Les 7
Kom na aan God deur gebed
Waarom is dit belangrik om gereeld te bid? (1)
Tot wie moet ons bid, en hoe? (2, 3)
Wat is gepaste onderwerpe vir gebed? (4)
Wanneer moet jy bid? (5, 6)
Luister God na alle gebede? (7)
1. Gebed is om nederig met God te praat. Jy moet gereeld tot God bid. Sodoende kan jy na aan hom voel soos aan ’n dierbare vriend. Jehovah is so groot en magtig, en tog luister hy na ons gebede! Bid jy gereeld tot God?—Psalm 65:3; 1 Tessalonisense 5:17.
2. Gebed is ’n deel van ons aanbidding. Daarom moet ons net tot God, Jehovah, bid. Toe Jesus op die aarde was, het hy altyd tot sy Vader gebid, nie tot enigiemand anders nie. Ons moet dieselfde doen (Matteus 4:10; 6:9). Maar al ons gebede moet in die naam van Jesus gedoen word. Dit toon dat ons Jesus se posisie eerbiedig en dat ons geloof in sy losprysofferande het.—Johannes 14:6; 1 Johannes 2:1, 2.
3. Wanneer ons bid, moet ons uit ons hart met God praat. Ons moenie ons gebede uit die hoof opsê of dit uit ’n gebedeboek lees nie (Matteus 6:7, 8). Ons kan in enige eerbiedige posisie, te eniger tyd en op enige plek bid. God kan selfs stil gebede hoor wat in ons hart gesê word (1 Samuel 1:12, 13). Dit is goed om ’n stil plek weg van ander mense af te vind om ons persoonlike gebede te doen.—Markus 1:35.
4. Oor watter onderwerpe kan jy bid? Enigiets wat jou vriendskap met hom kan raak (Filippense 4:6, 7). Die modelgebed toon dat ons oor Jehovah se naam en voorneme moet bid. Ons kan ook vra dat daar in ons materiële behoeftes voorsien word, dat ons sondes vergewe word en dat ons gehelp word om versoeking te weerstaan (Matteus 6:9-13). Ons gebede moenie selfsugtig wees nie. Ons moet net bid vir dinge wat ooreenstem met God se wil.—1 Johannes 5:14.
5. Jy kan bid wanneer jou hart jou ook al beweeg om God te dank of te loof (1 Kronieke 29:10-13). Jy moet bid wanneer jy probleme het en jou geloof getoets word (Psalm 55:23; 120:1). Dit is gepas om te bid voordat jy jou maaltye eet (Matteus 14:19). Jehovah nooi ons om “by elke geleentheid” te bid.—Efesiërs 6:18.
6. Ons moet veral bid wanneer ons ’n ernstige sonde gepleeg het. Wanneer dit gebeur, moet ons Jehovah om barmhartigheid en vergifnis smeek. As ons ons sondes aan hom bely en ons bes doen om dit nie weer te doen nie, is God “vergewensgesind”.—Psalm 86:5; Spreuke 28:13.
7. Jehovah luister net na die gebede van regverdige mense. As jy wil hê dat jou gebede deur God verhoor moet word, moet jy jou bes doen om volgens sy wette te lewe (Spreuke 15:29; 28:9). Jy moet nederig wees wanneer jy bid (Lukas 18:9-14). Jy moet in ooreenstemming met jou gebede optree. Jy sal sodoende bewys lewer dat jy geloof het en dat jy werklik bedoel wat jy sê. Dan eers sal Jehovah jou gebede verhoor.—Hebreërs 11:6.