Hulle hedendaagse ontwikkeling en groei
DIE hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies het meer as honderd jaar gelede begin. In die vroeë 1870’s het daar ’n betreklike klein Bybelstudiegroep begin in Allegheny, Pennsilvanië, VSA, wat nou ’n deel van Pittsburgh is. Charles Taze Russell was die hooffiguur van die groep. In Julie 1879 het die eerste nommer van die tydskrif Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence verskyn. Daardie enkele Bybelstudiegroepie het teen 1880 tot talle gemeentes in nabygeleë state gegroei. In 1881 is Zion’s Watch Tower Tract Society gestig, en in 1884 is dit geïnkorporeer, met Russell as president. Die Genootskap se naam is later na die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap verander. Baie het van huis tot huis getuig en Bybellektuur aangebied. In 1888 het 50 mense dit voltyds gedoen—vandag is daar wêreldwyd gemiddeld ongeveer 700 000.
Teen 1909 is daar begin om die werk internasionaal te doen en is die Genootskap se hoofkantoor na sy huidige ligging in Brooklyn, New York, verskuif. Preke is in koerante geplaas, en teen 1913 het dit in vier tale in duisende koerante in die Verenigde State, Kanada en Europa verskyn. Honderdmiljoene boeke, boekies en traktate is versprei.
In 1912 is daar aan die “Fotodrama van die Skepping” begin werk. Deur middel van skyfies en rolprente met klank het dit gebeure van die aarde se skepping af tot aan die einde van Christus se Duisendjarige Heerskappy gedek. Vertonings het in 1914 begin, en 35 000 het dit daagliks gesien. Dit was een van die eerste rolprente met klank.
DIE JAAR 1914
’n Kritieke tyd het nader gekom. In 1876 het die Bybelstudent Charles Taze Russell die artikel “Die Heidense Tye: Wanneer eindig dit?” geskryf vir die Bible Examiner wat in Brooklyn, New York, uitgegee is, en op bladsy 27 van die nommer vir Oktober het dit gesê: “Die sewe tye sal in 1914 n.C. eindig.” Die Heidense Tye is die tydperk waarna ’n ander Bybelvertaling verwys as “die vasgestelde tye van die nasies” (Lukas 21:24). Nie alles wat in 1914 verwag is, het gebeur nie, maar dit het wel die einde van die Heidense Tye gekenmerk en dit was ’n besonder betekenisvolle jaar. Baie geskiedkundiges en kommentators stem saam dat 1914 ’n keerpunt in die mensegeskiedenis was. Die volgende aanhalings lig dit toe:
“Die laaste volkome ‘normale’ jaar in die geskiedenis was 1913, die jaar voor die Eerste Wêreldoorlog begin het.”—Hoofartikel in die Times-Herald, Washington, DC, 13 Maart 1949.
“Die 75-jarige tydperk van 1914 tot 1989, waartydens twee wêreldoorloë en die koue oorlog plaasgevind het, word al hoe meer deur geskiedkundiges gesien as ’n enkele, afsonderlike tydperk, ’n unieke tyd waarin die grootste deel van die wêreld oorlog gevoer het, van oorlog herstel het of vir oorlog voorberei het.”—The New York Times, 7 Mei 1995.
“Die hele wêreld het in werklikheid met die Eerste Wêreldoorlog ontplof, en ons weet nog steeds nie waarom nie. Voor dit gebeur het, het mense gedink dat utopie in sig is. Daar was vrede en voorspoed. Toe het alles ontplof. Ons is sedertdien in ’n toestand van skyndood . . . Meer mense is in hierdie eeu doodgemaak as in die hele geskiedenis.”—Dr. Walker Percy, American Medical News, 21 November 1977.
Meer as 50 jaar ná 1914 het die Duitse staatsman Konrad Adenauer geskryf: “Veiligheid en rus het sedert 1914 uit die lewe van mense verdwyn.”—The West Parker, Cleveland, Ohio, 20 Januarie 1966.
Die Genootskap se eerste president, C. T. Russell, is in 1916 oorlede en is die volgende jaar deur Joseph F. Rutherford opgevolg. Baie veranderinge het plaasgevind. Die tydskrif The Golden Age het as medetydskrif van Die Wagtoring verskyn. (Dit word nou Ontwaak! genoem en het ’n oplaag van meer as 20 000 000 in meer as 80 tale.) Groter klem is op getuieniswerk van huis tot huis gelê. Om hulle van die kerke van die Christendom te onderskei, het hierdie Christene in 1931 die naam Jehovah se Getuies aangeneem. Hierdie naam is op Jesaja 43:10-12 gebaseer.
In die 1920’s en 1930’s is daar op groot skaal van die radio gebruik gemaak. Teen 1933 het die Genootskap van 403 radiostasies gebruik gemaak om Bybellesings uit te saai. Later is die gebruik van die radio grootliks vervang deur meer huisbesoeke deur Getuies met draagbare grammofone en plate met Bybeltoesprake. Tuisbybelstudies is begin met almal wat in Bybelwaarheid belanggestel het.
OORWINNINGS IN DIE HOWE
Gedurende die 1930’s en 1940’s is baie Getuies in hegtenis geneem omdat hulle hierdie werk gedoen het, en hofsake is gevoer ten einde die vryheid van spraak, persvryheid, die reg van vergadering en godsdiensvryheid te bewaar. In die Verenigde State het appèlle in laer howe tot gevolg gehad dat die Getuies 43 sake in die Hooggeregshof van die Verenigde State gewen het. Gunstige uitsprake is eweneens deur hooggeregshowe in ander lande gelewer. Aangaande hierdie oorwinnings in die howe het professor C. S. Braden, in sy boek These Also Believe, die volgende oor die Getuies gesê: “Hulle het ’n buitengewone diens aan die demokrasie bewys met hulle stryd om hulle burgerregte te bewaar, want in hulle stryd het hulle baie gedoen om daardie regte vir elke minderheidsgroep in Amerika te waarborg.”
SPESIALE OPLEIDINGSPROGRAMME
J. F. Rutherford is in 1942 oorlede en is deur N. H. Knorr as president opgevolg. Daar is met ’n doelgerigte opleidingsprogram begin. In 1943 is ’n spesiale opleidingskool vir sendelinge, wat die Wagtoring-Bybelskool Gilead genoem word, geopen. Sedertdien is gegradueerdes van hierdie skool na lande oor die hele aarde gestuur. Nuwe gemeentes het verrys in lande waar daar nie gemeentes was nie, en daar is nou meer as 100 takkantore wêreldwyd. Van tyd tot tyd word spesiale kursusse aangebied vir die opleiding van gemeentelike ouer manne, vrywillige werkers by takkantore en diegene wat (as pioniers) die getuieniswerk voltyds doen. ’n Aantal gespesialiseerde skole vir bedienaars is al by ’n onderrigsentrum in Patterson, New York, aangebied.
N. H. Knorr is in 1977 oorlede. Een van die laaste organisatoriese veranderinge waarin hy voor sy dood ’n aandeel gehad het, was die vergroting van die Bestuursliggaam wat by die wêreldhoofkantoor in Brooklyn dien. In 1976 is administratiewe verantwoordelikhede verdeel en opgedra aan verskeie komitees wat uit lede van die Bestuursliggaam bestaan, en almal van hulle het ondervinding as bedienaars wat oor dekades strek.
DRUKKERYE BREI UIT
Die geskiedenis van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye is vol dramatiese gebeure. Van die een klein Bybelstudiegroep in Pennsilvanië in 1870 het die Getuies teen die jaar 2000 wêreldwyd tot ongeveer 90 000 gemeentes gegroei. Al die lektuur is aanvanklik deur handelsfirmas gedruk. Toe, in 1920, het die Getuies van hulle lektuur in gehuurde fabrieke gedruk. Maar sedert 1927 is baie meer lektuur gedruk in die agtverdiepingfabriek in Brooklyn, New York, wat aan die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., behoort. Dit het nou tot ander fabrieke en ’n kantoorkompleks uitgebrei. Daar is ander nabygeleë geboue in Brooklyn om huisvesting te verskaf aan die bedienaars wat hulle diens aangebied het om in die drukkerye te werk. Daarbenewens is daar naby Wallkill, in die noorde van die staat New York, ’n plaas en drukkery op dieselfde terrein. Daar word Die Wagtoring en Ontwaak! in Engels gedruk en word van die voedsel geproduseer vir die bedienaars wat op die verskillende plekke werk. Elke vrywillige werker ontvang ’n klein maandelikse vergoeding om ekstra uitgawes te dek.
INTERNASIONALE BYEENKOMSTE
In 1893 is die eerste groot byeenkoms in Chicago, Illinois, VSA, gehou. Dit is deur 360 bygewoon, en 70 nuwelinge is gedoop. Die laaste groot, enkele internasionale byeenkoms is in 1958 in die stad New York gehou. Die Yankee-stadion sowel as die destydse Polo-terrein is daarvoor gebruik. Die opkomshoogtepunt was 253 922, en 7 136 nuwelinge is gedoop. Sedertdien is internasionale byeenkomste as ’n reeks byeenkomste in baie lande gehou. So ’n reeks kan duisend byeenkomste in lande oor die hele aarde insluit.
[Lokteks op bladsy 8]
’n Buitengewone diens in die belang van burgerlike vryheid
[Prent op bladsy 6]
“Die Wagtoring”, van 6 000 eksemplare in een taal tot meer as 22 000 000 in meer as 132 tale
[Prent op bladsy 7]
’n Keerpunt in die mensegeskiedenis
[Volbladillustrasie op bladsy 10]