Hoofstuk een
’n Profeet van God bring lig vir die mensdom
1, 2. Watter hedendaagse omstandighede wek groot kommer by baie mense?
ONS lewe in ’n tyd waarin dit lyk of feitlik enigiets binne die bereik van die mens is. Ruimtereise, rekenaartegnologie, genetiese manipulering en ander wetenskaplike ontwikkelings het nuwe moontlikhede vir die mensdom geskep en het die hoop op ’n beter lewe—moontlik selfs ’n langer lewe—laat ontstaan.
2 Het hierdie vooruitgang jou in staat gestel om die slotte van jou deure af te haal? Het dit die bedreiging van oorlog uit die weg geruim? Het dit ’n einde gemaak aan siekte of aan die droefheid wat die dood van ’n geliefde meebring? Beslis nie! Die mens se vooruitgang is beperk, ongeag hoe merkwaardig dit is. “Ons het uitgevind hoe om na die maan te reis, silikonskyfies te maak wat al hoe kragtiger is en hoe om menslike gene oor te plant”, sê ’n verslag deur die Worldwatch-instituut. “Maar daar is ’n miljard mense vir wie ons nog nie skoon water kon voorsien nie, ons kon nie verhoed dat duisende spesies uitsterf nie en kon ook nie in ons energiebehoeftes voorsien sonder om die atmosfeer te beskadig nie.” Dit is te verstane dat baie mense bekommerd is oor die toekoms, onseker oor waar hulle vertroosting en hoop kan kry.
3. Watter situasie het gedurende die agtste eeu v.G.J. in Juda bestaan?
3 Die situasie waarin ons ons vandag bevind, is soortgelyk aan dié van God se volk gedurende die agtste eeu v.G.J. Destyds het God sy kneg Jesaja die opdrag gegee om ’n boodskap van vertr oosting aan die inwoners van Juda te bring, en hulle het dit beslis nodig gehad. Onrus het die nasie geteister. Die wrede Assiriese Ryk sou die land kort voor lank bedreig, en dit sou baie met vrees vervul. Na wie kon God se volk hulle wend vir redding? Die naam van Jehovah was op hulle lippe, maar hulle het verkies om hulle vertroue in mense te stel.—2 Konings 16:7; 18:21.
Lig skyn in die duisternis
4. Watter tweeledige boodskap moes Jesaja verkondig?
4 As gevolg van Juda se opstandige weg sou Jerusalem vernietig word en die inwoners van Juda as gevangenes na Babilon weggevoer word. Ja, donker tye het voorgelê. Jehovah het sy profeet Jesaja die opdrag gegee om hierdie onrusbarende tyd te voorspel, maar Hy het hom ook aangesê om goeie nuus te verkondig. Ná 70 jaar van ballingskap sou die Jode uit Babilon bevry word! ’n Vreugdevolle oorblyfsel sou na Sion terugkeer en die voorreg hê om ware aanbidding daar te herstel. Met hierdie blye tyding het Jehovah deur middel van sy profeet lig in die duisternis laat skyn.
5. Waarom het Jehovah sy voornemens so lank voor die tyd geopenbaar?
5 Juda is eers meer as ’n eeu ná Jesaja sy profesieë opgeteken het, verwoes. Waarom het Jehovah dan sy voornemens so lank voor die tyd geopenbaar? Sou die mense wat Jesaja se woorde eerstehands gehoor het, nie gesterf het lank voordat die profesieë vervul is nie? Dit is waar. Maar danksy Jehovah se openbaringe aan Jesaja sou diegene wat gelewe het toe Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is, ’n geskrewe verslag hê van Jesaja se profetiese boodskappe. Dit sou onweerlegbare bewys lewer dat Jehovah die Een is “wat van die begin af die uiteinde verkondig, en van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie”.—Jesaja 46:10; 55:10, 11.
6. Wat is party maniere waarop Jehovah alle mense wat die toekoms voorspel, oortref?
6 Net Jehovah kan tereg so iets sê. Mense kan moontlik die nabye toekoms voorspel weens hulle begrip van die huidige politieke of maatskaplike klimaat. Maar net Jehovah kan met absolute sekerheid vooruitsien wat op enige tydstip, selfs in die verre toekoms, gaan gebeur. Hy kan ook sy knegte in staat stel om gebeure te voorspel lank voor dit plaasvind. Die Bybel sê: “Die Soewereine Heer Jehovah sal niks doen tensy hy sy vertroulike saak aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie.”—Amos 3:7.
Hoeveel “Jesajas” was daar?
7. Watter twyfel het baie geleerdes laat ontstaan oor wie die boek Jesaja geskryf het, en waarom?
7 Die kwessie van profesie is iets wat baie geleerdes laat twyfel het oor wie die boek Jesaja geskryf het. Hierdie kritici hou vol dat die laaste gedeelte van die boek deur iemand geskryf moes gewees het wat in die sesde eeu v.G.J., gedurende of ná die Babiloniese ballingskap, gelewe het. Volgens hulle is die profesieë van Juda se verwoesting opgeteken nadat dit vervul is en is dit in werklikheid dus glad nie voorspellings nie. Hierdie kritici sê ook dat die boek Jesaja ná hoofstuk 40 praat asof Babilon die heersende moondheid is en die Israeliete daar in gevangenskap gehou word. Hulle redeneer dus dat die persoon wat die laaste gedeelte van Jesaja geskryf het, dit gedurende daardie tyd moes gedoen het—gedurende die sesde eeu v.G.J. Is daar ’n vaste grondslag vir hierdie redenasie? Geensins!
8. Wanneer het skeptisisme oor wie die boek Jesaja geskryf het, ontstaan, en hoe het dit versprei?
8 Eers in die 12de eeu G.J. het iemand die skrywer van die boek Jesaja in twyfel getrek. Dit was die Joodse kommentator Abraham Ibn Ezra. “In sy kommentaar oor Jesaja”, sê die Encyclopaedia Judaica, “beweer [Abraham Ibn Ezra] dat die tweede helfte, van hoofstuk 40 af, die werk is van ’n profeet wat gedurende die Babiloniese Ballingskap en die vroeë jare ná die Terugkeer na Sion gelewe het.” Gedurende die 18de en 19de eeu het etlike geleerdes Ibn Ezra se beskouing aanvaar, onder andere Johann Christoph Doederlein, ’n Duitse teoloog wat sy verklarende werk oor Jesaja in 1775 uitgegee het, en waarvan ’n tweede uitgawe in 1789 verskyn het. Die New Century Bible Commentary sê: “Almal buiten die konserwatiefste geleerdes aanvaar nou Doederlein se teorie . . . dat die profesieë in hoofstukke 40-66 van die boek Jesaja nie die woorde van die agtste-eeuse profeet Jesaja is nie, maar dat dit uit ’n latere tyd kom.”
9. (a) Hoe is die boek Jesaja ontleed? (b) Hoe het een Bybelkommentator die geskil oor die skrywer van die boek Jesaja opgesom?
9 Maar twyfel oor wie die boek Jesaja geskryf het, het nie daar opgehou nie. Die teorie oor ’n tweede Jesaja—of Deutero-Jesaja—het aanleiding gegee tot die gedagte dat ’n derde skrywer dalk betrokke was.a Toe is die boek Jesaja verder ontleed, sodat een geleerde hoofstukke 15 en 16 aan ’n onbekende profeet toeskryf, terwyl ’n ander een vrae opper oor die skrywer van hoofstukke 23 tot 27. Nog een sê dat Jesaja nie die woorde in hoofstukke 34 en 35 kon opgeteken het nie. Waarom nie? Omdat die materiaal baie soortgelyk is aan dié in hoofstukke 40 tot 66, wat reeds aan iemand anders as die agtste-eeuse Jesaja toegeskryf is! Bybelkommentator Charles C. Torrey som die gevolg van hierdie redenasies goed op. “Die eens vername ‘Profeet van die Ballingskap’”, sê hy, “het gekwyn tot ’n onbeduidende figuur en is omtrent heeltemal begrawe onder ’n massa verwarrende fragmente.” Maar nie alle geleerdes stem saam met hierdie ontleding van die boek Jesaja nie.
Getuienis van een skrywer
10. Gee een voorbeeld van hoe die konsekwente gebruik van ’n uitdrukking bewys dat die boek Jesaja een skrywer gehad het.
10 Daar is goeie rede om te glo dat die boek Jesaja die werk van net een skrywer is. Een bewys hou verband met die konsekwente gebruik van uitdrukkings. Die frase “die Heilige van Israel” kom byvoorbeeld 12 keer in Jesaja hoofstukke 1 tot 39 voor en 13 keer in Jesaja hoofstukke 40 tot 66, en tog verskyn hierdie beskrywing van Jehovah net 6 keer in die res van die Hebreeuse Geskrifte. Die herhaaldelike gebruik van hierdie uitdrukking wat andersins nie dikwels gebruik word nie, is ’n argument ten gunste van die gedagte dat een persoon die boek Jesaja geskryf het.
11. Watter ooreenkomste bestaan tussen hoofstukke 1 tot 39 en hoofstukke 40 tot 66 van Jesaja?
11 Daar is ander ooreenkomste tussen Jesaja hoofstukke 1 tot 39 en hoofstukke 40 tot 66. In albei gedeeltes word dieselfde kenmerkende beeldspraak herhaaldelik gebruik, soos ’n vrou met geboortepyne en ’n “pad” of ’n “grootpad”.b Daar is ook herhaalde verwysings na “Sion”, ’n naam wat 29 keer in hoofstukke 1 tot 39 gebruik word en 18 keer in hoofstukke 40 tot 66. Trouens, daar word in Jesaja meer na Sion verwys as in enige ander Bybelboek! Sulke bewyse, sê The International Standard Bible Encyclopedia, “gee die boek ’n eiesoortigheid wat moeilik verklaarbaar is” as die boek deur twee, drie of meer skrywers geskryf is.
12, 13. Hoe toon die Christelike Griekse Geskrifte dat die boek Jesaja die werk van een skrywer was?
12 Die oortuigendste bewys dat die boek Jesaja net een skrywer het, is in die geïnspireerde Christelike Griekse Geskrifte. Dit toon duidelik dat die eerste-eeuse Christene geglo het dat die boek Jesaja die werk van een skrywer was. Lukas vertel byvoorbeeld van ’n Etiopiese amptenaar wat ’n deel gelees het wat nou in Jesaja hoofstuk 53 gevind word, juis uit die deel wat hedendaagse kritici aan Deutero-Jesaja toeskryf. Lukas sê egter dat die Etiopiër “die profeet Jesaja hardop gelees” het.—Handelinge 8:26-28.
13 Kyk nou na die Evangelieskrywer Matteus, wat verduidelik hoe die bediening van Johannes die Doper die profetiese woorde vervul het wat ons nou in Jesaja 40:3 vind. Aan wie skryf Matteus die profesie toe? ’n Onbekende Deutero-Jesaja? Nee, hy noem die skrywer bloot “die profeet Jesaja” (Matteus 3:1-3).c By ’n ander geleentheid het Jesus uit ’n boekrol die woorde gelees wat nou in Jesaja 61:1, 2 gevind kan word. Lukas vertel wat daar gebeur het en sê: “Toe is die boekrol van die profeet Jesaja vir hom aangegee” (Lukas 4:17). In sy brief aan die Romeine verwys Paulus na die vroeë sowel as die latere gedeelte van Jesaja, en tog sinspeel hy nooit eers daarop dat die skrywer ooit iemand anders as dieselfde persoon, Jesaja, was nie (Romeine 10:16, 20; 15:12). Eerste-eeuse Christene het klaarblyklik nie geglo dat die boek Jesaja die werk van twee, drie of meer skrywers was nie.
14. Hoe werp die Dooie See-rolle lig op die kwessie van die skrywer van die boek Jesaja?
14 Kyk ook na die getuienis van die Dooie See-rolle—ou dokumente, waarvan baie voor Jesus se tyd al bestaan het. Een manuskrip van Jesaja, wat as die Jesaja-rol bekend staan, dateer uit die tweede eeu v.G.J., en dit weerlê die bewerings van kritici dat ’n Deutero-Jesaja van hoofstuk 40 af oorgeneem het. Hoe so? Wat ons nou as hoofstuk 40 ken, begin in hierdie ou dokument op die laaste reël van ’n kolom, en die eerste sin word in die volgende kolom voltooi. Die kopiïs was klaarblyklik onbewus van enige veronderstelde verandering van skrywer of verdeling van die boek op daardie punt.
15. Wat sê die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus oor Jesaja se profesieë met betrekking tot Kores?
15 Kom ons kyk laastens na die getuienis van die eerste-eeuse Joodse geskiedskrywer Flavius Josefus. Hy gee nie net te kenne dat die profesieë in Jesaja wat op Kores van toepassing is, in die agtste eeu v.G.J. opgeteken is nie, maar hy sê ook dat Kores bewus was van hierdie profesieë. “Kores het hierdie dinge geweet”, skryf Josefus, “omdat hy die boek van die profesie gelees het wat Jesaja tweehonderd-en-tien jaar vroeër nagelaat het.” Volgens Josefus het die feit dat Kores van hierdie profesieë geweet het, heel moontlik bygedra tot sy bereidwilligheid om die Jode na hulle vaderland terug te stuur, want Josefus skryf dat Kores “’n sterk begeerte en ambisie gehad het om uit te voer wat geskrywe was”.—Jewish Antiquities, Deel XI, hoofstuk 1, paragraaf 2.
16. Wat kan gesê word van die kritici se bewering dat Babilon in die latere gedeelte van Jesaja as die heersende moondheid beskryf word?
16 Soos vroeër genoem is, beweer baie kritici dat Babilon van Jesaja hoofstuk 40 af beskryf word as die heersende moondheid en die Israeliete asof hulle reeds in ballingskap is. Toon dit nie dat die skrywer gedurende die sesde eeu v.G.J. gelewe het nie? Nie noodwendig nie. Feit is dat Babilon selfs voor hoofstuk 40 van Jesaja soms as die heersende wêreldmoondheid beskryf word. In Jesaja 13:19 word Babilon byvoorbeeld “die sieraad van die koninkryke”, of, soos Today’s English Version dit vertaal, “die allerpragtigste koninkryk”, genoem. Hierdie woorde is klaarblyklik profeties, aangesien Babilon eers meer as ’n eeu later ’n wêreldmoondheid geword het. Een kritikus probeer hierdie sogenoemde probleem “oplos” deur eenvoudig te sê dat Jesaja 13 die werk van ’n ander skrywer is! Maar dit is eintlik redelik algemeen in Bybelprofesie om van toekomstige gebeure te praat asof dit reeds plaasgevind het. Hierdie stylfiguur beklemtoon op doeltreffende wyse die sekerheid van die vervulling van ’n profesie (Openbaring 21:5, 6). Ja, net die God van ware profesie kan sê: “Nuwe dinge kondig ek aan. Voordat dit uitspruit, laat ek julle dit hoor.”—Jesaja 42:9.
’n Boek van betroubare profesie
17. Hoe kan die verandering in styl van Jesaja hoofstuk 40 af verklaar word?
17 Tot watter slotsom lei die bewyse ons dan? Dat die boek Jesaja die werk van een geïnspireerde skrywer is. Hierdie hele boek is deur die eeue heen as ’n enkele stuk werk bewaar, nie as twee of meer nie. Party sê weliswaar dat die styl van Jesaja se boek van hoofstuk 40 af ietwat anders is. Maar onthou dat Jesaja ten minste 46 jaar lank as God se profeet gedien het. Gedurende daardie tyd is dit te verstane dat die inhoud van sy boodskap, en tesame daarmee die aanbieding daarvan, sou verander. Ja, Jesaja se opdrag van God was nie net om harde oordeelsboodskappe oor te dra nie. Hy moes ook Jehovah se woorde: “Vertroos, vertroos my volk”, oordra (Jesaja 40:1). God se verbondsvolk sou waarlik vertroos word deur sy belofte dat die Jode ná 70 jaar van ballingskap na hulle vaderland teruggestuur sal word.
18. Wat is ’n tema in die boek Jesaja wat in hierdie publikasie bespreek sal word?
18 Die bevryding van die Jode uit Babiloniese gevangenskap is die tema van baie van die hoofstukke van Jesaja wat in hierdie boek bespreek word.d ’n Aantal van hierdie profesieë het ’n hedendaagse vervulling, soos ons sal sien. Daarbenewens vind ons in die boek Jesaja opwindende profesieë wat deur die lewe—en dood—van God se enigverwekte Seun vervul is. Ja, ’n studie van die belangrike profesieë in die boek Jesaja sal nuttig wees vir God se knegte en ander in alle wêrelddele. Hierdie profesieë is inderdaad lig vir die hele mensdom.
[Voetnote]
a Geleerdes noem die veronderstelde derde skrywer, wat glo vir hoofstukke 56 tot 66 verantwoordelik is, Trito-Jesaja.
b ’n Vrou met geboortepyne: Jesaja 13:8; 21:3; 26:17, 18; 42:14; 45:10; 54:1; 66:7. ’n “Pad” of ’n “grootpad”: Jesaja 11:16; 19:23; 35:8; 40:3; 43:19; 49:11; 57:14; 62:10.
c In die parallelle verslae gebruik Markus, Lukas en Johannes dieselfde frase.—Markus 1:2; Lukas 3:4; Johannes 1:23.
d Die eerste 40 hoofstukke van Jesaja is bespreek in Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
[Venster op bladsy 9]
Getuienis uit ’n diachroniese ontleding
Diachronie—wat die subtiele veranderinge bestudeer wat met die verloop van jare in taal plaasvind—oorsien verdere bewys dat die boek Jesaja die werk van ’n enkele skrywer is. As ’n deel van Jesaja in die agtste eeu v.G.J. geskryf is en ’n ander deel 200 jaar later, moet daar verskille in die soort Hebreeus wees wat in die onderskeie dele gebruik is. Maar volgens ’n studie wat in die Westminster Theological Journal gepubliseer is, “bied ’n diachroniese ontleding oorweldigende getuienis dat Jesaja 40-66 voor die ballingskap geskryf is”. Die skrywer van die studie kom tot die gevolgtrekking: “As kritiese geleerdes volhou dat Jesaja in die tydperk van die ballingskap of daarna geskryf is, doen hulle dit ondanks die feit dat ’n diachroniese ontleding die teendeel bewys.”
[Prent op bladsy 11]
Gedeelte van die Dooie See-rol van Jesaja. Die einde van hoofstuk 39 word met ’n pyltjie aangedui
[Prente op bladsy 12, 13]
Jesaja voorspel die bevryding van die Jode sowat 200 jaar voor dit plaasvind