Hoofstuk nege
Jehovah onderrig ons tot ons voordeel
1. Hoe reageer verstandige persone op Jehovah se woorde?
WANNEER Jehovah praat, luister verstandige persone met groot eerbied, en hulle reageer op sy woorde. Alles wat Jehovah sê, is tot ons voordeel, en hy stel opreg belang in ons welsyn. Hoe hartverblydend is dit byvoorbeeld wanneer ons let op die manier waarop Jehovah sy eertydse verbondsvolk aanspreek: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk!” (Jesaja 48:18). Die bewese waarde van God se onderrigting behoort ons aan te spoor om na hom te luister en sy leiding te volg. Die verslag van vervulde profesieë verdryf enige twyfel dat Jehovah vasbeslote is om sy beloftes te vervul.
2. Vir wie word die woorde van Jesaja 48 opgeteken, en wie anders kan daarby baat vind?
2 Die woorde van die 48ste hoofstuk van die boek Jesaja is klaarblyklik geskryf vir die onthalwe van die Jode wat ballinge in Babilon sou wees. Daarbenewens bevat hierdie woorde ’n boodskap wat Christene vandag nie kan ignoreer nie. In Jesaja hoofstuk 47 het die Bybel die val van Babilon voorspel. Nou beskryf Jehovah wat hy vir die Joodse ballinge in daardie stad in gedagte het. Jehovah is bedroef as gevolg van die geveinsdheid van sy uitverkore volk en hulle hardkoppige gebrek aan geloof in sy beloftes. Hy wil hulle nogtans tot hulle voordeel onderrig. Hy voorspel ’n tyd van loutering wat daartoe sal lei dat ’n getroue oorblyfsel in hulle vaderland herstel word.
3. Wat was verkeerd met Juda se aanbidding?
3 Hoe ver het Jehovah se volk tog van rein aanbidding afgewyk! Jesaja se eerste woorde stem ons tot nadenke: “Hoor dit, o huis van Jakob, julle wat julleself by die naam van Israel noem en wat uit die waters van Juda voortgekom het, julle wat by die naam van Jehovah sweer en wat van die God van Israel melding maak, nie in waarheid nie en nie in regverdigheid nie. Want hulle het hulleself dié genoem wat uit die heilige stad kom, en op die God van Israel het hulle gesteun, Jehovah van die leërs is sy naam” (Jesaja 48:1, 2). Hoe geveins tog! ‘Om by die naam van Jehovah te sweer’, is klaarblyklik niks meer as ’n formalistiese gebruik van God se naam nie (Sefanja 1:5). Voor hulle ballingskap in Babilon het die Jode Jehovah in “die heilige stad”, Jerusalem, aanbid. Maar hulle aanbidding was nie opreg nie. Hulle harte was ver van God verwyder en hulle dade van aanbidding was “nie in waarheid nie en nie in regverdigheid nie”. Hulle het nie die geloof van die aartsvaders gehad nie.—Maleagi 3:7.
4. Watter soort aanbidding behaag Jehovah?
4 Jehovah se woorde herinner ons dat aanbidding nie onnadenkend verrig moet word nie. Dit moet opreg wees. Blote vormdiens—wat moontlik verrig word net om ander tevrede te stel of te beïndruk—is nie “dade van godvrugtige toegewydheid” nie (2 Petrus 3:11). As iemand homself ’n Christen noem, maak dit op sigself nie sy aanbidding vir God aanneemlik nie (2 Timoteus 3:5). Dit is noodsaaklik om te erken dat Jehovah bestaan, maar dit is net die begin. Jehovah wil heelhartige aanbidding hê wat deur innige liefde en waardering gemotiveer word.—Kolossense 3:23.
Nuwe dinge word voorspel
5. Wat is van “die eerste dinge” wat Jehovah voorspel het?
5 Miskien moes die Jode in Babilon se geheue verfris word. Daarom herinner Jehovah hulle weer dat hy die God van ware profesie is: “Die eerste dinge het ek van daardie tyd af vertel, en uit my mond het hulle uitgegaan, en ek het dit voortdurend laat hoor. Skielik het ek opgetree, en die dinge het gekom” (Jesaja 48:3). “Die eerste dinge” is dinge wat God reeds gedoen het, soos om die Israeliete uit Egipte te bevry en hulle die Beloofde Land as ’n erfenis te gee (Genesis 13:14, 15; 15:13, 14). Hierdie voorspellings kom uit God se mond; dit is van Goddelike oorsprong. God laat mense sy verordeninge hoor, en wat hulle hoor, moet hulle beweeg om gehoorsaam te wees (Deuteronomium 28:15). Hy tree skielik op om uit te voer wat hy voorspel het. Die feit dat Jehovah die Almagtige is, verseker dat sy voorneme vervul sal word.—Josua 21:45; 23:14.
6. Hoe ‘hardkoppig en opstandig’ het die Jode geword?
6 Jehovah se volk het ‘hardkoppig en opstandig’ geword (Psalm 78:8). Hy sê ronduit vir hulle: “Ek weet dat jy hard is en dat jou nek ’n ystersening en jou voorkop koper is” (Jesaja 48:4). Die Jode is onbuigsaam—soos metaal. Dit is een rede waarom Jehovah dinge openbaar voordat dit plaasvind. Anders sal sy volk van die dinge wat Jehovah gedoen het, sê: “My afgod het dit gedoen, en my gesnede beeld en my gegote beeld het dit beveel” (Jesaja 48:5). Sal wat Jehovah nou sê enige uitwerking op die ontroue Jode hê? God sê vir hulle: “Jy het gehoor. Aanskou dit alles. Sal julle dit nie vertel nie? Ek laat jou van nou af nuwe dinge hoor, ja, dinge wat teruggehou is, wat jy nie geweet het nie. Nou sal hulle geskep word, en nie van daardie tyd af nie, ja, dinge wat jy voor vandag nie gehoor het nie, sodat jy nie kan sê: ‘Kyk! Ek het dit reeds geweet’ nie.”—Jesaja 48:6, 7.
7. Wat sal die Jode in ballingskap moet erken, en wat kan hulle verwag?
7 Jesaja het die profesie oor die val van Babilon lank voor die tyd opgeteken. Nou, as ballinge in Babilon, word die Jode in ’n profesie beveel om te dink aan die vervulling van wat voorspel is. Kan hulle ontken dat Jehovah die God van vervulde profesie is? En moet die inwoners van Juda, wat gesien en gehoor het dat Jehovah ’n God van waarheid is, hierdie waarheid nie ook aan ander bekend maak nie? Jehovah se geopenbaarde woord voorspel nuwe dinge wat nog nie gebeur het nie, soos Kores se verowering van Babilon en die vrylating van die Jode (Jesaja 48:14-16). Hierdie verstommende gebeure vind skynbaar heel onverwags plaas. Niemand kon dit voorspel het bloot deur wêreldtoestande dop te hou nie. Dit word as ’t ware uit die niet geskep. Wie veroorsaak hierdie gebeure? Aangesien Jehovah dit sowat 200 jaar voor die tyd voorspel, is die antwoord voor die hand liggend.
8. Watter nuwe dinge verwag Christene van vandag, en waarom het hulle vaste vertroue in Jehovah se profetiese woord?
8 Daarbenewens voer Jehovah sy woord volgens sy eie tydrooster uit. Vervulde profesieë bewys sy Godheid nie alleen aan die Jode van die ou tyd nie maar ook aan Christene van vandag. Die verslag van talle profesieë wat in die verlede vervul is—“die eerste dinge”—is ’n versekering dat die nuwe dinge wat Jehovah belowe—die komende “groot verdrukking”, die behoud van “’n groot menigte” deur daardie verdrukking heen, die “nuwe aarde” en veel meer—vervul sal word (Openbaring 7:9, 14, 15; 21:4, 5; 2 Petrus 3:13). Vandag spoor hierdie versekering regskapenes aan om ywerig oor hom te praat. Hulle voel net soos die psalmis, wat gesê het: “Ek het die goeie nuus van regverdigheid in die groot gemeente verkondig. Kyk! My lippe bedwing ek nie.”—Psalm 40:9.
Jehovah beoefen selfbeheersing
9. Hoe is die nasie Israel ’n “oortreder van die moederskoot af”?
9 Die Jode se skeptiese reaksie op Jehovah se profesieë het gemaak dat hulle nie op sy waarskuwings ag slaan nie. Daarom sê hy verder vir hulle: “Wat meer is, jy het nie gehoor nie, ook het jy nie geweet nie, en ook is jou oor van daardie tyd af nie geopen nie. Want ek weet goed dat jy vir seker verraderlik bly handel het, en ’n ‘oortreder van die moederskoot af’ is jy genoem” (Jesaja 48:8). Juda se oor is gesluit vir Jehovah se blye tyding (Jesaja 29:10). Die manier waarop God se verbondsvolk opgetree het, toon dat die nasie ’n “oortreder van die moederskoot af” is. Van sy geboorte af en deur sy hele geskiedenis heen het die nasie Israel ’n reputasie van opstandigheid opgebou. Oortreding en verraad is ingewortelde swakhede van die volk, nie bloot toevallige sondes nie.—Psalm 95:10; Maleagi 2:11.
10. Waarom sal Jehovah hom bedwing?
10 Is alle hoop verlore? Nee. Al was Juda opstandig en verraderlik, is Jehovah altyd getrou. Tot eer van sy groot naam sal hy die uitgieting van sy toorn beperk. Hy sê: “Ter wille van my naam sal ek my toorn inhou, en ter wille van my lof sal ek my teenoor jou bedwing, sodat jy nie uitgeroei word nie” (Jesaja 48:9). Wat ’n teenstelling tog! Jehovah se volk, Israel sowel as Juda, was ontrou aan hom. Maar Jehovah sal sy naam heilig en optree sodat dit geloof en verheerlik word. Om hierdie rede sal hy nie sy uitverkore volk uitroei nie.—Joël 2:13, 14.
11. Waarom sal God nie toelaat dat sy volk heeltemal vernietig word nie?
11 Regskapenes onder die Jode in ballingskap word wakker geskud deur God se berisping en word vasbeslote om ag te slaan op sy onderrigting. Vir sulke persone is die volgende verklaring baie gerusstellend: “Kyk! Ek het jou gelouter, maar nie soos silwer nie. Ek het jou gekies in die smeltoond van ellende. Om my ontwil, om my ontwil sal ek optree, want hoe kan ek my laat ontheilig? En aan niemand anders sal ek my heerlikheid gee nie” (Jesaja 48:10, 11). Die beproewinge—soos in die “smeltoond van ellende”—wat Jehovah toegelaat het om oor sy volk te kom, het hulle beproef en gelouter en geopenbaar wat in hulle harte is. Iets soortgelyks het eeue vroeër gebeur toe Moses vir hulle voorouers gesê het: “Jehovah jou God [het] jou hierdie veertig jaar in die wildernis laat gaan . . . om jou nederig te maak, om jou op die proef te stel ten einde te weet wat in jou hart is” (Deuteronomium 8:2). Ondanks hulle opstandige gesindheid het Jehovah die nasie destyds nie vernietig nie, en hy sal die nasie nou ook nie heeltemal vernietig nie. So sal sy naam en eer hooggehou word. As sy volk deur die toedoen van die Babiloniërs vergaan, sal hy nie sy verbond nagekom het nie en sal sy naam ontheilig word. Dit sal lyk asof die God van Israel nie sy volk kan red nie.—Esegiël 20:9.
12. Hoe is ware Christene gedurende die Eerste Wêreldoorlog gelouter?
12 Jehovah se volk het ook in hedendaagse tye loutering nodig gehad. In die vroeë dae van die 20ste eeu het baie onder die klein groepie Bybelstudente God gedien weens ’n opregte begeerte om hom te behaag, maar party het verkeerde beweegredes gehad, soos ’n begeerte na vernaamheid. Voor daardie klein groepie die voortou kon neem met die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus wat vir die tyd van die einde voorspel is, moes hulle gereinig word (Matteus 24:14). Die profeet Maleagi het voorspel dat juis so ’n louteringswerk sou plaasvind wanneer Jehovah na sy tempel kom (Maleagi 3:1-4). Sy woorde is in 1918 vervul. Terwyl die Eerste Wêreldoorlog gewoed het, het ware Christene ’n tyd van vurige toetsing deurgegaan en daardie toetsing het sy hoogtepunt bereik toe Joseph F. Rutherford, destyds die president van die Wagtoringgenootskap, en van die vernaamste ampsdraers van die Genootskap in die tronk gegooi is. Daardie opregte Christene het by die louteringsproses baat gevind. Hulle het deur die Eerste Wêreldoorlog gekom, meer vasbeslote as ooit tevore om hulle groot God te dien op die manier wat hy dit wou hê.
13. Hoe het Jehovah se volk in die jare sedert die Eerste Wêreldoorlog op vervolging gereageer?
13 Van daardie tyd af het Jehovah se Getuies keer op keer voor die wreedste vorme van vervolging te staan gekom. Dit het hulle nie aan die woord van hulle Skepper laat twyfel nie. Hulle het eerder ag geslaan op die woorde van die apostel Petrus aan Christene van sy dag wat vervolging moes verduur: ‘Julle word nou ’n klein rukkie deur allerhande beproewinge bedroef, sodat die beproefde hoedanigheid van julle geloof by die openbaring van Jesus Christus ’n rede tot lof en heerlikheid en eer bevind kan word’ (1 Petrus 1:6, 7). Vurige vervolging vernietig nie die onkreukbaarheid van ware Christene nie. Dit openbaar eerder hulle rein beweegredes. Hulle geloof verkry ook ’n beproefde hoedanigheid en die diepte van hulle toegewydheid en liefde word getoon.—Spreuke 17:3.
‘Ek is die eerste, ek is die laaste’
14. (a) In watter opsig is Jehovah “die eerste” en “die laaste”? (b) Watter magtige werke het Jehovah deur middel van sy “hand” verrig?
14 Nou rig Jehovah ’n hartlike versoek tot sy verbondsvolk: “Luister na my, o Jakob, en Israel, my geroepene. Ek is dieselfde. Ek is die eerste. Ook is ek die laaste. Ook het my hand die fondament van die aarde gelê en my regterhand die hemel uitgesprei. Ek roep hulle, sodat hulle saam sal bestaan” (Jesaja 48:12, 13). Anders as die mens is God ewig, en hy verander nie (Maleagi 3:6). In Openbaring sê Jehovah: “Ek is die Alfa en die Omega, die eerste en die laaste, die begin en die einde” (Openbaring 22:13). Voor Jehovah was daar geen almagtige God nie en ná hom sal daar geeneen wees nie. Hy is die Allerhoogste, die Ewige, die Skepper. Sy “hand”—sy krag wat hy gebruik om dinge te doen—het die aarde gegrondves en die sterrehemel uitgestrek (Job 38:4; Psalm 102:25). Wanneer hy sy skeppingswerke roep, staan hulle gereed om hom te dien.—Psalm 147:4.
15. Hoe en waarvoor het Jehovah Kores “liefgehad”?
15 ’n Ernstige uitnodiging word tot Jode sowel as nie-Jode gerig: “Kom bymekaar, julle almal, en hoor. Wie onder hulle het hierdie dinge vertel? Jehovah het hom liefgehad. Hy sal doen wat hom behaag ten opsigte van Babilon, en sy arm sal teen die Galdeërs wees. Ek—ek het gespreek. Ook het ek hom geroep. Ek het hom laat kom, en sy weg sal suksesvol gemaak word” (Jesaja 48:14, 15). Jehovah alleen is almagtig en kan gebeure akkuraat voorspel. Niemand onder “hulle”, die waardelose afgode, kan hierdie dinge voorspel nie. Jehovah, en nie die afgode nie, het “hom [Kores] liefgehad”—dit wil sê, Jehovah het hom vir ’n spesifieke doel uitgekies (Jesaja 41:2; 44:28; 45:1, 13; 46:11). Hy het vooruitgesien dat Kores op die wêreldtoneel sal verskyn en het hom uitgesonder as die toekomstige veroweraar van Babilon.
16, 17. (a) Waarom kan daar gesê word dat God nie sy voorspellings geheim hou nie? (b) Hoe het Jehovah sy voornemens vandag bekend gemaak?
16 Jehovah sê op ’n hartlike toon verder: “Kom nader na my toe. Hoor dit. Van die begin af het ek geensins in ’n verborge plek gespreek nie. Van die tyd af dat dit gebeur het, was ek daar” (Jesaja 48:16a). Voorspellings deur Jehovah is nie in die geheim gegee of net aan ’n paar ingewydes bekend gemaak nie. Jehovah se profete het onbevrees namens God gepraat (Jesaja 61:1). Hulle het die wil van God in die openbaar bekend gemaak. Gebeure wat met Kores verband gehou het, was byvoorbeeld nie vir God iets nuuts of onverwags nie. Sowat 200 jaar voor die tyd het God dit openlik deur middel van Jesaja voorspel.
17 Net so is Jehovah vandag ook nie geheimsinnig oor sy voornemens nie. Van huis tot huis, op straat en waar hulle ook al kan, verkondig miljoene mense in honderde lande en eilande van die see die waarskuwing van die komende einde van hierdie stelsel van dinge en die goeie nuus van die seëninge wat onder God se Koninkryk gaan kom. Jehovah is waarlik ’n God wat sy voornemens bekend maak.
‘Skenk aandag aan my gebooie!’
18. Wat is Jehovah se begeerte vir sy volk?
18 Die profeet is deur Jehovah se krag versterk en verklaar gevolglik: “Die Soewereine Heer Jehovah [het] my gestuur, ja, sy gees. Só het Jehovah gesê, jou Terugkoper, die Heilige van Israel: ‘Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel’” (Jesaja 48:16b, 17). Hierdie liefdevolle woorde wat Jehovah se besorgdheid toon, behoort die nasie Israel gerus te stel dat God hulle uit Babilon sal verlos. Hy is hulle Terugkoper (Jesaja 54:5). Dit is Jehovah se opregte begeerte dat die Israeliete hulle verhouding met hom moet herstel en aan sy gebooie aandag moet skenk. Ware aanbidding is gegrond op gehoorsaamheid aan Goddelike instruksies. Die Israeliete kan nie op die regte weg wandel tensy hulle ‘die weg wat hulle moet bewandel’, geleer word nie.
19. Watter opregte versoek rig Jehovah tot die Israeliete?
19 Jehovah se begeerte dat sy volk rampspoed moet vermy en dat hulle die lewe moet geniet, word pragtig beskryf: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:18). Wat ’n opregte versoek is dit tog van die almagtige Skepper! (Deuteronomium 5:29; Psalm 81:13). Pleks van in gevangenskap te gaan, kan die Israeliete vrede geniet wat so oorvloedig sal wees soos die vloeiende water van ’n rivier (Psalm 119:165). Hulle regverdige dade kan so ontelbaar wees soos die golwe van die see (Amos 5:24). As die een wat werklik in hulle belangstel, rig Jehovah ’n versoek tot die Israeliete, wys hy hulle liefdevol die weg wat hulle moet bewandel. As hulle maar net wil luister!
20. (a) Wat wil God vir Israel hê ten spyte van hulle opstandigheid? (b) Wat leer ons van Jehovah uit sy handelinge met sy volk? (Sien die venster op bladsy 133.)
20 Watter seëninge sal kom as Israel berou toon? Jehovah sê: “Jou nageslag sal net soos die sand word, en die nakomelinge uit jou liggaam soos die korrels daarvan. Sy naam sal nie uitgeroei of verdelg word voor my nie” (Jesaja 48:19). Jehovah herinner die volk aan sy belofte dat Abraham se saad baie sal word, “soos die sterre van die hemel en soos die sandkorrels wat aan die seestrand is” (Genesis 22:17; 32:12). Maar hierdie afstammelinge van Abraham was opstandig, en hulle het nie die reg om die vervulling van die belofte te ontvang nie. Hulle reputasie is in werklikheid so sleg dat hulle volgens Jehovah se eie Wet verdien dat hulle naam as ’n nasie uitgedelg word (Deuteronomium 28:45). Jehovah wil nogtans nie hê dat sy volk vernietig moet word nie, en hy wil hulle nie heeltemal verlaat nie.
21. Watter seëninge kan ons vandag geniet as ons ’n begeerte aankweek om deur Jehovah onderrig te word?
21 Die beginsels wat in hierdie kragtige boodskap vervat word, is op Jehovah se hedendaagse aanbidders van toepassing. Jehovah is die Bron van die lewe, en hy weet beter as enigiemand hoe ons ons lewe moet gebruik (Psalm 36:9). Hy het ons riglyne gegee, nie om ons van genot te beroof nie, maar sodat ons daardeur bevoordeel kan word. Ware Christene reageer daarop deur ’n begeerte aan te kweek om deur Jehovah onderrig te word (Miga 4:2). Sy riglyne beskerm ons geestelikheid en ons verhouding met hom, en dit beskerm ons teen Satan se verderflike invloed. Wanneer ons die beginsels agter God se wette verstaan, sien ons dat Jehovah ons tot ons voordeel onderrig. Ons besef dat ‘sy gebooie nie swaar is nie’. En ons sal nie vernietig word nie.—1 Johannes 2:17; 5:3.
“Gaan uit Babilon uit!”
22. Wat word getroue Jode aangespoor om te doen, en watter versekering word hulle gegee?
22 Sal enige van die Jode die regte hartstoestand openbaar wanneer Babilon val? Sal hulle van God se verlossing gebruik maak, na hulle vaderland terugkeer en ware aanbidding herstel? Ja. Jehovah se volgende woorde toon sy vertroue dat dit sal gebeur. “Gaan uit Babilon uit! Vlug weg van die Galdeërs af. Verkondig dit met die geluid van vreugdegeroep, laat dit hoor. Laat dit tot aan die einde van die aarde uitgaan. Sê: ‘Jehovah het sy kneg Jakob teruggekoop. En hulle het nie dors geword toe hy hulle selfs deur verwoeste plekke laat gaan het nie. Hy het vir hulle water uit die rots laat uitvloei, en hy het ’n rots gekloof sodat die water uitgestroom het’” (Jesaja 48:20, 21). In ’n profesie word Jehovah se volk aangespoor om dadelik uit Babilon te vertrek (Jeremia 50:8). Hulle verlossing moet tot aan die uiterstes van die aarde bekend gemaak word (Jeremia 31:10). Ná die uittog uit Egipte het Jehovah in die behoeftes van sy volk voorsien terwyl hulle deur die woestyn getrek het. Hy sal op soortgelyke wyse vir sy volk voorsien wanneer hulle uit Babilon na hulle vaderland terugtrek.—Deuteronomium 8:15, 16.
23. Wie sal nie godgegewe vrede geniet nie?
23 Daar is nog ’n uiters belangrike beginsel wat die Jode in verband met Jehovah se reddingsdade in gedagte moet hou. Die regverdiggesindes ly dalk weens hulle sondes, maar hulle sal nie vernietig word nie. Dit is egter nie so vir die onregverdiges nie. “‘Daar is geen vrede’, het Jehovah gesê, ‘vir die goddeloses nie’” (Jesaja 48:22). Onberouvolle sondaars sal nie die vrede ontvang wat God bewaar het vir diegene wat hom liefhet nie. Reddingsdade is nie vir die verstokte goddeloses of die ongelowiges bedoel nie. Sulke dade is net vir dié wat geloof het (Titus 1:15, 16; Openbaring 22:14, 15). Die vrede wat van God kom, is nie die besitting van die goddeloses nie.
24. Wat het in hedendaagse tye vreugde vir God se volk meegebring?
24 In 537 v.G.J. het die geleentheid om Babilon te verlaat, groot vreugde vir die getroue Israeliete meegebring. In 1919 het die verlossing van God se volk uit Babiloniese gevangenskap ook tot groot vreugde onder hulle gelei (Openbaring 11:11, 12). Hulle is met hoop vervul, en hulle het die geleentheid aangegryp om hulle bedrywigheid uit te brei. Dit het weliswaar moed van daardie klein groepie Christene geverg om gebruik te maak van die nuwe moontlikhede om die predikingswerk in ’n vyandige wêreld te doen. Maar met Jehovah se hulp het hulle die werk aangepak om die goeie nuus te verkondig. Die geskiedenis bewys dat Jehovah hulle geseën het.
25. Waarom is dit belangrik om noukeurig aandag te skenk aan God se regverdige verordeninge?
25 Hierdie deel van Jesaja se profesie beklemtoon dat Jehovah ons tot ons voordeel onderrig. Dit is baie belangrik om noukeurig aandag te skenk aan God se regverdige verordeninge (Openbaring 15:2-4). As ons God se wysheid en liefde in gedagte hou, sal dit ons help om ons aan te pas by wat Jehovah sê reg is. Al sy gebooie is tot ons voordeel.—Jesaja 48:17, 18.
[Venster/Prente op bladsy 133]
Die almagtige God bedwing hom
‘Ek sal my toorn inhou, ek sal my bedwing’, het Jehovah vir die afvallige Israeliete gesê (Jesaja 48:9). Sulke stellings help ons om te sien dat God ’n volmaakte voorbeeld stel deurdat hy nooit sy mag misbruik nie. Dit is so dat niemand groter mag as God het nie. Daarom noem ons hom die Almagtige. Hy gee homself tereg die titel “die Almagtige” (Genesis 17:1). Hy het nie net onbeperkte krag nie, maar hy het ook al die gesag weens sy posisie as die Soewereine Heer van die heelal, wat hy geskep het. Daarom het niemand die reg om sy hand teë te hou of om vir hom te sê: “Wat het u gedoen?” nie.—Daniël 4:35.
Maar God word nie gou toornig nie, selfs nie wanneer dit nodig is om sy krag teen sy vyande te toon nie (Nahum 1:3). Jehovah kan ‘sy toorn inhou’, en hy word tereg beskryf as iemand wat “nie gou toornig word nie”, want liefde—nie toorn nie—is sy oorheersende eienskap. Wanneer hy aan sy toorn uiting gee, is dit altyd regverdig, altyd met rede, altyd op beheerste wyse.—Eksodus 34:6; 1 Johannes 4:8.
Waarom tree Jehovah so op? Omdat hy sy almag volmaak in ewewig hou met sy ander drie hoofeienskappe—wysheid, geregtigheid en liefde. Die manier waarop hy sy mag gebruik is altyd in ooreenstemming met hierdie ander eienskappe.
[Prent op bladsy 122]
Jesaja se boodskap van herstelling voorsien ’n straal van hoop vir getroue Jode in ballingskap
[Prente op bladsy 124]
Die Jode was geneig om Jehovah se dade aan afgode toe te skryf
1. Isjtar 2. ’n Geglasuurde baksteenfries uit Babilon se Optogstraat 3. Draaksimbool van Mardoek
[Prent op bladsy 127]
’n “Smeltoond van ellende” kan toon of ons beweegredes vir ons diens aan Jehovah suiwer is of nie
[Prente op bladsy 128]
Ware Christene het voor die wreedste vorme van vervolging te staan gekom