Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • gt hfst. 88
  • Die ryk man en Lasarus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die ryk man en Lasarus
  • Die grootste mens wat nog geleef het
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering
  • Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Die ryk man en Lasarus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • ’n Verandering vir die ryk man en vir Lasarus
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
  • Die ryk man en Lasarus—Wat is die les?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die grootste mens wat nog geleef het
gt hfst. 88

Hoofstuk 88

Die ryk man en Lasarus

JESUS het met sy dissipels gepraat oor die behoorlike gebruik van materiële rykdom en verduidelik dat ons nie die slawe daarvan en terselfdertyd slawe van God kan wees nie. Die Fariseërs luister ook, en hulle begin om Jesus te bespot, want hulle is geldgierig. Hy sê dus vir hulle: “Dit is julle wat julself regverdig voor die mense, maar God ken julle harte; want wat by die mens hoog geag word, is ’n gruwel voor God.”

Die tyd het aangebreek dat die bordjies verhang moet word vir mense wat ’n oorvloed van wêreldse besittings, politieke mag en godsdiensbeheer en -invloed het. Hulle moet verlaag word. Maar diegene wat hulle geestelike behoefte erken, moet verhoog word. Jesus wys op so ’n verandering wanneer hy voorts vir die Fariseërs sê:

“Die wet en die profete was tot op Johannes [die Doper]; van toe af word die evangelie van die koninkryk van God verkondig, en elkeen dring met geweld daarin. Maar dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.”

Die skrifgeleerdes en die Fariseërs is trots op hulle verklaarde onderhouding van die Wet van Moses. Onthou, toe Jesus ’n sekere man in Jerusalem wonderbaarlik laat sien het, het hulle gespog: “Ons is dissipels van Moses. Ons weet dat God met Moses gespreek het.” Maar nou het die Wet van Moses sy doel bereik, naamlik om nederiges na God se aangewese Koning, Jesus Christus, te lei. Toe Johannes se bediening begin het, het allerhande mense, veral die nederiges en die armes, hulle derhalwe ingespan om onderdane van God se Koninkryk te word.

Aangesien die Mosaïese Wet nou vervul word, sal die verpligting om dit te onderhou, opgehef word. Die Wet laat egskeiding om verskeie redes toe, maar Jesus sê nou: “Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe oor hoerery, en ’n ander een trou, pleeg egbreuk; en die wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk.” Hoe irriteer sulke woorde die Fariseërs tog, veral aangesien hulle egskeiding om baie redes toelaat!

Jesus praat verder met die Fariseërs en vertel ’n gelykenis van twee manne wie se status, of situasie, uiteindelik ingrypend verander word. Kan jy vasstel wie die mans voorstel en wat die ommekeer van hulle situasies beteken?

“En daar was ’n ryk man”, verduidelik Jesus, “en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe. En daar was ’n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het. En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.”

Jesus gebruik hier die ryk man om die Joodse godsdiensleiers voor te stel, wat nie net die Fariseërs en die skrifgeleerdes insluit nie maar ook die Sadduseërs en die owerpriesters. Hulle het ’n oorvloed van geestelike voorregte en geleenthede, en hulle tree op soos die ryk man. Hulle klere van koninklike purper stel hulle begunstigde posisie voor, en die wit linne beeld hulle eiegeregtigheid af.

Hierdie trotse “ryk man”-klas verag die arm, gewone mense en noem hulle ‛am ha·’aʹrets, of mense van die aarde. Die bedelaar Lasarus beeld dus hierdie mense af vir wie die godsdiensleiers nie behoorlike geestelike voeding en voorregte gun nie. Soos Lasarus wat vol swere is, word die gewone mense dus verag as mense wat geestelik siek is en alleenlik geskik is om tussen honde te wees. Tog honger en dors diegene van die Lasarus-klas na geestelike voeding en is hulle derhalwe by die poort om enige krummeltjies geestelike voedsel te ontvang wat dalk van die ryk man se tafel sou afval.

Jesus beskryf nou vervolgens veranderinge in die toestand van die ryk man en Lasarus. Wat is hierdie veranderinge, en wat stel dit voor?

Die ryk man en Lasarus ondergaan ’n verandering

Die ryk man stel die godsdiensleiers voor wat met geestelike voorregte en geleenthede begunstig is, en Lasarus beeld die gewone mense af wat honger na geestelike voeding. Jesus sit sy vertelling voort en beskryf ’n dramatiese verandering in hierdie mans se omstandighede.

“En toe die bedelaar sterf”, sê Jesus, “is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham. En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.”

Aangesien die ryk man en Lasarus nie letterlike persone is nie maar klasse mense simboliseer, is hulle dood logieserwys ook simbolies. Wat word deur hulle dood gesimboliseer, of voorgestel?

Jesus het so pas op ’n verandering in omstandighede gewys deur te sê dat ‘die wet en die profete tot op Johannes die Doper was, maar dat die koninkryk van God van toe af verkondig word’. Dit is dus met die prediking van Johannes en Jesus Christus dat die ryk man en Lasarus sterf wat hulle vorige omstandighede, of toestand, betref.

Diegene van die nederige, berouvolle Lasarus-klas sterf wat hulle vorige geestelik verwaarloosde toestand betref en kom in ’n posisie van goddelike guns. Waar hulle voorheen op die godsdiensleiers staatgemaak het vir die bietjie wat van die geestelike tafel afgeval het, voorsien die skriftuurlike waarhede wat Jesus gee nou in hulle behoeftes. Hulle word dus in die boesem, of begunstigde posisie, van die Grotere Abraham, Jehovah God, gebring.

Aan die ander kant kom diegene wat die “ryk man”-klas uitmaak in goddelike onguns omdat hulle aanhou om die Koninkryksboodskap wat Jesus leer te verwerp. Hulle sterf derhalwe wat hulle vorige posisie van oënskynlike guns betref. Trouens, daar word gesê dat hulle figuurlike pyniging ondergaan. Luister nou terwyl die ryk man praat:

“Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.” God se vurige oordeelsboodskappe wat deur Jesus se dissipels verkondig word, pynig lede van die “ryk man”-klas. Hulle wil hê dat die dissipels moet ophou om hierdie boodskappe te verkondig en sodoende hulle pyniging ietwat verlig.

“Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte. En by dit alles is daar tussen ons en julle ’n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.”

Hoe regverdig en gepas dat so ’n dramatiese ommekeer tussen die Lasarus-klas en die “ryk man”-klas plaasvind! Die verandering in toestand vind ’n paar maande later op Pinkster 33 G.J. plaas wanneer die ou Wetsverbond deur die nuwe verbond vervang word. Dit word dan onmiskenbaar dat die dissipels, nie die Fariseërs en ander godsdiensleiers nie, God se guns wegdra. Die “groot kloof” wat die simboliese ryk man van Jesus se dissipels skei, stel derhalwe God se onveranderlike, regverdige oordeel voor.

Die ryk man versoek “vader Abraham” vervolgens: “[Stuur Lasarus] na my vader se huis . . . want ek het vyf broers.” Die ryk man erken dus dat hy ’n intiemer verhouding met ’n ander vader het, wat in werklikheid Satan die Duiwel is. Die ryk man versoek dat Lasarus God se oordeelsboodskappe afwater sodat sy “vyf broers”, sy godsdiensbondgenote, nie in “hierdie plek van pyniging” kom nie.

“Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.” Ja, as die “vyf broers” pyniging wil vryspring, moet hulle net ag slaan op die geskrifte van Moses en die Profete wat Jesus as die Messias identifiseer en dan sy dissipels word. Maar die ryk man maak beswaar: “Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.”

Maar daar word vir hom gesê: “As hulle na Moses en die profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” God sal nie spesiale tekens of wonderwerke voorsien om mense te oortuig nie. Hulle moet die Skrif lees en toepas as hulle sy guns wil hê. Lukas 16:14-31; Johannes 9:28, 29; Mattheüs 19:3-9; Galasiërs 3:24; Kolossense 2:14; Johannes 8:44.

▪ Waarom moet die dood van die ryk man en Lasarus simbolies wees, en wat stel hulle dood voor?

▪ Watter verandering vind volgens Jesus aan die begin van Johannes se bediening plaas?

▪ Wat sal na Jesus se dood opgehef word, en hoe sal dit die kwessie van egskeiding raak?

▪ Wie word in Jesus se gelykenis deur die ryk man en deur Lasarus voorgestel?

▪ Wat is die pyniging wat die ryk man ondergaan, en waardeur wil hy verligting kry?

▪ Wat stel die “groot kloof” voor?

▪ Wie is die ryk man se ware vader, en wie is sy vyf broers?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel