Deel 1
Het die lewe ’n doel?
1. Wat word dikwels omtrent die doel van die lewe gevra, en wat het een persoon daaroor gesê?
Vroeër of later wonder die meeste mense wat die doel van die lewe is. Is dit om hard te werk om ons lewensomstandighede te verbeter, om vir ons gesin te sorg, om miskien ná 70 of 80 jaar te sterf en dan nooit weer te lewe nie? Een jongmens wat so gevoel het, het gesê dat daar geen ander doel in die lewe is as “om te lewe, kinders te hê, gelukkig te wees en dan te sterf” nie. Maar is dit waar? En is die dood werklik die einde van alles?
2, 3. Waarom is die verkryging van materiële rykdom nie ’n bevredigende doel in die lewe nie?
2 Baie mense in Oosterse sowel as Westerse lande meen dat die verkryging van materiële rykdom die vernaamste doel in die lewe is. Hulle glo dat dit tot ’n gelukkige, sinvolle lewe kan lei. Maar wat van mense wat reeds materieel ryk is? Die Kanadese skrywer Harry Bruce het gesê: “’n Verstommende aantal ryk mense sê dat hulle nie gelukkig is nie.” Hy het bygevoeg: “Opnames toon dat ’n vreeslike pessimisme in Noord-Amerika posgevat het . . . Is daar dan enigiemand wat gelukkig is? Indien wel, wat is die geheim?”
3 Die voormalige Amerikaanse president Jimmy Carter het gesê: “Ons het agtergekom dat besittings en die verbruik daarvan nie ons hunkering na betekenis bevredig nie. . . . Die opgaar van stoflike besittings kan nie die leemte vul in lewens wat geen vertroue of doel het nie.” En ’n ander politieke leier het gesê: “Ek is nou al etlike jare besig met ’n intensiewe soektog na waarhede oor myself en my lewe; baie ander mense wat ek ken, doen dit ook. Meer mense as ooit tevore vra: ‘Wie is ons? Wat is ons doel?’”
Moeiliker toestande
4. Waarom twyfel baie mense of die lewe ’n doel het?
4 Baie mense twyfel of die lewe ’n doel het wanneer hulle sien hoe lewensomstandighede al hoe moeiliker word. Dwarsdeur die wêreld is meer as ’n miljard mense ernstig siek of ondervoed, en dit het elke jaar die dood van sowat tienmiljoen kinders in Afrika alleen tot gevolg. Die wêreldbevolking, wat nou al byna 6 miljard is, vermeerder met meer as 90 miljoen per jaar, en meer as 90 persent van daardie vermeerdering vind in ontwikkelende lande plaas. As gevolg van hierdie voortdurende bevolkingsaanwas is daar ’n toenemende behoefte aan voedsel, behuising en industrieë, wat weer daartoe lei dat industriële en ander besoedelende stowwe verdere skade aan die grond, water en lug aanrig.
5. Wat gebeur met die plantegroei op die aarde?
5 Die publikasie World Military and Social Expenditures 1991 berig: “Elke jaar word woude so groot soos die hele oppervlakte van [Groot-Brittanje] vernietig. Teen die huidige tempo (van vernietiging) sal ons teen die jaar 2000 65 persent van die woude in die vogtige tropiese gebiede afgekap het.” In daardie gebiede, berig ’n VN-agentskap, word daar 10 bome afgekap vir elkeen wat geplant word; in Afrika is die verhouding meer as 20 tot 1. So brei woestyngebiede uit en word daar jaarliks ’n gebied so groot soos België onbruikbaar vir landboudoeleindes.
6, 7. Wat is sommige van die probleme wat menseleiers nie kan oplos nie, en watter vrae moet dus beantwoord word?
6 Gedurende hierdie 20ste eeu het daar ook vier keer soveel mense weens oorloë gesterf as gedurende die vorige vier eeue saam. Oral is daar ’n toename in misdaad, veral in gewelddadige misdaad. Gesinsverbrokkeling, dwelmmisbruik, vigs, seksueel oordraagbare siektes sowel as ander negatiewe faktore maak die lewe ook moeiliker. En wêreldleiers kon nog nie oplossings voorsien vir die talle probleme wat die mensdom teister nie. Dit is dus verstaanbaar waarom mense vra: Wat is die doel van die lewe?
7 Hoe het geleerdes en godsdiensleiers daardie vraag benader? Het hulle ná al hierdie eeue met ’n bevredigende antwoord vorendag gekom?
Wat hulle sê
8, 9. (a) Wat het ’n Chinese geleerde oor die doel van die lewe gesê? (b) Wat het ’n oorlewende van ’n Nazi-uitwissingskamp gesê?
8 ’n Confuciaanse geleerde Toe Wei-Ming het gesê: “Die ware sin van die lewe lê in ons alledaagse, menslike bestaan.” Volgens hierdie beskouing sal mense steeds gebore word, ’n sukkelbestaan voer en sterf. So ’n beskouing bied maar min hoop. En is dit boonop waar?
9 Elie Wiesel, ’n oorlewende van die Nazi-uitwissingskampe gedurende die Tweede Wêreldoorlog, het gesê: “‘Waarom is ons hier?’ is die belangrikste vraag waarvoor ’n mens te staan kan kom. . . . Ek glo dat die lewe sin het ten spyte van die sinlose sterftes wat ek al gesien het.” Maar hy kon nie sê wat die sin van die lewe is nie.
10, 11. (a) Hoe het een redakteur getoon dat die mens nie die antwoorde het nie? (b) Waarom is die beskouing van ’n evolusionistiese wetenskaplike nie bevredigend nie?
10 Die redakteur Vermont Royster het gesê: “Waar dit kom by bespiegeling oor die mens self, . . . oor sy plek in hierdie heelal, is ons weinig wyser as in die vroegste tye. Vrae oor wie ons is en waarom ons bestaan en wat op ons wag, is nog onbeantwoord.”
11 Die evolusionistiese wetenskaplike Stephen Jay Gould het gesê: “Ons smag dalk na ’n ‘meer verhewe’ antwoord—maar daar bestaan nie een nie.” Vir sulke evolusioniste is die lewe ’n stryd om die oorlewing van die geskikste, en die dood is die einde van alles. Daardie beskouing bied ook geen hoop nie. En weer eens kan ’n mens jou afvra of dit waar is.
12, 13. Wat is kerkleiers se opvattings, en is hulle enigsins bevredigender as dié van sekulêre waarnemers?
12 Baie godsdiensleiers sê die doel van die lewe is om ’n goeie lewe te lei sodat ’n mens se siel hemel toe kan gaan wanneer jy sterf en vir ewig daar kan bly. Die alternatief vir slegte mense is ewige pyniging in ’n helse vuur. Maar volgens hierdie opvatting sal dieselfde onbevredigende lewe wat deur die geskiedenis heen bestaan het op aarde voortduur. Maar as dit God se doel was dat mense soos engele in die hemel woon, waarom het hy hulle dan nie net van die begin af soos die engele geskep nie?
13 Selfs geestelikes het probleme met sulke opvattings. Dr. W. R. Inge, ’n gewese deken van die St. Paulus-katedraal in Londen, het eenkeer gesê: “Ek het my hele lewe lank gesukkel om uit te vind wat die doel van die lewe is. Ek het antwoorde probeer vind op drie kwessies wat myns insiens fundamentele kwessies is: die kwessie van ewigheid; die kwessie van die menslike persoonlikheid en die kwessie van kwaad. Ek het gefaal. Ek het nie een van hulle uitgepluis nie.”
Die uitwerking
14, 15. Watter uitwerking het die teenstrydige opvattings op baie mense?
14 Watter uitwerking het soveel verskillende idees van geleerdes en godsdiensleiers oor wat die doel van die lewe is? Baie reageer soos een bejaarde man wat gesê het: “Ek vra al feitlik my hele lewe lank waarom ek hier is. As daar ’n doel is, kan dit my nie meer skeel nie.”
15 Baie mense wat die menigte opvattings onder die wêreld se godsdienste in oënskou neem, kom tot die gevolgtrekking dat dit nie werklik saak maak wat ’n mens glo nie. Hulle meen dat godsdiens net ’n afleiding vir die verstand is, iets wat ’n bietjie gemoedsrus en vertroosting gee sodat ’n mens die probleme van die lewe die hoof kan bied. Ander meen dat godsdiens maar net bygeloof is. Hulle voel dat eeue van godsdiensbespiegelinge nie die vraag oor die doel van die lewe beantwoord het en ook nie die lewe van die gewone mens verbeter het nie. Trouens, die geskiedenis toon dat hierdie wêreld se godsdienste dikwels die mensdom se vooruitgang belemmer het en die oorsaak van haat en oorloë was.
16. Hoe belangrik is dit om uit te vind wat die doel van die lewe is?
16 Maar is dit dan belangrik om vas te stel wat die waarheid omtrent die doel van die lewe is? Die psigiater Viktor Frankl het geantwoord: “Die strewe om sin in ’n mens se lewe te vind, is die vernaamste dryfkrag in die mens. . . . Ek verstout my om te sê dat daar niks in die wêreld is wat ’n mens só effektief sal help om selfs die allerergste toestande te oorleef as die wete dat ’n mens se lewe sin het nie.”
17. Watter vrae moet ons nou vra?
17 Aangesien mensefilosofieë en godsdienste nie ’n bevredigende verklaring kan gee oor wat die doel van die lewe is nie, waar kan ons dan uitvind wat dit is? Is daar ’n bron van verhewe wysheid wat ons die waarheid omtrent hierdie saak kan vertel?
[Prent op bladsy 4]
“Elke jaar word woude so groot soos die hele oppervlakte van [Groot-Brittanje] vernietig”
[Prent op bladsy 5]
“Ek vra al feitlik my hele lewe lank waarom ek hier is”