Hoofstuk 115
’n Woordewisseling ontstaan
JESUS het sy apostels vroeër die aand, toe hy hulle voete gewas het, ’n pragtige les in nederige diens geleer. Daarna het hy die herdenking van sy naderende dood ingestel. Nou, veral met die oog op wat so pas plaasgevind het, gebeur daar iets verbasends. Sy apostels raak in ’n hewige woordewisseling gewikkel oor wie van hulle nou eintlik die grootste is! Dit is blykbaar deel van ’n voortgesette stryery.
Jy sal dalk onthou dat die apostels, nadat Jesus op die berg verheerlik is, gestry het oor wie die grootste onder hulle is. Daarbenewens het Jakobus en Johannes om vername posisies in die Koninkryk gevra, wat tot ’n verdere stryery onder die apostels gelei het. Hoe hartseer moet dit Jesus tog maak wanneer hy sien dat hulle nou, sy laaste aand saam met hulle, weer stry! Wat doen hy?
Pleks van sy apostels uit te trap oor hulle optrede, redeneer Jesus weer eens geduldig met hulle: “Die konings van die nasies heers oor hulle, en die wat gesag voer oor hulle, word weldoeners genoem. Maar so moet julle nie wees nie; . . . Want wie is groter: die een wat aan tafel is, of die een wat dien? Is dit nie hy wat aan tafel is nie?” Dan herinner hy hulle aan sy voorbeeld en sê: “Maar Ek is onder julle soos een wat dien.”
Die apostels het ondanks hulle tekortkominge by Jesus gebly in sy beproewinge. Hy sê dus: “Ek sluit ’n verbond met julle, net soos my Vader ’n verbond met my gesluit het, vir ’n koninkryk” (NW). Hierdie persoonlike verbond tussen Jesus en sy lojale volgelinge verenig hulle met hom om sy koninklike heerskappy te deel. Net ’n beperkte getal van 144 000 word eindelik in hierdie verbond vir ’n Koninkryk opgeneem.
Hoewel die apostels die wonderlike vooruitsig het om met Christus in sy Koninkryksheerskappy te deel, is hulle op die oomblik geestelik swak. “Julle sal almal in hierdie nag aanstoot neem aan My”, sê Jesus. Maar Jesus sê vir Petrus dat Hy vir hom gebid het, en spoor hom aan: “Wanneer jy eendag teruggekeer het, moet jy jou broeders versterk.”—NW.
“My kinders”, verduidelik Jesus, “nog ’n klein tydjie is Ek by julle. Julle sal My soek, en soos Ek vir die Jode gesê het: Waar Ek heengaan, kan julle nie kom nie—so sê Ek nou ook vir julle. ’n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.”
“Here, waar gaan U heen?” vra Petrus.
“Waar Ek heengaan, kan jy My nou nie volg nie”, antwoord Jesus, “maar later sal jy My volg.”
“Here, waarom kan ek U nie nou volg nie?” wil Petrus weet. “Ek sal my lewe vir U gee.”
“Sal jy jou lewe vir My gee?” vra Jesus. “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, die haan sal sekerlik nie kraai voordat jy My drie maal verloën het nie.”
“Al moes ek ook saam met U sterwe”, protesteer Petrus, “ek sal U nooit verloën nie!” En terwyl die ander apostels ook so sê, spog Petrus: “Al sal almal ook aanstoot aan U neem, ek sal nooit aanstoot neem nie.”
Jesus verwys na die tyd toe hy die apostels sonder beurs en reissak op ’n predikingsreis deur Galilea gestuur het en vra: “Het julle iets kortgekom?”
“Niks nie”, antwoord hulle.
“Maar nou, wie ’n beurs het, laat hom dit neem en so ook die reissak”, sê hy, “en wie dit nie het nie, moet sy kleed verkoop en ’n swaard koop. Want Ek sê vir julle dat dít wat geskrywe is, nog aan My vervul moet word: En Hy is saam met misdadigers gereken. Want ook aan die dinge wat betrekking het op My, kom daar ’n einde.”
Jesus praat van die tyd wanneer hy saam met kwaaddoeners, of misdadigers, aan ’n paal gehang sal word. Hy toon ook dat sy volgelinge daarna voor kwaai vervolging te staan sal kom. “Here, kyk hier is twee swaarde”, sê hulle.
“Dit is genoeg”, antwoord hy. Soos ons sal sien, sal die feit dat hulle die swaarde by hulle het Jesus binnekort die geleentheid gee om hulle nog ’n belangrike les te leer. Mattheüs 26:31-35; Markus 14:27-31; Lukas 22:24-38; Johannes 13:31-38; Openbaring 14:1-3.
▪ Waarom is die apostels se woordewisseling so verbasend?
▪ Hoe hanteer Jesus die woordewisseling?
▪ Wat word bewerkstellig deur die verbond wat Jesus met sy dissipels maak?
▪ Watter nuwe gebod gee Jesus, en hoe belangrik is dit?
▪ Hoe lê Petrus te veel selfvertroue aan die dag, en wat sê Jesus?
▪ Waarom verskil Jesus se opdrag oor die beurs en reissak van die opdrag wat hy vroeër gegee het?