Wat die boek bevat
Iemand wat vir die eerste keer in ’n biblioteek instap, sal dalk die rangskikking van boeke verwarrend vind. Maar met ’n bietjie verduideliking van hoe die boeke gerangskik is, leer hy gou hoe om dinge op te spoor. Dit is eweneens makliker om dinge in die Bybel te vind as ’n mens verstaan hoe die inhoud daarvan gerangskik is.
DIE woord “Bybel” word afgelei van die Griekse woord bi·bliʹa, wat “papirusrolle” of “boeke” beteken het.1 Die Bybel is eintlik ’n versameling—’n biblioteek—van 66 individuele boeke, wat oor ’n tydperk van ongeveer 1 600 jaar geskryf is, vanaf 1513 v.G.J. tot omstreeks 98 G.J.
Die eerste 39 boeke, omtrent driekwart van die Bybel se inhoud, staan bekend as die Hebreeuse Geskrifte, aangesien dit meestal in daardie taal geskryf is. Hierdie boeke kan oor die algemeen in drie groepe verdeel word: (1) Geskiedkundig, Genesis tot Ester, 17 boeke; (2) Digterlik, Job tot Hooglied van Salomo, 5 boeke, en (3) Profeties, Jesaja tot Maleagi, 17 boeke. Die Hebreeuse Geskrifte dek die vroeë geskiedenis van die aarde en van die mensdom sowel as die geskiedenis van die eertydse nasie Israel van hulle ontstaan tot die vyfde eeu v.G.J. toe.
Die oorblywende 27 boeke staan bekend as die Christelike Griekse Geskrifte, want dit is in Grieks, die internasionale taal van daardie tyd, geskryf. Dit is basies volgens die onderwerp gerangskik: (1) die 5 geskiedkundige boeke—die Evangelies en Handelinge, (2) die 21 briewe en (3) die Openbaring. Die Christelike Griekse Geskrifte vestig die aandag op die leringe en bedrywighede van Jesus Christus en sy dissipels in die eerste eeu G.J.