Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • fy hfst. 7 bl. 76-89
  • Is daar ’n rebel in die huis?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Is daar ’n rebel in die huis?
  • Die geheim van gesinsgeluk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • WAT IS ’N REBEL?
  • OORSAKE VAN OPSTANDIGHEID
  • TOEGEWENDE ELI EN ONTOEGEWENDE REHABEAM
  • OPSTANDIGHEID KAN VOORKOM WORD DEUR IN BASIESE BEHOEFTES TE VOORSIEN
  • WANNEER KINDERS IN DIE MOEILIKHEID BELAND
  • HOE OM ’N HARDKOPPIGE REBEL TE HANTEER
  • Help jou tiener om te floreer
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Voed jou kind van kleins af op
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Ouers—Lei julle kinders op met liefde
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Die geheim van gesinsgeluk
fy hfst. 7 bl. 76-89

HOOFSTUK SEWE

Is daar ’n rebel in die huis?

Prent op bladsy 76

1, 2. (a) Watter illustrasie het Jesus gegee om die aandag te vestig op die ontrouheid van die Joodse godsdiensleiers? (b) Watter les aangaande adolessente kan ons uit Jesus se illustrasie leer?

’NPAAR dae voor Jesus se dood het hy vir ’n groep Joodse godsdiensleiers ’n gedagteprikkelende vraag gevra. Hy het gesê: “Wat dink julle? ’n Man het twee kinders gehad. Hy het na die eerste toe gegaan en gesê: ‘Kind, gaan werk vandag in die wingerd.’ Dié het geantwoord en gesê: ‘Ek sal, heer’, maar het nie uitgegaan nie. Hy het na die tweede toe gegaan en dieselfde gesê. Dié het geantwoord en gesê: ‘Ek sal nie.’ Agterna het hy spyt gehad en uitgegaan. Wie van die twee het die wil van sy vader gedoen?” Die Joodse leiers het gesê: “Laasgenoemde.”—Matteus 21:28-31.

2 Jesus het hier die aandag gevestig op die ontrouheid van die Joodse leiers. Hulle was soos die eerste seun, wat belowe het om God se wil te doen en toe nie die belofte nagekom het nie. Maar baie ouers besef dalk dat Jesus se illustrasie gebaseer was op ’n goeie begrip van die gesinslewe. Soos hy so duidelik getoon het, is dit dikwels moeilik om uit te vind wat jongmense dink of om te voorspel wat hulle gaan doen. ’n Jongmens veroorsaak dalk baie probleme tydens sy adolessensie en word dan later ’n verantwoordelike, gerespekteerde volwassene. Dit is iets om in gedagte te hou wanneer ons die probleem van tieneropstandigheid bespreek.

WAT IS ’N REBEL?

3. Waarom moet ouers hulle kind nie oorhaastig as ’n rebel bestempel nie?

3 Van tyd tot tyd hoor jy dalk van tieners wat openlik teen hulle ouers rebelleer. Jy weet dalk self van ’n gesin met ’n tiener wat blykbaar onmoontlik is om in toom te hou. Maar dit is nie altyd maklik om te weet of ’n kind werklik ’n rebel is nie. Daarbenewens kan dit moeilik wees om te verstaan waarom sommige kinders rebelleer en ander—soms in dieselfde huisgesin—dit nie doen nie. Wat moet ouers doen as hulle meen dat een van hulle kinders dalk besig is om ’n volslae rebel te word? Om dit te beantwoord, moet ons eers kyk wat ’n rebel is.

4-6. (a) Wat is ’n rebel? (b) Wat moet ouers in gedagte hou as hulle tiener van tyd tot tyd ongehoorsaam is?

4 Eenvoudig gestel, ’n rebel is iemand wat opsetlik en aanhoudend aan ’n hoër gesag ongehoorsaam is of dit teëstaan en ignoreer. Soos jy weet, ‘sit die sotheid vas in die hart van ’n kind’ (Spreuke 22:15). Alle kinders staan ouerlike en ander gesag dus op een of ander tyd teë. Dit is veral die geval terwyl hulle fisies en emosioneel ontwikkel, ’n tydperk wat as adolessensie bekend staan. ’n Verandering in enige mens se lewe sal spanning veroorsaak, en adolessensie is juis ’n tyd waarin baie veranderinge plaasvind. Jou tienderjarige seun of dogter is besig om die kinderskoene te ontgroei en grootmens te word. Om dié rede vind party ouers en kinders dit tydens adolessensie moeilik om met mekaar oor die weg te kom. Ouers probeer dikwels instinktief om die oorgang te vertraag terwyl tieners dit wil bespoedig.

5 ’n Tiener wat ’n rebel is, verwerp ouerlike waardes. Maar onthou dat ’n paar dade van ongehoorsaamheid nie van ’n kind ’n rebel maak nie. En wat geestelike sake betref, toon party kinders dalk aan die begin min of geen belangstelling in Bybelwaarheid, maar hulle is nie noodwendig rebelle nie. As ’n ouer moet jy jou kind nie te gou in ’n kategorie plaas nie.

6 Rebelleer alle jongmense tydens adolessensie teen ouerlike gesag? Nee, glad nie. Trouens, die getuienis toon blykbaar dat dit net ’n handjievol tieners is wat tydens adolessensie uitermate rebelleer. Maar wat van ’n kind wat alewig hardnekkig en opstandig is? Wat gee dalk tot sulke opstandigheid aanleiding?

OORSAKE VAN OPSTANDIGHEID

7. Hoe kan die sataniese milieu tot ’n kind se opstandigheid aanleiding gee?

7 Die wêreld se sataniese milieu is ’n groot oorsaak van opstandigheid. “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Die wêreld in Satan se mag het ’n skadelike kultuur ontwikkel waarmee Christene te kampe het (Johannes 17:15). Daardie kultuur is vandag merendeels onwelvoegliker, gevaarliker en deurtrek van slegter invloede as in die verlede (2 Timoteus 3:1-5, 13). As ouers nie hulle kinders opvoed, waarsku en beskerm nie, kan jongmense maklik oorweldig word deur “die gees wat nou in die seuns van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Portuurdwang hou ook hiermee verband. Die Bybel sê: “Hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Net so sal hy wat in die geselskap verkeer van diegene wat met die gees van hierdie wêreld vervul is waarskynlik deur daardie gees beïnvloed word. Jongmense het voortdurend hulp nodig sodat hulle kan besef dat gehoorsaamheid aan Goddelike beginsels die grondslag van die heel beste lewensweg is.—Jesaja 48:17, 18.

8. Watter faktore kan dalk daartoe bydra dat ’n kind opstandig word?

8 Die atmosfeer in die huis kan nog ’n oorsaak van opstandigheid wees. Byvoorbeeld, as een ouer ’n alkoholis is, dwelms misbruik of gewelddadig teen die ander ouer optree, kan die tiener se lewensbeskouing verwronge raak. Selfs in betreklik vreedsame huise kan opstandigheid skielik ontstaan wanneer ’n kind voel dat sy ouers nie in hom belangstel nie. Maar tieneropstandigheid word nie altyd deur eksterne invloede veroorsaak nie. Party kinders verwerp ouerlike waardes ten spyte van die feit dat hulle ouers het wat Goddelike beginsels toepas en wat hulle in groot mate beskerm teen die wêreld om hulle. Waarom? Miskien vanweë ’n ander oorsaak van ons probleme—menslike onvolmaaktheid. Paulus het gesê: ‘Deur een mens (Adam) het die sonde in die wêreld ingekom en die dood deur die sonde, en die dood het só tot alle mense deurgedring omdat hulle almal gesondig het’ (Romeine 5:12). Adam was ’n selfsugtige rebel, en hy het vir al sy nakomelinge ’n slegte erfenis nagelaat. Party jongmense verkies eenvoudig om soos hulle voorvader te rebelleer.

TOEGEWENDE ELI EN ONTOEGEWENDE REHABEAM

9. Watter uiterstes met betrekking tot die grootmaak van kinders kan veroorsaak dat ’n kind opstandig word?

9 Iets anders wat tot tieneropstandigheid aanleiding gee, is ouers se ongebalanseerde beskouing oor die grootmaak van kinders (Kolossense 3:21). Party streng ouers beperk en dissiplineer hulle kinders uitermate. Ander is toegewend en gee nie riglyne wat hulle onervare adolessente sal beskerm nie. Dit is nie altyd maklik om die ewewig tussen hierdie twee uiterstes te vind nie. En verskillende kinders het verskillende behoeftes. Die een het dalk meer toesig nodig as ’n ander. Maar twee voorbeelde in die Bybel sal ons help om te toon watter gevare dit inhou om tot uiterstes te gaan wat ontoegewendheid of toegewendheid betref.

10. Waarom was Eli nie ’n goeie ouer nie, al was hy waarskynlik ’n getroue hoëpriester?

10 Eertydse Israel se hoëpriester Eli was ’n vader. Hy het 40 jaar gedien en was ongetwyfeld goed vertroud met die Wet van God. Eli het waarskynlik sy gewone priesterlike pligte redelik getrou uitgevoer en het dalk selfs sy seuns, Hofni en Pinehas, goed in die Wet van God onderrig. Maar Eli was te toegeeflik teenoor sy seuns. Hofni en Pinehas het as priesters diens gedoen, maar hulle was “deugniete” wat net daarin belanggestel het om hulle aptyt en onsedelike begeertes te bevredig. Maar toe hulle skandelike dade op heilige grond bedryf het, het Eli nie die moed gehad om hulle van hulle amp te onthef nie. Hy het hulle bloot lig bestraf. Deur sy toegewendheid het Eli sy seuns meer as God geëer. Gevolglik het sy seuns teen Jehovah se rein aanbidding gerebelleer en is Eli se hele huis deur onheil getref.—1 Samuel 2:12-17, 22-25, 29; 3:13, 14; 4:11-22.

11. Wat kan ouers uit Eli se verkeerde voorbeeld leer?

11 Eli se kinders was reeds volwassenes toe hierdie dinge plaasgevind het, maar hierdie geskiedenisverslag beklemtoon die gevaar wat dit inhou as dissipline nie toegepas word nie. (Vergelyk Spreuke 29:21.) Party ouers verwar liefde dalk met toegewendheid en lê nie duidelike, konsekwente en redelike reëls neer nie en maak ook nie seker dat dit toegepas word nie. Hulle versuim om liefdevolle dissipline toe te pas, selfs as Goddelike beginsels oortree word. Vanweë sulke toegewendheid gee hulle kinders dalk later nie ag op ouerlike of enige ander gesag nie.—Vergelyk Prediker 8:11.

12. Watter fout het Rehabeam begaan in die uitoefening van gesag?

12 Rehabeam is ’n voorbeeld van iemand wat tot die ander uiterste oorgegaan het wat die hantering van gesag betref. Hy was die laaste koning van die verenigde koninkryk van Israel, maar hy was nie ’n goeie koning nie. Rehabeam het ’n land geërf wie se mense ontevrede was vanweë die laste wat sy vader Salomo op hulle gelê het. Het Rehabeam begrip getoon? Nee. Toe ’n afvaardiging hom gevra het om van die onderdrukkende maatreëls af te skaf, het hy nie op die wyse raad van sy ouer raadgewers ag geslaan nie en beveel dat die mense se juk swaarder gemaak moes word. Sy verwaandheid het daartoe gelei dat die tien noordelike stamme in opstand gekom het, en die koninkryk is in twee geskeur.—1 Konings 12:1-21; 2 Kronieke 10:19.

13. Hoe kan ouers verhoed dat hulle dieselfde fout as Rehabeam begaan?

13 Ouers kan ’n paar belangrike lesse uit die Bybelverslag van Rehabeam leer. Hulle moet deur middel van gebed ‘na Jehovah vra’ en die wyse waarop hulle hulle kinders grootmaak in die lig van Bybelbeginsels ondersoek (Psalm 105:4). “Loutere onderdrukking kan ’n wyse waansinnig laat handel”, sê Prediker 7:7 (NW). Weldeurdagte beperkings gee adolessente ruimte om te groei terwyl dit hulle teen onheil beskerm. Maar kinders moet nie in ’n atmosfeer lewe wat so streng en beperkend is dat dit hulle keer om ’n redelike mate van selfstandigheid en selfvertroue te ontwikkel nie. Wanneer ouers daarna streef om ’n balans te handhaaf tussen redelike vryheid en ferm beperkings wat duidelik uiteengesit is, sal die meeste tieners nie geneig wees om opstandig te word nie.

OPSTANDIGHEID KAN VOORKOM WORD DEUR IN BASIESE BEHOEFTES TE VOORSIEN

Prent op bladsy 83

Kinders sal waarskynlik bestendiger volwassenes word as hulle ouers hulle help om hulle tienerprobleme die hoof te bied

14, 15. Hoe moet ouers die ontwikkeling van hulle kind beskou?

14 Hoewel dit ouers genot verskaf om te sien hoe hulle kind fisies van ’n baba tot ’n volwassene groei, voel hulle dalk verontrus wanneer hulle adolessent van afhanklikheid tot gepaste selfstandigheid vorder. Tydens hierdie oorgangstydperk moet jy nie verbaas wees as jou tiener soms nogal hardkoppig is of nie sy samewerking gee nie. Hou in gedagte dat dit Christenouers se doel moet wees om ’n ryp, bestendige en verantwoordelike Christen groot te maak.—Vergelyk 1 Korintiërs 13:11; Efesiërs 4:13, 14.

15 So moeilik as wat dit ook al mag wees, ouers moet die gewoonte afleer om negatief te reageer op enige versoek van hulle tiener om groter onafhanklikheid. ’n Kind moet op ’n heilsame manier as ’n individu groei. Trouens, op ’n betreklik jong ouderdom begin party tieners al ’n redelik volwasse lewensbeskouing ontwikkel. Die Bybel sê byvoorbeeld van jong koning Josia: “Terwyl hy nog jonk was [ongeveer 15 jaar], het hy begin om die God van sy vader Dawid te soek.” Hierdie uitsonderlike tiener was ongetwyfeld ’n verantwoordelike persoon.—2 Kronieke 34:1-3.

16. Wat moet kinders onder die oë sien namate hulle meer verantwoordelikheid kry?

16 Maar vryheid bring aanspreeklikheid mee. Laat dus jou ontluikende volwassene toe om die gevolge van sommige van sy besluite en dade te ervaar. Die beginsel: “Wat ’n mens ook al saai, dit sal hy ook maai”, is op tieners sowel as op volwassenes van toepassing (Galasiërs 6:7). Kinders kan nie vir altyd beskerm word nie. Maar sê nou jou kind wil iets doen wat geheel en al onaanvaarbaar is? As ’n verantwoordelike ouer moet jy “nee” sê. En hoewel jy dalk jou redes gee, moet niks jou nee na ja verander nie. (Vergelyk Matteus 5:37.) Probeer nietemin om op ’n kalm en redelike manier “nee” te sê, aangesien ‘’n sagte antwoord die grimmigheid afkeer’.—Spreuke 15:1.

17. Wat is party van ’n tiener se behoeftes waarin ’n ouer moet voorsien?

17 Jongmense wil die versekering hê dat hulle konsekwent gedissiplineer gaan word, al stem hulle nie altyd geredelik met die beperkings en reëls saam nie. Dit veroorsaak frustrasie as reëls dikwels verander word na gelang van hoe die ouer op daardie tydstip voel. As tieners daarbenewens aanmoediging en hulp ontvang wanneer hulle dit nodig het, sodat hulle skuheid of ’n gebrek aan selfvertroue kan oorkom, sal hulle waarskynlik bestendiger volwassenes word. Tieners waardeer dit ook wanneer hulle die vertroue ontvang wat hulle verdien het.—Vergelyk Jesaja 35:3, 4; Lukas 16:10; 19:17.

18. Wat is ’n paar aanmoedigende waarhede aangaande tieners?

18 Ouers kan gerusgestel word in die wete dat kinders gewoonlik floreer wanneer daar vrede, bestendigheid en liefde in die huisgesin bestaan (Efesiërs 4:31, 32; Jakobus 3:17, 18). Ja, baie jongmense het selfs bo ’n ongewenste huislike omgewing uitgestyg, al kom hulle uit gesinne wat deur alkoholisme, geweld of die een of ander skadelike invloed gekenmerk is, en hulle het tot voorbeeldige volwassenes opgegroei. As jy dus ’n huis voorsien waar jou tienderjarige kinders veilig voel en weet dat hulle liefde, toegeneentheid en aandag sal ontvang—selfs as daardie ondersteuning gepaardgaan met redelike beperkings en dissipline in ooreenstemming met skriftuurlike beginsels—sal hulle heel moontlik volwassenes word op wie jy trots sal wees.—Vergelyk Spreuke 27:11.

WANNEER KINDERS IN DIE MOEILIKHEID BELAND

19. Watter verantwoordelikheid rus op die kind, al moet die ouers die seun oefen volgens die eis van sy weg?

19 Goeie ouerlike opvoeding maak beslis ’n verskil. Spreuke 22:6 sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.” Maar wat van kinders wat ernstige probleme het ten spyte van die feit dat hulle goeie ouers het? Is dit moontlik? Ja. Die woorde van die spreuk moet verstaan word in die lig van ander verse wat die aandag vestig op die kind se verantwoordelikheid om na die ouers te “luister” en hulle te gehoorsaam (Spreuke 1:8). Die ouer en die kind moet saamwerk om skriftuurlike beginsels toe te pas as hulle eenheid in die gesin wil hê. As ouers en kinders nie saamwerk nie, gaan hulle probleme ondervind.

20. Hoe kan ouers die saak verstandig benader wanneer kinders weens onbesonne optrede ’n fout begaan?

20 Hoe moet ouers reageer wanneer ’n tiener ’n fout begaan en in die moeilikheid beland? Die kind het jou hulp veral dan nodig. As die ouers onthou dat hulle met ’n onervare jongmens te doen het, sal dit vir hulle makliker wees om die neiging te weerstaan om te oorreageer. Paulus het aan ervare persone in die gemeente dié raad gegee: “Selfs al begaan iemand die een of ander misstap voordat hy daarvan bewus is, moet julle wat geestelike bekwaamhede het so iemand in ’n gees van sagmoedigheid probeer reghelp” (Galasiërs 6:1). Ouers kan hierdie selfde prosedure volg wanneer hulle ’n jongmens help wat ’n fout begaan omdat hy onbesonne opgetree het. Terwyl die ouers verduidelik waarom sy gedrag verkeerd was en hoe hy kan voorkom dat hy weer die fout begaan, moet hulle dit duidelik stel dat die verkeerde gedrag, en nie die jongmens nie, afkeurenswaardig is.—Vergelyk Judas 22, 23.

21. Hoe moet ouers in navolging van die Christengemeente optree as hulle kinders ernstig sondig?

21 Sê nou die kind begaan ’n baie ernstige oortreding? Dan het die kind spesiale hulp en bekwame leiding nodig. Wanneer ’n gemeentelid ernstig sondig, word hy aangespoor om berou te toon en die ouer manne om hulp te nader (Jakobus 5:14-16). Nadat hy berou getoon het, help die ouer manne hom om hom weer geestelik op te bou. In die gesin rus die verantwoordelikheid op die ouers om die tiener te help wat gesondig het, hoewel dit dalk nodig is dat hulle die saak met die ouer manne bespreek. Hulle moet beslis nie probeer om enige ernstige sonde wat een van hulle kinders gepleeg het vir die liggaam van ouer manne weg te steek nie.

22. Watter gesindheid sal ouers in navolging van Jehovah probeer handhaaf as hulle kind ernstig sondig?

22 ’n Ernstige probleem waarby jou eie kinders betrokke is, is baie ontstellend. Die emosioneel verbysterde ouers voel dalk dat hulle die weerspannige kind in woede wil dreig; maar dit kan hom dalk net verbitterd maak. Hou in gedagte dat die toekoms van hierdie jongmens dalk afhang van hoe hy gedurende hierdie kritieke tyd behandel word. Onthou ook dat Jehovah bereid was om sy volk te vergewe toe hulle afgewyk het van wat reg was—as hulle net berou wou toon. Luister na sy liefdevolle woorde: “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol” (Jesaja 1:18). Wat ’n goeie voorbeeld tog vir ouers!

23. Hoe moet ouers optree, en wat moet hulle vermy as een van hulle kinders ernstig gesondig het?

23 Probeer derhalwe die weerspannige kind aanspoor om sy weë te verander. Vra ervare ouers en gemeentelike ouer manne se betroubare raad (Spreuke 11:14, NW). Probeer om nie impulsief op te tree en dinge te sê of te doen wat dit vir jou kind moeilik gaan maak om na jou terug te keer nie. Vermy onbeheerste woede en bitterheid (Kolossense 3:8). Moenie gou moed opgee nie (1 Korintiërs 13:4, 7). Hoewel jy die verkeerde dade haat, moet jy nie hard en verbitterd teenoor jou kind word nie. Ouers moet bowenal daarna streef om ’n goeie voorbeeld te stel en om hulle geloof in God sterk te hou.

HOE OM ’N HARDKOPPIGE REBEL TE HANTEER

24. Watter droewige situasie ontstaan soms in ’n Christengesin, en hoe moet ’n ouer daarop reageer?

24 In party gevalle blyk dit duidelik dat ’n jongmens vasberade is om te rebelleer en Christelike waardes geheel en al te verwerp. Dan moet jy jou eerder toelê op die handhawing of herstelling van die gesinslewe van die ander in die gesin. Wees versigtig dat jy nie al jou aandag aan die rebel skenk en die ander kinders verwaarloos nie. Pleks van die probleem vir die res van die gesin te probeer wegsteek, moet jy die probleem in sekere mate en op ’n gerusstellende manier met hulle bespreek.—Vergelyk Spreuke 20:18, NW.

25. (a) Hoe moet ouers dalk die voorbeeld van die Christengemeente navolg as ’n kind ’n hardkoppige rebel word? (b) Wat moet ouers in gedagte hou as een van hulle kinders rebelleer?

25 Die apostel Johannes het van iemand wat ’n verstokte rebel in die gemeente geword het, gesê: “Moet . . . hom nooit in julle huise ontvang of hom groet nie” (2 Johannes 10). Ouers besef dalk dat dit nodig is om ’n soortgelyke standpunt teenoor hulle eie kind in te neem as hy meerderjarig is en ’n volslae rebel word. So moeilik en pynlik as wat dit dalk mag wees, sulke optrede is soms noodsaaklik om die res van die gesin te beskerm. Jou huisgesin het jou beskerming en voortgesette leiding nodig. Hou dus aan om duidelike, en tog redelike, gedragsreëls te handhaaf. Kommunikeer met die ander kinders. Toon belangstelling in hoe hulle op skool en in die gemeente vaar. En hoewel jy nie die rebelse kind se dade goedkeur nie, moet jy hulle ook laat besef dat jy hom nie haat nie. Veroordeel die slegte gedrag pleks van die kind. Toe Jakob se twee seuns weens hulle wrede daad onheil oor die gesin gebring het, het Jakob hulle hewige toorn vervloek en nie die seuns self nie.—Genesis 34:1-31; 49:5-7.

26. Waaruit kan pligsgetroue ouers vertroosting put as een van hulle kinders rebelleer?

26 Jy voel dalk dat jy verantwoordelik is vir wat in jou gesin gebeur het. Maar as jy biddend alles gedoen het wat jy kon en Jehovah se raad so goed moontlik gevolg het, is dit nie nodig dat jy jouself op onredelike wyse kritiseer nie. Jy kan troos put uit die feit dat niemand ’n volmaakte ouer kan wees nie, maar jy het pligsgetrou probeer om ’n goeie ouer te wees. (Vergelyk Handelinge 20:26.) Om ’n volslae rebel in die gesin te hê, is hartverskeurend, maar as dit met jou sou gebeur, kan jy verseker wees dat God verstaan en dat hy nooit sy toegewyde knegte sal verlaat nie (Psalm 27:10). Wees dus vasbeslote om jou huis ’n veilige, geestelike hawe vir die ander kinders te maak.

27. Watter hoop kan die ouers van ’n rebelse kind altyd hê as hulle die gelykenis van die verlore seun in gedagte hou?

27 Daarbenewens moet jy nooit moed opgee nie. Jou vroeëre pogings om die kind behoorlik op te lei, kan die kind wat afgedwaal het uiteindelik tot inkeer laat kom en hom tot besinning bring (Prediker 11:6). ’n Aantal Christengesinne het al dieselfde ondervinding as jy deurgemaak, en party se weerspannige kinders het teruggekom, net soos in die geval van die vader in Jesus se gelykenis van die verlore seun (Lukas 15:11-32). Dieselfde kan ook met jou gebeur.

HOE KAN HIERDIE BYBELBEGINSELS . . . ’N OUER HELP OM ERNSTIGE OPSTANDIGHEID IN DIE HUISGESIN TE VOORKOM?

Sonder hulp kan ’n kind deur die wêreld se gees besoedel word.—Spreuke 13:20; Efesiërs 2:2.

Ouers moet ’n balans handhaaf tussen ontoegewendheid en toegewendheid.—Prediker 7:7, NW; 8:11.

Verkeerde gedrag moet aandag geniet, maar in ’n gees van sagmoedigheid.—Galasiërs 6:1.

Diegene wat ernstig sondig, kan “genees” word as hulle berou toon en hulp aanvaar.—Jakobus 5:14-16.

PRAAT DIE SAAK UIT

Adolessente sal twyfelgedagtes en bekommernisse ervaar wat met groter onafhanklikheid verband hou. Hulle voel dalk ’n bietjie onseker oor hulle opgewassenheid teen die wêreld. Dit is asof hulle op ’n seepgladde pad probeer loop. Julle jongmense, neem julle ouers in julle vertroue en vertel hulle van die vrese en die bekommernisse wat julle ervaar (Spreuke 23:22). Of as jy meen dat jou ouers te beperkend is, moet jy met hulle gesels oor die feit dat jy graag meer vryheid sal wil hê. Praat met hulle wanneer jy ontspanne is en hulle nie te besig is nie (Spreuke 15:23). Ruim die tyd in om werklik na mekaar te luister.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel