Hoofstuk 92
Tien melaatses word genees gedurende Jesus se laaste reis na Jerusalem
JESUS verydel die Sanhedrin se pogings om hom dood te maak deur Jerusalem te verlaat en na die stad Efraim, moontlik net sowat 24 kilometer noordoos van Jerusalem, te reis. Hy bly daar saam met sy dissipels, weg van sy vyande af.
Maar die tyd vir die Pasga van 33 G.J. kom nader, en kort voor lank is Jesus weer op pad. Hy reis deur Samaria en op tot in Galilea. Dit is sy laaste besoek aan hierdie gebied voor sy dood. Terwyl hy en sy dissipels in Galilea is, sluit hulle waarskynlik by ander aan wat op pad is na Jerusalem vir die Pasgaviering. Hulle volg die roete deur die Pereagebied, oos van die Jordaanrivier.
Aan die begin van die reis kom Jesus tien mans met melaatsheid teë, terwyl hy ’n dorp in Samaria of in Galilea ingaan. Hierdie verskriklike siekte vreet geleidelik ’n persoon se liggaamsdele weg—sy vingers, sy tone, sy ore, sy neus en sy lippe. Sodat ander nie aangesteek word nie, sê God se Wet oor ’n melaatse: “Hy [moet] sy baard bedek en roep: Onrein, onrein! Al die tyd dat die plaag op hom is, sal hy onrein wees. . . . Alleen moet hy woon.”
Die tien melaatses onderhou die Wet se beperkinge vir melaatses en hulle bly ver van Jesus af staan. Nogtans roep hulle met harde stemme uit: “Jesus, Meester, wees ons barmhartig!”
Jesus sien hulle op ’n afstand en beveel hulle: “Gaan vertoon julle aan die priesters.” Jesus sê dit omdat God se Wet die priesters die reg gee om melaatses wat van hulle siekte herstel het gesond te verklaar. Sulke persone ontvang sodoende toestemming om weer saam met gesonde mense te woon.
Die tien melaatses stel vertroue in Jesus se wonderdadige kragte. Gevolglik haas hulle hul om die priesters te gaan spreek, al is hulle nog nie genees nie. Terwyl hulle op pad is, word hulle geloof in Jesus beloon. Hulle sien en voel dat hulle gesond word!
Nege van die gereinigde melaatses gaan op hul weg voort, maar die ander melaatse, ’n Samaritaan, kom terug om Jesus te soek. Waarom? Omdat hy so dankbaar is vir wat met hom gebeur het. Hy verheerlik God met ’n groot stem, en toe hy Jesus vind, val hy aan sy voete neer en dank hom.
In antwoord sê Jesus: “Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?”
Dan sê hy vir die Samaritaanse man: “Staan op en gaan; jou geloof het jou gered.”
Wanneer ons lees hoe Jesus die tien melaatses genees het, moet ons die les ter harte neem wat sy vraag: “En waar is die nege?” impliseer. Die ondankbaarheid wat die nege getoon het, is ’n ernstige tekortkoming. Sal ons, soos die Samaritaan, dankbaarheid betoon vir die dinge wat ons van God ontvang, wat die gewisse belofte van ewige lewe in God se regverdige nuwe wêreld insluit? Johannes 11:54, 55; Lukas 17:11-19; Levitikus 13:16, 17, 45, 46; Openbaring 21:3, 4.
▪ Hoe verydel Jesus pogings om hom dood te maak?
▪ Waarheen reis Jesus vervolgens, en wat is sy bestemming?
▪ Waarom staan die melaatses op ’n afstand, en waarom sê Jesus vir hulle om na die priesters te gaan?
▪ Watter les behoort hierdie ondervinding ons te leer?