Hoofstuk 123
“Dáár is die mens!”
PILATUS is beïndruk deur Jesus se gedrag en besef dat hy onskuldig is; daarom probeer hy ’n ander manier soek om hom vry te laat. “Julle het ’n gewoonte”, sê hy vir die skare, “dat ek vir julle op die pasga iemand moet loslaat.”
Barabbas, ’n berugte moordenaar, word ook gevange gehou, en Pilatus vra dus: “Wie wil julle hê moet ek vir julle loslaat: Barabbas, of Jesus wat genoem word Christus?”
Die owerpriesters het die volk egter opgehits, en hulle vra dat Barabbas vrygelaat moet word maar dat Jesus doodgemaak moet word. Pilatus gooi egter nie tou op nie en vra weer: “Wie van die twee wil julle hê moet ek vir julle loslaat?”
“Barabbas!” skreeu hulle.
“Wat moet ek dan doen met Jesus wat genoem word Christus?” vra Pilatus ontsteld.
Met een oorverdowende uitroep, antwoord hulle: “Aan die paal met hom!” “Aan die paal! Aan die paal met hom!”—NW.
Pilatus weet dat hulle die dood van ’n onskuldige man eis en pleit: “Watter kwaad het Hy dan gedoen? Ek het in Hom niks gevind wat die dood verdien nie. Ek sal Hom dan kasty en loslaat.”
Ondanks sy pogings hou die woedende skare, wat deur hulle godsdiensleiers aangehits word, aan met skreeu: “Aan die paal met hom!” Die skare wat deur die priesters tot raserny opgesweep is, is bloeddorstig. En dink net, sommige van hulle was waarskynlik net vyf dae vantevore onder diegene wat Jesus as Koning in Jerusalem verwelkom het! Jesus se dissipels bly stil, indien hulle teenwoordig is, en hou hulle eenkant.
Pilatus sien dat sy pleidooie niks help nie, maar dat daar eerder ’n oproer ontstaan, en neem water en was sy hande voor die skare en sê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie regverdige man; julle kan toesien!” Toe antwoord die volk: “Laat sy bloed op ons en op ons kinders kom!”
Ooreenkomstig hulle eise—en in ’n poging om die skare tevrede te stel, pleks van te doen wat hy weet reg is—laat Pilatus dus Barabbas vir hulle vry. Hy neem Jesus en gee opdrag dat sy klere uitgetrek en hy gegesel word. Dit was nie sommer net gewone slae met ’n sweep nie. The Journal of the American Medical Association beskryf die Romeinse gebruik van geseling:
“Die instrument was gewoonlik ’n kort sweep (gesel) met etlike enkel of gevlegte leerriempies van verskillende lengtes, waaraan klein ysterbolletjies of skerp stukkies skaapbeen op ’n paar plekke vasgeknoop is. . . . Wanneer die Romeinse soldate met al hulle krag herhaaldelik op die slagoffer se rug geslaan het, het die ysterbolletjies diep kneusplekke veroorsaak, en die leerriempies en skaapbene het in die vel en die weefsel onder die vel ingesny. Die skeurwonde het dan, terwyl die geseling voortgeduur het, tot in die onderliggende skeletspiere ingeskeur en bewende flenters bloeiende vlees tot gevolg gehad.”
Ná hierdie pynlike slae word Jesus in die goewerneur se paleis ingeneem, en die hele leërafdeling word bymekaar gebring. Daar bespot die soldate hom verder deur ’n kroon van dorings te vleg en dit op sy kop te druk. Hulle plaas ’n riet in sy regterhand en hulle klee hom met ’n purperkleed, die soort wat deur koninklikes gedra word. Dan sê hulle spottend vir hom: “Wees gegroet, Koning van die Jode!” Hulle spoeg ook op hom en klap hom deur sy gesig. Hulle neem die stewige riet uit sy hand en gebruik dit om hom oor sy kop te slaan en dryf sodoende die skerp dorings van sy vernederende “kroon” selfs dieper in sy kopvel in.
Jesus se buitengewone waardigheid en krag te midde van hierdie mishandeling beïndruk Pilatus sodat hy beweeg word om hom weer te probeer bevry. “Kyk, ek bring Hom vir julle buitentoe, sodat julle kan weet dat ek in Hom geen skuld vind nie”, sê hy vir die skare. Hy dink waarskynlik dat hulle harte sal versag as hulle Jesus se gemartelde toestand sien. Terwyl Jesus voor die hartelose skare staan, met die doringkroon op sy kop en die purperkleed om hom en met sy bloeiende gesig wat vertrek is van pyn, verklaar Pilatus: “Dáár is die mens!”
Hoewel hy pimpel en pers geslaan is, staan die merkwaardigste persoon van alle tye hier, waarlik die grootste mens wat nog geleef het! Ja, Jesus toon ’n stille waardigheid en kalmte wat getuig van ’n grootsheid wat selfs Pilatus moet erken, want sy woorde weerspieël blykbaar respek sowel as jammerte. Johannes 18:39–19:5; Mattheüs 27:15-17, 20-30; Markus 15:6-19; Lukas 23:18-25.
▪ Hoe probeer Pilatus om Jesus vry te laat?
▪ Hoe probeer Pilatus sy verantwoordelikheid ontduik?
▪ Wat behels dit om gegesel te word?
▪ Hoe word Jesus bespot nadat hy gegesel is?
▪ Watter verdere poging wend Pilatus aan om Jesus vry te laat?