HOOFSTUK SESTIEN
Verseker ’n blywende toekoms vir jou gesin
1. Wat was Jehovah se voorneme met die gesinsreëling?
TOE Jehovah Adam en Eva in die huwelik verbind het, het Adam aan sy vreugde uiting gegee deur die eerste opgetekende Hebreeuse poësie uit te spreek (Genesis 2:22, 23). Maar die Skepper het meer in gedagte gehad as om bloot vreugde aan sy mensekinders te verskaf. Hy wou hê dat egpare en gesinne sy wil doen. Hy het vir die eerste egpaar gesê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). Watter wonderlike, lonende toewysing was dit tog! Hoe gelukkig sou hulle en hulle toekomstige kinders tog gewees het as Adam en Eva Jehovah se wil met volkome gehoorsaamheid gedoen het!
2, 3. Hoe kan gesinne vandag die grootste geluk vind?
2 Gesinne is ook vandag die gelukkigste wanneer hulle saam werk om God se wil te doen. Die apostel Paulus het geskryf: “Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timoteus 4:8). ’n Gesin wat met godvrugtige toegewydheid lewe en wat Jehovah se riglyne in die Bybel volg, sal in ‘die teenswoordige lewe’ geluk vind (Psalm 1:1-3; 119:105; 2 Timoteus 3:16). Selfs as net een gesinslid Bybelbeginsels toepas, is die situasie beter as wanneer niemand dit doen nie.
3 Hierdie boek het baie Bybelbeginsels bespreek wat tot gesinsgeluk bydra. Jy het waarskynlik opgemerk dat van die beginsels herhaaldelik in die boek voorkom. Waarom? Omdat hulle kragtige waarhede is wat ons almal in verskillende aspekte van die gesinslewe tot voordeel strek. ’n Gesin wat hierdie Bybelbeginsels probeer toepas, vind dat godvrugtige toegewydheid waarlik ’n ‘belofte vir die teenswoordige lewe inhou’. Laat ons weer na vier van daardie belangrike beginsels kyk.
DIE WAARDE VAN SELFBEHEERSING
4. Waarom is selfbeheersing noodsaaklik in ’n huwelik?
4 Koning Salomo het gesê: “’n Afgebreekte stad sonder muur, so is ’n man wat sy gees nie kan inhou nie” (Spreuke 25:28; 29:11). ‘Om jou gees in te hou’, om selfbeheersing aan die dag te lê, is noodsaaklik vir diegene wat ’n gelukkige huwelik wil hê. As jy toegee aan vernietigende emosies, soos woede of onsedelike wellus, sal dit skade veroorsaak wat jare duur om te herstel—indien dit enigsins herstel kan word.
5. Hoe kan ’n onvolmaakte mens selfbeheersing aankweek, en watter voordele hou dit in?
5 Geen afstammeling van Adam kan natuurlik sy onvolmaakte vlees volkome beheers nie (Romeine 7:21, 22). Hoe dit ook al sy, selfbeheersing is ’n vrug van die gees (Galasiërs 5:22, 23). God se gees sal dus selfbeheersing in ons voortbring as ons bid dat hy ons hierdie eienskap gee, as ons die gepaste raad toepas wat in die Skrif gevind word en as ons met ander assosieer wat dit aan die dag lê en diegene vermy wat dit nie doen nie (Psalm 119:100, 101, 130; Spreuke 13:20; 1 Petrus 4:7). So ’n weg sal ons help om ‘vir die hoerery te vlug’, selfs wanneer ons in versoeking kom (1 Korintiërs 6:18). Ons sal geweld verwerp en sal alkoholisme vermy of oorwin. En ons sal kalmer bly as iets ons kwaad maak of as ons voor moeilike situasies te staan kom. Mag almal—kinders inkluis—leer om hierdie noodsaaklike vrug van die gees aan te kweek.—Psalm 119:1, 2.
’N BEHOORLIKE BESKOUING VAN HOOFSKAP
6. (a) Watter volgorde van hoofskap is deur God ingestel? (b) Wat moet ’n man onthou as hy wil hê dat sy hoofskap geluk vir sy gesin moet meebring?
6 Die tweede belangrike beginsel is die erkenning van hoofskap. Paulus het die behoorlike volgorde van dinge beskryf toe hy gesê het: “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man; die man weer is die hoof van die vrou; God weer is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Dit beteken dat ’n man die leiding in die gesin neem, sy vrou hom lojaal ondersteun en die kinders aan hulle ouers gehoorsaam is (Efesiërs 5:22-25, 28-33; 6:1-4). Let egter daarop dat hoofskap net tot geluk lei wanneer dit behoorlik toegepas word. Mans wat met godvrugtige toegewydheid lewe, weet dat hoofskap nie diktatorskap is nie. Hulle volg Jesus, hulle Hoof, na. Alhoewel Jesus “hoof oor alles” sou word, het hy ‘gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien’ (Efesiërs 1:22; Matteus 20:28). ’n Christenman oefen hoofskap op soortgelyke wyse uit, nie om homself te bevoordeel nie, maar om na die belange van sy vrou en kinders om te sien.—1 Korintiërs 13:4, 5.
7. Watter skriftuurlike beginsels sal ’n vrou help om haar godgegewe rol in die gesin te vervul?
7 Die vrou wat op haar beurt met godvrugtige toegewydheid lewe, wedywer nie met haar man nie of probeer hom nie oorheers nie. Dit maak haar gelukkig om hom te ondersteun en met hom saam te werk. Die Bybel sê soms dat die vrou aan haar man “behoort”, wat ongetwyfeld toon dat hy haar hoof is (Genesis 20:3, NW). Deur die huwelik kom sy onder “die wet van haar man” (Romeine 7:2). Terselfdertyd noem die Bybel haar ’n “hulp” en ’n “komplement” (Genesis 2:20, NW). Sy het die eienskappe en vermoëns wat haar man kortkom, en sy gee hom die nodige ondersteuning (Spreuke 31:10-31). Die Bybel sê ook dat ’n vrou ’n “metgesel” is, iemand wat sy aan sy met haar huweliksmaat werk (Maleagi 2:14). Hierdie skriftuurlike beginsels help ’n man en ’n vrou om mekaar se posisie te verstaan en om mekaar met behoorlike respek en waardigheid te behandel.
‘WEES GOU OM TE HOOR’
8, 9. Verduidelik party van die beginsels wat almal in die gesin sal help om hulle kommunikasievermoëns te verbeter.
8 In hierdie boek is die belangrikheid van kommunikasie dikwels beklemtoon. Waarom? Omdat probleme makliker opgelos word wanneer mense met mekaar praat en werklik na mekaar luister. Die aandag is herhaaldelik gevestig op die feit dat kommunikasie soos ’n tweerigtingpad is. Die dissipel Jakobus het dit as volg uitgedruk: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat.”—Jakobus 1:19.
9 Dit is ook belangrik dat ons let op die manier waarop ons praat. Ondeurdagte woorde wat twis wek of baie krities is, is nie suksesvolle kommunikasie nie (Spreuke 15:1; 21:9; 29:11, 20). Selfs al is wat ons sê korrek, sal dit waarskynlik meer kwaad as goed doen indien dit op ’n hardvogtige, trotse of ongevoelige manier gesê word. Ons spraak moet aangenaam wees, “smaaklik gemaak met sout” (Kolossense 4:6). Ons woorde moet soos “goue appels op versierde silwerborde” wees (Spreuke 25:11). Gesinne wat leer om goed te kommunikeer, het al ver gevorder op die weg na geluk.
DIE BELANGRIKE ROL VAN LIEFDE
10. Watter soort liefde is belangrik in die huwelik?
10 Die woord “liefde” kom herhaalde male regdeur hierdie boek voor. Onthou jy die soort liefde waarna daar hoofsaaklik verwys is? Dit is waar dat romantiese liefde (Grieks, eʹros) ’n belangrike rol in die huwelik speel, en in suksesvolle huwelike neem innige toegeneentheid en vriendskap (Grieks, fi·liʹa) tussen ’n man en ’n vrou toe. Maar die liefde wat deur die Griekse woord a·gaʹpe weergegee word, is selfs belangriker. Dit is die liefde wat ons vir Jehovah, vir Jesus en vir ons naaste aankweek (Matteus 22:37-39). Dit is die liefde wat Jehovah aan die mensdom betoon (Johannes 3:16). Hoe wonderlik is dit tog dat ons dieselfde soort liefde aan ons huweliksmaat en kinders kan betoon!—1 Johannes 4:19.
11. Hoe is liefde vir ’n huwelik bevorderlik?
11 In die huwelik is hierdie verhewe liefde waarlik “’n volmaakte band van eenheid” (Kolossense 3:14). Dit bind ’n egpaar saam, met die gevolg dat hulle wil doen wat vir mekaar en vir hulle kinders die beste is. Wanneer gesinne voor moeilike situasies te staan kom, help liefde hulle om dinge op ’n verenigde wyse te doen. Namate ’n egpaar ouer word, help liefde hulle om mekaar te ondersteun en te bly waardeer. “Die liefde . . . soek nie sy eie belang nie. . . . Dit verdra alles, glo alles, hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:4-8.
12. Waarom versterk ’n egpaar se liefde vir God hulle huwelik?
12 Die huweliksband is veral sterk wanneer dit nie net deur die liefde tussen huweliksmaats saamgeheg word nie, maar hoofsaaklik deur liefde vir Jehovah (Prediker 4:9-12). Waarom? Wel, die apostel Johannes het geskryf: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie onderhou” (1 Johannes 5:3). Gevolglik moet ’n egpaar nie bloot hulle kinders godvrugtige toegewydheid leer omdat hulle hulle kinders baie liefhet nie, maar omdat dit ’n bevel van Jehovah is (Deuteronomium 6:6, 7). Hulle moet nie net onsedelikheid vermy omdat hulle mekaar liefhet nie, maar hoofsaaklik omdat hulle Jehovah liefhet, wat “hoereerders en egbrekers [sal] oordeel” (Hebreërs 13:4). Selfs as een huweliksmaat ernstige probleme in ’n huwelik veroorsaak, sal liefde vir Jehovah die ander maat beweeg om Bybelbeginsels te bly volg. Gesinne is voorwaar gelukkig as liefde vir mekaar versterk word deur liefde vir Jehovah!
DIE GESIN WAT GOD SE WIL DOEN
13. Hoe sal vasbeslotenheid om God se wil te doen persone help om hulle oë gerig te hou op die dinge wat werklik belangrik is?
13 ’n Christen se hele lewe draai om die uitvoering van God se wil (Psalm 143:10). Dit is wat godvrugtige toegewydheid werklik beteken. As gesinne God se wil doen, help dit hulle om hulle oë gerig te hou op die dinge wat werklik belangrik is (Filippense 1:9, 10). Jesus het byvoorbeeld gewaarsku: “Ek het gekom om verdeeldheid te veroorsaak: ’n man teen sy vader, en ’n dogter teen haar moeder, en ’n jong vrou teen haar skoonmoeder. Ja, ’n mens se eie huisgenote sal sy vyande wees” (Matteus 10:35, 36). Soos Jesus gewaarsku het, is baie van sy volgelinge al deur gesinslede vervolg. Wat ’n droewige, hartseer situasie tog! Maar ons familiebande moenie vir ons van groter belang wees as ons liefde vir Jehovah God en vir Jesus Christus nie (Matteus 10:37-39). As ’n mens ondanks familieteenstand volhard, verander die teenstanders dalk wanneer hulle die goeie gevolge van godvrugtige toegewydheid sien (1 Korintiërs 7:12-16; 1 Petrus 3:1, 2). Selfs al gebeur dit nie, hou dit geen blywende voordeel in as ons weens teenstand ophou om God te dien nie.
14. Hoe sal ’n begeerte om God se wil te doen ouers help om in hulle kinders se belange op te tree?
14 As ouers God se wil doen, help dit hulle om regte besluite te neem. In party gemeenskappe is ouers geneig om kinders as ’n belegging te beskou, en hulle maak op hulle kinders staat om op hulle oudag vir hulle te sorg. Hoewel dit reg en gepas is dat volwasse kinders vir hulle bejaarde ouers sorg, moet hierdie beskouing nie daartoe lei dat ouers hulle kinders beïnvloed om ’n materialistiese lewensweg te volg nie. Ouers doen hulle kinders nie ’n guns as hulle hulle grootmaak om materiële besittings belangriker te ag as geestelike dinge nie.—1 Timoteus 6:9.
15. Hoe was Timoteus se moeder, Eunice, ’n uitstekende voorbeeld van ’n ouer wat God se wil gedoen het?
15 Eunice, die moeder van Paulus se jong vriend Timoteus, is ’n goeie voorbeeld in hierdie verband (2 Timoteus 1:5). Hoewel sy met ’n ongelowige man getroud was, het Eunice, tesame met Timoteus se grootmoeder Loïs, Timoteus met welslae grootgemaak om godvrugtige toegewydheid na te streef (2 Timoteus 3:14, 15). Toe Timoteus oud genoeg was, het Eunice hom toegelaat om die huis te verlaat en die Koninkrykspredikingswerk as Paulus se sendelingmetgesel te begin doen (Handelinge 16:1-5). Hoe verheug moes sy tog gewees het toe haar seun ’n uitstaande sendeling geword het! Sy godvrugtige toegewydheid as ’n volwassene het getoon dat hy vroeg in sy lewe goeie opleiding ontvang het. Eunice het ongetwyfeld tevredenheid en vreugde geput uit die verslae van Timoteus se getroue bediening, al het sy hom waarskynlik gemis.—Filippense 2:19, 20.
DIE GESIN EN JOU TOEKOMS
16. Watter gepaste besorgdheid het Jesus as seun getoon, maar wat was sy hoofdoel?
16 Jesus is in ’n godvrugtige gesin grootgemaak, en as ’n volwassene het hy die gepaste besorgdheid van ’n seun teenoor sy moeder getoon (Lukas 2:51, 52; Johannes 19:26). Maar Jesus se hoofdoel was om God se wil te volbring, en vir hom het dit ingesluit om vir mense die weg te baan om ewige lewe te geniet. Dit het hy gedoen toe hy sy volmaakte menselewe as ’n losprys vir die sondige mensdom opgeoffer het.—Markus 10:45; Johannes 5:28, 29.
17. Watter glorieryke vooruitsigte het Jesus se getroue lewensweg vir diegene moontlik gemaak wat God se wil doen?
17 Ná Jesus se dood het Jehovah hom tot hemelse lewe opgewek en aan hom groot gesag gegee; hy het hom uiteindelik as Koning in die hemelse Koninkryk gekroon (Matteus 28:18; Romeine 14:9; Openbaring 11:15). Jesus se offerande het dit moontlik gemaak vir party mense om gekies te word om saam met hom in daardie Koninkryk te regeer. Dit het ook die weg gebaan vir die res van die regskape mensdom om volmaakte lewe op ’n aarde te geniet wat tot paradysagtige toestande herstel sal word (Openbaring 5:9, 10; 14:1, 4; 21:3-5; 22:1-4). Een van die grootste voorregte wat ons vandag het, is om hierdie wonderlike goeie nuus aan ons naaste te vertel.—Matteus 24:14.
18. Waaraan word gesinne en individue herinner en watter aansporing ontvang hulle?
18 Soos die apostel Paulus getoon het, hou ’n lewe van godvrugtige toegewydheid die belofte in dat mense daardie seëninge in die “toekomstige” lewe kan beërf. Dit is gewis die beste manier om geluk te vind! Onthou, “die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Jy moet dus, hetsy jy ’n kind of ’n ouer is, ’n getroude man of vrou, ’n ongetroude volwassene met of sonder kinders, daarna streef om God se wil te doen. Selfs wanneer jy onder druk verkeer of voor uiters moeilike probleme te staan kom, moet jy nooit vergeet dat jy ’n kneg van die lewende God is nie. Mag jou dade Jehovah dus verbly (Spreuke 27:11). En mag jou gedrag nou aan jou geluk verskaf en ewige lewe in die toekomstige nuwe wêreld meebring!