Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • fy hfst. 15 bl. 173-182
  • Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer
  • Die geheim van gesinsgeluk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ERKEN HULLE EMOSIONELE BEHOEFTES
  • HELP MET MATERIËLE BEHOEFTES
  • LIEFDE EN SELFOPOFFERING
  • TOON EMPATIE EN BEGRIP
  • BEHOU DIE REGTE GESINDHEID
  • VERSORGERS HET OOK VERSORGING NODIG
  • KRAG WAT BO DIE NORMALE IS
  • Die versorging van bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
Die geheim van gesinsgeluk
fy hfst. 15 bl. 173-182

HOOFSTUK VYFTIEN

Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer

1. Wat is ons aan ons ouers verskuldig, en hoe moet ons dus oor hulle voel en teenoor hulle optree?

“LUISTER na jou vader wat jou verwek het, en verag jou moeder nie as sy oud geword het nie”, het die wyse man lank gelede gemaan (Spreuke 23:22). ‘Ek sal dit nooit doen nie!’ sê jy dalk. Die meeste van ons is baie lief vir ons ouers en sal nie ons moeder—of ons vader—verag nie. Ons besef dat ons baie aan hulle verskuldig is. Ten eerste het ons ouers aan ons lewe gegee. Hoewel Jehovah die Bron van die lewe is, sou ons sonder ons ouers eenvoudig nie bestaan het nie. Niks wat ons ons ouers kan gee, is so kosbaar soos die lewe self nie. Dink dan ook aan die selfopoffering, bekommernis, onkoste en liefdevolle aandag wat daarby betrokke is om ’n kind te help om volwassenheid te bereik. Hoe redelik is dit dus tog dat God se Woord ons vermaan: “Eer jou vader en jou moeder . . . sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank op die aarde mag bly”!—Efesiërs 6:2, 3.

ERKEN HULLE EMOSIONELE BEHOEFTES

2. Hoe kan volwasse kinders “verskuldigde vergoeding” aan hulle ouers betaal?

2 Die apostel Paulus het aan Christene geskryf: “Kinders of kleinkinders [moet] . . . eers leer om godvrugtige toegewydheid in hulle eie huisgesin te beoefen en om ’n verskuldigde vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë” (1 Timoteus 5:4). Volwasse kinders gee hierdie “verskuldigde vergoeding” deur waardering te toon vir die jare se liefde, werk en versorging wat hulle ouers en grootouers aan hulle gegee het. Een manier waarop kinders dit kan doen, is deur te besef dat bejaardes net soos die res van ons liefde en gerusstelling nodig het—dikwels uiters nodig het. Hulle moet, net soos ons almal, voel dat hulle kosbaar is. Hulle moet voel dat hulle lewe betekenis het.

3. Hoe kan ons ons ouers en grootouers eer?

3 Ons kan dus ons ouers en grootouers eer deur aan hulle te bewys dat ons hulle liefhet (1 Korintiërs 16:14). As ons ouers nie by ons woon nie, moet ons onthou dat dit baie vir hulle beteken om van ons te hoor. ’n Vriendelike brief, ’n telefoonoproep of ’n besoek kan baie tot hulle vreugde bydra. Mijo, wat in Japan woon, het toe sy 82 jaar oud was, geskryf: “My dogter [wie se man ’n reisende bedienaar is] sê vir my: ‘Ma, “reis” asseblief saam met ons.’ Sy stuur vir my hulle reisroete en telefoonnommers vir elke week. Ek kan my kaart oopmaak en sê: ‘A, hulle is nou hier!’ Ek dank Jehovah altyd dat ek met so ’n kind geseën is.”

HELP MET MATERIËLE BEHOEFTES

4. Hoe het Joodse godsdienstradisies gevoelloosheid teenoor bejaarde ouers bevorder?

4 Sluit eer aan ’n mens se ouers dalk ook in dat jy in hulle materiële behoeftes moet voorsien? Ja. Dit is dikwels die geval. In Jesus se tyd het die Joodse godsdiensleiers die tradisie gehandhaaf dat ’n persoon wat verklaar het dat sy geld of eiendom “’n gawe [is] wat aan God gewy is” van die verantwoordelikheid onthef is om dit te gebruik om vir sy ouers te sorg (Matteus 15:3-6). Hoe gevoelloos tog! Daardie godsdiensleiers het mense in werklikheid aangespoor om hulle ouers nie te eer nie, maar om hulle te minag deur hulle behoeftes op selfsugtige wyse te ignoreer. Ons wil dit nooit doen nie!—Deuteronomium 27:16, NW.

5. Waarom sluit eer aan ’n mens se ouers soms finansiële hulp in, al maak die regerings van party lande dalk daarvoor voorsiening?

5 In baie lande is daar vandag staatsondersteunde welsynsprogramme om in van die materiële behoeftes van die bejaardes te voorsien, soos voedsel, klere en onderdak. Daarbenewens was die bejaardes dalk in staat om self in sekere mate vir hulle oudag voorsiening gemaak. Maar as hierdie voorsienings opraak of te min is, eer kinders hulle ouers deur te doen wat hulle kan om in hulle ouers se behoeftes te voorsien. Trouens, om vir bejaarde ouers te sorg, is ’n blyk van godvrugtige toegewydheid, dit wil sê ’n mens se toegewydheid aan Jehovah God, die Insteller van die gesinsreëling.

LIEFDE EN SELFOPOFFERING

6. Watter reëlings het party getref om in die behoeftes van hulle ouers te voorsien?

6 Talle volwasse kinders het al met liefde en selfopoffering in die behoeftes van hulle sieklike ouers voorsien. Party het hulle ouers by hulle in hulle eie huis laat intrek of verhuis om naby hulle te wees. Ander het by hulle ouers gaan woon. Sulke reëlings was al dikwels ’n seën vir ouers sowel as vir kinders.

7. Waarom is dit goed om nie oorhaastig besluite oor bejaarde ouers te neem nie?

7 Maar soms loop sulke reëlings skeef. Waarom? Miskien omdat besluite oorhaastig geneem is of geheel en al op emosies berus. “Die skrandere let op sy voetstappe”, is die Bybel se wyse vermaning (Spreuke 14:15). Byvoorbeeld, gestel jou bejaarde moeder vind dit moeilik om alleen te woon en jy dink dat dit dalk goed sal wees as sy by julle kom woon. As jy op skrandere wyse op jou voetstappe wil let, moet jy dalk die volgende in ag neem: Wat is werklik haar behoeftes? Is daar private of staatsgesubsidieerde welsynsdienste wat ’n aanvaarbare alternatiewe oplossing bied? Wil sy trek? Op watter maniere sal haar lewe beïnvloed word indien sy wel trek? Sal sy vriende moet agterlaat? Hoe sal dit haar miskien emosioneel beïnvloed? Het jy hierdie dinge met haar bespreek? Hoe sal dit jou, jou huweliksmaat en jou kinders beïnvloed as sy trek? Wie gaan na jou moeder omsien as sy versorging nodig het? Kan die verantwoordelikheid gedeel word? Het jy die saak met almal bespreek wat regstreeks daarby betrokke is?

8. Wie kan jy raadpleeg wanneer jy besluit hoe om jou bejaarde ouers te help?

8 Aangesien al die kinders in ’n gesin die verantwoordelikheid het om vir hulle ouers te sorg, is dit dalk raadsaam om ’n familiekonferensie te hou sodat almal by die besluite betrokke kan wees. Dit kan ook help om met die ouer manne in die Christengemeente te praat of met vriende wat voor ’n soortgelyke situasie te staan gekom het. “Planne misluk sonder beraadslaging”, waarsku die Bybel, “maar deur die veelheid van raadgewers kom dit tot stand.”—Spreuke 15:22.

TOON EMPATIE EN BEGRIP

Prent op bladsy 179

Dit is onverstandig om besluite vir ’n ouer te neem sonder om eers met hom of haar daaroor te praat

9, 10. (a) In watter opsig moet bejaardes, ondanks die feit dat hulle ouer word, in ag geneem word? (b) Hoe moet ’n volwasse kind sy ouers altyd behandel ongeag wat hy ten behoewe van hulle doen?

9 As ons ons bejaarde ouers wil eer, verg dit empatie en begrip. Namate die jare hulle tol eis, vind bejaardes dit dalk al hoe moeiliker om te loop, te eet en dinge te onthou. Hulle het miskien hulp nodig. Die kinders raak dikwels te beskermend en probeer leiding gee. Maar die bejaardes is volwassenes wat ’n leeftyd van wysheid en ondervinding agter hulle het, ’n leeftyd waartydens hulle vir hulleself gesorg het en hulle eie besluite geneem het. Hulle identiteit en selfrespek hang dalk grootliks af van hulle rol as ouers en volwassenes. Ouers wat voel dat beheer oor hulle lewe nou aan hulle kinders oorgelaat moet word, raak dalk terneergedruk of kwaad. Party voel gegrief oor en bied teenstand teen wat hulle dalk beskou as pogings om hulle hulle onafhanklikheid te ontneem.

10 Daar is nie maklike oplossings vir sulke probleme nie, maar dit is ’n blyk van goedhartigheid om bejaarde ouers sover moontlik toe te laat om na hulleself om te sien en hulle eie besluite te neem. Dit is verstandig om nie besluite te neem oor wat vir jou ouers goed is as jy nie eers met hulle daaroor gepraat het nie. Hulle het dalk reeds baie verloor. Laat hulle toe om te behou wat hulle nog het. Jy sal moontlik vind dat jou verhouding met jou ouers beter is as jy hulle lewe nie te veel probeer beheer nie. Hulle sal gelukkiger wees en jy ook. Selfs as dit nodig is om vir hulle welsyn op sekere dinge aan te dring, sal eer aan jou ouers vereis dat jy hulle met die waardigheid en respek behandel wat hulle verdien. God se Woord vermaan ons: “Vir die grys hare moet jy opstaan, en die persoon van ’n grysaard eer.”—Levitikus 19:32.

BEHOU DIE REGTE GESINDHEID

11-13. Hoe kan ’n volwasse kind wat nie in die verlede ’n goeie verhouding met sy ouers gehad het nie steeds die uitdaging die hoof bied om vir hulle te sorg wanneer hulle ouer word?

11 ’n Probleem waarmee volwasse kinders soms te kampe het wat eer aan hulle bejaarde ouers betref, hou verband met die verhouding wat daar vroeër tussen hulle en hulle ouers bestaan het. Jou vader was miskien hard en liefdeloos, jou moeder baasspelerig en ongevoelig. Jy voel dalk steeds gefrustreerd, kwaad of seergemaak omdat hulle nie die ouers was wat jy graag wou hê hulle moes wees nie. Kan jy sulke gevoelens te bowe kom?*

12 Basse, wat in Finland grootgeword het, sê: “My stiefpa was ’n SS-offisier in Nazi-Duitsland. Hy het sy humeur maklik verloor, en dan was hy gevaarlik. Hy het my ma baie kere voor my oë geslaan. Toe hy eenmaal vir my kwaad was, het hy sy belt geswaai en my met die gespe in die gesig geslaan. Dit het my so hard getref dat ek bo-oor die bed geval het.”

13 Maar elke saak het ook ’n ander kant. Basse sê voorts: “Daarenteen het hy baie hard gewerk en sy bes gedoen om materieel vir ons gesin te sorg. Hy het nooit vaderlike geneentheid aan my betoon nie, maar ek het geweet dat hy ’n emosionele knou weg het. Sy ma het hom uit die huis uitgejaag toe hy ’n jong seun was. Hy moes sy pad in die lewe oopveg en het as ’n jongman in die oorlog begin veg. Ek kon dit tot sekere mate verstaan en het hom nie blameer nie. Toe ek ouer geword het, wou ek hom tot sy dood toe soveel moontlik help. Dit was nie maklik nie, maar ek het gedoen wat ek kon. Ek het tot die einde probeer om ’n goeie seun te wees, en ek dink hy het my as sodanig aanvaar.”

14. Watter teks geld in alle aangeleenthede, onder andere in dié waar daar na bejaarde ouers omgesien moet word?

14 In gesinsaangeleenthede, soos in ander sake, geld dié Bybelraad: “Beklee julle . . . met die tere geneenthede van medelye, goedhartigheid, ootmoed, sagmoedigheid en lankmoedigheid. Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:12, 13.

VERSORGERS HET OOK VERSORGING NODIG

15. Waarom is dit soms so ontstellend om jou ouers te versorg?

15 Dit is harde werk om ’n sieklike ouer te versorg, want baie take, heelwat verantwoordelikhede en lang ure is daarby betrokke. Maar die moeilikste deel is dikwels die emosionele aspek. Dit is ontstellend om te sien hoe jou ouers hulle gesondheid, geheue en onafhanklikheid verloor. Sandy, wat van Puerto Rico af kom, sê: “My ma was die middelpunt van ons gesin. Dit was ’n baie hartseer saak om haar te versorg. Sy het eers mank begin loop; toe het sy ’n kierie nodig gehad, toe ’n loopraam, toe ’n rystoel. Daarna het sy net agteruitgegaan totdat sy gesterf het. Sy het beenkanker gekry en moes voortdurend—dag en nag—versorg word. Ons het haar gebad en gevoer en vir haar gelees. Dit was baie moeilik—veral emosioneel. Toe ek besef dat my moeder besig was om te sterf, het ek gehuil omdat ek só lief vir haar was.”

16, 17. Watter raad sal ’n versorger dalk help om ’n gebalanseerde beskouing van sake te handhaaf?

16 Wat kan jy doen om die mas op te kom as jy in ’n soortgelyke situasie is? Dit sal jou baie help as jy na Jehovah luister deur die Bybel te lees en in gebed met hom te praat (Filippense 4:6, 7). Prakties gesproke kan jy seker maak dat jy gebalanseerde maaltye eet en moet jy genoeg slaap probeer kry. Sodoende sal jy, emosioneel sowel as liggaamlik, beter daartoe in staat wees om jou geliefde te versorg. Miskien kan jy nou en dan ’n blaaskans in jou daaglikse roetine kry. Al kan jy nie met vakansie gaan nie, is dit steeds verstandig om ’n bietjie tyd vir ontspanning opsy te sit. Jy kan moontlik reël dat iemand anders by jou siek ouer bly sodat jy ’n bietjie kan weggaan.

17 Dit is nie ongewoon dat volwasse versorgers onredelike eise aan hulleself stel nie. Maar moenie skuldig voel oor wat jy nie kan doen nie. In sekere omstandighede moet jy dalk jou geliefde aan die sorg van ’n verpleeginrigting oorlaat. As jy ’n versorger is, moet jy redelike eise aan jouself stel. Jy moenie net in die behoeftes van jou ouers voorsien nie, maar ook in dié van jou kinders, jou huweliksmaat en jouself.

KRAG WAT BO DIE NORMALE IS

18, 19. Watter ondersteuning het Jehovah beloof, en watter ondervinding toon dat hy sy belofte nakom?

18 Deur middel van sy Woord, die Bybel, voorsien Jehovah op liefdevolle wyse leiding wat ’n mens baie kan help om na jou bejaarde ouers om te sien, maar dit is nie die enigste hulp wat hy voorsien nie. “Die HERE is naby almal wat Hom aanroep”, het die psalmis onder inspirasie geskryf. “Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.” Jehovah sal sy getroues selfs in die moeilikste situasies verlos, of bewaar.—Psalm 145:18, 19.

19 Myrna, in die Filippyne, het dit uitgevind toe sy haar moeder versorg het wat as gevolg van ’n beroerteaanval hulpeloos was. “Daar is niks meer ontstellends as om te sien hoe jou geliefde ly en nie in staat is om vir jou te sê waar dit seer is nie”, skryf Myrna. “Dit was asof ek gesien het hoe sy geleidelik verdrink, en daar was niks wat ek daaraan kon doen nie. Baie male het ek op my knieë gegaan en vir Jehovah gesê hoe moeg ek is. Ek het soos Dawid uitgeroep, wat Jehovah gesmeek het om sy trane in ’n kruik te sit en hom te onthou. En soos Jehovah belowe het, het hy my die krag gegee wat ek nodig gehad het. ‘Jehovah was my steun.’”—Psalm 18:19, vgl. NW.

20. Watter beloftes in die Bybel help versorgers om optimisties te bly, selfs al sterf die persoon wat hulle versorg?

20 Daar is al gesê dat versorging van bejaarde ouers ’n “verhaal sonder ’n gelukkige einde” is. Ondanks die beste versorging sterf bejaardes dalk, soos in die geval van Myrna se moeder. Maar diegene wat op Jehovah vertrou, weet dat die dood nie die einde van die verhaal is nie. Die apostel Paulus het gesê: “Ek het die hoop op God . . . dat daar ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges gaan wees” (Handelinge 24:15). Diegene wat bejaarde ouers aan die dood afgestaan het, put vertroosting uit die opstandingshoop, asook uit die belofte van ’n wonderlike nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring en waarin ‘die dood nie meer sal wees nie’.—Openbaring 21:4.

21. Watter goeie resultate lewer dit as bejaarde ouers geëer word?

21 Knegte van God het groot agting vir hulle ouers, al het hulle oud geword (Spreuke 23:22-24). Hulle eer hulle. Sodoende ondervind hulle wat die geïnspireerde spreuk sê: “Laat jou vader en jou moeder bly wees, en laat sy juig wat jou gebaar het” (Spreuke 23:25). En diegene wat hulle bejaarde ouers eer, behaag en eer bowenal Jehovah God.

Ons bespreek nie hier situasies waarin ouers skuldig was aan die uitermatige misbruik van hulle gesag en vertroue, soseer dat dit as ’n misdaad beskou kan word nie.

HOE KAN HIERDIE BYBELBEGINSELS . . . ONS HELP OM ONS BEJAARDE OUERS TE EER?

Ons moet verskuldigde vergoeding aan ouers en grootouers gee.—1 Timoteus 5:4.

Al ons aangeleenthede moet in liefde geskied.—1 Korintiërs 16:14.

Belangrike besluite moet nooit oorhaastig geneem word nie.—Spreuke 14:15.

Bejaarde ouers, selfs as hulle siek en swak is, moet gerespekteer word.—Levitikus 19:32.

Ons sal nie altyd oud word en sterf nie.—Openbaring 21:4.

    Afrikaanse publikasies (1975-2021)
    Teken af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2021 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel