Hoofstuk 114
Die Gedenkmaal
NADAT Jesus sy apostels se voete gewas het, haal hy die teks in Psalm 41:10 aan en sê: “Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” Dan word hy in sy gees ontsteld en verduidelik: “Een van julle sal My verraai.”
Die apostels word bedroef en sê een vir een vir Jesus: “Is dit miskien ek?” Selfs Judas Iskariot vra dit. Johannes, wat langs Jesus aan tafel lê, leun terug teen Jesus se bors en vra: “Here, wie is dit?”
“Dit is die een van die twaalf wat saam met My sy hand in die skottel insteek”, antwoord Jesus. “Die Seun van die mens gaan wel heen soos daar van Hom geskrywe is; maar wee daardie man deur wie die Seun van die mens verraai word! Dit sou vir hom goed gewees het as daardie man nie gebore was nie.” Daarna vaar Satan weer in Judas in, en maak gebruik van die swakheid in sy hart, ’n hart wat goddeloos geword het. Later daardie aand noem Jesus Judas gepas “die seun van die verderf”.
Jesus sê nou vir Judas: “Wat jy doen, doen dit haastig.” Nie een van die ander apostels verstaan wat Jesus bedoel nie. Party dink dat aangesien Judas die beurs het, Jesus vir hom sê: “Koop wat ons nodig het vir die fees”, of dat hy iets vir die armes moet gaan gee.
Ná Judas geloop het, stel Jesus ’n heeltemal nuwe viering, of herdenking, saam met sy getroue apostels in. Hy neem ’n brood, doen ’n dankgebed, breek dit en gee dit vir hulle terwyl hy sê: “Neem, eet.” Hy verduidelik: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word; doen dit tot my gedagtenis.”
Nadat elkeen van die brood geëet het, neem Jesus ’n beker wyn, blykbaar die vierde beker wat in die Pasgadiens gebruik is. Hy doen ook ’n dankgebed daarvoor, gee dit vir hulle, vra hulle om daarvan te drink, en sê: “Hierdie beker is die nuwe testament [“verbond”, NW] in my bloed wat vir julle uitgestort word.”
Dit is dus in werklikheid ’n herdenking van Jesus se dood. Soos Jesus sê, moet dit elke jaar op 14 Nisan herhaal word tot sy gedagtenis. Dit sal diegene wat dit vier, herinner aan wat Jesus en sy hemelse Vader gedoen het om die mensdom van die veroordeling tot die dood te verlos. Vir die Jode wat Christus se volgelinge word, sal dié viering die Pasga vervang.
Die nuwe verbond, wat deur Jesus se vergote bloed bekragtig word, vervang die ou Wetsverbond. Jesus Christus is die middelaar tussen twee partye—aan die een kant, Jehovah God, en aan die ander kant, 144 000 geesverwekte Christene. Buiten die vergifnis van sondes maak die verbond voorsiening vir die verwekking van ’n hemelse nasie van koning-priesters. Mattheüs 26:21-29; Markus 14:18-25; Lukas 22:19-23; Johannes 13:18-30; 17:12; 1 Korinthiërs 5:7.
▪ Watter Bybelprofesie haal Jesus aangaande ’n metgesel aan, en hoe verduidelik hy dit?
▪ Waarom word die apostels baie bedroef, en wat vra hulle almal?
▪ Wat sê Jesus moet Judas doen, maar hoe verstaan die ander apostels hierdie instruksies?
▪ Watter viering stel Jesus in ná Judas geloop het, en wat is die doel daarvan?
▪ Wie is die partye in die nuwe verbond, en wat word deur die verbond tot stand gebring?