Vrae wat belangstellendes dikwels vra
As God liefde is, waarom laat hy goddeloosheid toe?
GOD laat wel goddeloosheid toe, en miljoene op aarde beoefen dit opsetlik. Hulle verklaar byvoorbeeld oorloë, werp bomme op kinders, vernietig die aarde en veroorsaak hongersnode. Miljoene rook en kry longkanker, pleeg egbreuk en kry seksueel oordraagbare siektes, misbruik alkohol en kry lewersirrose, ensovoorts. Sulke mense wil nie werklik hê dat alle goddeloosheid moet ophou nie. Hulle wil net hê dat die straf daarvoor opgehef moet word. Wanneer hulle maai wat hulle gesaai het, roep hulle uit: “Waarom ek?” En hulle blameer God, soos Spreuke 19:3 sê: “’n Mens se eie sotheid verwoes sy lewe, en dan koester hy ’n wrok teen die HERE” (The New English Bible). En as God ’n einde aan hulle goddeloosheid gemaak het, sou hulle geprotesteer het omdat hulle nie meer die vryheid het om dit te doen nie!
Die hoofrede waarom Jehovah boosheid toelaat, is om ’n antwoord op Satan se aantyging te voorsien. Satan die Duiwel het gesê dat God nie mense op die aarde kan sit wat tydens beproewing aan Hom getrou sou bly nie (Job 1:6-12; 2:1-10). Jehovah laat Satan toe om voort te bestaan sodat hy ’n geleentheid kan hê om sy aantyging te staaf (Eksodus 9:16). Satan gaan voort om nou weë te veroorsaak, om mense teen God te draai, terwyl hy sy aantyging probeer staaf (Openbaring 12:12). Maar Job het sy onkreukbaarheid behou. En Jesus ook. Ware Christene doen dit nou.—Job 27:5; 31:6; Matteus 4:1-11; 1 Petrus 1:6, 7.
Ek sou graag wou glo aan ’n aardse paradys waar mense vir ewig lewe, maar is dit nie te goed om te glo nie?
Nie volgens die Bybel nie. Dit klink net te goed om te glo omdat die mensdom die kwaad al soveel eeue lank ken. Jehovah het die aarde geskep en die mensdom beveel om dit met regverdige mans en vroue te vul wat na die plante- en dierelewe daarop sou omsien en die skoonheid daarvan sou bewaar in plaas van dit te vernietig. (Sien bladsye 12 en 17.) Daardie beloofde Paradys is nie te goed om te glo nie; die teenswoordige droewige toestand is eerder te sleg om voort te duur. Die Paradys gaan dit vervang.
Hoe kan ek mense antwoord wat spot en sê dat die Bybel ’n mite en onwetenskaplik is?
Geloof in hierdie beloftes is nie ’n kwessie van liggelowigheid nie. “Geloof volg . . . op wat gehoor word.” As ’n mens God se Woord bestudeer, word die wysheid daarvan duidelik en neem jou geloof toe.—Romeine 10:17; Hebreërs 11:1.
Bybelse argeologie bevestig ’n groot deel van die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid. Die ware wetenskap strook met die Bybel. Die volgende feite was in die Bybel lank voordat sekulêre geleerdes dit ontdek het: die volgorde van die aarde se ontwikkelingstadiums, dat die aarde rond is, dat dit aan niks in die ruimte hang nie en dat voëls migreer.—Genesis hoofstuk 1; Jesaja 40:22; Job 26:7; Jeremia 8:7.
Vervulde profesieë toon dat die Bybel geïnspireer is. Daniël het voor die tyd die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede voorspel, asook die tyd wanneer die Messias sou kom en om die lewe gebring sou word (Daniël hoofstukke 2, 8; 9:24-27). Vandag word nog profesieë vervul, wat ons tyd as “die laaste dae” identifiseer (2 Timoteus 3:1-5; Matteus hoofstuk 24). Dit is onmoontlik vir mense om sulke voorkennis te hê (Jesaja 41:23). Sien die boeke Die Bybel—God se woord of die mens s’n? en Is daar ’n Skepper wat vir jou omgee?, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir meer bewyse.
Hoe kan ek leer om Bybelvrae te beantwoord?
Jy moet die Bybel bestudeer en daaroor peins, en terselfdertyd God se gees vra om jou te lei (Spreuke 15:28; Lukas 11:9-13). “As een van julle . . . wysheid kortkom,” sê die Bybel, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee mildelik aan almal en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Daar is ook Bybelstudiehulpe wat geraadpleeg kan word. ’n Mens het gewoonlik ander se hulp nodig, soos toe Filippus met die Etiopiër gestudeer het (Handelinge 8:26-35). Jehovah se Getuies hou gratis Bybelstudies met belangstellendes in hulle huis. Vra gerus vir so ’n studie.
Waarom staan baie mense Jehovah se Getuies teë en raai hulle my af om saam met hulle te studeer?
Jesus se prediking is teëgestaan, en hy het gesê dat sy volgelinge ook teëgestaan sou word. Toe sommige deur Jesus se leer beïndruk is, het godsdiensteenstanders skerp geantwoord: “Julle is tog nie ook mislei nie? Nie een van die heersers of van die Fariseërs het geloof in hom gestel nie, of hoe?” (Johannes 7:46-48; 15:20). Baie wat jou afraai om saam met die Getuies te studeer, is óf oningelig óf bevooroordeeld. Studeer saam met die Getuies en kyk self of jou begrip van die Bybel verbeter of nie.—Matteus 7:17-20.
Waarom besoek die Getuies mense wat hulle eie godsdiens het?
Hulle volg Jesus se voorbeeld wanneer hulle dit doen. Hy het na die Jode gegaan. Die Jode het hulle eie godsdiens gehad, maar dit was in baie opsigte nie meer getrou aan die Woord van God nie (Matteus 15:1-9). Alle nasies het die een of ander soort godsdiens, hetsy sogenaamd Christelik of nie-Christelik. Dit is lewensbelangrik dat mense se oortuigings met God se eie Woord ooreenkom, en die Getuies se pogings om hulle hiermee te help, is ’n blyk van naasteliefde.
Glo die Getuies dat hulle godsdiens die enigste regte godsdiens is?
Enigiemand wat sy godsdiens ernstig opneem, behoort te dink dat dit die regte godsdiens is. Waarom sou hy of sy dit dan andersins beoefen? Christene word vermaan: “Maak seker van alle dinge; hou vas aan wat voortreflik is” (1 Tessalonisense 5:21). ’n Persoon moet seker maak dat sy oortuigings deur die Skrif gesteun kan word, want daar is slegs een ware geloof. Efesiërs 4:5 beaam dit waar dit praat van “een Here, een geloof, een doop”. Jesus het nie saamgestem met die hedendaagse, vrysinnige beskouing dat daar baie weë, baie godsdienste, is wat almal na redding lei nie. Hy het eerder gesê: “Nou is die poort en smal is die pad wat na die lewe lei, en dié wat dit vind, is min.” Jehovah se Getuies glo dat hulle dit gevind het. Anders sou hulle na ’n ander godsdiens soek.—Matteus 7:14.
Glo hulle dat net hulle gered sal word?
Nee. Miljoene wat in vergange eeue gelewe het en wat nie Getuies van Jehovah was nie, sal in ’n opstanding terugkom en die geleentheid kry om weer te lewe. Baie wat nou lewe, sal nog hulle standpunt vir die waarheid en geregtigheid inneem voor die “groot verdrukking” begin, en hulle sal gered word. Daarbenewens het Jesus gesê dat ons mekaar nie moet oordeel nie. Ons kyk na die uiterlike; God kyk na die hart. Hy kyk noukeurig en oordeel met barmhartigheid. Hy het die oordeel aan Jesus gegee, nie aan ons nie.—Matteus 7:1-5; 24:21; 25:31.
Watter geldelike bydraes word verwag van diegene wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies bywoon?
Aangaande geldelike bydraes het die apostel Paulus gesê: “Laat elkeen doen net soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie teësinnig of onder dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief” (2 Korintiërs 9:7). By die Koninkryksale en byeenkomssale van Jehovah se Getuies word daar nooit kollektes gehou nie. Bussies word op plekke gesit waar dit vir enigiemand wat ’n bydrae wil gee gerieflik is om dit te doen. Niemand weet wat en of ander gee nie. Party kan meer as ander gee; party kan dalk niks gee nie. Jesus het getoon wat die regte beskouing is toe hy kommentaar gelewer het oor die skatkis by die tempel in Jerusalem en oor diegene wat bydraes gegee het: Dit is ’n mens se vermoë om te gee en die gees waarin daar gegee word wat tel, nie die bedrag nie.—Lukas 21:1-4.
Sal daar van my verwag word om te getuig as ek een van Jehovah se Getuies word?
Wanneer ’n mens vervul word met die kennis van die beloofde aardse Paradys onder Christus se Koninkryk wil jy dit aan ander vertel. Jý sal dit ook wil doen. Dit is goeie nuus!—Handelinge 5:41, 42.
Dit is ’n belangrike manier om te toon dat jy ’n dissipel van Jesus Christus is. In die Bybel word Jesus “die getroue en waaragtige getuie” genoem. Toe hy op die aarde was, het hy gepreek en gesê: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, en hy het sy dissipels uitgestuur om dieselfde te doen (Openbaring 3:14; Matteus 4:17; 10:7). Later het Jesus sy volgelinge beveel: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies . . . en leer hulle.” Hy het ook voorspel dat “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word tot ’n getuienis vir al die nasies” voordat die einde kom.—Matteus 24:14; 28:19, 20.
Daar is baie maniere om hierdie goeie nuus te verkondig. Gesprekke met vriende en kennisse bied dikwels die geleentheid om dit te doen. Party doen dit deur briewe te skryf of die telefoon te gebruik. Ander pos lektuur met inligting waarin hulle meen ’n vriend veral sal belangstel. Omdat hulle niemand wil oorslaan nie, gaan die Getuies van deur tot deur met die boodskap.
Die Bybel bevat hierdie hartlike uitnodiging: “Die gees en die bruid hou aan om te sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat hoor, sê: ‘Kom!’ En laat enigeen wat dors is, kom; laat enigeen wat wil die water van die lewe neem, verniet” (Openbaring 22:17). Om ander van die Paradysaarde en die seëninge daarvan te vertel, is iets wat gewillig gedoen moet word, uit ’n hart gevul met ’n begeerte om hierdie goeie nuus bekend te maak.
Ons is seker dat jy ander vrae oor Jehovah se Getuies en hulle oortuigings het. Party kwessies is moontlik omstrede. Ons wil graag jou vrae beantwoord. Die ruimte in hierdie brosjure is beperk, daarom nooi ons jou om jou vrae aan die plaaslike Getuies te stel. Jy kan dit doen by hulle vergaderinge by die Koninkryksaal of wanneer hulle jou tuis besoek. Of jy kan jou vrae stuur aan Jehovah se Getuies by die gepaste adres wat hieronder aangegee word.