Hoofstuk sestien
Die strydende konings nader hulle einde
1, 2. Hoe het die identiteit van die koning van die Noorde ná die Tweede Wêreldoorlog verander?
DIE Franse filosoof en geskiedkundige Alexis de Tocqueville het in 1835 oor die politieke klimaat van die Verenigde State en Rusland geskryf: “Die een het vryheid as sy vernaamste dryfkrag; die ander het slawerny. Hulle . . . weë [is] uiteenlopend; nogtans lyk dit of elkeen van hulle deur die een of ander verborge plan van die Voorsienigheid geroepe is om die lot van die helfte van die wêreld in sy hand te hê.” Het dit kort ná die Tweede Wêreldoorlog gelyk of hierdie voorspelling bewaarheid sou word? Die geskiedkundige J. M. Roberts skryf: “Aan die einde van ’n tweede Wêreldoorlog het dit uiteindelik waarskynlik gelyk dat die lot van die wêreld inderdaad deur twee groot en teenstrydige magstelsels oorheers sal word, een gevestig in wat Rusland was en die ander in die Verenigde State van Amerika.”
2 Gedurende die twee wêreldoorloë was Duitsland die vernaamste vyand van die koning van die Suide—die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid—en hy self was die koning van die Noorde. Ná die Tweede Wêreldoorlog was daardie nasie egter verdeeld. Wes-Duitsland het ’n bondgenoot van die koning van die Suide geword, en Oos-Duitsland het hom met ’n ander sterk entiteit geallieer—die Kommunistiese blok nasies wat deur die Sowjetunie gelei is. Hierdie blok, of politieke entiteit, het as die koning van die Noorde opgestaan, in sterk verset teen die Anglo-Amerikaanse bondgenootskap. En die mededinging tussen die twee konings het ’n Koue Oorlog geword wat van 1948 tot 1989 voortgeduur het. Vroeër het die Duitse koning van die Noorde “teen die heilige verbond” opgetree (Daniël 11:28, 30). Hoe sou die Kommunistiese blok teenoor die verbond optree?
WARE CHRISTENE STRUIKEL, MAAR SEËVIER
3, 4. Wie was “die wat goddeloos handel teen die verbond”, en watter soort verhouding het hulle met die koning van die Noorde gehad?
3 “Die wat goddeloos handel teen die verbond”, het God se engel gesê, “sal hy [die koning van die Noorde] met vleiery afvallig maak.” Die engel het verder gesê: “Maar die volk wat hulle God ken, sal vashou [“seëvier”, NW] en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank.”—Daniël 11:32, 33.
4 “Die wat goddeloos handel teen die verbond” kan net die leiers van die Christendom wees, wat beweer dat hulle Christene is maar deur hulle dade die naam van die Christelike geloof smaad aandoen. In sy boek Religion in the Soviet Union sê Walter Kolarz: “[Gedurende die Tweede Wêreldoorlog] het die Sowjetregering die materiële bystand en morele steun van die Kerke probeer werf om die vaderland te verdedig.” Ná die oorlog het kerkleiers daardie vriendskap probeer behou, ondanks die ateïstiese beleid van die moondheid wat nou die koning van die Noorde was. Die Christendom het dus al hoe meer ’n deel van hierdie wêreld geword—’n walglike afvalligheid in Jehovah se oë.—Johannes 17:16; Jakobus 4:4.
5, 6. Wie was “die volk wat hulle God ken”, en hoe het hulle onder die koning van die Noorde gevaar?
5 Wat van ware Christene—“die volk wat hulle God ken” en “die verstandiges”? Hoewel Christene tereg ‘onderdanig aan die hoër owerhede’ was, was dié wat onder die heerskappy van die koning van die Noorde gewoon het geen deel van hierdie wêreld nie (Romeine 13:1; Johannes 18:36). Hulle het nie versuim om ‘aan Caesar terug te betaal wat aan Caesar behoort’ nie, maar het ook “aan God [gegee] wat aan God behoort” (Matteus 22:21). As gevolg hiervan is hulle onkreukbaarheid op die proef gestel.—2 Timoteus 3:12.
6 Gevolglik het ware Christene ‘gestruikel’ sowel as ‘geseëvier’. Hulle het gestruikel, aangesien hulle hewig vervolg is en party selfs doodgemaak is. Maar hulle het geseëvier, aangesien die oorgrote meerderheid getrou gebly het. Net soos Jesus het hulle die wêreld oorwin (Johannes 16:33). Daarbenewens het hulle nooit opgehou om die predikingswerk te doen nie, al was hulle in die tronk of in konsentrasiekampe. Sodoende het hulle ‘baie tot insig gebring’. Ondanks vervolging in die meeste lande onder die heerskappy van die koning van die Noorde het die aantal Getuies van Jehovah vermeerder. Danksy die getrouheid van “die verstandiges” het ’n immer groeiende deel van die “groot skare” uit daardie lande gekom.—Openbaring 7:9-14.
JEHOVAH SE VOLK WORD GELOUTER
7. Watter “klein hulp” het die gesalfde Christene gekry wat onder die heerskappy van die koning van die Noorde gelewe het?
7 “Terwyl hulle [God se volk] struikel, sal hulle met ’n klein hulp ondersteun word”, het die engel gesê (Daniël 11:34a). Die oorwinning van die koning van die Suide in die Tweede Wêreldoorlog het ’n mate van verligting gebring vir Christene wat onder die heerskappy van die mededingende koning gelewe het. (Vergelyk Openbaring 12:15, 16.) Diegene wat vervolg is deur die koning wat ná hom gekom het, het eweneens van tyd tot tyd verligting gekry. Terwyl die Koue Oorlog sy einde genader het, het baie leiers besef dat getroue Christene geen bedreiging vir hulle inhou nie en het hulle gevolglik wetlike erkenning aan hulle verleen. Hulp het ook gekom van die immer toenemende groot skare, wat gunstig gereageer het op die getroue predikingswerk van die gesalfdes en hulle daarmee gehelp het.—Matteus 25:34-40.
8. Hoe het party hulle “uit listigheid” by God se volk aangesluit?
8 Nie almal wat gedurende die jare van die Koue Oorlog gesê het dat hulle God wil dien, het goeie beweegredes gehad nie. Die engel het gewaarsku: “Dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit” (Daniël 11:34b). Daar was baie wat belangstelling in die waarheid getoon het, maar nie bereid was om hulle aan God toe te wy nie. Dan was daar nog ander wat die goeie nuus skynbaar aangeneem het, maar in werklikheid spioene vir die owerheid was. ’n Verslag uit een land sê: “Party van hierdie beginsellose persone was geswore Kommuniste wat in die Here se organisasie ingesluip het, ’n groot vertoon van ywer gemaak het en selfs in hoë diensposisies aangestel is.”
9. Waarom het Jehovah toegelaat dat party getroue Christene as gevolg van die infiltreerders “struikel”?
9 Die engel het verder gesê: “En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde—want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd” (Daniël 11:35). As gevolg van die infiltreerders het party van die getroues in die hande van die owerheid geval. Jehovah het toegelaat dat sulke dinge gebeur om sy volk te louter en te reinig. Net soos Jesus “gehoorsaamheid geleer [het] uit die dinge wat hy gely het”, het hierdie getroues volharding geleer omdat hulle geloof getoets is. (Hebreërs 5:8; Jakobus 1:2, 3; vergelyk Maleagi 3:3.) Hulle is dus ‘gelouter, gereinig en gesuiwer’.
10. Wat beteken die uitdrukking “tot die tyd van die einde”?
10 Jehovah se volk sou “tot die tyd van die einde” struikel en gelouter word. Hulle verwag natuurlik om tot die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge vervolg te word. Maar die reiniging en suiwering van God se volk weens die feit dat die koning van die Noorde onder hulle ingedring het, sou “op die vasgestelde tyd” daarvoor plaasvind. Gevolglik moet “die tyd van die einde” in Daniël 11:35 verband hou met die einde van die tydperk wat nodig is sodat God se volk gelouter kan word terwyl hulle die aanvalle van die koning van die Noorde verduur. Hulle het klaarblyklik op Jehovah se vasgestelde tyd daarvoor opgehou om te struikel.
DIE KONING HOU HOM GROOT
11. Wat het die engel oor die gesindheid van die koning van die Noorde teenoor Jehovah se soewereiniteit gesê?
11 Die engel het daarna die volgende oor die koning van die Noorde gesê: “Die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek [omdat hy weier om Jehovah se soewereiniteit te erken]; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is; want wat vas besluit is, sal uitgevoer word. En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie, en op die liefling [“begeerte”, NW] van die vroue en op enige god sal hy geen ag gee nie; want hy sal homself bo alles groot hou.”—Daniël 11:36, 37.
12, 13. (a) Hoe het die koning van die Noorde “die gode van sy vaders” verwerp? (b) Wie was die “vroue” op wie se “begeerte” die koning van die Noorde geen ag gegee het nie? (c) Watter “god” het die koning van die Noorde vereer?
12 Die koning van die Noorde het daardie profetiese woorde vervul en “die gode van sy vaders”, soos die Drie-enige god van die Christendom, verwerp. Die Kommunistiese blok het absolute ateïsme voorgestaan. Sodoende het die koning van die Noorde van homself ’n god gemaak en ‘en homself bo alles groot gehou’. Die koning het geen ag gegee op “die begeerte van die vroue”—onderhorige lande, soos Noord-Viëtnam, wat soos diensmeisies van sy regime was—nie, en hy het ‘gedoen net wat hy wil’.
13 Die engel het met die profesie voortgegaan en gesê: “In plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer, en die god wat sy vaders nie geken het nie, sal hy met goud en silwer en edelgesteente en kosbaarhede vereer” (Daniël 11:38). Trouens, die koning van die Noorde het op moderne wetenskaplike militarisme, “die god van die vestings”, vertrou. Hy het redding deur hierdie “god” probeer verkry en het ontsaglik baie rykdom op sy altaar geoffer.
14. Hoe het die koning van die Noorde doeltreffend ‘opgetree’?
14 “So sal hy dan optree teen die versterkte vestings met behulp van ’n vreemde god; diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel” (Daniël 11:39). Deur op sy militaristiese “vreemde god” te vertrou, het die koning van die Noorde baie doeltreffend ‘opgetree’ en getoon dat hy ’n belangrike militêre moondheid in “die laaste dae” is (2 Timoteus 3:1). Diegene wat sy ideologie gesteun het, is met politieke, finansiële en soms militêre steun beloon.
’N “BOTSING” IN DIE TYD VAN DIE EINDE
15. Hoe het die koning van die Suide met die koning van die Noorde in “botsing” gekom?
15 “In die tyd van die einde sal die koning van die Suide met hom in botsing kom”, het die engel vir Daniël gesê (Daniël 11:40a). Het die koning van die Suide gedurende “die tyd van die einde” met die koning van die Noorde ‘gebots’? (Daniël 12:4, 9). Ja, beslis. Ná die Eerste Wêreldoorlog was die vredesverdrag wat as straf op die destydse koning van die Noorde—Duitsland—gelê is beslis ’n “botsing”, iets wat hom tot vergelding sou uitlok. Ná die koning van die Suide se oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog het hy skrikwekkende kernwapens op sy mededinger gerig en ’n kragtige militêre bondgenootskap, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), teen hom georganiseer. ’n Britse geskiedskrywer sê van NAVO se funksie: “Dit was die vernaamste instrument in die ‘magsbeperking’ van die USSR, wat nou gesien is as die grootste bedreiging vir vrede in Europa. Dit was 40 jaar lank in werking, en was ongetwyfeld suksesvol in sy pogings.” Gedurende die jare van die Koue Oorlog het hierdie “botsing” deur die koning van die Suide hipertegnologiese spioenasie sowel as diplomatieke en militêre aanvalle ingesluit.
16. Hoe het die koning van die Noorde op hierdie botsing deur die koning van die Suide gereageer?
16 Hoe het die koning van die Noorde hierop gereageer? “Die koning van die Noorde sal op hom afstorm met strydwaens en perderuiters en baie skepe, en hy sal daarmee in die lande inkom en instroom en dit oorvloei” (Daniël 11:40b). Die geskiedenis van die laaste dae is gekenmerk deur die koning van die Noorde se uitbreidingspolitiek. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi-“koning” oor sy grense en in die omliggende lande ingestroom. Aan die einde van daardie oorlog het die nuwe “koning” ’n magtige ryk opgebou. Gedurende die Koue Oorlog het die koning van die Noorde en sy mededinger teen mekaar geveg deurdat hulle teenoorgestelde kante gesteun het in oorloë en opstande in Afrika, Asië en Latyns-Amerika. Hy het ware Christene vervolg en hulle bedrywighede beperk—maar hy kon dit beslis nie stopsit nie. En sy militêre en politieke optrede het ’n aantal lande onder sy beheer laat kom. Dit is presies soos die engel voorspel het: “Hy sal ook kom in die Pragtige Land [die geestelike grondgebied van Jehovah se volk], en baie sal struikel.”—Daniël 11:41a.
17. Watter perke was daar aan die uitbreidingspolitiek van die koning van die Noorde?
17 Die koning van die Noorde kon egter nie die wêreld verower nie. Die engel het voorspel: “Hierdie volke sal uit sy hand vryraak: Edom en Moab en die beste deel van die kinders van Ammon” (Daniël 11:41b). In antieke tye was Edom, Moab en Ammon tussen die ryk van die Egiptiese koning van die Suide en die Siriese koning van die Noorde geleë. In hedendaagse tye verteenwoordig hulle nasies en organisasies wat die koning van die Noorde onder sy invloed probeer bring het, maar sonder sukses.
EGIPTE KOM NIE VRY NIE
18, 19. Hoe het die koning van die Suide die invloed van sy mededinger gevoel?
18 Jehovah se engel gaan voort: “Hy [die koning van die Noorde] sal sy hand uitsteek teen die lande; ook Egipteland sal nie vrykom nie. En hy sal mag hê oor die skatte van goud en silwer en oor al die kosbaarhede van Egipte, terwyl die Libiërs en die Kusiete sy voetstappe volg” (Daniël 11:42, 43). Selfs die koning van die Suide, “Egipte”, het nie aan die gevolge van die uitbreidingsbeleide van die koning van die Noorde ontkom nie. Die koning van die Suide het byvoorbeeld in Viëtnam ’n swaar nederlaag gely. En wat van “die Libiërs en die Kusiete”? Hierdie bure van antieke Egipte beeld heel waarskynlik nasies af wat, geografies gesproke, buurlande van die hedendaagse “Egipte” (die koning van die Suide) is. Hulle het soms die koning van die Noorde ondersteun, of ‘sy voetstappe gevolg’.
19 Het die koning van die Noorde mag gehad oor ‘die skatte van Egipte’? Hy het inderdaad ’n kragtige invloed gehad op die manier waarop die koning van die Suide sy finansiële hulpbronne gebruik het. Weens vrees vir sy mededinger het die koning van die Suide groot somme geld gebruik om ’n sterk leër, vloot en lugmag te onderhou. In hierdie opsig het die koning van die Noorde ‘mag gehad’, of beheer uitgeoefen, oor die rykdom van die koning van die Suide.
DIE FINALE VELDTOG
20. Hoe beskryf die engel die finale veldtog van die koning van die Noorde?
20 Die mededinging tussen die koning van die Noorde en die koning van die Suide—hetsy op militêre, ekonomiese of enige ander gebied—nader nou sy einde. Jehovah se engel het die besonderhede van ’n toekomstige stryd geopenbaar en gesê: “Gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom [die koning van die Noorde] verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref. En hy sal sy paleistente opslaan tussen die see en die berg van die heilige Prag; maar hy sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie.”—Daniël 11:44, 45.
21. Wat moet ons nog in verband met die koning van die Noorde leer?
21 Die ontbinding van die Sowjetunie in Desember 1991 was ’n baie groot terugslag vir die koning van die Noorde. Wie sal hierdie koning wees wanneer Daniël 11:44, 45 vervul word? Sal sy identiteit verband hou met een van die lande wat deel uitgemaak het van die voormalige Sowjetunie? Of sal hy heeltemal van identiteit verander, soos voorheen al etlike kere gebeur het? Sal die feit dat meer nasies kernwapens ontwikkel ’n nuwe wapenwedloop tot gevolg hê en ’n uitwerking hê op die identiteit van daardie koning? Net die tyd sal die antwoorde op hierdie vrae kan voorsien. Ons is verstandig as ons nie daaroor bespiegel nie. Wanneer die koning van die Noorde op sy finale veldtog uittrek, sal almal wat Bybelse insig het die vervulling van profesie duidelik kan sien.—Sien “Konings in Daniël hoofstuk 11”, op bladsy 284.
22. Watter vrae ontstaan oor die finale aanval deur die koning van die Noorde?
22 Maar ons weet wel hoe die koning van die Noorde binnekort sal optree. Die gerugte “uit die ooste en uit die noorde” sal hom laat optree, en hy sal ’n veldtog voer “om baie mense te verdelg”. Teen wie is hierdie veldtog gerig? En watter “gerugte” gee aanleiding tot hierdie aanval?
VERONTRUS DEUR SKRIKWEKKENDE GERUGTE
23. (a) Watter besondere gebeurtenis moet voor Armageddon plaasvind? (b) Wie is “die konings uit die opgang van die son”?
23 Kyk wat sê die boek Openbaring oor die einde van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. Voor “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, Armageddon, sal hierdie groot vyand van ware aanbidding “heeltemal met vuur verbrand word” (Openbaring 16:14, 16; 18:2-8). Die vernietiging daarvan word voorafgeskadu deur die uitgieting van die sesde bak van God se toorn op die simboliese Eufraatrivier. Die rivier word opgedroog sodat “die weg vir die konings uit die opgang van die son berei kon word” (Openbaring 16:12). Wie is daardie konings? Niemand anders nie as Jehovah God en Jesus Christus!—Vergelyk Jesaja 41:2; 46:10, 11.
24. Watter daad van Jehovah sal die koning van die Noorde moontlik verskrik?
24 Die vernietiging van Babilon die Grote word baie duidelik beskryf in die boek Openbaring, waar ons lees: “Die tien horings wat jy gesien het [die konings wat gedurende die tyd van die einde regeer], en die wilde dier [die Verenigde Nasies], hulle sal die hoer haat en sal haar verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand” (Openbaring 17:16). Waarom sal die heersers Babilon die Grote vernietig? Omdat ‘God dit in hulle harte sit om sy gedagte uit te voer’ (Openbaring 17:17). Onder hierdie heersers is die koning van die Noorde. Wat hy “uit die ooste” hoor, verwys heel moontlik na hierdie daad van Jehovah, wanneer hy dit in die harte van menseleiers sit om die groot godsdienshoer uit te wis.
25. (a) Watter spesiale teiken het die koning van die Noorde? (b) Waar slaan die koning van die Noorde “sy paleistente” op?
25 Maar daar is ’n spesiale teiken vir die gramskap van die koning van die Noorde. Hy sal “sy paleistente opslaan tussen die see [“groot see”, NW] en die berg van die heilige Prag”, sê die engel. In Daniël se tyd was die groot see die Middellandse See en die berg van die heilige Prag was Sion, waar God se tempel vroeër gestaan het. Gevolglik voer die woedende koning van die Noorde in die vervulling van die profesie ’n veldtog teen God se volk. In geestelike sin verteenwoordig die gebied “tussen die see en die berg van die heilige Prag” die geestelike grondgebied van Jehovah se gesalfde knegte. Hulle het uit die “see”, die mensdom wat van God vervreemd is, uitgekom en het die hoop om saam met Jesus Christus op die hemelse berg Sion te regeer.—Jesaja 57:20; Hebreërs 12:22; Openbaring 14:1.
26. Wat is moontlik die oorsprong van die nuus “uit die noorde”, soos deur Esegiël se profesie aangedui word?
26 Esegiël, ’n tydgenoot van Daniël, het ook ’n aanval op God se volk “aan die einde van die dae” voorspel. Hy het gesê dat die vyandigheid deur Gog van Magog, dit wil sê deur Satan die Duiwel, aan die gang gesit sou word (Esegiël 38:14, 16). Uit watter rigting kom Gog simbolies gesproke? “Uit die agterhoeke van die Noorde”, sê Jehovah deur Esegiël (Esegiël 38:15). Ongeag hoe hewig hierdie aanval is, Jehovah se volk sal nie daardeur vernietig word nie. Hierdie dramatiese ontmoeting sal die gevolg wees van ’n strategiese stap van Jehovah om Gog se magte uit te wis. Daarom sê Jehovah vir Satan: “Ek sal . . . hake in jou kakebene sit en jou laat uittrek.” “Ek sal . . . jou laat optrek uit die agterhoeke van die Noorde en jou laat kom op die berge van Israel” (Esegiël 38:4; 39:2). Die nuus “uit die noorde” wat die koning van die Noorde woedend maak, moet dus van Jehovah af kom. Maar presies wat die gerugte “uit die ooste en uit die noorde” sal wees, sal God alleen kan bepaal en sal net die tyd ons leer.
27. (a) Waarom sal Gog die nasies, met inbegrip van die koning van die Noorde, aanhits om Jehovah se volk aan te val? (b) Hoe sal Gog se aanval afloop?
27 Wat Gog betref, hy organiseer sy verwoede aanval as gevolg van die voorspoed van “die Israel van God”, wat, saam met die “groot skare” “ander skape”, nie meer deel van sy wêreld is nie (Galasiërs 6:16; Openbaring 7:9; Johannes 10:16; 17:15, 16; 1 Johannes 5:19). Gog minag “’n volk wat uit die nasies vergader is, een wat [geestelike] rykdom en besittings versamel” (Esegiël 38:12, NW). Omdat Gog die Christelike geestelike grondgebied beskou as ’n “land wat ooplê” en maklik verower kan word, wend hy ’n groot poging aan om hierdie struikelblok in die weg van sy algehele beheer oor die mensdom uit die weg te ruim. Maar hy misluk (Esegiël 38:11, 18; 39:4). Wanneer die konings van die aarde, met inbegrip van die koning van die Noorde, Jehovah se volk aanval, sal hulle ‘aan hulle einde kom’.
‘DIE KONING SAL AAN SY EINDE KOM’
28. Wat weet ons van die toekoms van die koning van die Noorde en die koning van die Suide?
28 Die koning van die Noorde voer sy finale veldtog nie teen die koning van die Suide nie. Gevolglik is dit nie die groot mededinger van die koning van die Noorde wat hom aan sy einde laat kom nie. Dit is eweneens nie die koning van die Noorde wat die koning van die Suide vernietig nie. Die koning van die Suide word “sonder toedoen van mensehand”, deur God se Koninkryk, vernietig (Daniël 8:25).a Trouens, by die slag van Armageddon gaan alle aardse konings deur God se Koninkryk verwyder word, en dit is wat klaarblyklik met die koning van die Noorde sal gebeur (Daniël 2:44). Daniël 11:44, 45 beskryf gebeure wat tot daardie finale slag lei. Geen wonder dat daar “geen helper” vir die koning van die Noorde sal wees wanneer hy aan sy einde kom nie!
[Voetnoot]
a Sien Hoofstuk 10 van hierdie boek.
WAT HET JY GELEER?
• Hoe het die identiteit van die koning van die Noorde ná die Tweede Wêreldoorlog verander?
• Wat gaan uiteindelik met die koning van die Noorde en die koning van die Suide gebeur?
• Hoe het jy daarby baat gevind omdat jy ag gegee het op Daniël se profesie oor die mededinging tussen die twee konings?
[Tabel/Prent op bladsy 284]
KONINGS IN DANIËL HOOFSTUK 11
Die koning Die koning
van die Noorde van die Suide
Daniël 11:5 Seleukos I Nikator Ptolemeus I
Daniël 11:6 Antiogos II Ptolemeus II
(vrou Laodice) (dogter Berenice)
Daniël 11:7-9 Seleukos II Ptolemeus III
Daniël 11:10-12 Antiogos III Ptolemeus IV
Daniël 11:13-19 Antiogos III Ptolemeus V
(dogter Kleopatra I) Opvolger:
Opvolgers: Ptolemeus VI
Seleukos IV en
Antiogos IV
Daniël 11:20 Augustus
Daniël 11:21-24 Tiberius
Daniël 11:27-30a Duitse Ryk Brittanje, gevolg deur
(Eerste Wêreldoorlog) die Anglo-Amerikaanse
Wêreldmoondheid
Daniël 11:30b, 31 Hitler se Derde Ryk Anglo-Amerikaanse
(Tweede Wêreldoorlog) Wêreldmoondheid
Daniël 11:32-43 Kommunistiese Blok Anglo-Amerikaanse
(Koue Oorlog) Wêreldmoondheid
Daniël 11:44, 45 Moet nog opstaanb Anglo-Amerikaanse
Wêreldmoondheid
[Voetnoot]
b Die profesie in Daniël hoofstuk 11 voorspel nie die name van die politieke entiteite wat op verskillende tye die koning van die Noorde en die koning van die Suide is nie. Hulle identiteit word eers bekend nadat die gebeure begin plaasvind het. Aangesien die stryd in episodes plaasvind, is daar bowendien tye wanneer daar geen stryd is nie—die een koning het die oorhand en die ander een is onbedrywig.
[Volbladillustrasie op bladsy 271]
[Prente op bladsy 279]
Die “botsing” deur die koning van die Suide het hipertegnologiese spioenasie en die bedreiging van militêre optrede ingesluit