons in onsekerheid? As U die Christus is, sê dit vir ons ronduit.”
“Ek het dit vir julle gesê”, antwoord Jesus, “en julle glo nie.” Jesus het nie direk vir hulle gesê dat hy die Christus is, soos hy vir die Samaritaanse vrou by die put gesê het nie. Nogtans het hy in werklikheid sy identiteit geopenbaar toe hy vir hulle verduidelik het dat hy van bo is en voor Abraham bestaan het.
Jesus wil egter hê dat mense self tot die slotsom moet kom dat hy die Christus is deur sy werke te vergelyk met wat die Bybel voorspel het die Christus sou doen. Dit is waarom hy sy dissipels vroeër beveel het om vir niemand te sê dat hy die Christus is nie. En dit is waarom hy nou vir hierdie vyandige Jode sê: “Die werke wat Ek doen in die Naam van my Vader, dié getuig van My. Maar julle glo nie.”
Waarom glo hulle nie? Weens ’n gebrek aan bewyse dat Jesus die Christus is? Nee, maar Jesus gee die rede wanneer hy vir hulle sê: “Julle is nie van my skape nie . . . My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My. En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie. My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.”
Jesus beskryf dan sy hegte verhouding met sy Vader en verduidelik: “Ek en die Vader is een.” Aangesien Jesus op die aarde en sy Vader in die hemel is, is dit duidelik dat hy nie sê dat hy en sy Vader letterlik, of liggaamlik, een is nie. Hy bedoel eerder dat hulle een is wat voorneme betref, dat hulle eensgesind is.
Die Jode is kwaad oor Jesus se woorde en tel klippe op om hom te stenig, net soos hulle vroeër gedurende die Huttefees gedoen het. Jesus is moedig voor sy voornemende moordenaars en sê: “Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My?”
“Ons stenig u nie oor ’n voortreflike werk nie”, antwoord hulle, “maar oor godslastering, ja, omdat u wat ’n mens is, uself tot ’n god maak” (NW). Waarom sê die Jode dit, aangesien Jesus nooit beweer het dat hy ’n god is nie?
Dit is klaarblyklik omdat Jesus kragte aan homself toeskryf wat na hulle mening uitsluitlik aan God behoort. Hy het byvoorbeeld so pas van die “skape” gesê: “Ek gee hulle die ewige lewe”, iets wat geen mens kan doen nie. Die Jode ignoreer egter die feit dat Jesus erken dat hy mag van sy Vader ontvang.
Jesus toon vervolgens dat hy nie groter as God is nie deur te vra: “Is daar nie in julle wet [in Psalm 82: 6] geskrywe: Ek het gesê, julle is gode nie? As dit húlle gode noem tot wie die woord van God gekom het, . . . sê julle vir Hom wat die Vader geheilig en in die wêreld gestuur het: U spreek godslasterlik—omdat Ek gesê het: Ek is die Seun van God?”
Watter fout kan hierdie Jode daarmee vind as Jesus sê: “Ek is die Seun van God”, aangesien die Skrif selfs onregverdige menseregters “gode” noem? Jesus sê voorts: “As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom.”
Toe Jesus dit sê, probeer die Jode hom gevange neem. Maar hy ontglip hulle, soos hy hulle vroeër by die Huttefees ontglip het. Hy verlaat Jerusalem en reis oor die Jordaanrivier na waar Johannes byna vier jaar gelede begin doop het. Hierdie plek is blykbaar nie ver van die suidkus van die See van Galilea nie, ongeveer ’n tweedaagse reis van Jerusalem af.
Baie mense kom hier na Jesus toe en begin sê: “Johannes het wel geen tekens gedoen nie, maar alles wat Johannes van Hom gesê het, was waar.” Baie glo dus hier in Jesus. Johannes 10:22-42; 4:26; 8:23, 58; Mattheüs 16:20.
▪ Waardeur wil Jesus hê moet mense hom as die Christus identifiseer?
▪ Hoe is Jesus en sy Vader een?
▪ Waarom sê die Jode klaarblyklik dat Jesus homself ’n god maak?
▪ Hoe toon Jesus se aanhaling uit die Psalms dat hy nie beweer dat hy aan God gelyk is nie?