Hoofstuk vier
Jehovah se huis word verhef
1, 2. Watter woorde staan op ’n muur by die plaza van die Verenigde Nasies geskrywe, en waar kom dit vandaan?
“HULLE sal van hul swaarde ploegskare smee. En van hul spiese snoeimesse: nasie sal nie meer teen nasie die swaard ophef nie. En hulle sal ook nie meer leer om oorlog te voer nie.” Hierdie woorde staan op ’n muur by die plaza van die Verenigde Nasies in die stad New York. Die bron van hierdie aanhaling was dekades lank nie geïdentifiseer nie. Aangesien die doelstelling van die VN is om hom vir wêreldvrede te beywer, was dit maklik om te dink dat die aanhaling sy oorsprong in 1945 by die stigters van die VN gehad het.
2 Maar in 1975 is die naam Jesaja onder die aanhaling op die muur uitgebeitel. Toe was dit duidelik dat die woorde nie ’n hedendaagse oorsprong gehad het nie. Trouens, dit is meer as 2 700 jaar gelede as ’n profesie opgeteken in wat nou die 2de hoofstuk van die boek Jesaja is. Liefhebbers van vrede wonder al millenniums lank hoe en wanneer die dinge wat Jesaja voorspel het, sal plaasvind. Dit is nie meer nodig om te wonder nie. Ons sien vandag hoe die merkwaardige vervulling van hierdie eertydse profesie voor ons afspeel.
3. Wie is die nasies wat van hulle swaarde ploegskare smee?
3 Wie is die nasies wat van hulle swaarde ploegskare smee? Hulle is beslis nie die hedendaagse politieke nasies en regerings nie. Tot nou toe het hierdie nasies swaarde, of wapens, ontwikkel om oorlog te voer sowel as om die “vrede” deur hulle mag te handhaaf. In werklikheid was die neiging nog altyd dat nasies eerder van hulle ploegskare swaarde smee! Jesaja se profesie word vervul in verteenwoordigers uit alle nasies, mense wat Jehovah, “die God van vrede”, aanbid.—Filippense 4:9.
Die nasies wat na ware aanbidding stroom
4, 5. Wat voorspel die openingsverse van Jesaja hoofstuk 2, en waardeur word die betroubaarheid van daardie woorde beklemtoon?
4 Jesaja hoofstuk 2 begin met hierdie woorde: “Dít is wat Jesaja, die seun van Amos, aangaande Juda en Jerusalem in ’n visioen gesien het: En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van Jehovah stewig gevestig word bo die top van die berge, en dit sal beslis bo die heuwels verhef word; en al die nasies sal daarheen stroom.”—Jesaja 2:1, 2.
5 Let op dat Jesaja se voorspelling nie blote bespiegeling is nie. Jesaja word aangesê om gebeure op te teken wat sonder twyfel gaan gebeur. Wat Jehovah se voorneme ook al is, dit sal “beslis welslae behaal” (Jesaja 55:11). Klaarblyklik om die betroubaarheid van sy belofte te beklemtoon, het God die profeet Miga, een van Jesaja se tydgenote, geïnspireer om dieselfde profesie in sy boek neer te skryf as wat in Jesaja 2:2-4 opgeteken is.—Miga 4:1-3.
6. Wanneer word Jesaja se profesie vervul?
6 Wanneer sal Jesaja se profesie vervul word? “Aan die einde van die dae”. Die New International Version sê: “In die laaste dae”. Die Christelike Griekse Geskrifte het dinge voorspel wat hierdie tydperk sou identifiseer. Dit het oorloë, aardbewings, pessiektes, voedseltekorte en ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, ingesluit (2 Timoteus 3:1-5; Lukas 21:10, 11).* Die vervulling van sulke profesieë lewer oorvloedige bewys dat ons “aan die einde van die dae”, die laaste dae van hierdie hedendaagse wêreldstelsel, lewe. Dit is dus logies dat ons kan verwag om te sien hoe die dinge wat Jesaja voorspel het in ons dag vervul sal word.
’n Berg om in te aanbid
7. Watter profetiese prentjie skets Jesaja?
7 Jesaja skets in net ’n paar woorde ’n duidelike profetiese prentjie. Ons sien ’n hoë berg en bo-op dit ’n glorieryke huis, die tempel van Jehovah. Hierdie berg troon bo die berge en heuwels rondom hom uit. Maar dit is nie dreigend of skrikwekkend nie; dit is aantreklik. Mense van alle nasies wil graag na die berg van die huis van Jehovah opgaan; hulle stroom daarheen. Dit is maklik om jou dit voor te stel, maar wat beteken dit?
8. (a) Waarmee word berge en heuwels in Jesaja se dag geassosieer? (b) Wat beeld die feit af dat die nasies na “die berg van die huis van Jehovah” stroom?
8 In Jesaja se dag word heuwels en berge dikwels met aanbidding geassosieer. Hulle dien byvoorbeeld as plekke vir afgodediens en as tempels van valse gode (Deuteronomium 12:2; Jeremia 3:6). Maar die huis, of tempel, van Jehovah versier die top van die berg Moria in Jerusalem. Getroue Israeliete reis drie keer per jaar na Jerusalem en gaan teen die berg Moria op om die ware God te aanbid (Deuteronomium 16:16). Die feit dat die nasies na “die berg van die huis van Jehovah” stroom, beeld dus die insameling van baie volke af om ware aanbidding te beoefen.
9. Wat beeld “die berg van die huis van Jehovah” af?
9 Vandag vergader God se volk natuurlik nie by ’n letterlike berg met ’n tempel wat van stene gebou is nie. Jehovah se tempel in Jerusalem is in 70 G.J. deur Romeinse leërs vernietig. Daarbenewens het die apostel Paulus dit duidelik gestel dat die tempel in Jerusalem en die tabernakel wat dit voorafgegaan het ’n voorafskaduwing was. Hulle het ’n groter, geestelike werklikheid afgebeeld, “die ware tent, wat Jehovah opgerig het en nie ’n mens nie” (Hebreërs 8:2). Daardie geestelike tent is die reëling waardeur ons Jehovah in aanbidding nader op grond van die losprysoffer van Jesus Christus (Hebreërs 9:2-10, 23). In ooreenstemming hiermee beeld “die berg van die huis van Jehovah” wat in Jesaja 2:2 genoem word die verhewe, rein aanbidding van Jehovah in ons tyd af. Diegene wat ware aanbidding aanneem, vergader nie by enige geografiese ligging nie; hulle vergader in eenheid van aanbidding.
Rein aanbidding word verhef
10, 11. In watter sin is Jehovah se aanbidding in ons dag verhef?
10 Die profeet sê dat “die berg van die huis van Jehovah”, of ware aanbidding, “stewig gevestig [sal] word bo die top van die berge” en dat dit “bo die heuwels verhef” sal word. Lank voor Jesaja se tyd het koning Dawid die verbondsark na die berg Sion in Jerusalem gebring, wat 760 meter bo seevlak geleë is. Die ark het daar gebly totdat dit na die voltooide tempel op die berg Moria verskuif is (2 Samuel 5:7; 6:14-19; 2 Kronieke 3:1; 5:1-10). Teen Jesaja se dag is die heilige ark dus reeds fisies verhoog en in die tempel geplaas, in ’n posisie wat hoër was as al die omliggende heuwels wat vir valse aanbidding gebruik is.
11 In geestelike sin was Jehovah se aanbidding natuurlik nog altyd verhewe bo die godsdiensgebruike van diegene wat valse gode aanbid. Maar gedurende ons dag het Jehovah sy aanbidding hemelhoog verheerlik, bo alle vorme van onrein aanbidding, ja, ver bo al “die heuwels” en “die top van die berge”. Hoe so? Grotendeels deur die insameling van diegene wat hom “met gees en waarheid” wil aanbid.—Johannes 4:23.
12. Wie is “die seuns van die koninkryk”, en watter insameling het plaasgevind?
12 Christus Jesus het na “’n voleinding van ’n stelsel van dinge” verwys as ’n oestyd wanneer die engele “die seuns van die koninkryk”—diegene wat die hoop het om saam met Jesus in hemelse heerlikheid te regeer—sou insamel (Matteus 13:36-43). Sedert 1919 het Jehovah “die oorblywendes” van hierdie seuns in staat gestel om saam met die engele aan die oeswerk deel te neem (Openbaring 12:17). Daarom is “die seuns van die koninkryk”, Jesus se gesalfde broers, die eerstes wat ingesamel word. Dan neem hulle aan ’n verdere insamelingswerk deel.
13. Hoe het Jehovah die gesalfde oorblyfsel geseën?
13 Gedurende hierdie oestyd het Jehovah die gesalfde oorblyfsel progressief gehelp om sy Woord, die Bybel, te verstaan en toe te pas. Dit het ook bygedra tot die verheffing van rein aanbidding. Hoewel ‘duisternis die aarde oordek, en dik donkerheid die volksgroepe’, ‘skyn die gesalfdes as ligte’ onder die mensdom omdat Jehovah hulle gereinig en gelouter het (Jesaja 60:2; Filippense 2:15). Omdat hierdie geesgesalfdes ‘in alle wysheid en geestelike insig vervul is met die juiste kennis van sy wil’, skyn hulle “so helder soos die son . . . in die koninkryk van hulle Vader”.—Kolossense 1:9; Matteus 13:43.
14, 15. Watter ander insameling, benewens die insameling van “die seuns van die koninkryk”, het plaasgevind, en hoe is dit deur Haggai voorspel?
14 Daarbenewens het ander ook na “die berg van die huis van Jehovah” gestroom. Hierdie persone, wat Jesus sy “ander skape” noem, het die hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te lewe (Johannes 10:16; Openbaring 21:3, 4). Van die 1930’s af het hulle by die duisende verskyn, toe by die honderdduisende en nou by die miljoene! In ’n visioen wat aan die apostel Johannes gegee is, word hulle beskryf as “’n groot skare, wat geen mens kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale”.—Openbaring 7:9.
15 Die profeet Haggai het voorspel dat hierdie groot skare sou verskyn. Hy het geskryf: “Want só het Jehovah van die leërs gesê: ‘Nog een keer—net ’n klein rukkie—en ek skud die hemel en die aarde en die see en die droë grond. En ek sal al die nasies skud, en die begeerlike dinge van al die nasies [diegene wat by die gesalfdes aansluit om suiwer aanbidding te beoefen] moet inkom; en ek sal hierdie huis met heerlikheid vul’, het Jehovah van die leërs gesê” (Haggai 2:6, 7). Die bestaan van hierdie steeds toenemende “groot skare” en hulle gesalfde metgeselle verhef, ja dit verheerlik, rein aanbidding in Jehovah se huis. Daar was nog nooit tevore soveel wat verenig was in die aanbidding van die ware God nie, en dit verheerlik Jehovah en sy gekroonde Koning, Jesus Christus. Koning Salomo het geskryf: “In die veelheid van die volk lê die sieraad van ’n koning.”—Spreuke 14:28.
Aanbidding verheerlik in die lewe van mense
16-18. Watter veranderinge het party gemaak sodat hulle Jehovah op aanneemlike wyse kan aanbid?
16 Jehovah verdien al die eer vir die verheffing van rein aanbidding in ons tyd. Nogtans het diegene wat hom nader die voorreg om aan hierdie werk deel te neem. Net soos dit inspanning verg om teen ’n berg uit te klim, verg dit ook inspanning om van God se regverdige standaarde te leer en daarvolgens te lewe. Soos Christene in die eerste eeu het God se hedendaagse knegte lewenswyses en gebruike laat vaar wat in stryd is met ware aanbidding. Hoereerders, afgodedienaars, egbrekers, diewe, gierigaards, dronkaards en ander het hulle weë verander en is in God se oë “skoon gewas”.—1 Korintiërs 6:9-11.
17 ’n Tipiese geval is die ondervinding van een jong vrou wat geskryf het: “Ek was verlore en het geen hoop gehad nie. Ek het ’n lewe van onsedelikheid en dronkenskap gelei. Ek het geslagsiektes gehad. Ek het ook dwelms verkoop en eenvoudig vir niks omgegee nie.” Nadat sy die Bybel bestudeer het, het sy groot veranderinge gemaak sodat sy aan God se standaarde kon voldoen. Nou sê sy: “Ek het gemoedsrus, selfrespek, ’n hoop vir die toekoms, ’n ware familie en, bowenal, ’n verhouding met ons Vader, Jehovah.”
18 Selfs ná ’n mens ’n goedgekeurde posisie voor Jehovah verkry het, moet jy aanhou om rein aanbidding te verhef deur dit ’n vername plek in jou lewe te gee. Duisende jare gelede het Jehovah, deur Jesaja, sy vertroue uitgespreek dat daar vandag menigtes sal wees wat gretig is om sy aanbidding die belangrikste ding in hulle lewe te maak. Is jy een van hulle?
’n Volk wat Jehovah se weg geleer word
19, 20. Wat word God se volk geleer, en waar?
19 Jesaja vertel ons meer van diegene wat vandag rein aanbidding aanneem. Hy sê: “Baie volke sal beslis heengaan en sê: ‘Kom, en laat ons opgaan na die berg van Jehovah, na die huis van die God van Jakob; en hy sal ons omtrent sy weë onderrig, en ons sal in sy paaie wandel.’ Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van Jehovah uit Jerusalem.”—Jesaja 2:3.
20 Jehovah laat sy volk nie soos verlore skape ronddwaal nie. Deur middel van die Bybel en Bybelpublikasies openbaar hy sy “wet” en sy “woord” aan hulle sodat hulle sy weë kan leer. Hierdie kennis rus hulle toe om ‘in sy paaie te wandel’. Uit harte vol waardering en in ooreenstemming met Goddelike leiding, praat hulle met mekaar oor die weë van Jehovah. Hulle vergader by groot byeenkomste en in kleiner groepe—by Koninkryksale en in privaat huise—om te luister en die weë van God te leer (Deuteronomium 31:12, 13). Sodoende volg hulle die voorbeeld van die vroeë Christene, wat bymekaargekom het om mekaar aan te moedig en aan te spoor om oorvloedig te wees in “liefde en voortreflike werke”.—Hebreërs 10:24, 25.
21. Aan watter werk neem Jehovah se knegte deel?
21 Hulle nooi ander om na die verhewe aanbidding van Jehovah God ‘op te gaan’. Hoe goed stem dit tog nie ooreen met die opdrag wat Jesus net voor sy hemelvaart aan sy dissipels gegee het nie! Hy het vir hulle gesê: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader en van die Seun en van die heilige gees, en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19, 20). Jehovah se Getuies is gehoorsaam aan hierdie opdrag en gaan met Goddelike ondersteuning regoor die aarde uit en leer mense, maak dissipels en doop hulle.
Ploegskare van swaarde
22, 23. Wat voorspel Jesaja 2:4, en wat het een amptenaar van die VN daarvan gesê?
22 Nou kom ons by die volgende vers, waarvan ’n deel op die muur by die plaza van die Verenigde Nasies geskryf staan. Jesaja skryf: “Hy sal beslis oordeel tussen die nasies en sake regstel met betrekking tot baie volke. En hulle sal van hulle swaarde ploegskare moet smee en van hulle spiese snoeimesse. Nasie sal nie teen nasie die swaard ophef nie, en ook sal hulle nie meer leer om oorlog te voer nie.”—Jesaja 2:4.
23 Om dit reg te kry, sal beslis ’n groot prestasie wees. Federico Mayor, die direkteur-generaal van die Verenigde Nasies se Organisasie vir Onderwys, Wetenskap en Kultuur, het eenkeer gesê: “Dit lyk nie eers of al die afskuwelikhede van oorlog, wat deesdae deur oudio-visuele toerusting onder ons aandag gebring word, ’n einde kan bring aan die enorme oorlogspoging wat deur die loop van die eeue tot stand gebring en onderhou is nie. Die hedendaagse geslagte staan voor die amper onmoontlike, Bybelse taak om ‘van hulle swaarde ploegskare te smee’ en om ’n oorlogsinstink—wat al sedert die gryse verlede aangekweek word—in ’n neiging tot vrede te verander. Om dit teweeg te bring, sal die beste en edelste daad wees wat die ‘globale dorp’ kan verrig, en die beste nalatenskap aan ons nakomelinge.”
24, 25. In wie word Jesaja se woorde vervul, en hoe?
24 Hierdie verhewe doel sal nooit onder al die nasies bereik word nie. Dit is eenvoudig buite hulle bereik. Jesaja se woorde word vervul deur individue uit baie nasies, wat in ware aanbidding verenig word. Jehovah het ‘sake reggestel’ onder hulle. Hy het sy volk geleer om in vrede met mekaar saam te lewe. Ja, in ’n verdeelde wêreld vol tweedrag het hulle figuurlik gesproke ‘van hulle swaarde ploegskare gesmee en van hulle spiese snoeimesse’. Hoe?
25 In die eerste plek kies hulle nie kant in die oorloë van die nasies nie. Kort voor Jesus se dood het gewapende mans gekom om hom in hegtenis te neem. Toe Petrus sy Heer met ’n swaard verdedig het, het Jesus vir hom gesê: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard vergaan” (Matteus 26:52). Sedertdien smee Jesus se voetstapnavolgers van hulle swaarde ploegskare en weier hulle om wapens op te neem om hulle medemens dood te maak en om oorlogspogings op enige ander manier te ondersteun. Hulle “streef vrede met alle mense na”.—Hebreërs 12:14.
Streef die weë van vrede na
26, 27. Hoe ‘soek God se volk vrede en streef hulle dit na’? Gee ’n voorbeeld.
26 Die vrede van God se volk is baie meer as ’n blote weiering om oorlog te voer. Hoewel hulle in meer as 230 lande aangetref word en baie tale en kulture verteenwoordig, geniet hulle vrede met mekaar. Jesus se woorde aan sy eerste-eeuse dissipels word vandag in hulle vervul: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Johannes 13:35). Christene is vandag “vredemakers” (Matteus 5:9, voetnoot in naslaanuitgawe). Hulle ‘soek vrede en streef dit na’ (1 Petrus 3:11). Jehovah, “die God wat vrede gee”, ondersteun hulle.—Romeine 15:33.
27 Daar is treffende voorbeelde van mense wat geleer het om vredemakers te wees. ’n Jong man skryf van sy vroeë lewe: “Bittere ondervinding het my geleer hoe om myself te verdedig. Dit het my hard en aggressief gemaak. Ek het alewig in ’n bakleiery beland. Ek het elke dag met ’n ander kind in die buurt baklei, soms met my vuiste, soms met klippe of bottels. Ek het baie gewelddadig grootgeword.” Maar uiteindelik het hy die uitnodiging aangeneem om na “die berg van die huis van Jehovah” te gaan. Hy het God se weë geleer en ’n vredeliewende kneg van God geword.
28. Wat kan Christene doen om vrede na te streef?
28 Die meeste van Jehovah se knegte het nie so ’n gewelddadige agtergrond nie. Maar selfs in betreklik onbelangrike dingetjies—dade van goedhartigheid, vergewensgesindheid en empatie—probeer hulle om vrede met ander te bewaar. Hoewel hulle onvolmaak is, probeer hulle om die Bybel se raad toe te pas om “mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het”.—Kolossense 3:13.
’n Vreedsame toekoms
29, 30. Watter vooruitsig is daar vir die aarde?
29 Jehovah het iets wonderliks in hierdie tyd, “die einde van die dae”, gedoen. Hy het uit alle nasies mense ingesamel wat hom wil dien. Hy het hulle geleer om in sy vreedsame weë te wandel. Dit is hulle wat die komende “groot verdrukking” sal oorleef en tot in ’n vreedsame nuwe wêreld behoue sal bly waar daar nooit weer oorlog sal wees nie.—Openbaring 7:14.
30 Swaarde—wapens—sal nie meer bestaan nie. Die psalmis het van daardie tyd geskryf: “Kom, aanskou die dade van Jehovah, hoe hy verbasende gebeurtenisse op die aarde teweeggebring het. Hy laat oorloë ophou tot aan die einde van die aarde. Die boog verbreek hy en die spies kap hy stukkend; die waens verbrand hy met vuur” (Psalm 46:8, 9). Met die oog op hierdie vooruitsig is Jesaja se volgende aansporing vandag net so gepas as toe hy dit geskryf het: “O huis van Jakob, kom en laat ons in die lig van Jehovah wandel” (Jesaja 2:5). Ja, laat Jehovah se lig nou ons pad verlig, en ons sal tot in alle ewigheid in sy weg wandel.—Miga 4:5.
[Voetnoot]
Sien die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei, hoofstuk 11, “Dit is nóú die laaste dae!” uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.