Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 13 bl. 118-129
  • Waarom ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • EERLIKHEID LEI TOT GELUK
  • VRYGEWIGHEID BRING GELUK MEE
  • ANDER FAKTORE WAT GELUK BEVORDER
  • GELUK IN DIE HUWELIK
  • ‘GEEN DEEL VAN DIE WÊRELD NIE’
  • BESKOU JAARLIKSE VIERINGE
  • SEKULÊRE WERK EN VERMAAK
  • RESPEK VIR LEWE EN BLOED
  • Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesin
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ware geluk in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Is die huwelik die enigste sleutel tot geluk?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Voeg godvrugtige toegewydheid by jou volharding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 13 bl. 118-129

Hoofstuk 13

Waarom ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring

1. Waarom kan ons sê dat Jehovah se weg geluk meebring?

JEHOVAH is “die gelukkige God” en hy wil hê dat jy die lewe moet geniet (1 Timoteus 1:11). Deur op sy weg te wandel, kan jy jouself bevoordeel en ’n diep en blywende kalmte geniet, soos ’n immervloeiende rivier. As ’n mens op God se weg wandel, word jy ook beweeg om voortdurend regverdige dade te verrig, “soos die golwe van die see”. Dit bring ware geluk mee.—Jesaja 48:17, 18.

2. Hoe kan Christene gelukkig wees al word hulle soms sleg behandel?

2 Party opper dalk die beswaar: ‘Mense ly soms omdat hulle doen wat reg is.’ Dit is waar, en dit is wat met Jesus se apostels gebeur het. Maar hoewel hulle vervolg is, het hulle hulle verheug en aangehou om ‘die goeie nuus oor die Christus bekend te maak’ (Handelinge 5:40-42). Ons kan belangrike lesse hieruit leer. Een is dat ’n godvrugtige lewenswyse nie waarborg dat ons altyd goed behandel sal word nie. “Trouens”, het die apostel Paulus geskryf, “almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Die rede hiervoor is dat Satan en sy wêreld gekant is teen dié wat op ’n godvrugtige wyse lewe (Johannes 15:18, 19; 1 Petrus 5:8). Maar ware geluk hang nie van uiterlike dinge af nie. Dit spruit eerder uit die oortuiging dat ons doen wat reg is en derhalwe God se goedkeuring geniet.—Matteus 5:10-12; Jakobus 1:2, 3; 1 Petrus 4:13, 14.

3. Hoe behoort die aanbidding van Jehovah ’n mens se lewe te raak?

3 Daar is mense wat meen dat hulle God se guns kan verkry deur af en toe ’n godvrugtige daad te verrig, maar dat hulle ander tye van hom kan vergeet. Dit is nie hoe ware aanbidding van Jehovah God is nie. Dit raak ’n mens se gedrag gedurende al die ure wat jy wakker is, van dag tot dag, jaar na jaar. Daarom word dit ook “Die Weg” genoem (Handelinge 19:9; Jesaja 30:21). Dit is ’n godvrugtige lewenswyse wat vereis dat ons in ooreenstemming met God se Woord spreek en handel.

4. Waarom is dit nuttig om veranderinge te maak sodat jy volgens God se weë kan lewe?

4 Wanneer nuwe studente van die Bybel sien dat hulle sekere veranderinge moet maak om Jehovah te behaag, wonder hulle dalk: ‘Is ’n godvrugtige lewenswyse werklik die moeite werd?’ Jy kan daarvan seker wees dat dit wel is. Waarom? Want “God is liefde”, en sy weë is dus bedoel om ons tot voordeel te strek (1 Johannes 4:8). God is ook wys en weet wat vir ons die beste is. Aangesien Jehovah God almagtig is, kan hy ons versterk sodat ons ons begeerte kan vervul om hom te behaag deur ’n slegte gewoonte te laat staan (Filippense 4:13). Laat ons na ’n paar beginsels met betrekking tot ’n godvrugtige lewenswyse kyk en sien hoe die toepassing daarvan geluk meebring.

EERLIKHEID LEI TOT GELUK

5. Wat sê die Bybel oor leuens en diefstal?

5 Jehovah is “die God van waarheid” (Psalm 31:5, NW). Jy wil ongetwyfeld sy voorbeeld navolg en as ’n waarheidliewende persoon bekend staan. Eerlikheid lei tot selfrespek en ’n gevoel van voldoening. Maar omdat oneerlikheid so algemeen in hierdie sondige wêreld is, het Christene hierdie herinnering nodig: “[Julle moet] die waarheid spreek, elkeen van julle met sy naaste . . . Laat die steler nie meer steel nie, maar laat hom liewer harde werk doen . . .  sodat hy iets kan hê om uit te deel aan iemand wat gebrek het” (Efesiërs 4:25, 28). Christenwerknemers lewer ’n eerlike dag se werk. Tensy hul–le werkgewer toestemming gee, neem hulle nie goed wat aan hom behoort nie. ’n Aanbidder van Jehovah moet “in alles eerlik” wees, hetsy by die werk, by die skool of by die huis (Hebreërs 13:18). Iemand wat die gewoonte het om leuens te vertel of te steel, kan nie God se guns geniet nie.—Deuteronomium 5:19; Openbaring 21:8.

6. Hoe kan ’n godvrugtige persoon se eerlikheid Jehovah verheerlik?

6 Eerlikheid lei tot baie seëninge. Selina is ’n behoeftige weduwee in Afrika wat Jehovah God en sy regverdige beginsels liefhet. Op ’n dag het sy ’n aktetas met ’n bankboekie en ’n groot som geld daarin opgetel. Met behulp van ’n telefoonboek het sy die eienaar gevind—’n winkelier wat beroof is. Die man kon sy oë nie glo toe Selina, wat boonop siek was, hom besoek en vir hom die hele inhoud van die tas teruggee nie. “Sulke eerlikheid moet beloon word”, het hy gesê en vir haar ’n som geld gegee. Nog belangriker, hierdie man het Selina se godsdiens geloof. Ja, eerlike dade versier die Bybelleer, verheerlik Jehovah God en bring vir sy eerlike aanbidders geluk mee.—Titus 2:10; 1 Petrus 2:12.

VRYGEWIGHEID BRING GELUK MEE

7. Waarom is dobbelary verkeerd?

7 Vrygewigheid verskaf geluk, terwyl gierigaards nie ‘God se koninkryk sal beërf’ nie (1 Korintiërs 6:10). ’n Algemene vorm van gierigheid is dobbelary, wat ’n poging is om geld uit die verliese van ander te maak. Jehovah keur nie diegene goed wat ‘gierig is na oneerlike gewin’ nie (1 Timoteus 3:8). Selfs waar dobbelary wettig is en iemand vir die pret dobbel, kan hy daaraan verslaaf raak en ’n gebruik bevorder wat al baie lewens verwoes het. Dobbelary bring dikwels ontbering vir die dobbelaar se gesin mee, wat miskien min geld oorhet om noodsaaklikhede soos kos en klere te koop.—1 Timoteus 6:10.

8. Hoe het Jesus ’n goeie voorbeeld van vrygewigheid gestel, en hoe kan ons vrygewig wees?

8 As gevolg van hulle liefdevolle vrygewigheid verskaf dit Christene vreugde om ander te help, veral behoeftige mede–gelowiges (Jakobus 2:15, 16). Voordat Jesus aarde toe gekom het, het hy God se vrygewigheid teenoor die mensdom aanskou (Handelinge 14:16, 17). Jesus self het sy tyd, sy talente en selfs sy lewe ten behoewe van die mensdom gegee. Gevolglik kon hy met oortuiging sê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Jesus het ook die arm weduwee geprys wat so vrygewig was om twee muntstukkies in die tempelskatkis te sit, want sy het “haar hele lewensonderhoud” gegee (Markus 12:41-44). Die eertydse Israeliete en die eerste-eeuse Christene was voorbeelde van vreugdevolle vrygewigheid wat materiële ondersteuning van die gemeente en die Koninkrykswerk betref (1 Kronieke 29:9; 2 Korintiërs 9:11-14). Behalwe dat hulle materieel vir hierdie doeleindes bydra, bring hedendaagse Christene ook blymoedig lof aan God en gebruik hulle hulle lewe in sy diens (Romeine 12:1; Hebreërs 13:15). Jehovah seën hulle omdat hulle hulle tyd, energie en ander middele, met inbegrip van hulle geld, gebruik om ware aanbidding te ondersteun en die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van die Koninkryk te bevorder.—Spreuke 3:9, 10.

ANDER FAKTORE WAT GELUK BEVORDER

9. Waarom is die oormatige gebruik van alkohol verkeerd?

9 Om gelukkig te wees, moet Christene ook ‘hulle denkvermoë bewaar’ (Spreuke 5:1, 2, NW). Dit beteken dat hulle God se Woord en heilsame Bybellektuur moet lees en daaroor moet peins. Maar daar is dinge wat vermy moet word. Die oormatige gebruik van alkohol kan ’n mens byvoorbeeld beheer oor jou denke laat verloor. In so ’n toestand raak baie mense betrokke by onsedelike gedrag, tree hulle gewelddadig op en veroorsaak hulle noodlottige ongelukke. Geen wonder dat die Bybel sê dat dronkaards God se Koninkryk nie sal beërf nie! (1 Korintiërs 6:10). Omdat ware Christene vasbeslote is om “gesond van verstand” te bly, vermy hulle dronkenskap, en dit help om geluk onder hulle te bevorder.—Titus 2:2-6.

10. (a) Waarom gebruik Christene nie tabak nie? (b) Watter voordele bring dit mee wanneer verslawende gewoontes te bowe gekom word?

10 ’n Rein liggaam dra tot geluk by. Nietemin raak baie aan skadelike stowwe verslaaf. Kyk byvoorbeeld na die gebruik van tabak. Die Wêreldgesondheidsorganisasie berig dat rokery “elke jaar driemiljoen mense dood”. As gevolg van tydelike onttrekkingsimptome kan dit moeilik wees om met die rookgewoonte te breek. Daarenteen vind talle voormalige rokers dat hulle beter gesondheid geniet en meer geld vir huishoudelike behoeftes het. Ja, as ’n mens die rookgewoonte of verslawing aan ander skadelike stowwe te bowe kom, sal dit tot ’n rein liggaam, ’n skoon gewete en ware geluk bydra.—2 Korintiërs 7:1.

GELUK IN DIE HUWELIK

11. Wat is nodig om ’n eerbare huwelik te hê wat wettig en blywend is?

11 Mense wat as man en vrou saamlewe, moet sorg dat hulle huwelik behoorlik by die burgerlike owerheid geregistreer is (Markus 12:17). Hulle moet ook die huwelik as ’n ernstige verantwoordelikheid beskou. Skeiding word dalk wel nodig in gevalle van opsetlike versuim om onderhoud te voorsien, uitermatige mishandeling of die algehele ingevaarstelling van geestelikheid (1 Timoteus 5:8; Galasiërs 5:19-21). Maar die apostel Paulus se woorde in 1 Korintiërs 7:10-17 spoor huweliksmaats aan om bymekaar te bly. As hulle ware geluk wil smaak, moet hulle natuurlik aan mekaar getrou wees. Paulus het geskryf: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Die woord “huweliksbed” slaan op geslagsomgang tussen ’n man en vrou wat wettig met mekaar getroud is. Geen ander seksuele verhouding, soos om met meer as een vrou getroud te wees, kan as ‘eerbaar onder almal’ beskryf word nie. Daarbenewens veroordeel die Bybel voorhuwelikse geslagsomgang en homoseksualiteit.—Romeine 1:26, 27; 1 Korintiërs 6:18.

12. Wat is party van die slegte vrugte van hoerery?

12 Hoerery verskaf dalk ’n paar oomblikke van fisiese genot, maar dit lei nie tot ware geluk nie. Dit mishaag God en kan die persoon se gewete skend (1 Tessalonisense 4:3-5). Die tragiese gevolge van ongeoorloofde seks kan vigs en ander seksueel oordraagbare siektes wees. “Daar is geskat dat meer as 250 miljoen mense elke jaar wêreldwyd met gonorree besmet word, en omtrent 50 miljoen met sifilis”, sê ’n mediese verslag. Daar is ook die probleem van ongewenste swangerskappe. Die Internasionale Federasie van Geboortereëling berig dat meer as 15 miljoen meisies tussen die ouderdomme van 15 en 19 elke jaar dwarsdeur die wêreld swanger raak, en ’n derde van hulle ondergaan ’n aborsie. ’n Studie het getoon dat aborsiekomplikasies in een Afrikaland die oorsaak is van 72 persent van alle sterftes onder tienderjarige meisies. Party hoereerders spring dalk siekte en swangerskap vry, maar nie emosionele skade nie. Baie verloor hulle selfrespek en haat hulleself.

13. Watter bykomende probleme word deur egbreuk veroorsaak, en wat wag op diegene wat hoereerders en egbrekers bly?

13 Hoewel egbreuk vergewe kan word, is dit vir die onskuldige maat ’n geldige skriftuurlike grondslag vir egskeiding. (Matteus 5:32; vergelyk Hosea 3:1-5.) Wanneer sulke onsedelikheid tot die verbrokkeling van ’n huwelik lei, kan dit diep emosionele letsels op die onskuldige maat en op die kinders laat. God se Woord wys daarop dat sy veroordeling, tot die beswil van die mensdom, oor onberouvolle hoereerders en egbrekers sal kom. Daarbenewens toon dit duidelik dat diegene wat geslagsonsedelikheid beoefen “God se koninkryk nie sal beërf nie”.—Galasiërs 5:19, 21.

‘GEEN DEEL VAN DIE WÊRELD NIE’

14. (a) Wat is party vorme van afgodery wat deur ’n godvrugtige persoon vermy word? (b) Watter leiding voorsien Johannes 17:14 en Jesaja 2:4?

14 Diegene wat Jehovah wil behaag en Koninkrykseëninge wil geniet, vermy enige vorm van afgodery. Die Bybel toon dat dit verkeerd is om beelde, met inbegrip van dié van Christus of van Jesus se moeder, Maria, te maak en te aanbid (Exodus 20:4, 5; 1 Johannes 5:21). Ware Christene vereer dus nie ikone, kruise en beelde nie. Hulle vermy ook subtieler vorme van afgodery, soos dade ter verering van vlae en die sing van liedere wat nasies verheerlik. Wanneer daar druk op hulle uitgeoefen word om dit te doen, dink hulle aan Jesus se woorde aan Satan: “Dit is Jehovah jou God wat jy moet aanbid, en dit is aan hom alleen wat jy heilige diens moet verrig” (Matteus 4:8-10). Jesus het gesê dat sy volgelinge “geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:14). Dit beteken dat hulle in politieke aangeleenthede neutraal moet bly en vreedsaam in ooreenstemming met Jesaja 2:4 moet lewe, wat sê: “Hy [Jehovah God] sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

15. Wat is Babilon die Grote, en wat doen talle nuwe Bybelstudente om daaruit te kom?

15 Om “geen deel van die wêreld” te wees nie, beteken ook dat alle bande met “Babilon die Grote”, die wêreldryk van valse godsdiens, verbreek moet word. Onrein aanbidding het van eertydse Babilon af versprei totdat dit aardwyd skadelike geestelike heerskappy oor mense gevoer het. “Babilon die Grote” sluit alle godsdienste in waarvan die leerstellings en gebruike nie met die kennis van God strook nie (Openbaring 17:1, 5, 15). Geen getroue aanbidder van Jehovah sal deel hê aan interkerklike bedrywighede deur saam met verskillende godsdienste aan aanbidding deel te neem of deur geestelike omgang met enige deel van Babilon die Grote te hê nie (Numeri 25:1-9; 2 Korintiërs 6:14). Gevolglik stuur talle nuwe Bybelstudente ’n bedankingsbrief aan die godsdiensorganisasie waaraan hulle behoort. Dit bring hulle nader aan die ware God, soos belowe is: “‘Gaan . . . onder hulle uit en sonder julle af’, sê Jehovah, ‘en hou op om wat onrein is aan te raak’; ‘en ek sal julle inneem’” (2 Korintiërs 6:17; Openbaring 18:4, 5). Begeer jy nie innig om só deur ons hemelse Vader aangeneem te word nie?

BESKOU JAARLIKSE VIERINGE

16. Waarom vier ware Christene nie Kersfees nie?

16 ’n Godvrugtige lewe bevry ons van die dikwels beswarende viering van wêreldse vakansiedae. Die Bybel openbaar byvoorbeeld nie die presiese dag van Jesus se geboorte nie. ‘Ek het dan gedink dat Jesus op 25 Desember gebore is!’ roep party dalk uit. Dít is nie moontlik nie, want hy het in die lente van 33 G.J. op die ouderdom van 33 1/2 gesterf. Boonop was daar ten tye van sy geboorte herders “wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle kuddes wag gehou het” (Lukas 2:8). In die land Israel is einde Desember ’n koue, reënerige tyd waartydens skape oornag in skuilings gehou word om hulle teen die winterweer te beskerm. In werklikheid is 25 Desember deur die Romeine uitgesonder as die geboortedag van hulle songod. Eeue nadat Jesus op die aarde was, het afvallige Christene hierdie dag aangeneem vir die viering van Christus se geboorte. Gevolglik vier ware Christene nie Kersfees of enige ander vakansiedag wat op valse godsdiensopvattings gegrond is nie. Omdat hulle Jehovah uitsluitlike toegewydheid gee, hou hulle ook nie vakansiedae wat sondige mense of nasies vereer nie.

17. Waarom hou godvrugtige mense nie verjaarsdagpartytjies nie, en waarom is Christenkinders in elk geval gelukkig?

17 Die Bybel meld net twee verjaarsdagvieringe spesifiek, en albei het te doen gehad met manne wat God nie gedien het nie (Genesis 40:20-22; Matteus 14:6-11). Aangesien die Skrif nie die geboortedag van die volmaakte man Jesus Christus openbaar nie, waarom moet ons dan spesiale aandag aan die verjaarsdae van onvolmaakte mense skenk? (Prediker 7:1). Godvrugtige ouers wag natuurlik nie vir ’n spesiale dag om aan hulle kinders liefde te betoon nie. ’n Dertienjarige Christenmeisie het gesê: “Ek en my gesin het baie pret. . . . Ek is baie geheg aan my ouers, en wanneer ander kinders vra waarom ek nie vakansiedae vier nie, sê ek vir hulle dat ek elke dag vier.” ’n Jong Christen wat 17 jaar oud is, het gesê: “In ons huis word daar heeljaar geskenke gegee.” Dit verskaf groter geluk wanneer geskenke spontaan gegee word.

18. Wat is die een jaarlikse viering wat Jesus wel sy volgelinge beveel het om te hou, en waaraan herinner dit ons?

18 Vir diegene wat ’n godvrugtige lewe nastreef, is daar elke jaar een dag wat spesiaal gevier moet word. Dit is die herdenking van Christus se dood, wat dikwels die Gedenkmaal genoem word. Jesus het sy volgelinge in verband daarmee beveel: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen” (Lukas 22:19, 20; 1 Korintiërs 11:23-25). Toe Jesus hierdie maaltyd die aand van 14 Nisan 33 G.J. ingestel het, het hy ongesuurde brood en rooi wyn gebruik, wat sy sondelose menseliggaam en sy volmaakte bloed voorgestel het (Matteus 26:26-29). Hierdie embleme word deur Christene gebruik wat met God se heilige gees gesalf is. Die nuwe verbond en die verbond vir die Koninkryk is met hulle gesluit, en hulle het ’n hemelse hoop (Lukas 12:32; 22:20, 28-30; Romeine 8:16, 17; Openbaring 14:1-5). Nietemin strek dit almal tot voordeel wat teenwoordig is op die aand wat met 14 Nisan op die eertydse Joodse kalender ooreenkom. Hulle word herinner aan die liefde wat Jehovah God en Jesus Christus bewys het deur middel van die losprysofferande ter versoening van sondes wat die ewige lewe moontlik maak vir diegene wat Goddelike guns geniet.—Matteus 20:28; Johannes 3:16.

SEKULÊRE WERK EN VERMAAK

19. Voor watter uitdaging kom Christene te staan wat sekulêre werk betref?

19 Ware Christene staan onder verpligting om hard te werk en in hulle behoeftes te voorsien. Wanneer gesinshoofde dit doen, gee dit hulle voldoening (1 Tessalonisense 4:11, 12). As ’n Christen se sekulêre werk in stryd met die Bybel is, sal hy natuurlik nie gelukkig wees nie. Maar dit is soms vir ’n Christen moeilik om werk te vind wat in ooreenstemming met Bybelstandaarde is. Daar word byvoorbeeld van party werknemers verwag om klante te mislei. Daarenteen sal baie werkgewers toegewings maak ter wille van die gewete van ’n eerlike werker, omdat hy nie ’n betroubare werknemer wil verloor nie. Maar wat ook al uiteindelik gebeur, jy kan daarvan seker wees dat God jou pogings sal seën om werk te vind wat jou ’n skoon gewete laat behou.—2 Korintiërs 4:2.

20. Waarom moet ons selektief wees in ons keuse van vermaak?

20 Aangesien God wil hê dat sy knegte gelukkig moet wees, moet ons harde werk afwissel met verkwikkende tye van ontspanning en rus (Markus 6:31; Prediker 3:12, 13). Satan se wêreld bevorder goddelose vermaak. Maar as ons God wil behaag, moet ons selektief wees met betrekking tot die boeke wat ons lees, die radioprogramme en musiek waarna ons luister en die konserte, rolprente, televisieprogramme en video’s waarna ons kyk. As die vermaak wat ons in die verlede gekies het, bots met die waarskuwings in tekste soos Deuteronomium 18:10-12, Psalm 11:5 en Efesiërs 5:3-5 sal ons Jehovah behaag én gelukkiger wees as ons aanpassings maak.

RESPEK VIR LEWE EN BLOED

21. Hoe moet respek vir lewe ons beskouing van aborsie raak, asook ons gewoontes en gedrag?

21 Om ware geluk te geniet, moet ons, net soos Jehovah, menselewe as heilig beskou. Sy Woord verbied ons om moord te pleeg (Matteus 19:16-18). Trouens, God se Wet aan Israel toon dat hy die fetus as ’n kosbare lewe beskou—nie as iets wat vernietig moet word nie (Exodus 21:22, 23). Wat meer is, ons moet lewe nie as iets goedkoops behandel deur te rook, ons liggaam met dwelms of alkohol te beskadig of onnodige risiko’s te neem nie. Ook moet ons nie aan lewensgevaarlike bedrywighede deelneem of veiligheidsmaatreëls ignoreer, wat tot bloedskuld kan lei nie.—Deuteronomium 22:8.

22. (a) Wat is die godvrugtige beskouing van bloed en die gebruik daarvan? (b) Wie se bloed alleen kan werklik lewens red?

22 Jehovah het vir Noag en sy familie gesê dat bloed die siel, of lewe, verteenwoordig. Daarom het God hulle verbied om enige bloed te eet (Genesis 9:3, 4). Aangesien ons hulle nakomelinge is, is daardie wet vir ons almal bindend. Jehovah het vir die Israeliete gesê dat bloed op die grond uitgegooi moes word en nie vir die mens se eie doeleindes gebruik moes word nie (Deuteronomium 12:15, 16). En God se wet op bloed is herhaal toe eerste-eeuse Christene beveel is: ‘Onthou julle voortdurend van bloed’ (Handelinge 15:28, 29). Uit respek vir die heiligheid van lewe aanvaar godvrugtige mense nie bloedoortappings nie, selfs al hou ander vol dat so ’n behandeling hulle lewe sal red. Talle mediese alternatiewe wat vir Jehovah se Getuies aanvaarbaar is, is al baie doeltreffend gevind en stel ’n mens nie aan die gevare van bloedoortappings bloot nie. Christene weet dat slegs Jesus se vergote bloed werklik lewens red. Geloof daarin bring vergifnis en die vooruitsig op die ewige lewe mee.—Efesiërs 1:7.

23. Wat is party van die belonings van ’n godvrugtige lewenswyse?

23 Dit is duidelik dat ’n godvrugtige lewenswyse inspanning verg. Dit kan tot bespotting deur familielede of kennisse lei (Matteus 10:32-39; 1 Petrus 4:4). Maar die belonings van so ’n lewenswyse oortref verreweg enige beproewing. Dit lei tot ’n skoon gewete en verskaf heilsame omgang met medeaanbidders van Jehovah (Matteus 19:27, 29). Stel jou dan ook voor hoe dit sal wees om in God se regverdige nuwe wêreld te lewe (Jesaja 65:17, 18). En watter vreugde verskaf dit tog om Bybelraad te gehoorsaam en sodoende Jehovah se hart te verbly! (Spreuke 27:11). Geen wonder dat ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring nie!—Psalm 128:1, 2.

TOETS JOU KENNIS

Wat is party van die redes waarom ’n godvrugtige lewenswyse geluk meebring?

Watter veranderinge is dalk nodig om ’n godvrugtige lewe te lei?

Waarom wil jy ’n godvrugtige lewe lei?

[Prent op bladsy 124, 125]

Geestelike bedrywighede wat met tye van ontspanning afgewissel word, dra by tot die geluk van diegene wat ’n godvrugtige lewe lei

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel