Hoofstuk 133
Jesus voltooi alles wat God vra
WAT ’n rede tot vreugde sal dit tog wees wanneer die Stryderkoning Jesus Christus Satan en sy onregverdige wêreld uit die weg ruim! Die vreedsame Duisendjarige Heerskappy van Jesus begin uiteindelik!
Onder die leiding van Jesus en sy mede-konings sal die oorlewendes van Armageddon die puinhope opruim wat deur daardie regverdige oorlog agtergelaat is. Aardse oorlewendes sal waarskynlik ook ’n tyd lank kinders voortbring, en hulle sal deelneem aan die genotvolle werk om die aarde in ’n wonderlike parkagtige tuin te omskep.
Mettertyd sal Jesus tallose miljoene uit hulle grafte te voorskyn bring om die lewe in hierdie pragtige Paradys te geniet. Hy sal dit doen om sy eie woorde te vervul: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is . . . sal uitgaan.”
Die gewese kwaaddoener wat langs Jesus aan die folterpaal gesterf het, sal onder diegene wees wat deur Jesus opgewek gaan word. Onthou dat Jesus hom belowe het: “Voorwaar, ek sê vir jou vandag: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (NW). Nee, daardie man sal nie hemel toe geneem word om saam met Jesus as ’n koning te regeer nie, en Jesus sal ook nie weer ’n mens word om saam met hom op die Paradysaarde te leef nie. Jesus sal eerder saam met die gewese kwaaddoener wees in die sin dat Hy hom tot lewe in die Paradys sal opwek en sal toesien dat sy behoeftes, fisies en geestelik, bevredig word, soos dit op die volgende bladsy geïllustreer word.
Dink net daaraan! Onder Jesus se liefdevolle sorg sal die hele mensegeslag—Armageddon-oorlewendes, hulle kinders en die duisendmiljoene verresenes wat hom gehoorsaam—tot menslike volmaaktheid vorder. Jehovah sal, deur middel van sy koninklike Seun, Jesus Christus, in geestelike sin by die mensdom wees. “En”, soos Johannes die stem uit die hemel hoor sê het, “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.” Niemand op aarde sal ly of siek wees nie.
Teen die einde van Jesus se Duisendjarige Heerskappy sal die situasie ooreenstem met God se oorspronklike voorneme toe hy vir die eerste mensepaar, Adam en Eva, gesê het om te vermeerder en die aarde te vul. Ja, die aarde sal met ’n regverdige geslag volmaakte mense gevul wees. Dit is omdat die voordele van Jesus se soenoffer dan reeds ten behoewe van almal aangewend sal wees. Die dood as gevolg van Adam se sonde sal nie meer daar wees nie!
Jesus sal gevolglik alles volbring het wat Jehovah hom gevra het. Daarom sal hy die Koninkryk en die volmaakte mensegeslag aan die einde van die duisend jaar aan sy Vader oorhandig. God sal Satan en sy demone dan uit die afgrond van doodse onbedrywigheid loslaat. Met watter doel?
Wel, teen die einde van die duisend jaar sal die meeste van diegene wat in die Paradys leef verresenes wees wie se geloof nooit getoets is nie. Voordat hulle gesterf het, het hulle nooit God se beloftes geken nie en kon hulle dus nie hulle geloof daarin toon nie. Later, nadat hulle opgewek is en Bybelwaarhede geleer is, was dit vir hulle maklik om God sonder teenstand in die Paradys te dien. Maar sou hulle onder beproewing lojaal bly as Satan die geleentheid gebied word om hulle te probeer verhinder om God te dien? Sodat hierdie vraag beantwoord kan word, sal Satan losgelaat word.
Die openbaring wat aan Johannes gegee is, toon dat Satan ná Jesus se Duisendjarige Heerskappy daarin sal slaag om ’n onbepaalde aantal mense van die aanbidding van God af te wend. Maar dan, wanneer die finale toets verby is, sal Satan, sy demone en almal wat hy mislei het vir ewig vernietig word. Die lojale oorlewendes wat ten volle getoets is, sal daarenteen lewe om die seëninge van hulle hemelse Vader vir ewig te geniet.
Dit is duidelik dat Jesus ’n belangrike rol in die volbrenging van God se glorieryke voornemens gespeel het, en steeds sal speel. Wat ’n wonderlike toekoms kan ons tog geniet as gevolg van alles wat hy as God se groot hemelse Koning volbring! Tog kan ons nie alles vergeet wat hy gedoen het terwyl hy ’n mens was nie.
Jesus het gewillig na die aarde toe gekom en ons van sy Vader geleer. Daarbenewens was hy die toonbeeld van God se kosbare eienskappe. Ons hart word geroer wanneer ons dink aan sy verhewe moed en manlikheid, sy ongeëwenaarde wysheid, sy voortreflike vermoë as onderrigter, sy vreeslose leierskap en sy tere medelye en empatie. Wanneer ons dink aan die onbeskryflike lyding wat hy verduur het toe hy die losprys voorsien het, wat die enigste manier is waardeur ons die lewe kan kry, word ons hart met waardering gevul!
Waarlik, wat ’n voortreflike mens het ons in hierdie bestudering van Jesus se lewe leer ken! Sy grootheid is duidelik en oorweldigend. Ons word beweeg om ook, soos die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus, te sê: “Dáár is die mens!” Ja, “die mens”, die grootste mens wat nog geleef het!
As ons die voorsiening van sy losprysofferande aanneem, kan die las van sonde en die dood wat ons van Adam geërf het van ons verwyder word, en Jesus kan ons “Ewige Vader” word. Almal wat die ewige lewe wil hê, moet nie net kennis van God inneem nie, maar ook van sy Seun, Jesus Christus. Mag jou studie van hierdie boek jou help om sulke lewegewende kennis in te neem! 1 Johannes 2:17; 1:7; Johannes 5:28, 29; 3:16; 17:3; 19:5; Lukas 23:43; Genesis 1:28; 1 Korinthiërs 15:24-28; Openbaring 20:1-3, 6-10; 21:3, 4; Jesaja 9:5.
▪ Watter vreugdevolle voorreg sal die Armageddon-oorlewendes en hulle kinders geniet?
▪ Wie sal die lewe in die Paradys saam met die Armageddon-oorlewendes en hulle kinders geniet, en in watter sin sal Jesus met hulle wees?
▪ Wat sal die situasie aan die einde van die duisend jaar wees, en wat sal Jesus dan doen?
▪ Waarom sal Satan uit die afgrond losgelaat word, en wat sal uiteindelik met hom en almal wat hom volg, gebeur?
▪ Hoe kan Jesus ons “Ewige Vader” word?