Hoofstuk 83
Onthaal deur ’n Fariseër
JESUS is nog steeds in die huis van ’n prominente Fariseër, en hy het so pas ’n man van watersug genees. Terwyl Jesus sien hoe medegaste die voorste plekke vir die maaltyd uitsoek, gee hy ’n les oor nederigheid.
“Wanneer jy deur iemand na ’n bruilof uitgenooi is”, verduidelik Jesus dan, “moenie die voorste plek inneem nie, ingeval daar nie miskien een wat waardiger is as jy deur hom uitgenooi is nie, en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: Maak plek vir hierdie man. En dan sal jy met skaamte die agterste plek begin inneem.”
Jesus se raad is dus: “Maar wanneer jy genooi is, gaan en neem die agterste plek in; sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, hy vir jou kan sê: Vriend, gaan hoër op! Dan sal jy eer hê voor die wat saam met jou aan tafel is.” Jesus sê ten slotte: “Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en wat homself verneder, sal verhoog word.”
Jesus praat daarna met die Fariseër wat hom uitgenooi het en beskryf hoe ’n mens ’n ete kan gee wat werklik verdienstelik is in God se oë. “Wanneer jy ’n môre- of middagete gee, moenie jou vriende nooi, of jou broers of bloedverwante of ryk bure nie, sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer uitnooi en jy vergelding ontvang nie. Maar wanneer jy ’n feesmaal gee, nooi armes, verminktes, kreupeles, blindes, en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie.”
Die persoon wat so ’n ete vir die ongelukkiges gee, sal geluk daaruit put, want, verduidelik Jesus vir sy gasheer: “Dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges.” Jesus se beskrywing van hierdie verdienstelike ete laat ’n medegas aan ’n ander soort ete dink. “Salig is hy wat brood eet in die koninkryk van God”, sê hierdie gas. Maar nie almal waardeer daardie gelukkige vooruitsig genoeg nie, soos Jesus voorts deur middel van ’n gelykenis toon.
“’n Sekere man het ’n groot maaltyd gegee en baie mense uitgenooi. En . . . hy [het] sy dienskneg uitgestuur om vir die genooides te sê: Kom, want alles is nou gereed. En hulle het hul almal eenparig begin verontskuldig. Die eerste het vir hom gesê: Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet noodsaaklik uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u, verskoon my tog. En ’n ander een het gesê: Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle probeer. Ek vra u, verskoon my tog. En ’n ander een het gesê: Ek het ’n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.”
Watter flou verskonings! Mense kyk gewoonlik na ’n stuk grond of diere voordat hulle dit koop, daarom is dit nie werklik dringend om na die tyd daarna te gaan kyk nie. Iemand se huwelik moet hom eweneens nie verhinder om so ’n belangrike uitnodiging te aanvaar nie. Wanneer die heer van hierdie verskonings hoor, raak hy kwaad en beveel hy sy dienskneg:
“Gaan gou uit in die strate en die gangetjies van die stad en bring die armes en verminktes en kreupeles en blindes hier in. En die dienskneg het gesê: Meneer, wat u beveel het, is gedoen, en daar is nog plek. Toe sê die heer vir die dienskneg: Gaan uit op die paaie en na die lanings en dwing hulle om in te kom, sodat my huis vol kan word. . . . Nie een van daardie manne wat genooi is, [sal] my maaltyd . . . smaak nie.”
Watter situasie word deur die gelykenis beskryf? Wel, “die heer” wat die maaltyd gee, beeld Jehovah God af; “die dienskneg” wat die uitnodiging rig, Jesus Christus; en die “groot maaltyd”, die geleenthede om vir die Koninkryk van die hemele in aanmerking te kom.
Diegene wat eerste die uitnodiging ontvang het om in aanmerking te kom vir die Koninkryk was, in die besonder, die Joodse godsdiensleiers van Jesus se dag. Maar hulle het die uitnodiging verwerp. Daarom is ’n tweede uitnodiging, veral sedert Pinkster van 33 G.J., tot die veragtes en geringes van die Joodse nasie gerig. Maar nie genoeg het gereageer om die 144 000 plekke in God se hemelse Koninkryk te vul nie. Die derde en finale uitnodiging is gevolglik in 36 G.J., drie en ’n half jaar later, tot onbesnede nie-Jode gerig, en die insameling van daardie persone het tot in ons dag voortgeduur. Lukas 14:1-24.
▪ Watter les oor nederigheid gee Jesus?
▪ Hoe kan ’n gasheer ’n ete gee wat verdienstelik in God se oë is, en waarom sal dit hom geluk bring?
▪ Waarom is die genooide gaste se verskonings flou?
▪ Wat beeld Jesus se gelykenis oor die “groot maaltyd” af?